die sonbesies sing nie

S7301791

die bedompige hitte kom kleef klam op jou vel

jy drink reeds liters koue water elke dag

die busse, taxi’s, treine, winkels, werkplekke en woonstelle het hul reeds tot lugversorging gewend

maar die sonbesies sing nog nie

die sonbesies sing nie

dit gaan ‘n warm somer wees…

die berg wat die gespartel effe ligter maak

Ek het ‘n ruk terug besluit dat Namsan net die regte medisyne is vir daardie ekstra paar kilo’s wat ek vanaf Suid-Afrika saamkarwei het terug Ooste toe. Dit was my plan om die berg te stap voor die volheid van die somer-humiditeit toeslaan, want ‘n masochis is ek nou ook nie. Dus het ek vroeg op ‘n bewolkte Saterdagoggend hierdie historiese berg suid van Gyeongju (my tuisstad, vir die wat nie weet nie) aangedurf, opsoek na nog eeu-oue Boeddhistiese kultuurskatte.

S7300998

Die sagte misreen het gelukkig gou gewyk en dit was die perfekte dag vir hierdie tipe oefening, maar weliswaar nie sulke goeie weer vir foto’s nie. Daar is duidelike waarskuwings teen slange, maar ongelukkig was ek nie so bevoorreg om een van hierdie pragtige pootlose reptiele raak te loop nie.

S7300995S7300993S7301029

By ‘n vorige geleentheid het ek die Samneunggok-vallei gestap. Hierdie keer het ek besluit om die pagoda van Yongjangsa op te spoor. Die pagoda staan op die plek waar historici vermoed die Yongjangsa tempel eeue terug was. Die pagoda is ‘n bekende landmerk in Namsan en maak ‘n legkaartprentjie waar dit fier en regop troon, steeds in een stuk na eeue. Dit is ongeveer 4.5 m hoog en is vermoedelik tussen die jare 700 en 900 gebou.

S7301001

‘n Entjie ondertoe met ‘n baie klipperige paadjie en met die hulp van ‘n klimtou hier en daar, tref mens ‘n interessante Boeddha-beeld aan op ‘n rondeklip-voetstuk – ‘n vorm wat nie dikwels gesien word nie. Die beeld is die van ‘n Maitreya (toekomstige) Boeddha en dit word gedateer na die begin van die 8ste eeu.

S7301015S7301012

Hoe presies die Boeddha sy kop verloor het, weet niemand nie, maar daar word bespiegel dat dit moontlik die werk kon wees van ekstreme Neo-Confucianiste tydens die Joseon -dinastie (1392-1910). Naas die beeld is daar ook ‘n relief in rots waar menige stappers hulle munte los met die hoop op goeie geluk.

S7301027

Vir ‘n wyle het ek vir ‘n lafenis gestop by die pawiljoen bo-op die berg en toe die lang paadjie afwaarts gevat. Aan die voet van die berg het ek afgekom op Koning Ilseong se heuwelgraf. Ilseong was die 7de koning van die Silla-dinastie (57-935vC) en het geheers in die jare tussen 134 en 154. Hy word onthou vir sy bydrae om landbou binne die koninkryk uit te brei. Tydens sy heerskappy het hy ook die bestaande klassestruktuur van die samelewing versterk deur die dra van juwele gemaak van goud, silwer, perels of jade deur nie-adellikes, te verbied.

S7301031

Behalwe vir die goeie oefening, is die hierdie berg altyd net wat ek nodig het om bietjie perspektief te kry. Die somergroen woude, inseklewe, voels, vergesigte en die soet smaak van helder bergwater kombineer as ‘n onvervangbare tonikum om die gewoonheid van die alledaagse gespartel effe ligter te maak.

