die sonbesies sing nie

S7301791

die bedompige hitte kom kleef klam op jou vel

jy drink reeds liters koue water elke dag

die busse, taxi’s, treine, winkels, werkplekke en woonstelle het hul reeds tot lugversorging gewend

maar die sonbesies sing nog nie

die sonbesies sing nie

dit gaan ‘n warm somer wees…

Vrydagaand-song XVI

Sting – Fragile

Wanneer iemand baie bekend skielik sterf, word die herinneringe aan jou eie dooies vir wie jy eens lief was en so baie mee gedeel het, onwillekeurig en opeens weer opgewek en in jou gesig gewerp. Jy word opnuut gekonfronteer met die tydelikheid van jou eie brose bestaan en die wete dat verganklikheid nooit verder as ‘n voetval is…

die seer wat nie wil sneuwel…

Nog ‘n aangrypende en kontensieuse gedig uit die pen van my goeie vriend, Johan. Die tema van jeug as kanonvoer, is tydloos en universeel.

bosoorlog

ek onthou julle amal

toe julle nog jonk was
julle, seuns met die dowwe oe,
julle met gesigte onsigbaar onder die boshoed
wat edel magnus vlok en die befokte krokodil
blind sou volg
uitbundig selfs
soos die kinders wat julle was

al julle leeg gebloeides
al julle wat nooit sou leef nie
al julle met die skroot lywe
die flossie het jul gaan haal
die flossie het jul gespaar

al julle wat snags asemhaal
vlak soos 20 jaar terug langs ‘n nuwe kis
die boks met die oranje blanje blou bande… onthou?
ek onthou julle almal
wat hortend snuif snuif soos ‘n lam na sy ma
hortend ruik
in jul drome aan die muwwerige pink rook uit die granate
aan die kolkende stofwolke van Afrika

al julle gebaar in sonde
al julle wat eens babas was
liefdevol opgepas was
deur jul ma’s se kloek kloek klanke deur jul pa’s
se nerfaf hard gewerkte hande
ek onthou julle misbruiktes
en die blikkerige medaljes vir die dapperes van Suid-Afrika

al julle wat dood verwonde
lewens lei(y)
al julle wat maar net kon traai en traai
julle met die beperkte harte
en die knetterende onthoukamers
vol beendere
en
ofkos die glansswart kraai
van die haan

almal het vergeet van julle
wie se blaserige voete nooit gewas word nie
wie se vergifnis in die dag steeds verhandelbaar is
onthou ek jou nog
jong soldaat
van die oos vrystaat rante

(c) Johan Horn

die berg wat die gespartel effe ligter maak

Ek het ‘n ruk terug besluit dat Namsan net die regte medisyne is vir daardie ekstra paar kilo’s wat ek vanaf Suid-Afrika saamkarwei het terug Ooste toe. Dit was my plan om die berg te stap voor die volheid van die somer-humiditeit toeslaan, want ‘n masochis is ek nou ook nie. Dus het ek vroeg op ‘n bewolkte Saterdagoggend hierdie historiese berg suid van Gyeongju (my tuisstad, vir die wat nie weet nie) aangedurf, opsoek na nog eeu-oue Boeddhistiese kultuurskatte.

S7300998

Die sagte misreen het gelukkig gou gewyk en dit was die perfekte dag vir hierdie tipe oefening, maar weliswaar nie sulke goeie weer vir foto’s nie. Daar is duidelike waarskuwings teen slange, maar ongelukkig was ek nie so bevoorreg om een van hierdie pragtige pootlose reptiele raak te loop nie.

S7300995S7300993S7301029

By ‘n vorige geleentheid het ek die Samneunggok-vallei gestap. Hierdie keer het ek besluit om die pagoda van Yongjangsa op te spoor. Die pagoda staan op die plek waar historici vermoed die Yongjangsa tempel eeue terug was. Die pagoda is ‘n bekende landmerk in Namsan en maak ‘n legkaartprentjie waar dit fier en regop troon, steeds in een stuk na eeue. Dit is ongeveer 4.5 m hoog en is vermoedelik tussen die jare 700 en 900 gebou.

S7301001

‘n Entjie ondertoe met ‘n baie klipperige paadjie en met die hulp van ‘n klimtou hier en daar, tref mens ‘n interessante Boeddha-beeld aan op ‘n rondeklip-voetstuk – ‘n vorm wat nie dikwels gesien word nie. Die beeld is die van ‘n Maitreya (toekomstige) Boeddha en dit word gedateer na die begin van die 8ste eeu.

