Goryeong – die heimat van Daegaya

Goryeong is ‘n plattelandse dorp (bevolking 35 000), ongeveer ‘n uur en ‘n half suid-wes van Gyeongju , waar ek woon. Op die oog af is daar niks spesiaals aan hierdie dorp nie en lyk dit soos vele ander Koreaanse dorpe, met heuwels, ‘n rivier en die somergroen ryslande wat elke ongeboude spasie vul. Tog is Goryeong nie sommer enige dorp nie.

S7306311S7306310S7306300S7306291

Hierdie dorp was 5 eeue lank die hoofsetel van Daegaya (42-562vC) – een van die prominentste stadstate binne die groter antieke Gaya Konfederasie (‘n losse samevoeging van stadstate en klein stamkoninkryke). Daegaya was ‘n baie klein entiteit in vergelyking met die 3 groot antieke koninkryke van Silla, Baekje en Gorguryeo. Dit was ook Daegaya se lot om vir meeste van sy bestaan ‘n geo-politieke speelbal te wees tussen Baekje en Silla, wat albei gepoog het om hulle invloedsfeer uit te brei. Ondanks hierdie onbenydenswaardige posisie, het die Deagaya-kultuur floreer en het hulle hul merk gemaak op talle terrein, vanaf die kunste tot (veral) metaalwerke. Gedurende 554 het Daegaya met Baekje geallieer, maar hierdie alliansie is beslissend verslaan deur die magte van Silla. Daegaya is daarna in 562 finaal deur die Silla-magte verslaan en die grootste deel van die Gaya Konfederasie is ingelyf by Silla. Baekje het in die proses ook geslaag om ander kleiner dele van die Konfederasie te usurpeer.

S7300002

Wat Goryeong veral spesiaal maak en bekend maak in Korea, is die konsentrasie van antieke grastombes op Jusan (berg). Daar is by die 200 van hierdie tombes op Jusan, waarvan die grootstes al langs die riflyn van die berg le. Aan die voet van die berg, vind jy die baie interessante Daegaya museum, wat mens ‘n baie goeie indruk gee van die Daegaya-kultuur en die leefwyse van eeue terug. Mens is eintlik gefassineer om te sien hoe gevorderd die pottebakkery, ysterwerke en goudsmede so lank terug was. Die museum het ook baie oulike modelle wat presies uitbeeld hoe die grastombes van Daegaya gebou is.

S7306319S7306321

S7306322S7306326

Net langs die museum is die indrukwekkende Daegaya Koninklike Graf – ‘n volledige rekonstruksie (die enigste in Korea) van die grootste tombe op Jusan. Hierdie rekonstruksie van wat die argeoloe ontdek het tydens uitgrawings, word genoem Sungjanmyo - ‘n naam wat daarna verwys dat baie mense saam in een graf begrawe is.

S7300003

Hierdie graf is die eerste waar daar bevestig is dat die antieke konings van Korea se diensknegte en lyfwagte lewendig saam met hulle begrawe is. (Dieselfde gebruik is blykbaar ook beoefen deur die antieke Grieke, Romeine en die Inkas). Daar is bloot geglo dat die koninklikes hierdie diensknegte sou nodig kry in die hiernamaals. In die geval van hierdie graf is daar altesaam 37 lewendige volgelinge van die koning saam met hom begrawe. Wreed, maar inderdaad fassinerend!

S7306342S7306357

Agter hierdie rekonstruksie loop ‘n paadjie oor Jusan , wat al langs die grastombes kronkel en mens pragtige vergesigte bied. Nie om te se dat dit ‘n paadjie is wat mens nie laat sweet en blaas nie! Maar as jy so gelukkig is om in die middel van die Koreaanse somer hier te stap en papnat is van die sweet, kan jy bevoorreg voel as ‘n lekker swartwolk-donderstorm kom laer trek en jou na 20 minute papsopnat en modderig, maar ten minste verfris agterlaat.

S7306376S7306373S7306387S7306382

S7300007

Na die grasfgrafte agter die rug is, kronkel hierdie paadjie verder deur die bosse, wat baie aan Tsitsikamma en omgewing herinner. Dit bied jou die kans om dalk allerhande interessante kreature raak te loop, wat ekstra kleur aan hierdie uitstappie verskaf…

S7306418S7306421

Wanneer jy modderig, moeg en papnat weer die dorp se strate tref, voel jy verryk deur die ervaring en dae later wonder jy steeds oor al daardie ongelukkige siele wat getrou die konings na die doderyk moes volg…

Â