 

Waar die Koue Oorlog steeds woed…

nkoreaskorea

Noord-Korea staan hierdie komende week op die punt om hulle nuwe langafstand ballistiese missiel, genaamd Taepodong II, te toetsvuur vanaf die Musudan-toetsgronde in die noordooste van die land. Hoewel Noord-Korea volhou dat hulle ‘n kommunikasie-satelliet gaan lanseer, is daar konsensus binne intelligensiekringe dat Noord-Korea inderdaad beplan om ‘n ballistiese missiel te toetsvuur. Dit is in weerwil van ‘n VN-resolusie wat sodanige toetse deur Noord-Korea verbied. Suid-Korea, die VSA en Japan is verstaanbaar ontsenu oor die toets van ‘n gevorderde missiel wat teoreties sover as Alaska kan trek. Al drie hierdie lande het reeds Aegis-klas oorlogskepe in die Oos-see ontplooi, wyl beide die VSA en Japan aangedui het dat hulle moontlik die missiel sal probeer afskiet, indien dit gevuur word. Veral Japan is op hete kole, aangesien die missiel se toetsbaan heel moontlik oor Japan sal strek (soos met vorige toetse die geval was). Die vrees bestaan dat, sou daar iets fout gaan met die toets, dit bo Japan kan gebeur (in 2006 het die vorige poging om die Taepodong II te toetsvuur gefaal en brokstukke het in die Oos-see neergstort).

Binne hierdie konteks dink ek die tyd is gepas om te skryf oor my onlangse besoek aan die grens tussen Noord-en Suid-Korea, insluitend die historiese konteks van die verdeling en redes vir die dikwels stormagtige verhouding tussen hierdie twee state.

S7302046

Dit was ironies, maar miskien tog gepas, om op ‘n baie koue, mid-winter dag die laaste front van die Koue Oorlog te besoek. Terwyl die Koue Oorlog lank reeds deel van die geskiedenis is, klaar beskryf en ontleed, woed dit steeds voort hier op die 38ste Breedtegraad in Korea. Dis hier waar twee van die grootste staande weermagte in die wereld uitdagend teenoor mekaar opgestel is, altyd paraat op die moontlike voortsetting van ‘n dekades-oue oorlog. Prakties gesproke is die Koreaanse Oorlog reeds in die middel van 1953 beeindig, maar tegnies verkeer Noord-Korea en Suid-Korea steeds in ‘n staat van oorlog, aangesien daar nooit ‘n vredesooreenkoms gesluit was nie. Nie een van hierdie twee lande erken die ander as ‘n onafhanklike staat nie.

S7302049

In Julie van 1953 is ‘n permanente skietstilstand onder VN-toesig bewerkstellig en ‘n groot stuk niemandsland is geskep – die sogenaamde Ge-demilitariseerde Sone, beter bekend nav die Engelse afkorting, DMZ. Dis eintlik ongelooflik dat hier, op ‘n oorbevolkte kontinent, ‘n onbewoonde stuk aarde le van 4km breed, wat ongeveer 240km lank strek vanaf die Geel-see tot by die Oos-see. Die amptelike grens tussen Noord en Suid (bekend as die MDLMilitary Demarcation Line) is verbasend genoeg slegs ‘n strook onindrukwekkende wydgespasieerde klein wit paaltjies. Mens moet egter onder geen illusies verkeer nie. Ongeveer 2km na beide kante van die MDL, waar die DMZ begin, staan die hoe lemmetjies en rol-draad grensdrade trippelvoudig, met addisionele elektriese heinings en allerhande hoe-tegnologie sensors en kameras, omring met duidelike waarskuwings van mynvelde – ‘n pertinente aanduiding dat jy die mees gemilitariseerde stukkie aarde op hierdie planeet betree. Hier word gereeld militere oefeninge gedoen en dag en nag gepatrolleer. Weens hierdie stand van sake, klassifiseer die Suid-Koreaanse Weermag sekerlik as een van die paraatste magte in die wereld.

S7302038

Agv verbeterde verhoudinge tussen die Noorde en die Suide die afgelope dekade of wat, het die DMZ baie gewild geraak as ‘n toeriste-aantreklikheid. Amper soos ‘n perverse tipe oorlogstemapark waar jy 50 jaar teruggewerp word na ‘n era toe ‘n bipolere wereldorde so dikwels op die rand van verwoestende oorlog gehuiwer het. Georganiseerde toere vertrek daagliks vanaf Seoul en die DMZ -toer is op meeste toeriste se moet-doen lysie, wanneer hulle Korea besoek. Natuurlik gaan hierdie toere gepaard met baie streng sekuriteit en daar is ‘n hele rits moets-en-moenies. Van die klere wat jy mag dra tot waar presies jy mag foto’s neem en nie, word streng gereguleer deur Suid-Koreaanse soldate wat die toere vergesel. Nogtans bly die toere baie gewild.

