
Ek het die voorreg gehad om vir ‘n volle maand terug te keer na my geboorteland om die mense wat ek liefhet weer te sien en kwaliteit-tyd saam met hulle te spandeer. Dit was ‘n maand van gasvryheid, lekker kuier, kos, wyn, lieflike weer en ongelooflike natuurskoon. Uit die aard van die saak het ek dit baie geniet, maar tydens my sabbatsreis na die Suidand het ek ook lukrake
waarnemings gemaak, wat ‘n onwillekeurige gegewe raak as mens so lank in die buiteland en in ‘n heeltemal vreemde kultuur woon. Die volgende is ‘n reeks sporadiese waarnemings wat ek gemaak het, gebaseer op die feit dat ek tans woonagtig is in Korea. Meeste van hierdie waarnemings het dus my verblyf in ‘n vreemde land as vertrekpunt, maar ek spreek nie die mees ooglopende verskille (openbare vervoer, internetspoed, ens.) aan nie. Wat het my dus opnuut opgeval van hierdie land wat ons “Suid-Afrika” gedoop het en wat ons (soms?) steeds as ons Vader/Moederland beskou?

Dis die MOOISTE land…moontlik die mooiste in die wereld! En dis ondebateerbaar! Die Suid-Afrikaanse natuurskoon was nog altyd en sal altyd asemrowend wees. Omdat die Kaap my heimat is, is ek bevooroordeeld oor die Kaap, maar ek erken dat ook ander dele van die RSA (Drakensberge, Mpumalanga, Oos-Vrystaat ens.) asemrowend is.
Die RUIMTE wat mens in die RSA vind is fantasties! Ek dink nie Suid-
Afrikaners besef die voorreg van ruimte nie. Huise met erwe en soveel plekke wat ‘n wegkomkans bied om te gaan stap, kamp, fietsry, visvang en allerhande ander aktiwiteite te beoefen. Veral in die Kaap hoef mens nie ver te reis om juwele van stilte en natuurskoon te bereik nie, sonder dat ‘n skare mense dit met jou deel.
Aansluitend by bogenoemde, is die BUITELEWE-LEEFSTYL en wonderlike weer van die RSA se grootste pluspunte. Ek het veral die buite-kuiers rondom braaivleis-vure (iets wat in die Ooste ongekend is) baie geniet. Dis die buite-kuiers en avonture wat die lewe in die RSA so genotvol maak vir my. Om buite te kan wees, ruimte te ervaar en die hemelruim besaai met sterre te sien, is fantasties!
Ek het dit my sending gemaak om soveel kwaliteit SUID-
AFRIKAANSE WYNE as moontlik te drink en ek was (soos voorheen) beindruk. Steeds bied RSA wyne wereldgehalte kwaliteit teen billike pryse. Ek is ‘n volslae Sauvignon Blanc verslaafde en dus was meeste van die wyne wat ek probeer het, Sauvignon Blancs (aangesien hierdie kultivar so skaars soos hoendertande in
Korea is – en as jy gelukkig is om dit op te spoor, is dit gewoonlik van Nieu-Seeland en peperduur). Ek het letterlik tientalle Sauvignon Blancs probeer, maar sonder graag drie uit wat ‘n blywende indruk op my gemaak het, nl. Nitida 2007 (Durbanville). Chamonix Reserve 2007 (Franschhoek) en Thelema Sutheland 2007 (Elgin). Hierdie wyne was vir my kompleks, verfrissend en het dit beliggaam wat ek in ‘n Sauvignon Blanc soek.
SUID-AFRIKAANSE KOSSE is oor die algemeen baie lekker, maar ongesond. Synde ek al ontrekkingsimptome begin kry het vir skaaptjoppies en boerewors, moet ek erken dat ek die hele braai-ding oordoen het. Ek het tjops, sosaties, wors ensomeer ge-eet totdat ek nie meer kon nie! Die driekeer wat ek snoek gebraai het, was ‘n
welkome afwisseling. Saam met hierdie en al die ander smullekker kosse wat ek in die RSA geniet het, moet ek erken dat Suid-Afrikaanse kos oor die algemeen BAIE smaaklik is. Maar…ek het dit ook baie ongesonder gevind as die Oosterse dieet. Suid-Afrikaners eet oor die algemeen baie ryker kos en verseker BAIE meer vleis as die Oosterlinge. Nou dat ek terug is in die Ooste, doen ek maar getrou my Miyoguk (seegras-sop) en ek voel sommer al reeds weer gesonder. Vir die heel eerste keer in my lewe het ek begrip gekry vir vegetariers.


