Koning Shinmun van Silla

S7305726Koning Shinmun van Silla was die 31ste monarg van die Silla Dinastie en het geheers vanaf 681 tot 691. Hy was die oudste seun van die invloedryke Koning Munmu (heerser van 661-681) en het aan bewind gekom na sy pa, nie net suksesvol die koninkryke van Baekje en Gorguryeo verslaan het nie, maar ook die Chinese magte uit Silla verdryf het. Ter ere van sy ontslape pa het hy die groot Gameunsa tempelkompleks, halfpad tussen Gyeongju en die Oos-see, in 682 voltooi. Daar is geglo dat hierdie tempel Silla teen invalle uit die Oos-see sou beskerm. Shinmun was tydens sy heerskappy deurentyd betrokke in ‘n felle stryd teen dieS7305729 invloedryke adelstand wat hom van die troon af probeer verwyder het, omdat hy sommige van hulle voorregte ontneem het. Dit het gelei tot tot sosiale onrus en verskeie opstande teen sy bewind. Gedurende 689 het hy selfs ‘n poging aangewend om die Silla hoofstad vanaf Gyeongju na Daegu te verskuif om sodoende die aristokrasie se invloed te erodeer. Hierdie poging het egter te veel teenstand ontlok en is laat vaar.

S7305732Afgesien van die wrede onderdrukking van diegene wat sy gesag uitgedaag het, is Shinmun na sy dood as ‘n goeie regeerder vereer. Hy het ‘n groot uitdaging gehad om die verslane koninkryke van Baekje en Gorguryeo op georganiseerde wyse onder Silla-beheer te plaas. Dit het hy gedoen deur die staatsdiens te hervorm en deur verskeie nuwe wetgewings. So het hy daarin geslaag om Silla se nuutgewonne grondgebied ordelik te administreer en die nuwe Silla burgers sosiaal te integreer. Hy het Silla in nege nuwe provinsies gedeel en provinsiale hoofstede gevestig. Hy het ook vir die eerste keer in Silla ‘n akademie op die been gebring om opleiding in Confucianisme moontlik te maak.

S7305735

S7305736Shinmun se groot somergroen graf is te vinde aan die voete van Nangsan (berg), tussen die treinspoor en die hoofpad vanaf Gyeongju na Bomun -meer. Daar is moeite gedoen om ‘n mooi ingang te skep, asook ‘n tradisionele teelmuur reg rondom die graf te bou. Wat ek hier vir die eerste keer teegekom het, is die vertikale ondersteuningsstene wat deel vorm van die graf se basisstene.

Vir baie mag hierdie grasgrafte vervelig voorkom, maar ek hou baie van hierdie grafte in Korea. Dit laat my voel of ek darem vir so ‘n paar nano-sekondes die geskiedenis kan aanraak en my gedagtes kan laat gaan in ‘n poging om die lewes en strewes van die heersers van weleer vas te vang.