Romantiese rendezvous

S7303163

Imhaejeon (ook bekend as Anapji) is in die jaar 674nC deur Koning Munmu* (30ste monarg van die Silla-dinastie) tot stand gebring. Hierdie area het deel uitgemaak van die groter Wolseong Kasteel, wat vir baie lank die setel was van die Silla konings. Koning Munmu het ‘n bestaande moeras omskep in ‘n pragtige dam. Rondom die dam het hy talle S7303160 indrukwekkende geboue opgerig en die tuine gevul met eksotiese plantsoorte, skaars voelsoorte en vreemde diere. Die doel van Imhaejeon was om ‘n kuierplek vir die koninklikes te skep, waar belangrike gaste onthaal en getrakteer is en feestelike bankette gehou is. Volgens oorlewering is dit ook die plek waar die laaste Silla koning, Gyeongsun, die amptelike oorgawe aan die Goryeo Koninkryk (918-1392) onderteken het.

S7303168Imhaejeon is in 1975 gerestoureer, maar slegs enkele van die oorspronklike 26 geboue kon ten volle herbou word. Die dam is ook weer tot die oorspronklike grote herstel. Tydens die restourering is meer as 30 000 artefakte opgegrawe. Hieronder was ‘n groot roeiboot van hout waarop die koninklikes en gaste die dam bevaar het. Hierdie boot is die oudste boot (in oorspronklike vorm) wat al in Korea ontdek is. Die dam het lank as Wolji (“Moon Pond”) bekendgestaan, maar is honderde jare later later herdoop tot Anapji (“Pond of Geese and Ducks”). Ten spyte van die sorgvuldige restourering, bly dit egter slegs ‘n skadu van wat dit oorspronklike was.S7303150

Imhaejeon is op die mooiste gedurende die aand, wanneer honderde ligte die area in ‘n sprokiesboek-prentjie verander. Mens kan jouself net indink hoe lekker die konings, adelikes en lakeie hier gekuier het. Inderdaad ‘n romantiese rendezvous vir die komende warm somersaande…

 

*Hierdie is die enigste Silla koning wat in die see begrawe is. Lees hier meer oor hom:

http://boerinballingskap.wordpress.com/2007/08/05/voete-in-die-oos-see/

11 Kommentaar

  1. sonkind het gesê,

    April 22, 2008 at 9:56 nm

    Eendag wil ek ook nog gaan kyk hoe lyk Korea. Jy het al sulke mooi en interessante plekke hier gewys en van vertel, dat ek dit self graag sal wil sien. Ek het nie die begeerte om na die gewone “oorsese” plekke te reis nie. Gee my eerder Kuba, Mexiko, St Helena en nou ook Korea op die lysie.

    Hierdie fotos is weereens pragtig!

  2. rosalindfranklin het gesê,

    April 22, 2008 at 10:32 nm

    Weer eens baie lekker inskrywing. Mens dink nie aan die mense van Korea as seevaarders nie, want ons is nie so geleer nie, ne. En tog was die mense van die Ooste so bedrewe op see, ook die Chinese.

  3. mykopop het gesê,

    April 23, 2008 at 4:25 vm

    Soos altyd, fasinerend!

  4. Roer het gesê,

    April 23, 2008 at 2:34 nm

    Dit lyk inderdaad romanties. (Romanties…ok, wat’s haar naam?)

  5. kaalvoetinireen het gesê,

    April 23, 2008 at 6:51 nm

    Inderdaad mooi foto’s en ‘n interessante inskrywing! Het jy al gesien hoe vries daai dam in die winter??? Mens kan dit amper nie glo nie! Ek sal graag in die lente daar wou uitkom!

  6. René het gesê,

    April 23, 2008 at 9:56 nm

    Oeeee, dis moranties! Ek sien nou al die bootjie in die maanlig met kerse en rooiwyn en …. nee wag, laat ek eerder net daar stop!!!

  7. Vonnie het gesê,

    April 23, 2008 at 11:08 nm

    Lekker om Korea deur jou oë te kan beleef – vuur die “wanderlust” lekker aan (ek was nog nooit eers landuit nie). Hoekom lyk romantiese plekke in ander lande altyd meer romanties?

  8. Nikita het gesê,

    April 24, 2008 at 6:43 nm

    Ek glo nie ek wil in die see begrawe wees nie…eerder my as dan oor die Drakensberge strooi… ;)

  9. boerinballingskap het gesê,

    April 24, 2008 at 11:32 nm

    Sonkind, laat weet weet my wanneer jy St Helena toe gaan – ek is absoluut gefassineerd deur daai stuk historiese rots!
    Rosalind, jy’s heeltemal reg. Korea het ‘n trotse skeepsvaart geskiedenis en is vandag die voorste skeepsbou land ter wereld.
    Kaalvoet – jy kan dit nie op die foto’s lekker sien nie, maar die ou dammetjie was kliphard gevries toe ek daar was.
    Rene…nou hoekom nou daar stop?
    Welkom, Vonnie!

  10. Jasper het gesê,

    April 26, 2008 at 11:59 nm

    Bib, ek wil graag weet… Met al hierdie vertalings in name etc, kan jy al vlot kommunikeer in koreaans?

  11. boerinballingskap het gesê,

    April 27, 2008 at 3:53 nm

    :)
    Jasper, ek geniet jou sin vir humor.


Lewer Kommentaar