Kambae!

S7305791Gomchi en bykosseS7300674Gamchatang

Vir my bly vreemde lande se unieke disse altyd ‘n avontuur. Maar ook nooit anders nie, want ek is van kleins af ‘n smulpaap wat seker meer waarde heg aan dit wat by my mond ingaan as die gemiddelde man op straat. Hoe langer mens egter in ‘n ander land woon, hoe meer raak mens gewoond aan dit wat eens vreemd was. Dit raak naderhand ‘n uitdaging om nuwe disse, of ten minste variasies op die tema te vind. Maar ek volhard en so nou en dan is daar iets nuuts wat lekker is.

S7300546

Neem nou byvoorbeeld galbijim. Saggestoomde beesribbetjie in sojasous met aartappels, sampioene, sesamesaad en genoeg knoffel om Dracula vir die volgende paar jaar te laat hardloop. Daarmee saam die gebruiklike rys, kimchi, agurkies, lekker warm rissies en…nog knoffel. ‘n Heerlike Sondagmiddag-ete. Hoekom het ek dit nie voorheen probeer nie? Ek weet self nie…

Basot bulgogi 2Basot bulgogi3

Dan is daar basatbulgogi (direk vertaal: sampioen-gebraaide vleis). Die sagste stukke beesvleis word saam met ‘n verskeidenheid van sampioene, speserye en dun patatnoedels gaar gemaak. Die bykosse (afhangend van restaurant) sluit oa in gebraaide sojabone en kelp. Baie aangenaam, veral as jy sampioene so baie geniet soos ek.

Jambong

Jampong is ‘n vurige en gewilde dis vol rissiepeper, net reg vir die winter. Mens kan dit sekerlik beskryf as ‘n seekospotjie, met garnale, stukkies pylinkvis (squid), klein gaapskulpe (clams), verskillende groentes, sesamesaad en baie uie.

S7300397

En net nou die dag stap ek hier in die middedorp rond waar ek woon en ontdek ‘n oulike restaurant wat Koreaans-Japannese fusie-kos bedien. My bord was heerlik en billik. Dit het oa udong ingesluit – ‘n Koreaanse variasie van die Japannese udon – bestaande uit lekker dik graannoedels, gedroogde seegras, stukkies geperste visdeeg en fyngesnyde spriet-uie in ‘n soja-gegeurde soppie. Daarbenewens was die res van die bord se inhoud baie smaaklik en veral die sushi was regtig vars en geurig.

S7305795

Natuurlik geniet ek ook steeds my ou gunstelinge en in hierdie warm somer, eet ek gereeld naengmyun. Om die waarheid te se, so gereeld dat ek dit al tuis maak. Esteties gesproke nou nie heeltemal so aantreklik soos die wat jy in die restaurant bestel nie, maar volgens my oorwoe mening, net so lekker!

Ek weet kos is vir baie mense nou nie noodwendig die hoogtepunt van hulle dag nie, maar my bietjie raad aan almal: lekker en unieke kos (en wyn!) maak die lewe draagliker, interessanter, avontuurliker en vol kleur. Party mense wil Everest uitklim, ander ry met hulle fiets deur Afrika of deurkruis Antarktika. Maar meeste van my avonture beleef ek aan tafel, op ‘n bord of in ‘n glas.

Kambae!

(oftewel: geniet dit!)

S7305791Gomchi en bykosseS7300674Gamchatang