Meesleurende Singapoer



Waar kan ek nou begin om in enkele, eenvoudige woorde die oorrompelende, meesleurende ervaring, genaamd Singapoer, oor te dra? Dis inderdaad ‘n uitdaging om in blote woorde reg te laat geskied aan hierdie eiland-stadstaat.



Miskien moet ek begin by dit wat vir my die mees opvallende kenmerk van Singapoer was. Dis die mees multi-etniese mengelmoes van mense wat ek in ‘n lang tyd raakgeloop het. Suid-Afrika het ook sy diversiteit, maar dis nie saamgedruk binne 700 of wat vierkante km nie (die stadstaat het die tweede hoogste bevolkingsdigtheid in die wereld). Maar Singapoer kan met reg ook aanspraak maak op die reenboog, al het die stad slegs 4 amptelike tale (Engels, Sjinees, Tamil en Maleis). Wat egter opvallend is, is dat dit nie bloot lippediens is nie, maar dat al vier tale in die praktyk gebruik word.


Die diversiteit van Singapoer word veral weerspieel deur die verskillende godsdienste wat ‘n duidelike teenwoordigheid het. Dis glad nie vreemd om letterlik in dieselfde straatblok ‘n vergulde Boeddhistiese tempel, ‘n oorweldigend versierde Hindoe-tempel, ‘n minimalistiese Sikh-tempel, ‘n tipiese moskee en ‘n moderne Metodistekerk, te sien nie.


Die tweede aspek wat Singapoer se ryke diversiteit vertoon, is die verskillende kosse . Singapoer is enige (avontuurlike) smulpaap se droom. As jy ooit Oosterse cuisine wil probeer, maar jy kan net een land besoek, dan is Singapoer jou logiese keuse. Hier kan jy 24-uur lank kies en keur wat jy wil eet en daarna sal jy nog steeds langgesig wees oor alles wat jy NIE kon probeer nie. Die Sjinese invloed op die cuisine is die grootste, synde dat Sjinese ook die meerderheid van die bevolking uitmaak. Dan is daar ‘n wye verskeidenheid Maleise kosse (kapenaars sal tuis voel), Indiese kosse, Thai, Koreaans, Nepalees, Tibetaans, Indonesies, Vietnamees ens. Natuurlik is daar ook westerse restaurante, indien jy terughunker na meer identifiseerbare disse. Ek dink die prentjie is duidelik.




Met hierdie ryk verskeidenheid invloede was dit vir my effe vreemd dat een van die gewildste disse viskop-kerriesop is en, in dieselfde liga, kerrie-krap. Krap is natuurlik ook baie gewild in Korea (minus die kerrie), maar dit was nog nooit een van my gunstelinge nie. Ek het ook
by verskeie restaurante paddas, vasgevang in klein hokkies, gewaar. Ek het nie vrae gevra nie en wou ook nie
noodwendig antwoorde he nie. Ek was heel tevrede met oa heerlike Laksa, Keoy Tow en ‘n skaapvleis-masala, gepaar met chappati . Natuurlik sal geen maaltyd in Singapoer afgerond wees, as jy dit nie afsluk met Singapoer se bekende Tiger-bier nie. En so van drinkgoed gepraat, jy kan op straat, byna oral waar jy gaan die lekkerste en varsste vrugtesap koop teen ‘n derde van die Tiger se prys. Dis hemels en word daar op die plek gemaak. Jy moet net kies uit die wye verskeidenheid vrugte wat beskikbaar is, insluitend vreemde vrugte wat ek van geen kant af ken nie en wat lyk of dit van ‘n ander planeet af kom. Later leer jy dat hierdie spesifieke vrugte doerian en pitaja (draakvrug) heet.


Singapoer is duidelik Oosters, maar die Britse koloniale invloede hier is steeds baie sterk. Baie strate is vernoem na Britse adellikes en vele geboue is vernoem na die persoon wat gesien word as die stigter van Singapoer, naamlik Sir Stamford Raffles. Die beroemde Raffles-hotel is die bekendste van hierdie plekke. Hoewel Singapoer minder Oosters as bv. Seoul of Tokio is, le die stad se aantrekkingskrag juis in die samevloeing, van die Weste, die Indiese sub-kontinent, Suidoos-Asie en die Verre Ooste in ‘n multi-kulturele prutpot.