S7301015S7301012

Hoe presies die Boeddha sy kop verloor het, weet niemand nie, maar daar word bespiegel dat dit moontlik die werk kon wees van ekstreme Neo-Confucianiste tydens die Joseon -dinastie (1392-1910). Naas die beeld is daar ook ‘n relief in rots waar menige stappers hulle munte los met die hoop op goeie geluk.

S7301027

Vir ‘n wyle het ek vir ‘n lafenis gestop by die pawiljoen bo-op die berg en toe die lang paadjie afwaarts gevat. Aan die voet van die berg het ek afgekom op Koning Ilseong se heuwelgraf. Ilseong was die 7de koning van die Silla-dinastie (57-935vC) en het geheers in die jare tussen 134 en 154. Hy word onthou vir sy bydrae om landbou binne die koninkryk uit te brei. Tydens sy heerskappy het hy ook die bestaande klassestruktuur van die samelewing versterk deur die dra van juwele gemaak van goud, silwer, perels of jade deur nie-adellikes, te verbied.

S7301031

Behalwe vir die goeie oefening, is die hierdie berg altyd net wat ek nodig het om bietjie perspektief te kry. Die somergroen woude, inseklewe, voels, vergesigte en die soet smaak van helder bergwater kombineer as ‘n onvervangbare tonikum om die gewoonheid van die alledaagse gespartel effe ligter te maak.

 

Vrydagaand-song XV

Johnny Clegg & Savuka – The Crossing – Osiyeza (for Dudu)

Vir ‘n Vrydagnag en Saterdagoggend hier in die Ooste, een van Johnny se bestes!

Londen – Parys – Calitzdorp – New York

S7300149

Ek het op ‘n stadium Calitzdorp aangedui as een van my tien gunsteling bestemmings in Suid-Afrika. Met my onlangse besoek aan die Suidland het ek weer eens besef hoekom hierdie klein dorpie so tot my hart spreek. Eintlik is dit moeilik om my vinger presies te plaas op dit van Calitzdorp wat my so aantrek. Miskien is dit ‘n kombinasie van velerlei faktore of miskien is dit net een van daardie plekke met ‘n uiteindelik ondefinieerbare aantrekkingskrag.

S7300839S7300883

Calitzdorp is net eenvoudig vir my sonderling en rustig. Dis ‘n plekkie wat na my oordeel so gestroop is van die hedendaagse gejaagde materialisme dat dit pretensieloos nederig vertoon, daar waar dit tussen die Rooiberge en Swartberge nestel. Dis asof ‘n mens nog hier werklik kan asemhaal en weer waarlik mens kan wees. Hier, waar almal vir almal groet en die daaglikse omgang in winkels, restaurante en snuisteryplekke nie beperk word tot bloot ‘n kille transaksie nie. Dis asof die mense hier nog hart het.

S7300880S7300882

Die natuur hier in die Klein Karoo vertel ook sy eie, outentieke verhaal. Die riviere vol vis, die bokmakierie se luide roep wat bly eggo, die talle interessante vetplante wat jou gratis en ongerep met verwondering vul, die swerms tarentale wat alomteenwoordig blyk te wees…die algehele rustigheid en ongelooflike stilte saans wanneer die son oulaas buig. Daarom dan seker ook hoekom so baie kunstenaars en ander eksentriekes ‘n holte vir hulle voete vind hier, waar die blote woordjie “vrede” opnuut betekenis kry. Want dis hier waar die spinnerakke en besoedeling in jou kop tot nuwe klaarheid skoongewas word.

S7300856S7300868

Ebenhart Botha is reeds lank bekend vir sy pragtige handgemaakte pype. Maar wat my werklik beindruk het, is die handgemaakte kitare wat die vakmanskap en kreatiwiteit van Bertus Jordaan weerspieel. Ek is die eerste wat ruiterlik sal erken dat ek nie veel van musiekinstrumente weet nie, maar hierdie kitare was vir my kunswerke met pragtige klanke. Uit die aard van die saak sal mens sekerlik goedkoper fabrieksgemonteerde kitare uit die Ooste kan kry, maar kunswerke is dit nie.

S7300912S7300924

Wanneer mens Calitzdorp besoek, moet mens ook by die talle interessante winkeltjies en koffieplekke inloer. Aanskou die pragtige steenkerk, eet volstruisbiltong en klim Jakkalskop uit vanwaar jy vergesigte oor die dorp en omgewing kan inadem. Stap die pragtige Rooibergpoort en gaan maak lyn nat in die Gamka of Calitzdorpdam, waar die visarende nog roep. En laastens, maar definitief nie die minste nie, gaan proe die beste port in Suid-Afrika by die plaaslike wynkelders.

S7300156

Elke mens het seker sy eie spesiale plek waar hy asiel vind en kan anker gooi. Calitzdorp sal altyd die plek wees waar ek weer my hart voel klop en waar my siel opnuut suurstof vind.

