Romantiese rendezvous

S7303163

Imhaejeon (ook bekend as Anapji) is in die jaar 674nC deur Koning Munmu* (30ste monarg van die Silla-dinastie) tot stand gebring. Hierdie area het deel uitgemaak van die groter Wolseong Kasteel, wat vir baie lank die setel was van die Silla konings. Koning Munmu het ‘n bestaande moeras omskep in ‘n pragtige dam. Rondom die dam het hy talle S7303160 indrukwekkende geboue opgerig en die tuine gevul met eksotiese plantsoorte, skaars voelsoorte en vreemde diere. Die doel van Imhaejeon was om ‘n kuierplek vir die koninklikes te skep, waar belangrike gaste onthaal en getrakteer is en feestelike bankette gehou is. Volgens oorlewering is dit ook die plek waar die laaste Silla koning, Gyeongsun, die amptelike oorgawe aan die Goryeo Koninkryk (918-1392) onderteken het.

S7303168Imhaejeon is in 1975 gerestoureer, maar slegs enkele van die oorspronklike 26 geboue kon ten volle herbou word. Die dam is ook weer tot die oorspronklike grote herstel. Tydens die restourering is meer as 30 000 artefakte opgegrawe. Hieronder was ‘n groot roeiboot van hout waarop die koninklikes en gaste die dam bevaar het. Hierdie boot is die oudste boot (in oorspronklike vorm) wat al in Korea ontdek is. Die dam het lank as Wolji (“Moon Pond”) bekendgestaan, maar is honderde jare later later herdoop tot Anapji (“Pond of Geese and Ducks”). Ten spyte van die sorgvuldige restourering, bly dit egter slegs ‘n skadu van wat dit oorspronklike was.S7303150

Imhaejeon is op die mooiste gedurende die aand, wanneer honderde ligte die area in ‘n sprokiesboek-prentjie verander. Mens kan jouself net indink hoe lekker die konings, adelikes en lakeie hier gekuier het. Inderdaad ‘n romantiese rendezvous vir die komende warm somersaande…

 

*Hierdie is die enigste Silla koning wat in die see begrawe is. Lees hier meer oor hom:

http://boerinballingskap.wordpress.com/2007/08/05/voete-in-die-oos-see/