
Foto: www.alaskareport.com
Ek het voorheen daarna verwys dat die uitslag van die 2008 Amerikaanse Presidentsverkiesing nog deur ‘n hele aantal veranderlikes kan beinvloed word, waaronder die keuse van Vise-Presidentskandidaat. En nou wil dit voorkom asof John McCain se keuse van die Alaska Goewerneur, Sarah Palin, moontlik ‘n deurslaggewende rol kan speel.
McCain het vriend en vyand verras deur die onbekende en konserwatiewe 44-jarige vroue-goewerneur bo talle ander meer ervare Republikeinse kandidate as sy regterhand te kies. Hierdie is ‘n enorme waagstuk deur McCain en net die tyd sal leer of dit ‘n briljante strategiese skuif is, of een van die domste, kortsigste besluite wat al ooit deur ‘n Presidentskandidaat geneem is.
Wat tot die McCain-kamp se voordeel strek, is dat hy verseker daarin geslaag het om die media-kollig vanaf Barack Obama af te rokkel. Hy het iets opsraakwekkends nodig gehad om die media-aandag van Obama te steel na Obama se verbeeldingryke en charismatiese toespraak by die onlangse Demokratiese Nasionale Konvensie. Hierin het McCain verseker geslaag. Sy keuse van Palin is kontroversieel en die media is eensklaps obsessief en naarstiglik gefokus op die nuwe, onbekende faktor met die naam, Sarah Palin (ma van vyf en voormalige skoonheidskoningin).
Deur hierdie jong, onbekende en onpretensieuse vrou te kies as sy Vise-Presidentskandidaat, is dit duidelik dat McCain twee vliee met die spreekwoordelike een klap probeer doodslaan, nl. 1) om die ontnugterde vroue-kiesers wat Hillary Clinton ondersteun het by Obama af te rokkel, en 2) om bo alle twyfel te bewys dat hy sy eie kop volg en nie ‘n meeloper is van gevestigde Washington-belange (soos wat Obama voorgee) nie. Palin is so ver verwyderd van die sentrale politieke kringe in Washinton DC as wat mens jy jouself kan indink en het op haar polities jeugdige ouderdom reeds ‘n rekord as die van ‘n politieke onafhanklike en buitestaander. Voorts poog McCain om sy eie, gevorderde ouderdom met ‘n inspuiting van dinamiese jeugdigheid te balanseer, asook om die invloedryke Evangelies-konserwatiewe vleuel van sy party te beindruk.
Die keuse van Palin is egter ‘n twee-snydende swaard. Tot dusver was was McCain se veldtog deurgaans daarop geskoei om Obama as te onervare vir die Withuis uit te beeld. Deur Palin te kies, wys McCain egter nou dat ervaring nie werklik so baie vir hom tel nie, want hy het omtrent die mees onervare kandidaat geskies as wat hy kon. Gesien teenoor Palin, kom Obama nou skielik as ‘n deurwinterde leier voor. Die Obama-kamp het ook nie lank geneem om juis rondom hierdie kwessie aanvalle op McCain te loods en sy skynbare dubbele standaarde uit te wys nie.
Omdat McCain reeds 72 is, asook ‘n voormalige kankerpasient, is die kritici dit eens dat hy juis ‘n baie ervare Vise-Presidentskandidaat moes kies wat op kort kennisgewing by hom as president sou kon oorneem, sou sy gesondheid hom in die steek laat. Die jong en onervare Palin boesem eenvoudig net nie genoeg vertroue in om gesien te word as die volgende president nie, sou McCain se gesondheid hom in die steek laat.
McCain se keuse van Palin is ‘n geweldige politieke waagstuk en soos dit maar gaan met waagstukke, kan hierdie besluit McCain maak of breek. Dit is nog te vroeg om ‘n voorspelling in hierdie verband te maak, maar waarin McCain reeds geslaag het, is om die stryd baie interessanter (en mooier!) te maak…
NS: Obama het onlangs die ervare en gerespekteerde Demokratiese politikus, Joe Biden, as sy Vise-Presidentskandidaat aangewys. Dit was ‘n redelik voorspelbare keuse en is daarop gemik om Obama se jeug en oenskynlike gebrek aan ervaring te balanseer met iemand wat jare se ervaring in veral buitelandse beleidskwessies het.


