Ek het al menigmaal reeds op Koreaanse TV gesien hoe mense na ‘n spa gaan en dan met hulle voete in die water sit, terwyl honderde klein vissies aan hulle voete knibbel. Dit het maar altyd vir my na ‘n snaakse affere gelyk en my nuuskierig gelaat oor wat nou eintlik die punt is…
Uiteindelik kry ek toe nou die dag die geleentheid om persoonlik met Doctor Fish (soos dit bekend staan) kennis te maak. Versigtig het ek eers my hand in die water gedruk om net te voel en seker te maak die vissies byt nie te seer nie. Maar die geknibbel is kompleet soos die gevladder van vlerkies al om jou hand. Avontuurlustig soos altyd, het dit nie veel verdere oorreding geverg om my skoene af te stroop en my moee voete in die verhitte water te druk nie. Rondom my was daar net Koreane en hulle het omtrent geglimlag, vingergewys en selfs foto’s van die uwe geneem. Ek dink nie dis ‘n alledaagse gebeurtenis om ‘n westerling by ‘n Doctor Fish spa te sien nie.
Ek het rustig met my voete in die water gaan sit. Dit was omtrent net etlike nano-sekondes voor die vissies soos ‘n klomp miniatuur piranhas op my voete afpyl en begin smul. In die begin was dit baie kielierig en een of twee keer het ek my voete uitgepluk as ek dit nie langer kon hou nie. Ek het egter gou gewoond geraak daaraan en ‘n goeie halfuur sit en ontspan met die trosse vissies aan my voete. Aan die einde van die sessie het my voete sommer vars gevoel en baie skoon gelyk.
Ek het nog steeds nie geweet wat die punt van die oefening is nie, maar het vermoed hulle vreet die dooie velletjies van jou voete af. Met bietjie oplees, is my vermoede bevestig. Die spesie wat gebruik word vir die pedikuur is genaamd Garra Rufa (populer genoem Doctor Fish) en kom inheems in die Midde Ooste voor. Sodanige spa-
behandelings is skynbaar reeds lank deel van die lewe in Turkye en het eers onlangs in Asie aanklank gevind. Japan was die eerste Asiese land wat met hierdie behandelings begin het en vandaar het dit ook versprei na oa Korea, China, Singapoer en Maleisie. Dit is baie gewild in Korea en daar is baie spa’s waar jy kan gaan vir Doctor Fish se pedikuur. Ek sal glad nie omgee om weer te gaan nie. Hoewel ek twyfel of hulle hond-haaraf maak met hierdie groot, skurwe voete van my, is so ‘n veersagte voetmassering ‘n lekker vorm van ontspanning.



netjane said,
May 23, 2008 at 11:13 pm
Baie baie cool! Klink half sif, maar ek kan dink dat dit lekker moet voel…
Reisiger said,
May 23, 2008 at 11:27 pm
Nee Boer!! Ek weet nie of ek sal kan stil sit met al hierdie vissies wat knibbel aan my tone en voete nie!! Ek is baie grillerig en kielierig. My voetspa moet maar liewer die joppie doen!
René said,
May 23, 2008 at 11:52 pm
/me wonder of ons van die vissies SA toe kan invoer! Dit moet nou ‘n lekker bederf wees!!
sonkind said,
May 24, 2008 at 7:04 am
Ooo, ek sal mal wees daaroor. Daar is vir my niks so lekker bederf soos ‘n lekker pedicure nie
Roer said,
May 24, 2008 at 5:53 pm
Dis freaky! Ek is inelkgeval so kielerig, daar is nie ‘n manier nie. Bly jy’t dit geniet.
mieliepap said,
May 24, 2008 at 10:39 pm
Jissou, dit klink lekker. Ek wonder of ek die vrou kan oortuig om vanaand Dr Fish te wees !
Ek het bietjie opgelees, lyk my dit kan lei tot minor bleeding en dat dit oumens-voete (hard) bo kindervoete verkies.
Roer said,
May 25, 2008 at 1:05 am
“Ek het bietjie opgelees, lyk my dit kan lei tot minor bleeding en dat dit oumens-voete (hard) bo kindervoete verkies.”
Euw
boerinballingskap said,
May 25, 2008 at 8:30 pm
Waar het jy daardie feit opgelees, mieliepap? Maar dis sekerlik moontlik. En ek kan ook dink dat hulle ouer, lekkere skurwe voete verkies. Dis hoekom hulle so ‘n feesmaal gehad het met my pote!
kaalvoetinireen said,
May 26, 2008 at 1:36 am
Gelukkig is ek nie so groot op sushi nie, so ek reken hulle sal my genadig wees
Ek het ook al baie gewonder oor die advertensie op tv, maar nou weet ek! Dit lyk na ‘n heerlike bederf!
mykopop said,
May 26, 2008 at 5:37 am
Dit klink na ‘n ondervinding!
Nikita said,
May 26, 2008 at 10:50 am
Ek dink ek sal heeltemal te kielierig wees vir die gedoente!
Emil said,
May 26, 2008 at 6:33 pm
Ongelooflik – nou ja, elke dag leer ‘n mens iets nuuts in die blogsfeer! Maar gee my maar eerder ‘n old-fashion foot massage!
attie said,
May 26, 2008 at 6:52 pm
BiB: Dit is vir my interessant om te sien hoe jy al die dinge probeer en dan gaan navors wat aangaan. Lekker om hier te kom kuier.
Rustig said,
May 26, 2008 at 8:13 pm
Dalk moet ons die vissies invoer en in plaasdam gooi. Kan baie geld maak uit die storie. Dit is nou as hulle nie opgevreet gaan word nie. Klink vir my baie lekker.
Marina said,
May 26, 2008 at 8:42 pm
Jy gee my nou ‘n blink plan. Ons oudste swot Somatologie en maak die jaar klaar. Wonder oor volgende jaar se opsies……voila DR Fish in Suid Afrika!!!!
boerinballingskap said,
May 27, 2008 at 12:27 am
Attie, ek is maar ‘n chroniese informasie-stofsuier.

Rustig, ek dink die vissies gaan dalk effe groot raak in die plaasdam en dan gaan hulle baie meer as net jou voete eet!
Marina, kan ek by voorbaat erkenning kry en net so ‘n klein deeltjie van die wins…?
Thanx vir die kuier hier, Emil.
rosalindfranklin said,
May 27, 2008 at 1:19 am
Wow, klink oulik. Hoe voel jou skurwe voete nou?
Marina said,
May 27, 2008 at 9:02 pm
Dellie said,
May 28, 2008 at 8:32 pm
Ek sal dit beslis kan geniet.
Bertus! said,
May 29, 2008 at 5:32 pm
Die Arabs in Ajman het ook sulke vissies
boerinballingskap said,
May 30, 2008 at 12:01 am
Ek neem aan Ajman is in die VAE? Indien wel, wat keer jou?
Blixer said,
June 5, 2008 at 1:17 am
En as die visse groot is verkoop hulle dit aan die Chinese?
boerinballingskap said,
June 5, 2008 at 1:36 am
Ek weet nie, maar ek het ‘n vermoede die vissies raak nie veel groter nie.
Aquana waterpark « Kaalvoet ini reen said,
June 17, 2008 at 11:19 pm
[...] en what have you not! Oooh! En dan was daar ook van daai “dr. fish” waarvan BiB so ruk terug gepraat het. Ek moes dit natuurlik probeer en dit was al te [...]
boerinballingskap said,
July 22, 2008 at 11:55 pm
Hier is ‘n interessante artikel oor die eerste Doctor Fish spa in die VSA.