Op straat word die etnisiteit daagliks uitgestal, waar jy die verskeidenheid mense kan waarneem. Jy loop interessante karakters raak, soos Yevgeni wat op die skepe werk (Singapoer is die besigste hawe in die wereld). Hy is van Letland en het my in gebroke Engels met kleur en geur vertel dat Letland se kos slegs is en die vrouens lelik! Nie so die petite Sjinese meisies wat by ‘n oorvloed massering-en refleksologie-salonne werk nie. Jy kan relatief goedkoop wegkom en die masserings is iets uit ‘n ander wereld.

Die argitektuur in Singapoer word gekenmerk deur kontras. Baie meer so as wat ek al in ander wereldstede ervaar het. Die stadsgedeelte wat met duiselingswekkende hoogtes oor die waterfront (genaamd Marinabaai) waak (en waar ontwikkelinge steeds voortgaan) is in kontras met die ou-wereldse en kleurvolle koloniale styl skakelhuise, wat die “ou” stad verteenwoordig.




Hierdie ouer dele van die stad het ‘n onmiskenbare sjarme en deur daar te wandel, voel dit soms asof dit De Waterkant of die Bo-Kaap kon gewees het. Om die waarheid te se, met die kombinasie van boustyle, maleise kosse, die hawe, die kosmopolitaanse gevoel en die kuierplekke langs die Marinabaai , het Singapoer bepaalde eggo’s van Kaapstad.


Marinabaai word gedefinieer deur die bekende Esplanade (dit behuis oa winkels, restaurante, teaters en kunsgallerye) wat soos ‘n reuse geskutte
ondier boggelrug tussen die palmbome rus. Die ander landmerk in Marinabaai is die sogenaamde Meerleeu
(“Merlion”) wat aan die voet van die wolkekrabbers spierwit en trots staan en water spuit. Die verhaal van die leeu is ook die verhaal van hoe Singapoer sy naam gekry het. Singapoer was lank terug bekend as die eiland van Temasek (“sea town”), maar legende lui dat Maleise reisigers op die eiland ‘n driekleur leeu (komende uit Hindoe-mitologie) ontdek het en die eiland toe herdoop het na Singa (leeu)pura (stad). ‘n Meer verklaarbare verhaal het dit dat die naam verander is om bloot ‘n meer kleurryke naam te gee vir die stad waar die Maleise Sultan se kroon gesetel was.

Aan die oorkant van Marinabaai is die reuse waarnemingswiel – die Singapore Flyer - onmiskenbaar. Die Flyer het in 2008 oopgemaak en Londen se Londen Eye vervang as die hoogste waarnemingswiel in die wereld (165m). Hierdie wiel draai baie stadig in die rondte en bied jou ‘n pragtige panoramiese uitsig oor die stad, wat jy andersins nie sou kon kry nie. Die indrukwekkende wolkekrabbers, die honderde en honderde skepe wat die seestrate vol le, Sentosa -eiland bekend vir sy vermaak en op ‘n helder dag, suidelike Maleisie en die noordelike eilande van Indonesie.


Natuurlik is Singapoer is veral ook bekend vir sy streng wette en lae misdaadsyfers . Sommer met die intrapslag word dit duidelik in jou kop ingeprent wat jou voorland is as jy dit sou waag om dwelms die land binne te bring. Gevolglik het Singapoer byna geen dwelmprobleem nie en ‘n afwesigheid van ernstige misdaad (wie’t nou weer
gese die doodstraf is nie ‘n afskrikmiddel nie?). Ander wette sluit in baie streng strawwe vir oa rommelstrooi, rook waar jy nie mag nie, kougom spoeg en selfs indien jy sou nalaat om na gebruik ‘n openbare toilet te spoel! Hierdie wette (of sal ek nou eerder se die konsekwente toepassing daarvan) maak van Singapoer ‘n verfrissende skoon en veilige stad om te besoek. In sommige kringe word Singapoer van outokrasie beskuldig, maar mens kan eerlik nie ‘n sweempie van ‘n outoritere atmosfeer bespeur nie. Om die waarheid te se, meeste inwoners lyk baie gelukkig en is verseker trots op hulle stad.