Aanvaar dit nou! (‘n selfgesprek)

Toe ek verneem dat my suster en haar man pistool-in-die-gesig voor hulle huis in Somerset-Wes gekaap is, was ek nie heeltemal so verontwaardig of woedend soos ek gedink het ek sal wees nie. Ek was eerder dankbaar. Dankbaar dat hulle gespaar is en slegs ‘n motor verloor het. Buitendien is dit nie die eerste keer wat geliefdes van my aan geweldsmisdaad blootgestel word nie en sal dit ook seker nie die laaste keer wees nie. Ek het gewonder oor my gebrek aan woede en toe tref dit my: aanvaarding. Ek besef dat dit waarteen ek nou al so lank predik, nl. dat Suid-Afrikaners nie die pandemie van geweldsmisdaad bloot as normale lewensgang moet aanvaar nie , ‘n uitgediende argument is. Want sien, behalwe vir emigrasie, het Suid-Afrikaners werklik geen ander opsie nie. Om woede uit die hart te weer en om geestesgesondheid te behou, moet Suid-Afrikaners begin vrede maak met die situasie in Suid-Afrika.

  • Aanvaar dat gewapende rooftogte, moorde en motorkapings so eg Suid-Afrikaans is soos biltong, boerewors en braaivleis. Dis deel van die lewe in Suid-Afrika. Soos met sekere siektes (bv. kanker) kan jy versigtig wees en baie voorsorgmaatreels tref. Maar as dit die dag met jou gebeur, dan gebeur dit maar net en jy kan dit nie keer nie.
  • Aanvaar dat meeste misdadigers in Suid-Afrika wegkom met moord, nooit aangekeer word nie en selde die binnekant van ‘n tronk sien.
  • Aanvaar dat die president, kabinetsministers en senior staatsamptenare nie intellektuele reuse is nie.
  • Aanvaar dat staatsdepartemente geskoei is op die onderbou van onbevoegdheid.
  • Aanvaar dat logiese denke ‘n skaars kommoditeit binne regeringskringe is en besef dat jou sin vir humor jou hierdie feit hanteerbaar kan maak.
  • Aanvaar dat die SABC die spreekbuis van die regering was, steeds is en moontlik altyd sal wees.
  • Aanvaar dat baie Suid-Afrikaanse paaie besonder geskik is vir viertrek-voertuie en dat die land moontlik nooit Duitse autobahns sal he nie.
  • Aanvaar dat Eskom geen verband kan sien tussen kundigheid en kragvoorsiening nie. Waardeer die romantiek gekoppel aan kerse in die donker.
  • Aanvaar dat velkleur en politieke affiliasie in Suid-Afrika altyd boustene sal wees vir diskriminasie, nepotisme en bevoordeling.
  • Aanvaar dat die regering nooit tevrede sal wees met die demografiese samestelling van sportspanne nie (sokker uitgesluit).
  • Aanvaar die heersende strewe na middelmatigheid. Ten minste is daar ‘n strewe.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika se buitelandse beleid nou nie heeltemal is wat Madiba oorspronklik in gedagte gehad het nie.
  • Aanvaar dat onwettige immigrante altyd waardering sal toon vir die regering se lakse grensbeheer.
  • Aanvaar die pornografiese materialisme wat deurlopend skaamteloos tentoongestel word aan die groot meerderheid burgers wat in moedelose armoede leef.
  • Aanvaar dat die woordeboek se definisie van dienslewering nie geldig is in Suid-Afrika nie.
  • Aanvaar dat die name van stede en dorpe simbolies belangriker is as hoe daardie dorpe of stede bestuur word.
  • Aanvaar dat min Suid-Afrikaners ooit ‘n studie gedoen het van post-koloniale politiek in Afrika. Gun dus diegene wat steeds glo dat Suid-Afrika ‘n eldorado in wording is, hul verbeeldingsvlugte.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika ‘n Afrika-staat is en nie aan Westerse standaarde gemeet behoort te word nie.

My lysie het nou leeggeloop, maar ek dink die boodskap is duidelik: Aanvaar Suid-Afrika soos hy is . Ten spyte van vele menings, illusies, stemme en scenarios, gaan nie ek, jy of enige ander apologeet, idealis, denker of dromer enige noemenswaardige verskil maak nie.

This is as good as it’s gonna get .

Hou op kerm.

Hou op kla.

Hou op stribbel.

Hou op stry.

Hou op om jou siel te versaak.

Hou op raas.

Hou op rou.

Dis die lewe.

Dis soos dit is.

Dis Suid-Afrika.

Aanvaar dit nou!