S7302052

Die sogenaamde “vredesdorp” van Panmunjeom, ook bekend as die Joint Security Area (JSA), is sekerlik die bekendste gesig verteenwoordigend van die DMZ. Dis hier waar soldate van die Suide en Noorde mekaar op daaglikse basis aangluur en bespied. Panmunjeom is ‘n gedeelde bestuurde gebied tussen Noord en Suid en val onder die VN se gesag. Die nederige rits blou geboue, is waar verteenwoordigers van die VN, Suid en Noord mekaar ontmoet en, indien nodig, samesprekings voer. Dis ook hier waar die skietstilstand in 1953 onderteken is. Die konferensiegeboue le wydsbeen oor die MDL en word so in twee verdeel. Indien afgevaardigdes vanaf beide kante van die grens ontmoet, kom hulle deur die deur aan hulle kant van die grens, die gebou binne. Die Noorde bewaak die deur wat oopmaak na die Noorde en ditto vir die Suide. Hier by Panmunjeom sien jy werklik hoe die Koue Oorlog steeds in swang is. Hier is die waghuise uitdagend regoor mekaar geplaas en verkykers en kameras bespied mekaar se elke bewing, opsoek na die geringste afwyking vanaf die opponerende magte se daaglikse sloerroetine.

S7302053

Deur die jare sedert die oorlog het die Suide verskeie tonnels ontdek wat deur die Noorde binne die DMZ gegrawe is met die doel om die Suide molsgewys binne te val. Daar is reeds vier ontdek, maar die vermoede is dat daar nog vele meer kan wees. Die grootste van hierdie tonnels, is die sogenaamde Derde Tonnel, ontdek gedurende 1978. Vandag kan toeriste 300m na die buik van die aarde ry met ‘n eenspoortrein, om hierdie 1.6km tonnel, wat ongeveer 2×2m in grote is, te besigtig. Na ontdekking van die tonnel, is dit op die denkbeeldige grenslyn onder die aarde deur die Suide met baie, baie lae versterkte beton gesluit. Hierdie tonnel is nie aan te beveel vir mense met engtevrees nie. Dit voel kompleet asof jy onder in ‘n humiede goudmyn stap en plek-plek is die spasie effe nou. Hierdie is egter geen goudmyn nie en hier is geen grondstowwe te vinde nie (al het die Noorde na die onbloting van die tonnel destyds beweer dat hulle besig was om vir steenkool te grawe!).

S7302037

Binne die DMZ, aan die Suide se kant, vind mens die nedersetting van DaesongDong – die enigste burgerlikes wat binne die DMZ woon. Hierdie dorpie van nagenoeg 200 inwoners word bewoon deur die direkte nageslag van families wat hier gewoon het voor die uitbreek van die oorlog. Hierdie klompie boere met hulle ryslande het inderdaad ‘n interessante lewenstyl. Hulle betaal geen belasting nie en is van diensplig vrygestel (Suid-Korea het verpligte tweejaar-diensplig en Noord-Korea ‘n ongelooflike tien jaar!). Onder die wakende oog van patrollerende soldate werk hulle op die lande en saans na donker word die deure en luike gesluit om sodoende die aandklokreel te eerbiedig.

S7301747

Reg teenoor Daesongdong, aan die Noord-Koreaanse kant van die grens, vind mens die spookdorp, KijongDong, beter bekend in die Suide as “propaganda village”. Dit is ‘n onbewoonde dorp, kompleet met netjiese woonstelblokke, wat gebou is om die Noorde se “welvarendheid” aan die Suide te vertoon. Al lewe wat daar egter in hierdie dorp is, is die groot Noord-Koreaanse luidsprekers wat dag en nag luide propaganda-boodskappe uitsaai. En bo hierdie spookdorp waak ‘n monsteragtige Noord-Koreaanse vlag van ongeveer 250kg en 31m in lengte op die hoogste vlagpaal in die wereld wat ‘n volle 160m die lug in reik. Die grandiose afmetings van beide hierdie vlag en die paal is direk gemik daarop om die Suid-Koreaanse vlag wat bo DaesongDong wapper, te verdwerg.

