Jaar van die Tier
Seollal (Soos die Sjinese Nuwejaar in Korea bekend staan) is op ons en miljoene Koreane sal hierdie naweek die pad vat na hul ouerhuise, geboorteplekke en voorouers se grafte. Nou nie op dieselfde skaal as die reuse migrasie van biljoene Sjinese die naweek nie, maar minder ontwrigtend is dit nie – Korea het immers 50 miljoen mense wat saamwoon op ‘n stukkie aarde effe groter as die Vrystaat. Weke en selfs maande voor die tyd word treine, vliegtuie en busse bespreek en gedurende die naweek is daar ure en ure se verkeersopeenhopings op die paaie. Voor Seollal is die winkels ‘n malhuis vol geskenke en spesiale aanbiedinge. Baie trek hul veelkleurige tradisionele hanbok-uitrustings aan en tradisioneel word daar tteokguk (sop met ryskoekies) geëet. Die kinders speel tradisionele speletjies soos yutnori (‘n Koreaanse bordspeletjie), ry swaaie, spring wipplank, vlieg vlieërs en gooi houttolle. Dis uitermate ‘n gesinstyd.


En dit alles om afskeid te neem van die Jaar van die Os en die Jaar van die Tier te verwelkom. Die Koreane het ‘n spesiale verbintenis met die tier en dis ‘n dier wat telkens in ou Koreaanse volksverhale voorkom, hoofsaaklik as ‘n dapper beskermheer van die Koreaanse volk. In mitologie word die tier beskou as ‘n goddelike dier wat Korea simboliseer, baie soos die draak in Sjina. Die tier word meestal uitgebeeld as ‘n mistiese wese wat uit sy pad gaan om mense te help en teen bose invloede te beskerm. Vir Koreane simboliseer die tier vertroue en standvastigheid en daarom sal mens heel dikwels hier sien dat Korea se geografie as ‘n tier uitgebeeld word. Dit is voorts ook die embleem van die nasionale sokkerspan. Die verwagting in Korea is dus dat hierdie jaar ‘n baie goeie jaar vir die land en sy mense sal wees.


Vir diegene wat belangstel in die Oosterse Diereriem: Indien jy in 1938, 1950, 1962, 1974, 1986 of 1998 gebore is, is jy in die Jaar van die Tier gebore. As tier is beskik jy oor deursettingsvermoë en is jy entoesiasties, dapper, eerlik en vasberade. Voorts boesem jy vertroue in, hou jy van uitdagings en bly jy positief. Aan die negatiewe kant, is jy egter geneig om hardkoppig en rebels te wees en nie na ander se raad te luister nie. Jy jaag jou doelwitte ten alle koste en kan by tye bombasties en baasspelerig wees. Jy het nie baie diep vriendskappe nie en is van nature nie ‘n romantikus nie (ek is nie ‘n tier nie!).
NS: Die Sjinese Nuwejaar word ook amptelik gevier in oa Viëtnam, Mongolië, Bhutan, Taiwan, Maleisië en Singapoer. Dit word egter nie in Japan gevier nie.



Ek sidder om te dink hoe die paaie more gaan lyk, maar travel sal ek travel.
Die geskenkpakke in die winkels laat my mond nou nog oophang en toe moes my baas mos vir ons almal een koop. Ek is die gelukkige wenner van ‘n hele jaar se voorraad spam!
Het jy Spam gekry?!!!!
Sal jou maar help eet!
jip, genoeg vir ‘n jaar! Ek sal vir jou bring of jy kan kom haal hier op die eiland
Ek sal kom haal…met genoeg mosterd en tamatiesous smaak dit nie te sleg nie.
Not funny…
http://www.koreatimes.co.kr/www/news/nation/2010/02/117_60782.html
Sjoe! Bly ons is nie naby Seoul nie!
dit kan jy weer se
Dankie vir ‘n baie goeie pos. Die tier is vir my een van die allermooiste diere, veral die Bengaalse tier.
The tiger is for me one of the most beautiful animals.