Maar moenie bang wees nie, jou grootste vrees in Singapoer is verseker nie die streng wette nie, maar eerder die stad se reputasie as ‘n inkopie-paradys . As jy perdalks Pagodastraat in Singapoer se Chinatown besoek (daar is ook Little India en die Arab Quarter), gaan jy heel moontlik bankkrot anderkant uitkom. Dis ‘n reuse deurloopmark met baie goedkoop klere en ‘n swetterjoel ander snuisterye en kosse wat ‘n aanslag op jou beursie loods. En nou noem ek nie eers die geweldige klomp uiters moderne en avant garde winkelsentrums wat regoor Singapoer le nie. By hierdie winkelsentrums kan jy enigiets koop waaraan jy kan dink, hoewel die pryse nie deurentyd die goedkoopste in die Ooste is nie.


Klimaatsgewys is Singapoer egter geen stad waar ek myself permanent of selfs tydelik sou wou vestig nie. Ek is nou maar eenmaal nie aanmekaar gesit vir hitte nie en die tropiese humiditeit in Singapoer is dreinerend. Af en toe is daar ‘n paar spatsels reen, maar dit koel nie juis enigiets af nie. Om alles te kroon bly hierdie temperatuur dieselfde regdeur die jaar.




Daar is nog soveel meer te doen in Singapoer waarvoor hier nie die nodige spasie is nie. Daar is Sentosa -eiland, ‘n fantastiese ondersee-akwarium, ‘n dieretuin wat beskou word as die beste in die wereld, die beroemde Jurung Voelpark en verskeie klein eilandjies en strande rondom Singapoer.



Kortom, Singapoer is ‘n meesleurende ervaring wat glad nie teleurstel nie en ‘n land wat die moeite werd is om tyd en geld op te spandeer.



En so leer ek nog iets! Dankie, BiB, dit was regtig interessant. En jou foto’s – baie mooi.
BiB, voorwaar ‘n meesleurende stad. Jy het dit baie mooi opgesom hierso. Ons was by Sentosa -eiland, die dieretuin , die Voëlpark asook die orgidee park. Ek dink Wipneus so heeltemal daar verlore geraak het, daar is omtrent orgidee vernoem na al die beroemdes, tot Madiba het sy eie orgidee daarso. Ongelukkig was ons net vir twee dae daar en het nie eers alles gesien wat ons wou nie. Orchard straat was nie vir my so indrukwekkend as wat ek dit voorgestel het nie.
Puik inskrywing!!
Baie interessant! Ek sal seker nooit daar kom nie, sal seker maar moet settle vir plekkies soos Leeudoringstad!
Bly jy het dit geniet, boendoe.
Zee, dis goed om te weet jy’t dit ook so ervaar. Mens se eie ervaringe bly maar subjektief, maar ek probeer altyd die geheelbeeld weergee soos ek dit werklik ervaar. Ek sal graag weer daar wil besoek, want daar’s so baie wat ek nog wil doen en sien.
Kop, moet nooit “nooit” se nie…en wat’s verkeerd met Leeudoringstad?
Ek sou die arme paddatjies vrygelaat het
Klink na ‘n besonderse plek, maar ek sal al my geld blaas as ek dinge so luister!
Ek is mal oor die ou boustyl en dit lyk nogal soos dele in die Kaap.
Dankie Bib, met jou uitstekende skryfstyl en foto’s voel dit omtrent of mens self die pols en ritme van Singapoer ervaar! Sou ek eendag dalk daar beland sal ek definitief ook ‘n voetmassering iewers inwerk – behoort hemels te wees na ‘n dag op jou voete in die strate.
Dankie, Thea! En ja, die voetmasserings is ‘n MOET!
Excellent Excellent Bib
But thou protest too much
Ek dink dis tyd dat hierdie boerseun huis toe kom. JIP! DIS wat ek dink. JY moet huis toe kom.
Dankie vir jou entoesiasme! My toekoms hang maar meerendeels saam met die beskikbaarheid van volhoubare werksgeleenthede. Gevolglik is die ongelukkige realiteit dat, wanneer ek sou besluit om Korea te verlaat, ek ook ernstig sal moet kyk na ander lande en nie net na SA nie.
Sjoe ek is in vervoering oor die argitektuur. Groot verskeidenheid!
Ongelooflik. Die argitektuur van die groot geboue laat dink my baie aan Dubai, asook die mengelmoes van mense.
Thanks, Kristiaan gaan miskien einde van die jaar soontoe en dit was nou baie nuttig om hierdie artikel te lees… Thanks!
Wow, dis great! Hy sal dit verseker baie geniet!
AAAAAAA! Dit het my sooo laat terugdink aan ons kuiertjie daar!!!! Alles so raakgevat! DankieBIB!!!!!!