S7302043

Onder die vorige Suid-Koreaanse President, Roh Moo Hyun en sy voorganger, Kim Dae Jung, se sogenaamde Sonskynbeleid, het die kille betrekkinge tussen Noord en Suid vanaf die draai van die eeu stelselmatig verbeter. Die Sonskynbeleid het die hoop laat opvlam vir die hereniging van die twee Koreas – ‘n droom vir vele Suid-Koreane. Die verbeterde betrekkinge het oa gelei tot die eerste opening van ‘n spoorverbinding tussen die twee lande sedert die oorlog, asook padverbindinge. Voorts is ‘n industriele kompleks buite Gaesong in Noord-Korea ontwikkel, waar Suid-Koreaanse maatskappye hulself gevestig het om Noord-Koreaanse arbeid te benut. Toerisme is ook aangemoedig en gereelde toere het plaasgevind na die Gaesong-kompleks en Geumgangsan in die suid-ooste van Noord-Korea.

S7302045

Gedurende Roh se bewind het twee historiese spitsberade ook tussen hom en die Noord-Koreaanse leier Kim Jung Il plaasgevind, waartydens verskeie ooreenkomste onderteken is. Die pragtige nuwe Dorasan-stasie, net suid van die DMZ is ook voltooi (56km noord van Seoul en 205km suid van Pyongyang ) en is in 2002 ingehuldig, nie as die laaste stasie in die Suide nie, maar die “eerste stasie na die Noorde”. Die stasie, met sy indrukwekkende muurskilderye, staan egter steeds gewyd en spokerig leeg met bordjies wat optimisties Pyongyang aandui en ‘n reuse kaart teen die muur wat die Koreaanse droom van ‘n Trans-Eurasiese spoornetwerk (wat vanaf Suid-Korea, deur die Noorde tot in Londen loop) uitbeeld. Tot dusver is slegs 15km spoorlyn egter gebou na die Gaesong industriele kompleks.

S7302044

Tydens die Roh -bewind het samesprekings tov die beeindiging van Noord-Korea se kernprogram, onder geesdriftige aanmoediging van die VSA, ook belofte getoon. In ruil vir hierdie vordering en met die oog op versoening het die Roh-administrasie doelbewus daarvan weggeskram om enigsins Noord-Korea te kritiseer vir hulle menseregtevergrepe. Roh het ook feitlik voorwaardeloos voedsel -en ander hulp aan die honger en bankrot Noorde geskenk. Verdere vordering onder Roh het ingesluit emosioneelbelaaide sporadiese ontmoetings tussen familielede van die Noorde en Suide wat sedert die oorlog geskei was. Dit het plaasgevind by die sg. Vryheidsbrug oor die Imjin -rivier. Huidiglik is daar nie meer ontmoetings nie, maar die Suid-Koreaanse vlag wapper dapper in die son, waar dit waak oor die duisende boodskappe, klaagliedere en wense deur verlangende en hoopvolle Suid-Koreane daar aangebring.

S7302048

Die wiel het egter gedraai sedert die verkiesing van die meer konserwatiewe Lee Myung Bak as Suid-Koreaanse President in 2007. Betrekkinge tussen Noord en Suid het die afgelope jaar beduidend versleg en word nou weer eens gekenmerk deur militante en dreigende retoriek vanuit die Noorde. In teenstelling met Roh se beleid het die Lee-administrasie van meet af nie daarvan weggeskram om die Kim-regime in die Noorde te kritiseer oor hulle menseregterekord nie. Lee stel dit duidelik dat die Noorde eers moet afsien van hulle kernprogram, alvorens betrekkinge kan normaliseer. Lee het ook hulpverlening aan die Noorde begin koppel aan vordering van die aftakeling van die Noorde se kernprogram.

