Aanvaar dit nou! (‘n selfgesprek)

Toe ek verneem dat my suster en haar man pistool-in-die-gesig voor hulle huis in Somerset-Wes gekaap is, was ek nie heeltemal so verontwaardig of woedend soos ek gedink het ek sal wees nie. Ek was eerder dankbaar. Dankbaar dat hulle gespaar is en slegs ‘n motor verloor het. Buitendien is dit nie die eerste keer wat geliefdes van my aan geweldsmisdaad blootgestel word nie en sal dit ook seker nie die laaste keer wees nie. Ek het gewonder oor my gebrek aan woede en toe tref dit my: aanvaarding. Ek besef dat dit waarteen ek nou al so lank predik, nl. dat Suid-Afrikaners nie die pandemie van geweldsmisdaad bloot as normale lewensgang moet aanvaar nie , ‘n uitgediende argument is. Want sien, behalwe vir emigrasie, het Suid-Afrikaners werklik geen ander opsie nie. Om woede uit die hart te weer en om geestesgesondheid te behou, moet Suid-Afrikaners begin vrede maak met die situasie in Suid-Afrika.

  • Aanvaar dat gewapende rooftogte, moorde en motorkapings so eg Suid-Afrikaans is soos biltong, boerewors en braaivleis. Dis deel van die lewe in Suid-Afrika. Soos met sekere siektes (bv. kanker) kan jy versigtig wees en baie voorsorgmaatreels tref. Maar as dit die dag met jou gebeur, dan gebeur dit maar net en jy kan dit nie keer nie.
  • Aanvaar dat meeste misdadigers in Suid-Afrika wegkom met moord, nooit aangekeer word nie en selde die binnekant van ‘n tronk sien.
  • Aanvaar dat die president, kabinetsministers en senior staatsamptenare nie intellektuele reuse is nie.
  • Aanvaar dat staatsdepartemente geskoei is op die onderbou van onbevoegdheid.
  • Aanvaar dat logiese denke ‘n skaars kommoditeit binne regeringskringe is en besef dat jou sin vir humor jou hierdie feit hanteerbaar kan maak.
  • Aanvaar dat die SABC die spreekbuis van die regering was, steeds is en moontlik altyd sal wees.
  • Aanvaar dat baie Suid-Afrikaanse paaie besonder geskik is vir viertrek-voertuie en dat die land moontlik nooit Duitse autobahns sal he nie.
  • Aanvaar dat Eskom geen verband kan sien tussen kundigheid en kragvoorsiening nie. Waardeer die romantiek gekoppel aan kerse in die donker.
  • Aanvaar dat velkleur en politieke affiliasie in Suid-Afrika altyd boustene sal wees vir diskriminasie, nepotisme en bevoordeling.
  • Aanvaar dat die regering nooit tevrede sal wees met die demografiese samestelling van sportspanne nie (sokker uitgesluit).
  • Aanvaar die heersende strewe na middelmatigheid. Ten minste is daar ‘n strewe.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika se buitelandse beleid nou nie heeltemal is wat Madiba oorspronklik in gedagte gehad het nie.
  • Aanvaar dat onwettige immigrante altyd waardering sal toon vir die regering se lakse grensbeheer.
  • Aanvaar die pornografiese materialisme wat deurlopend skaamteloos tentoongestel word aan die groot meerderheid burgers wat in moedelose armoede leef.
  • Aanvaar dat die woordeboek se definisie van dienslewering nie geldig is in Suid-Afrika nie.
  • Aanvaar dat die name van stede en dorpe simbolies belangriker is as hoe daardie dorpe of stede bestuur word.
  • Aanvaar dat min Suid-Afrikaners ooit ‘n studie gedoen het van post-koloniale politiek in Afrika. Gun dus diegene wat steeds glo dat Suid-Afrika ‘n eldorado in wording is, hul verbeeldingsvlugte.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika ‘n Afrika-staat is en nie aan Westerse standaarde gemeet behoort te word nie.

My lysie het nou leeggeloop, maar ek dink die boodskap is duidelik: Aanvaar Suid-Afrika soos hy is . Ten spyte van vele menings, illusies, stemme en scenarios, gaan nie ek, jy of enige ander apologeet, idealis, denker of dromer enige noemenswaardige verskil maak nie.

This is as good as it’s gonna get .

Hou op kerm.

Hou op kla.

Hou op stribbel.

Hou op stry.

Hou op om jou siel te versaak.

Hou op raas.

Hou op rou.

Dis die lewe.

Dis soos dit is.

Dis Suid-Afrika.

Aanvaar dit nou!