‘n Kaapse bederf in die vreemde

S7302619So af-en-toe, is ek darem gelukkig om ‘n Kaapse wyntjie hier in die vreemde raak te loop. Hierdie keer was ek aangenaam verras om af te kom op KWV se Golden Kaan Shiraz 2006. Die Golden Kaan reeks is een van KWV se grootste uitvoerreekste en is gemik om in dieselfde liga mee te ding as suksesvolle internasionale handelsmerke soos die Aussies se Jacob’s Creek en Yellow Tail reekse.

Die wyn se kleur is uitlokkend dieprooi met robynkleurige rante. Die neus van die wyn laat jou met geen twyfel oor watter kultivar hier ter sprake is nie. Jy word openlik gekonfronteer deur ‘n peperige, speseryagtige karakter. Daar is elemente van koljander en biltong te bespeur, asook fyn nuanses van bloekom. Nie te kompleks nie, maar ten minste is die geure kultivarspesifiek.

Hierdie geure volg deur op die palaat. Die wyn het sagte tanniene, maar ‘n effe skerp kant. Die alkohol pla en dis asof dit nie so lekker S7302621 geintegreerd is met die res van die komponente nie. Houtkarakter is hoofsaaklik afwesig, hoewel die wyn moontlik tog skrikgemaak is met ‘n paar vlokkies hout. Die nasmaak is beperk en laat geen blywende indruk nie.

Opsommenderwys is daar niks verkeerd met hierdie shiraz nie. Dis ‘n lekker eenvoudige wyn om op die oomblik te geniet en nie veel verder oor te filosfeer nie. Prysgewys dink ek tog dat etlike Australiese en Chileense wyne ‘n aangenamer drinkervaring bied teen ‘n laer pryspunt (die Golden Kaan se prys was die ekwivalent van ‘n stewige R112.00)* Ek is ook nie so seker of die etiket en die naam van die wyn so ‘n groot wenner is nie.

Maar vergeet nou maar eers wat ek hier geskryf het…gaan gooi gou ‘n lekker tjoppie en ‘n stukkie boerewors op die kole, trek die kurk en geniet die wyntjie hoe hy bedoel was om te geniet.

* Yellow Tail Shiraz kos bv. die ekwivalent van R103.00, terwyl die Gracia de Chile reeks hier goeie waarde vir geld bied teen R94.00.