
Ek het op ‘n stadium Calitzdorp aangedui as een van my tien gunsteling bestemmings in Suid-Afrika. Met my onlangse besoek aan die Suidland het ek weer eens besef hoekom hierdie klein dorpie so tot my hart spreek. Eintlik is dit moeilik om my vinger presies te plaas op dit van Calitzdorp wat my so aantrek. Miskien is dit ‘n kombinasie van velerlei faktore of miskien is dit net een van daardie plekke met ‘n uiteindelik ondefinieerbare aantrekkingskrag.


Calitzdorp is net eenvoudig vir my sonderling en rustig. Dis ‘n plekkie wat na my oordeel so gestroop is van die hedendaagse gejaagde materialisme dat dit pretensieloos nederig vertoon, daar waar dit tussen die Rooiberge en Swartberge nestel. Dis asof ‘n mens nog hier werklik kan asemhaal en weer waarlik mens kan wees. Hier, waar almal vir almal groet en die daaglikse omgang in winkels, restaurante en snuisteryplekke nie beperk word tot bloot ‘n kille transaksie nie. Dis asof die mense hier nog hart het.


Die natuur hier in die Klein Karoo vertel ook sy eie, outentieke verhaal. Die riviere vol vis, die bokmakierie se luide roep wat bly eggo, die talle interessante vetplante wat jou gratis en ongerep met verwondering vul, die swerms tarentale wat alomteenwoordig blyk te wees…die algehele rustigheid en ongelooflike stilte saans wanneer die son oulaas buig. Daarom dan seker ook hoekom so baie kunstenaars en ander eksentriekes ‘n holte vir hulle voete vind hier, waar die blote woordjie “vrede” opnuut betekenis kry. Want dis hier waar die spinnerakke en besoedeling in jou kop tot nuwe klaarheid skoongewas word.


Ebenhart Botha is reeds lank bekend vir sy pragtige handgemaakte pype. Maar wat my werklik beindruk het, is die handgemaakte kitare wat die vakmanskap en kreatiwiteit van Bertus Jordaan weerspieel. Ek is die eerste wat ruiterlik sal erken dat ek nie veel van musiekinstrumente weet nie, maar hierdie kitare was vir my kunswerke met pragtige klanke. Uit die aard van die saak sal mens sekerlik goedkoper fabrieksgemonteerde kitare uit die Ooste kan kry, maar kunswerke is dit nie.


Wanneer mens Calitzdorp besoek, moet mens ook by die talle interessante winkeltjies en koffieplekke inloer. Aanskou die pragtige steenkerk, eet volstruisbiltong en klim Jakkalskop uit vanwaar jy vergesigte oor die dorp en omgewing kan inadem. Stap die pragtige Rooibergpoort en gaan maak lyn nat in die Gamka of Calitzdorpdam, waar die visarende nog roep. En laastens, maar definitief nie die minste nie, gaan proe die beste port in Suid-Afrika by die plaaslike wynkelders.

Elke mens het seker sy eie spesiale plek waar hy asiel vind en kan anker gooi. Calitzdorp sal altyd die plek wees waar ek weer my hart voel klop en waar my siel opnuut suurstof vind.