DIENSLEWERING in die RSA is swak. Synde in die openbare sektor of privaatsektor, is dienslewering sub-standaard. So dikwels in ‘n supermark, bank, restaurante of enige ander instelling, kom dit voor of die persone wat veronderstel is om diens te lewer, jou mooi laat verstaan dat jy nie juis geregtig daarop is nie en dat hulle jou eintlik ‘n guns doen. Ditto vir die enkele call centres wat ek moes skakel tydens my kuier in die RSA. My ervaring van dienslewering in Korea staan in skrille kontras.

Oppervlakkig gesproke was die RSA vir my steeds soos ek die land laas agtergelaat het. Ek is eerlik as ek se dat ek persoonlik GEEN OOGLOPENDE AGTERUITGANG beleef het nie en (inteendeel) verslae gestaan het oor die vooruitgang (nuwe geboue, paaie ens. wat gebou word.) Hoewel ek net in die Kaap en Gauteng was, kon ek nie tekens sien van die agteruitgang van infrastruktuur nie. Ek besef egter dat baie van hierdie ontwikkelinge versiersuiker is wat gerieflikgewys onderliggende langtermyn tekortkominge bedek. Ek is nie so naief om te dink dat agteruitgang nie voorkom nie. Miskien was ek bloot net nie in dele van die land waar agteruitgang meer skreiend vertoon nie.
Die RSA se DRAMATIESE KLASVERSKILLE het my dadelik opgeval. In
Korea ry omtrent driekwart van die bevolking Hyundai’s en Kia’s en hulle bly almal in eenderse wolkekrabber woonstelgeboue. Korea het ‘n groot middelklas en die elite en arm klas in Korea is betreklik klein. Motors en huise is dus nie juis statussimbole nie. In die RSA verskil dit drasties. In lyn met ander Afrika-state, is die RSA se middelklas klein, die elite-klas nog kleiner en die arm klas enorm groot. Sou jy na die motors en huise van mense in die RSA kyk, kom jy gou agter dat daar obsene groot verskille bestaan tussen radelose armoede en byna pornografiese rykdom onder die elite-klas. Motors en huise is baie visuele statussimbole in die RSA en tot kotsenswaardig toe so! In hierdie opsig het die RSA ‘n ekstreme skisofreniese karakter. Die RSA se Gini -koeffisient* (wat ongelykhede aandui) is .578 – een van die hoogstes in die wereld en in Afrika. (vgl Ghana .408, Suid-Korea .317 en Duitsland .283). Ek het intussen verneem dat die RSA se Gini-koeffisient* op .72 staan en tans die hoogste in die wereld is.
Ek het (deur verskeie gesprekke met vriende/familie/kennisse) tot die besef gekom dat EMIGRASIE uit die RSA hoofsaaklik neerkom op emigrasie uit Gauteng na die buiteland. Volgens die SAPD is 75% van alle gewelddadige misdaad in die RSA, in Gauteng en KwaZulu-Natal gekonsentreer. Dit was my ervaring dat meeste Afrikaners wat emigrasie oorweeg, Gautengers is. Hulle eerste opsie is om in die Kaap te probeer werk vind, maar as dit nie slaag nie, emigreer hulle eerder na ‘n vreemde land, as om in Gauteng aan te bly. Meeste euro-afrikane woonagtig in Gauteng is aansienlik negatiewer oor die RSA se toekoms as hulle ewekniee in die Kaap. Om die waarheid te se, het ek met niemand in die Kaap te doen gehad wat dit ernstig oorweeg het om te emigreer nie. Dis hier waar die skisofrenie van die RSA weer na vore tree. In sommige woonbuurte is jy te bang om net buite te sit en braai, in ander dele van die land slaap mense steeds met hulle deure oop en wonder waaroor die hele bohaai oor misdaad nou eintlik gaan…Bygese, daar is baie mense wat “na binne” emigreer en dis algemeen om te hoor: “Ek lees nie koerante nie en kyk/luister nie nuus nie, want dit maak mens net negatief”. Hierdie mense vind meestal hulle sekuriteit en identiteit in hulle materiele rykdom en dit kom voor of hulle nie werklik omgee vir enige kwessies in die RSA of die langtermyn toekoms nie.

