Derde beste lughawe?

Volgens Skytrax se 2009 evaluering van lughawens , is Changi Internasionale Lughawe in Singapoer die derde beste lughawe in die wereld, naas Incheon in Korea en Hong Kong in Sjina. Die drie top lughawens is die soveelste keer almal in Asie. Ek was nou nog nie naastenby op alle internasionale lughawens nie, maar het die voorreg gehad om die top 3 verskeie kere te besoek. Nou weet ek nie presies hoe Skytrax te werk gaan nie, maar in my beskeie mening is Changi die beste. Hiermee bedoel ek nie om Incheon of Hong Kong af te skiet nie. Ek het reeds hierdie spesifieke lughawens telkemale besoek en hulle is van die beste in die wereld. Ek glo bloot net Changi is beter.

S7300538S7300548

Wat die ontwerpers van Changi duidelik in gedagte gehad het, was om die pynlike ervaring van lang reise te verlig deur ‘n oase te skep waar reisigers in ‘n rustige atmosfeer kan ontspan. En in hierdie doel slaag hulle met vlieende vaandels. Vir die uitgeputte reisiger is Changi inderdaad ‘n oase.

S7300569

Sekerlik die hoof aspek wat bydra tot hierdie atmosfeer van rustigheid, is die pragtige tuine binne en buite die lughawegebou. Die indrukwekkendste van hierdie tuine, is die kleurryke orgidiee wat kunstig aangele is rondom koi-visdamme. As stad is Singapoer bekend vir sy orgidiee en nerens word die verskeidenheid van hulle orgidiee-skat beter tentoongestel, as binne die lughawe nie. Hoewel die orgidiee die kalklig steel, is daar vele ander tuine met oa inheemse bome, bougainvillea en sonneblomme, almal uitgele rondom dammetjies, met die bydraende estetika van houtbruggies, paadjies, lopende water en watervalle.

S7300549S7300552S7300570S7300551

As jy klaar die tuine bewonder het en daar is tyd en geld, kan jy in die honderde winkels gaan rondsnuffel of iets eet en drink by een van die talle restaurante, kafees of koffiewinkels. Die lughawe is een, reuse winkelkompleks.

S7300950S7300577

Steeds verveeld? Gaan kyk gratis een van die nuutste fliek-vrystellings, spandeer gratis ure op die Internet, speel jou gunsteling Playstation -of rekenaarspeletjies, Sit oorfone op en gaan ontspan in die musiekkamer se uiters gemaklike stoele. Gaan vir massering of refleksologie of neem ‘n lekker stort om die tamheid van die reis af te was. En as jy nou REGTIG tyd het, neem een van die gratis stadstoere vanaf die lughawe om Singapoer te gaan verken.

S7300580

Changi het my mateloos beindruk en ek sou selfs sover gaan om te se dat dit die moeite werd is om Singapoer te besoek net om die lughawe te sien. Kortom, as Tom Hanks in die rolprent Terminal op Changi gestrand was ipv JFK , sou hy dalk glad nie omgegee het nie en selfs daar wou bly.

NS: In die Skytrax evaluering word Kaapstad aangedui as die beste lughawe in Afrika, wyl ek onder die indruk was dat Johannesburg O.R. Tambo hierdie eer toekom…