Goryeong is ‘n plattelandse dorp (bevolking 35 000), ongeveer ‘n uur en ‘n half suid-wes van Gyeongju , waar ek woon. Op die oog af is daar niks spesiaals aan hierdie dorp nie en lyk dit soos vele ander Koreaanse dorpe, met heuwels, ‘n rivier en die somergroen ryslande wat elke ongeboude spasie vul. Tog is Goryeong nie sommer enige dorp nie.




Hierdie dorp was 5 eeue lank die hoofsetel van Daegaya (42-562vC) – een van die prominentste stadstate binne die groter antieke Gaya Konfederasie (‘n losse samevoeging van stadstate en klein stamkoninkryke). Daegaya was ‘n baie klein entiteit in vergelyking met die 3 groot antieke koninkryke van Silla, Baekje en Gorguryeo. Dit was ook Daegaya se lot om vir meeste van sy bestaan ‘n geo-politieke speelbal te wees tussen Baekje en Silla, wat albei gepoog het om hulle invloedsfeer uit te brei. Ondanks hierdie onbenydenswaardige posisie, het die Deagaya-kultuur floreer en het hulle hul merk gemaak op talle terrein, vanaf die kunste tot (veral) metaalwerke. Gedurende 554 het Daegaya met Baekje geallieer, maar hierdie alliansie is beslissend verslaan deur die magte van Silla. Daegaya is daarna in 562 finaal deur die Silla-magte verslaan en die grootste deel van die Gaya Konfederasie is ingelyf by Silla. Baekje het in die proses ook geslaag om ander kleiner dele van die Konfederasie te usurpeer.

Wat Goryeong veral spesiaal maak en bekend maak in Korea, is die konsentrasie van antieke grastombes op Jusan (berg). Daar is by die 200 van hierdie tombes op Jusan, waarvan die grootstes al langs die riflyn van die berg le. Aan die voet van die berg, vind jy die baie interessante Daegaya museum, wat mens ‘n baie goeie indruk gee van die Daegaya-kultuur en die leefwyse van eeue terug. Mens is eintlik gefassineer om te sien hoe gevorderd die pottebakkery, ysterwerke en goudsmede so lank terug was. Die museum het ook baie oulike modelle wat presies uitbeeld hoe die grastombes van Daegaya gebou is.




Net langs die museum is die indrukwekkende Daegaya Koninklike Graf – ‘n volledige rekonstruksie (die enigste in Korea) van die grootste tombe op Jusan. Hierdie rekonstruksie van wat die argeoloe ontdek het tydens uitgrawings, word genoem Sungjanmyo - ‘n naam wat daarna verwys dat baie mense saam in een graf begrawe is.

Hierdie graf is die eerste waar daar bevestig is dat die antieke konings van Korea se diensknegte en lyfwagte lewendig saam met hulle begrawe is. (Dieselfde gebruik is blykbaar ook beoefen deur die antieke Grieke, Romeine en die Inkas). Daar is bloot geglo dat die koninklikes hierdie diensknegte sou nodig kry in die hiernamaals. In die geval van hierdie graf is daar altesaam 37 lewendige volgelinge van die koning saam met hom begrawe. Wreed, maar inderdaad fassinerend!


Agter hierdie rekonstruksie loop ‘n paadjie oor Jusan , wat al langs die grastombes kronkel en mens pragtige vergesigte bied. Nie om te se dat dit ‘n paadjie is wat mens nie laat sweet en blaas nie! Maar as jy so gelukkig is om in die middel van die Koreaanse somer hier te stap en papnat is van die sweet, kan jy bevoorreg voel as ‘n lekker swartwolk-donderstorm kom laer trek en jou na 20 minute papsopnat en modderig, maar ten minste verfris agterlaat.





Na die grasfgrafte agter die rug is, kronkel hierdie paadjie verder deur die bosse, wat baie aan Tsitsikamma en omgewing herinner. Dit bied jou die kans om dalk allerhande interessante kreature raak te loop, wat ekstra kleur aan hierdie uitstappie verskaf…


Wanneer jy modderig, moeg en papnat weer die dorp se strate tref, voel jy verryk deur die ervaring en dae later wonder jy steeds oor al daardie ongelukkige siele wat getrou die konings na die doderyk moes volg…