Die algemene GEMOEDSTOESTAND onder euro-afrikane in Suid-Afrika is pessimisties…of ten minste “versigtig” pessimisties. Hulle is nie meer seker oor hulle eie toekoms of die van hulle kinders nie. Ek was gelukkig om ‘n kragonderbrekinglose vakansie in die RSA te he, maar almal het my vertel van hoe erg die kragonderbrekings nou eintlik was en dat dit weer gaan kom. Tog het ek ook vele mense ontmoet wat beweer het dat hulle nog nooit regtig deur die kragonderbrekeings geraak is nie (veral in sekere dele van die Kaap). Maar afgesien van Eskom, misdaad, stygende pryse en
regstellende aksie, het dit my voorgekom asof euro-afrikane in Suid-Afrika steeds ‘n lekker lewe lei. Hulle ry oor die algemeen redelik nuwe en luukse voertuie, hulle eet lekker kos, drink duur drank en gaan op hulle eindelose 4×4 wegbreke Oorsese vakansies bly ook nie uitgesluit nie. Daar is ‘n gekla en ‘n gekerm, maar materialisties is euro-afrikane nog baie goed daaraantoe. Ondanks al die negatiwiteit is die witbrood nog styf onder die arm vasgeknyp…
Bogenoemde kitswaarnemings is subjektief en gebaseer op beperkte interaksie binne ‘n beperkte tyd. Ek wil nie beweer dat ek blind is vir die groterwordende krake in die fasade nie. Ek wil nie beweer dat die saad vir vernietiging nie reeds gesaai le op die Suid-Afrikaanse landskap nie. Gewelddadige misdaad bly ‘n gruwel en ‘n oneffektiewe staatsdiens ‘n steen-des-aanstoots. Ek wil egter beweer dat dit nie so sleg gaan met die RSA as wat dit nog kan gaan nie. Ek sluit nie die moontlikheid uit dat dit kan en moontlik gaan gebeur nie, maar op hierdie stadium is Suid-Afrika egter nog lank nie ‘n “tweede Zimbabwe” nie. Ek glo Suid-Afrika het steeds geweldige potensiaal en ek sou graag ‘n daadwerklike bydrae wou lewer tot die opbou van my geboorteland. Ek gaan egter voort met my ballingskap en bly halsstarrig om terug te keer na ‘n land waar lewe min werd is en jou inherente vermoeens, kwalifikasies en ervaring ondergeskik gestel word aan die biologiese pigmentasie van jou vel. Om tans in ‘n samelewing te woon waar middelmatigheid verfoei word, waar respek vir menselewens ‘n gegewe is en geweldadige misdaad (vir alle praktiese doeleindes) afwesig is, is ‘n bykomende ‘n bonus…

*Gini-koeffisient: 0 is volkome gelykheid in die samelewing en 1 volkome ongelykheid.