Volgens Skytrax se 2009 evaluering van lughawens , is Changi Internasionale Lughawe in Singapoer die derde beste lughawe in die wereld, naas Incheon in Korea en Hong Kong in Sjina. Die drie top lughawens is die soveelste keer almal in Asie. Ek was nou nog nie naastenby op alle internasionale lughawens nie, maar het die voorreg gehad om die top 3 verskeie kere te besoek. Nou weet ek nie presies hoe Skytrax te werk gaan nie, maar in my beskeie mening is Changi die beste. Hiermee bedoel ek nie om Incheon of Hong Kong af te skiet nie. Ek het reeds hierdie spesifieke lughawens telkemale besoek en hulle is van die beste in die wereld. Ek glo bloot net Changi is beter.


Wat die ontwerpers van Changi duidelik in gedagte gehad het, was om die pynlike ervaring van lang reise te verlig deur ‘n oase te skep waar reisigers in ‘n rustige atmosfeer kan ontspan. En in hierdie doel slaag hulle met vlieende vaandels. Vir die uitgeputte reisiger is Changi inderdaad ‘n oase.

Sekerlik die hoof aspek wat bydra tot hierdie atmosfeer van rustigheid, is die pragtige tuine binne en buite die lughawegebou. Die indrukwekkendste van hierdie tuine, is die kleurryke orgidiee wat kunstig aangele is rondom koi-visdamme. As stad is Singapoer bekend vir sy orgidiee en nerens word die verskeidenheid van hulle orgidiee-skat beter tentoongestel, as binne die lughawe nie. Hoewel die orgidiee die kalklig steel, is daar vele ander tuine met oa inheemse bome, bougainvillea en sonneblomme, almal uitgele rondom dammetjies, met die bydraende estetika van houtbruggies, paadjies, lopende water en watervalle.




As jy klaar die tuine bewonder het en daar is tyd en geld, kan jy in die honderde winkels gaan rondsnuffel of iets eet en drink by een van die talle restaurante, kafees of koffiewinkels. Die lughawe is een, reuse winkelkompleks.


Steeds verveeld? Gaan kyk gratis een van die nuutste fliek-vrystellings, spandeer gratis ure op die Internet, speel jou gunsteling Playstation -of rekenaarspeletjies, Sit oorfone op en gaan ontspan in die musiekkamer se uiters gemaklike stoele. Gaan vir massering of refleksologie of neem ‘n lekker stort om die tamheid van die reis af te was. En as jy nou REGTIG tyd het, neem een van die gratis stadstoere vanaf die lughawe om Singapoer te gaan verken.

Changi het my mateloos beindruk en ek sou selfs sover gaan om te se dat dit die moeite werd is om Singapoer te besoek net om die lughawe te sien. Kortom, as Tom Hanks in die rolprent Terminal op Changi gestrand was ipv JFK , sou hy dalk glad nie omgegee het nie en selfs daar wou bly.
NS: In die Skytrax evaluering word Kaapstad aangedui as die beste lughawe in Afrika, wyl ek onder die indruk was dat Johannesburg O.R. Tambo hierdie eer toekom…



Nikita het gesê,
Julie 3, 2009 at 7:19 vm
Sjoe! dit lyk behoorlik na ‘n plek waar mens heerlik kan ontspan as jy so doodmoeg is van ‘n lang vlug. Daardie tuin lyk pragtig, ek sal spyt wees as my aansluitings-vlug byna dadelik is as ek hier geland het!–Jy weet seker dat Kaapstad se burgermeester (H Zille) verlede jaar aangewys was as die beste burgermeester in die wêreld. – sommer so terloops..terwyl jy met “bestes” besig is.
Girl van die Suburbs het gesê,
Julie 4, 2009 at 1:48 vm
Ja Nikita, want die diens suig hier in jozie! Hulle bou en breek nou so jy verdwaal op pad in en jy kom nie uit nie!
Nikita het gesê,
Julie 3, 2009 at 7:21 vm
Ek kan nie onthou nie, weet nie of dit Malaga is – in Spanje – of dalk in Switserland – maar een van die lughawens het die pragtigste kunswerke al langs die gange waarlangs jy loop as jy van jou vlug af kom tot waar jy moet deurgaan. – dink dit was ook hul nasionale kunstenaars se kunswerke gewees, maar inlegwerk, baie mooi.
Zee het gesê,
Julie 3, 2009 at 7:16 nm
BiB, ek stem heeltemal saam met jou, ek kon nie glo hoe groot hierdie lughawe was nie, en daardie tuintjie, ons het ons verstom aan die koi’s daarin en net die rustigheid wat dit uitstraal. Jinne, ek dink ek het ook die grootste plasma tv daar gesien.
Ek was al by Altlanta lughawe (nou nie so getoer soos jy al nie
) en dit is nie ‘n patch teen Singapoer nie, alhoewel ek die “concourse” daar geniet het, geen gesukkel om te stap nie, en hulle het sulke golf karretjies wat jou ook rondry.
Annora Eksteen het gesê,
Julie 6, 2009 at 12:05 vm
Amper so pragtig soos Rivendell!
rianabrand het gesê,
Julie 7, 2009 at 7:16 nm
Julle maak my sommer lus om te gaan vlieg! Lekker dag almal en dankie vir die intressante brokkie info.
BluegrassBaobab het gesê,
Julie 10, 2009 at 11:18 nm
Dis paradyse in vergelyking met Amerikaanse lughawens wat ek seker is ontwerp word, want dit voel so, as pure transisie punte Get you in and out ASAP. Dis natuurlik ver van die waarheid, want die weer speel so ‘n groot rol hier en vertraagings is gereelde gebeurtenisse wat onmiddelik die plekke in chaos laat verander. Dis obvious dat die ontwerpers van lughawens in die Ooste ‘n anderse uitkyk het van die doel van lughawens.