Wipneus! het gesê,
September 12, 2008 at 3:08 vm
Baie mooi foto’s en ‘n interessante inskrywing.
Bib is dit ‘n trapsuutjie of padda aan die regterkant? Die dingetjie is te mooi! Kaalvoet het nou die aand ‘n groen padda ontdek en vir my foto’s gestuur. Dit is die mooiste padda! Dit lyk of sy pote deurskynend is soos glas!!
Dit is darem maar wreed om 37 volgelinge lewendig te begrawe. Sou dit nou vir die volgelinge ‘n eer gewees het? Wat ‘n leiding!
Die natuur is ongelooflik mooi in Korea!
Dankie ek het dit geniet!
Eilandkind het gesê,
September 12, 2008 at 4:23 vm
Ek hou van daai kronkelende paadjie, so tussen die heuwels.
Sjoe, hulle moet my maar liewer veras.
kaalvoetinireen het gesê,
September 12, 2008 at 10:56 vm
Eer se voet! Ek wil g’n lewendig begrawe word nie!!! Daai padda wat jy afgeneem het is rerig baie mooi. Ek is amper seker ek het ook al so oukie gekiek, maar sal eers weer moet gaan kyk. So donderstorm kan lekker wees as dit so warm is, maar daarna is dit maar drukkend. Dit is regtig ‘n baie mooi omgewing en die grafte wat so in rye staan is netso mooi. Daai laaste foto van jou is ‘n baie bekende foto van Goryeong…baie mooi.
BluegrassBaobab het gesê,
September 12, 2008 at 1:49 nm
Interessant! Reis bly darem maar ‘n bekoorlike aktiwiteit.
Wipneus! het gesê,
September 12, 2008 at 7:24 nm
Kaalvoet he he ek wil definitief ook nie lewendig begrawe word nie
Die padda is vir my ook baie mooi! Dankie Kaalvoet. Hy het amper die kleure van die blare langsaan.
Paula het gesê,
September 12, 2008 at 8:25 nm
Wow … indrukwekkend!
reisiger het gesê,
September 13, 2008 at 5:00 vm
Die koninklike graf laat my nogal aan ‘n igloe dink. Jinne, maar dit was darem maar wreed om die arme ouens lewend saam te begrawe!
Dis ‘n lieflike foto van die kronkelpaadjie met die berge so deinserig in die agtergrond!
Geniet jou langnaweek Bib!
kaalvoetinireen het gesê,
September 13, 2008 at 10:03 vm
Bib, daai igloo is mos net ‘n voorstel van die oorspronklike graf ne? Die oorspronklike een is mos daar bo op die berg as ek reg verstaan het. Dit bly interessant en ek kom loer gereeld weer na daai mooi voetpad in die berg tussen die koninklikes
boerinballingskap het gesê,
September 13, 2008 at 1:44 nm
Ja, dis ‘n volledige rekonstruksie van die oorspronklike graf op die berg. Jou kennis van Korea is ook bewese, kom dit voor.

Reisiger, ek weet nie hoe jy weet ek het ‘n langnaweek nie, maar ek gaan my bes doen om dit te geniet.
Wipneus, ek sal weer ‘n ander keer ‘n bietjie blog oor die verskil tussen ‘n trapsuutjies en ‘n padda.
Reisiger het gesê,
September 13, 2008 at 1:53 nm
Ek let op in die klas Bib!
Het op Kaalvoet se blog gelees dis langnaweek.
Nikita het gesê,
September 15, 2008 at 5:41 vm
Sekere mense is ook geseen met langnaweke…werk ook nie veel aan daardie kant van die aardbol lyk dit vir my nie
Ek moet nog die klein paddatjie blog wat ons in die Lake Distrik gekry het, piepklein, jare laas so ‘n kleintjie in my hande gehad!
Lekker gelees en die foto’s is weereens ‘n wenner! Hier sorg ek dat ek altyd ‘n sambreel by my het, jy kan nie anders nie, anders sal jy ook elke nou-en-dan papnat gegooi word
mockajava het gesê,
September 16, 2008 at 5:44 nm
Ek moet se ek sal graag sefl n ekspidisie hiernatoe wil doen, ek dink ek gaan net nog bietjie wag vir die koue om terug te kom sodat ek nie myself dood sweet net om by die plek uit te kom nie, dankie boer vir die geskiedenis agter die plek, dit maak dit makliker en mens waardeer die plek meer ass jy die agtergrond van die verstaan en dan dit kan sien.
Goryeong en sy eindelose grafheuwels « Kaalvoet ini reen het gesê,
April 23, 2009 at 9:32 nm
[...] het lank terug hier oor Goryeong se geskiedenis geskryf, so ek gaan nie herhaal wat hy gese het nie. Julle moet maar [...]