S7302040

In teenreaksie, het die Noorde reeds verskeie keer na Lee as ‘n “verraaier” verwys en die spoorverbinding toegemaak, asook die toere na Gaesong stopgesit. Die ekonomiese bedrywighede by Gaesong is voorts afgeskaal en in ‘n simboliese stap het die Noorde verskeie Suid-Koreaanse besigheidspersoneel, betrokke by Gaesong , gedeporteer. Om verdere olie op die vuur te gooi, is ‘n Suid-Koreaanse toeris sowat ses maande gelede by Geumgangsan deur ‘n Noord-Koreaanse soldaat doodgeskiet en dit het weer gelei tot die beeindiging van toere na Geumgangsan. Op die oomblik is die ses-nasie (Noord-Korea, Suid-Korea, die VSA, Rusland, Sjina en Japan) kernsamesprekings stagnant. Noord-Korea het onlangs aangedui dat die regime weer hulle kernwapenprogram gaan hervat, nadat daar groot hoop gedurende 2008 was toe die Noorde hulle program sigbaar begin aftakel het. Boonop is die gesondheid van Kim Jung-Il onder verdenking na ‘n beweerde beroerte en hospitalisering in Augustus verlede jaar. Daar word gevrees dat rigiede sg. “valke” binne die Noorde se weermag al hoe meer hulle invloed laat geld. Onlangse berigte wil dit egter he dat Kim blakend gesond is en ten volle in beheer. In Februarie is sy 67ste verjaardag met groot fanfare gevier.

S7302054

Op hierdie spesifieke oomblik is betrekkinge tussen Noord en Suid so koud soos die wit-bevrore Imjin-rivier wat deur die grensgebied kronkel. Sedert die begin van 2009 het die retoriek vanuit die Noorde al hoe feller geword en het hulle talle ooreenkomste van die tien jaar beeindig. Hulle dreig ook met oorlog en waarsku die Suide dat hulle hulself moet “voorberei”. Die Noorde het die afgelope maand grensdeurgang na Gaesong sporadies gesluit en so verskeie Suid-Koreane binne die Noorde gestrand gelaat. Dit is gedoen om beswaar aan te teen die VSA en Suid-Korea se jaarlikse gesamentlike militere oefeninge. Soos reeds genoem, het Noord-Korea ook aktief begin voorbereidings tref om hulle mees gevorderde ballistiese missiel te toetsvuur. Op sigwaarde kom die Noorde se retoriek en dade baie onheilspellend voor, maar mens moet ook inagneem dat hulle baie graag die nuwe Amerikaanse administrasie se aandag wil trek omdat hulle in werklikheid desperaat is vir hulp en ontwikkeling. En Noord-Korea is verseker op Obama se al hoe langerwordende “om te doen”-lysie.

S7302047

Uit elke slegte situasie kom daar egter, ironies genoeg, so dikwels iets goeds na vore. Met die skep van die DMZ in 1953, het die strydende faksies onwetend ‘n paradys vir fauna en flora geskep. Reeds vir amper 60 jare le hierdie groot strook land braak aan enige mense of ekonomiese ontwikkeling. Dus het hierdie area ‘n paradys geword vir skaars soorte diere, plante en voels. Dis ‘n wonderlike natuurlike bewaringsarea, waar moeder natuur ongestoord haar eie gang kan gaan. Die hoop word uitgespreek dat, sou hereniging geskied, die DMZ ‘n bewaringsarea sal bly. Op die ou-end kan hierdie strook aarde ‘n paradoksale nalatenskap en herinnering wees aan ‘n tyd van trane en tragedie toe ‘n volk verskeur was.

S7302055

In Suid-Korea (en – sou ‘n mens wou glo – in die Noorde) bly die droom onbeskaamd leef dat die twee Koreas uiteindelik weer sal herenig. Dat geskeurde families weer sal saamwees. Dat die Koue Oorlog uiteindelik in elke faset sal verby wees. Dat ‘n herenigde en welvarende Korea sonder grensdrade en gebalde vuis, weer sy regmatige plek in die wereld sal inneem. Die Noord-Koreane en die Suid-Koreane is immers een volk met ‘n gemene taal, tradisie en kultuur. Korea was ‘n verenigde staat vir ongeveer 13 eeue en is maar eers die afgelope 6 dekades verdeel. Ekself glo dat hereniging ‘n historiese onafwendbaarheid is. Maar wanneer en hoe is op hierdie stadium ‘n wetenskap vir waarseers…

S7301645

 

Die verskil wat drie weke maak

Dis lank reeds nie meer ‘n fluistering nie…

S7302312S7302314S7302300

S7302162S7302303

S7302159S7302307

S7302311S7302316

S7302306

S7302312S7302314S7302300

…maar die eerste luide bedryf van ‘n nuwe simfonie.