attie het gesê,
Junie 10, 2009 at 2:32 vm
BiB: Ek het my diensplig in Oudtshoorn gedoen en dit is waar, Calitzdorp het ‘n unieke bekoring.
netjane het gesê,
Junie 10, 2009 at 3:44 vm
Mooi! Met al my reise is dit nog nie ‘n plek wat ek gesien het nie,maar nou gaan ek probeer!
Nikita het gesê,
Junie 10, 2009 at 4:39 vm
Pragtig, ek is gek oor die Karoo en karoo-dorpies. Ek het nou onlangs ook ‘n karoo-inskrywing gehad. ‘n Plekkie wat ek geniet het was De Rus en natuurlik al die plekke daarlangs. Ek het so ‘n behoefte om net daarlangs te gaan vir een massiewe toer – net deur die Karoo en om al daardie pragtige natuurlewe weer te ervaar. Ek wil net wakker word en uitstap buitentoe en die karoo-stilte/mooiheid/skoonheid ervaar wat jy nie op ander plekke kry nie. Ek hou van sommige plantname vir karoo-plante, baie besonders en uniek.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:45 nm
Die Karoo IS magies.
kaalvoetinireen het gesê,
Junie 10, 2009 at 12:26 nm
Dit klink soos ‘n plek waar ek goed sal aard. Ek hou baie van vetplante en daardie een wat so opkrul is te oulik.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:43 nm
Miskien moet ons plan maak
Kaalvoetinireen het gesê,
Junie 11, 2009 at 1:33 nm
Ek wou nog se, daardie kitare is besonderse kunswerke!
Isabella het gesê,
Junie 11, 2009 at 4:52 nm
Sit nou lekker en tjank in my kantoor sonder vensters, 15 vloere hoog. Het grootgeword op Gamkasberg en hunker elke dag terug. Moederstad se nat weer akkordeer nie met ‘n Klein-Karoo kind nie. Ons voete frommel op en ons hare muf. Ons kort son, en kliprandjies en ‘n vals kerkklok.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:42 nm
(((Isabella)))
Laurence het gesê,
Junie 12, 2009 at 1:43 vm
Jinne Boer, ek het jou storie na my skoonsuster gestuur wat van Calitzdorp af kom, en nou het jy ‘n paar hartsnare gepluk! Daar is ‘n klomp mense wat ‘n baie sagte plek vir daai wêreld het.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:42 nm
George Maru het gesê,
Junie 12, 2009 at 3:47 vm
Die Klein-Karoo bly een van my gunstelingareas in Suid-Afrika. Lyk of Calitzdorp baie talent het. Ek het nie geweet van Botha en Jordaan nie, dankie. Calitzdorp is natuurlik ook Hylton Nel se tuiste wat bekendheid verwerf het vir sy keramiekwerk.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:41 nm
Ek sal volgende keer vir Nel probeer opspoor.
Reenen het gesê,
Junie 12, 2009 at 4:01 vm
Ai hoe verlang ek nou hier uit London, terug na daai ou dorpie! Perdry, Smitsrivier, die mense…
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:41 nm
Ek deel jou verlange!
mykopop het gesê,
Junie 13, 2009 at 12:01 vm
Ek dink ek het die dorpie tot dusver misgeswerf, maar dit lyk regtig my tipe plek. Ek sal eendag spesiaal ‘n pelgrimstog soontoe onderneem net om te gaan kyk teen watter pas het David Kramer se Stanley met die koei op sy skoot gery! Daai rooierige kitaar lyk reeds vir my net so reg vir David.
Thea het gesê,
Junie 14, 2009 at 8:28 nm
Ek wil nie meer net sulke pragtige klein dorpies besoek nie, ek wil in een gaan bly!! Die gedeelte van die kunstenaars en eksentriekes is definitief op my van toepassing!
‘n Gerestoureerde ou huisie met oregan plankvloere en ‘n studio sal die ding doen! Maar vir eers het ek beslis ‘n nota gemaak om op ‘n volgende geleentheid as ons weer in die Kaap kom ook ‘n draai in Calitzdorp te gaan maak. Die kitare is werklik pragtig gemaak en ek is seker manlief sal vir hom ook so een wil aanskaf!!
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:39 nm
Jy’s verseker nie die enigste een wat daar wil gaan bly nie…Dink nie jou man sal spyt wees oor die kitare nie.
boerinballingskap het gesê,
Junie 14, 2009 at 10:38 nm
Ek is so bly ek kan Calitzdorp ‘n bietjie aan mense bekendstel, want dis so ‘n spesiale plek en (vir almal wat daar wil uitkom) regtig die moeite werd om te besoek.
Briëtte Barry het gesê,
Junie 18, 2009 at 5:43 vm
Hi! Tog te lekker om te hoor ander mense dink so baie van die plek wat al vir meer as 27jaar my tuiste is. En alles is waar. As jy weer kom, laat ons weet dan wys ons vir jou ‘n paar regtige special plekke wat ons nie vir almal van vertel nie!
boerinballingskap het gesê,
Junie 19, 2009 at 12:46 vm
Klink na ‘n plan, Briette. Lekker om te hoor van ‘n Calitzdorper, terwyl ek hier in die verte sit!
Herma het gesê,
Junie 22, 2009 at 6:06 nm
Hi jong, ek het gewonder waar jy in die wereld is. En dat jy nou Calitzdorp uitgesoek het, my grootword dorp. Ek weet presies waar die foto’s geneem is, ai dis pragtig!
Gerrith het gesê,
Junie 22, 2009 at 7:50 nm
Hi BiB, jy doen my hometown baie goed gestand. Ek raak nog daagliks hartseer as ek terugdink. Daar is net een plek! Calitzdorp…. Ek hoop dit gaan goed met jou.
boerinballingskap het gesê,
Junie 23, 2009 at 12:27 vm
Herma…Gerrith, as julle is wie ek dink julle is, is dit baie lekker om julle kommentaar hier te sien! Hoop dit gaan goed met julle albei!
Gerrith het gesê,
Junie 24, 2009 at 8:42 nm
Ons is en dit gaan goed! Sterkte!