Dis die Konyn se beurt
Die Tier lê vierpoot in die lug en dis weer daardie tyd van die jaar…die tyd wanneer die Koreane in hulle hordes reis na hulle geboortedorpe om die koms van die Sjinese Nuwejaar saam met familie te vier. Die 3de Februarie lui, volgens die Oosterse maankalender die Jaar van die Konyn in. Oor die algemeen staan die Oosterse nuwejaar as Sjinese Nuwejaar bekend en word, behalwe vir Sjina, oa ook gevier in Taiwan, Singapoer, Viëtnam* en natuurlik Korea. Hier in Korea staan dit bekend as Seollal. Baie Koreane sal op nuwejaarsdag tradisionele hanbok-uitrustings dra, tteokguk (sop met ryskoekies) eet en die tradisionele speletjies soos yutnori (‘n Koreaanse bordspeletjie) speel.

In Korea word die konyn verbind met gesondheid en spesifiek die lewer. Daar is dus baie Koreaanse volksverhale waarin die konyn help om die lewer van siek persone te herstel (‘n handige diertjie, inderdaad!). Die konyn word ook nou verbind met die maan en in die Koreaanse geskiedenis stel die konyn dikwels vriendskap, harmonie en goeie verhoudings tussen mense voor.

Indien jy enigsins belangstel: As jy gebore is in 1927, 1939, 1951, 1963, 1975, 1987 of 1999 is jy in die Jaar van die Konyn gebore. Die goeie eienskappe van jou persoonlikheid is dat jy ‘n goeie vriend is, asook vriendelik, sensitief, empaties, elegant, skaam, maar selfversekerd. Die negatiewe eienskappe is dat jy moontlik buierig en hardkoppig is en rykdom najaag.

Die beste deel van Seollal is dat ek vir drie volle dae en ‘n naweek verlof het. Vir eers groet ek en durf die pad aan saam met die miljoene ander hier in Korea. Die ski-hellings roep…
Voorspoedige Nuwejaar!
*In die Viëtnamese diereriem word die konyn met die kat vervang. Dus is dit in Viëtnam die Jaar van die Kat.



Hoe dan anders? Daar is mos ‘n haas op die maan!
Voorspoedige Nuwejaar vir jou Boer! Geniet die ski-hellings. Bou vir ons ‘n haas mannetjie uit die sneeu en stuur foto’s!
Die Aap stuur groete!
SF
Dankie, SF! Ski was lekker, maar die ou lyf is nou seer en styf!
Ek is ‘n ROT! Yikes!
Geniet die vakansie dae.
Thanks, vertel hopelik binnekort van my ervaringe.
Hoop daar’s die keer warm water…
Dis eintlik jammer dat jy die hasie op die maan net die kant kan sien…dink die Koreane sou nogal gefreak het daaroor
Daar was warm water!
Die jare is nie kalenderjare nie, ek is in Jan 1964 gebore en ‘n kat, ek hou meer van die idee om ‘n kat te wees as ‘n haas, om een of ander rede pas dit my beter
Welkom hier, Celia! Ja, die jare is natuurlik maankalenderjare.
Interessant genoeg was hier vandag nogal heelwat e-pos verkeer by die werk oor die feesvieringe hier in Jhb.
ek mis toe die jaar van die konyn… gelukkig ook maar!!!