Doctor Fish (wanneer sushi wraak neem…)

100 4073 Ek het al menigmaal reeds op Koreaanse TV gesien hoe mense na ‘n spa gaan en dan met hulle voete in die water sit, terwyl honderde klein vissies aan hulle voete knibbel. Dit het maar altyd vir my na ‘n snaakse affere gelyk en my nuuskierig gelaat oor wat nou eintlik die punt is…

Uiteindelik kry ek toe nou die dag die geleentheid om persoonlik met Doctor Fish (soos dit bekend staan) kennis te maak. Versigtig het ek eers my hand in die water gedruk om net te voel en seker te maak die vissies byt nie te seer nie. Maar die geknibbel is kompleet soos die gevladder van vlerkies al om jou hand. Avontuurlustig soos altyd, het dit nie veel verdere oorreding geverg om my skoene af te stroop en my moee voete in die verhitte water te druk nie. Rondom my was daar net Koreane en hulle het omtrent geglimlag, vingergewys en selfs foto’s van die uwe geneem. Ek dink nie dis ‘n alledaagse gebeurtenis om ‘n westerling by ‘n Doctor Fish spa te sien nie.

S7300225Ek het rustig met my voete in die water gaan sit. Dit was omtrent net etlike nano-sekondes voor die vissies soos ‘n klomp miniatuur piranhas op my voete afpyl en begin smul. In die begin was dit baie kielierig en een of twee keer het ek my voete uitgepluk as ek dit nie langer kon hou nie. Ek het egter gou gewoond geraak daaraan en ‘n goeie halfuur sit en ontspan met die trosse vissies aan my voete. Aan die einde van die sessie het my voete sommer vars gevoel en baie skoon gelyk.

Ek het nog steeds nie geweet wat die punt van die oefening is nie, maar het vermoed hulle vreet die dooie velletjies van jou voete af. Met bietjie oplees, is my vermoede bevestig. Die spesie wat gebruik word vir die pedikuur is genaamd Garra Rufa (populer genoem Doctor Fish) en kom inheems in die Midde Ooste voor. Sodanige spa-S7300227behandelings is skynbaar reeds lank deel van die lewe in Turkye en het eers onlangs in Asie aanklank gevind. Japan was die eerste Asiese land wat met hierdie behandelings begin het en vandaar het dit ook versprei na oa Korea, China, Singapoer en Maleisie. Dit is baie gewild in Korea en daar is baie spa’s waar jy kan gaan vir Doctor Fish se pedikuur. Ek sal glad nie omgee om weer te gaan nie. Hoewel ek twyfel of hulle hond-haaraf maak met hierdie groot, skurwe voete van my, is so ‘n veersagte voetmassering ‘n lekker vorm van ontspanning.