Ek het onlangs bietjie op die Koreaanse blitstrein, bekend as die KTX (Korea Train Express ) rondgerits om nou ook eenmaal te ervaar hoe dit is om teen 300km/h oor die landskap te spoed. Nou-ja, ek was so effe teleurgesteld. Soos dit ook die geval is met passasiersvliegtuie, is die trein gans te groot en log om die adrenalienvlakke noemenswaardig aan te tas.

Ek het tot die slotsom gekom dat jy nie hierdie trein ry vir enige ander rede as om jou reistyd te beperk nie. Binne lyk en voel die trein soos die binnekant van ‘n vliegtuig, met dieselfde beperkte beenspasie wat altyd in ekonomiese klas ‘n pyn is (of is dit maar net ek met my lang bene?). Jy kan jou beenspasie drasties vergroot deur eersteklas te ry, maar teen ‘n prys. Die toilette is ook ‘n presiese kopie van die wat jy in ‘n vliegtuig sal aantref. Verder is daar die gebruiklike afslaantafeltjie, versnaperings wat bedien word en vermaak in die vorm van televisie. Dus, niks wat mens nie al voorheen ervaar het nie, sou jy al voorheen gevlieg het.

Maar soos ek genoem het is die grootste (en seker die enigste motivering) om hierdie vervoer te gebruik, tydsbesparing. Tussen Busan, in die suide van Korea en Seoul in die noorde, sal ‘n busrit ongeveer 5 ure beteken, met ‘n opsionele uur, sou jy in verkeersknope vasgevang word. Vir die gewone trein, tel nog ‘n halfuur by. Hierteenoor, vreet die KTX die afstand op in omtrent 2 en ‘n half uur (die KTX stop by ‘n paar stasies op pad na Seoul). Dit beteken jou reistyd word nie gekniehalter deur verkeersvloei nie, jy het meer tyd om in Seoul te spandeer, en jy is meer verfris en uitgerus as jy by jou bestemming uitkom.

Foto: Korea Times
Natuurlik is die Koreane laatlammetjies wanneer dit by hierdie tipe vorm van vervoer kom, met die KTX wat maar eers in 2004 operasioneel geword het. Die groot spelers op die gebied van blitstreine, is die Japannese en die Franse, met eersgenoemde wat reeds in 1964 hulle eerste blitstrein in gebruik geneem het. Dis dan juis ook die Franse wat die Koreane gehelp het met die ontwikkeling van die KTX. Daarom is die KTX in ontwerp en funksie, grotendeels ‘n kloon van die legendariese TGV (Train à Grande Vitesse). Eg in Oosterse tradisie, het die Koreane egter intussen hulle eie blitstrein ontwerp en gebou en die KTX II is in November 2008 onthul en behoort einde vanjaar of vroeg 2010 operasioneel te wees. Die nuwe weergawe van die blitstrein se topspoed sal in die omgewing van 350km/h wees en sal die huidige reistyd tussen Busan en Seoul verder verkort na sowat 2 uur 10 minute. (die huidige weergawe van die KTX se topspoed is 300km/h.)

Foto: Japanese Railway Society
Argumenteerbaar is die Japannese die baas van blitstreine met die Shinkansen, wat al reeds jare teen meer as 300km/h passasiers rondspoed. Om die waarheid te se het hulle reeds met ‘n nuwer weergawe van die Shinkansen 443km/h in ‘n toetslopie behaal, hoewel sulke hoe spoed tans nie as veilig geag word vir die vervoer van passasiers nie. Die Japannese hou ook die spoedrekord vir passasierstreine, opgestel in 2003, toe ‘n spesiale Shinkansen met die hulp van Maglev (magnetic-levitation)-tegnologie in 2003 teen 581km/h gegrondvlieg het. Die Franse is egter net ‘n kortkop agter en is in der waarheid die rekordhouers vir passasierstreinspoed op konvensionele metaalspore – ‘n TGV het in 2007 ‘n spoed van 574km/h behaal. Op hierdie stadium wil dit voorkom asof die Frans-Japannese oorheersing van die blitstreinbedryf sal voortduur, hoewel die Sjinese besig is om vinnig in te haal.

Sjina en Japan eksperimenteer reeds geruime tyd met die Maglev-tegnologie, wat die trein in staat stel om op magneetspore te sweef, eerder as op konvensionele metaalspore te ry. Hierdie tegnologie maak die treine nog blitsiger. In Sjina loop ‘n Maglev-trein reeds die kort afstand tussen Shanghai en die Pudong -lughawe teen ‘n verbysterende 430km/h. Planne is in die pyplyn om die Maglev-reikafstand uit brei met sowat 170km om die stad van Hangzhou in te sluit. Op hulle beurt beplan Japan om ‘n Maglev-trein tussen Tokio en Osaka gereed te he teen 2025. Die verwagting is dat hierdie trein die afstand van soway 400km teen 500km/h sal verorber. Duitsland het sy eie Maglev-planne vir Munchen eers op ys gesit, hoofsaaklik agv die wereldwye ekonomiese resessie.

Wat my uiteindelik by die vraag bring waarom ‘n geografiese groot land soos Suid-Afrika nie dalk kan bele in blitstrein-tegnologie op roetes tussen Pretoria, Bloemfontein, Port Elizabeth en/of Kaapstad nie. Behoort dit nie broodnodige verligting op die paaie te bring nie? Miskien is daar nie ‘n aanvraag nie en is lugvervoer goed(koop) genoeg? Of miskien is so ‘n stelsel sekerlik net te duur vir ‘n derde wereldland met ander, baie meer basiese bestaansprobleme? Die instandhouding van so ‘n stelsel is ook miskien ‘n rapsie bo SA se regstellende aksie vuurmaakplek? Maar mens kan seker steeds droom….
-
Vir die rekord: ‘n enkelkaartjie vir die KTX tussen Busan en Seoul kos tans die ekwivalent van R270 vir ekonomiese klas of R390 vir eersteklas (teen huidige wisselkoers).
-
So ver ek kon vasstel is die lande wat tans blitstreine gebruik wat teen 300km/h of meer ry: Frankryk, Duitsland, Brittanje, Spanje, Nederland, Belgie, Italie, Japan, Korea, Sjina en Taiwan. Brasilie is ook tans druk besig om hulle eie blitstrein gereed te kry vir die 2014 Wereldbeker-sokker.