 

Op Kelderbesoek in Korea

S7302298

Cheongdo is ‘n klein dorpie (bevolking 50 000) ongeveer ‘n halfuur suid van Daegu en op die oog af is daar nie veel rede om die moeite te doen om hier te besoek nie…dis nou te se as jy nie bewus is van tamatiepruime (persimmons) nie. Nou kyk, tamatiepruime is baie gewild in Korea en op geen plek meer so as in Cheongdo nie. Hierdie area produseer 90% van alle tamatiepruime in Korea en jy kan hierdie gewilde vrug feitlik in enige vorm hier raakloop: vars, gedroog, in sjokolade, in lekkers, roomys, spesiale kaas en natuurlik wyn!

S7302230S7302233

Sover ek kon vasstel is die Cheongdo Wynkelder (algemeen bekend as die Cheongdo Wine Tunnel) die enigste kelder in Korea enigsins vergelykbaar met ‘n konvensionele wynkelder. Juis ook oor waar die kelder gelee is, is dit ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid in die area. Dis gelee onder die grond in ‘n baie ou treintonnel wat in onbruik verval het. Die eienaars het in 2003 die inisiatief geneem toe hulle besluit het om hierdie ou tonnel in ‘n kelder te omskep en dit daarna ook vir die publiek oop te stel. Die tonnelkelder is baie atmosferies in die skemerlig en herinner baie aan soortgelyke wynkelders in die Kaap – selfs met ‘n reuse bottel buite die kelder a-la Simonsvlei . Hier kan jy dan ook van die wyne proe en koop, tesame met ander komplimenterende items, soos die lekkerste Franse bloukaas. Hulle produseer egter net drie wyne: ‘n semi-soet (genaamd Regular), ‘n droe weergawe (genaamd Special) en ‘n yswyn (gemaak van gevriesde tamatiepruime). Al drie hierdie wyne is oesjaarwyne. Ongelukkig is slegs die semi-soet en die droe wyne te proe, aangesien die yswyn in baie klein hoeveelhede gemaak word en baie duur is. Die hele opset is baie professioneel en die verpakking van die wyne van hoe gehalte. Maar hoe smaak hierdie wyne? Ek bepaal my by die Gamgrin Regular 2006 , aangesien hierdie wyn vir my die drinkbaarste was.

S7302201S7302238

Die kleur is diepgoud en briljant. Net op die kleur geoordeel, sou ek skat dit is ‘n verouderde botritiswyn. Die neus van die wyn lei my verder skeef, want dit vertoon die prominente geure van oorryp nartjies, lemoene en rosyntjies. Natuurlik tel mens ook maklik die geur van tamatiepruim op. Die neus is verrassend kompleks, want na ‘n rukkie tref mens ook aanduidings van appeliefie aan, tesame met ‘m moeilik beskryfbare parfuumagtige aangenaamheid.

S7302215S7302220

Die wyn is soet op die tong, maar nie so soet as wat die kleur en neus wil voorgee nie. Dis eers op die tong wat jy besef jy het hier met ‘n perd van ‘n ander kleur te doen. Die tannienaanslag van vrugte-tannien is skerp en onvergewendend op die tong en dit voel kompleet soos om ‘n droee roomysstokkie te lek. Vir my nie so aangenaam nie, want dit laat die tong rasperig en droog. Maar die kelder verkondig dan ook juis die wyn as ‘n hoe tannienwyn, want dis blykbaar wat die wyn so gesond maak – die hoe tanniene afkomstig van die dik skil. Hulle produseer dus met juisste die wyn met so ‘n hoe vrugtetannien. En dis net op hierdie punt waar ek besef hoekom druiwe die gekose vrug is om te verwyn. Maar dit bly ‘n interessante smaakervaring en onnutsig soos wat ek is, gaan ek ‘n botteljie saambring as ek weer koersvat SA toe, die wyn in ‘n blinde proe ingooi en kyk of ek ‘n paar wynproewers om die bos kan lei… :evil:

S7302223S7302254

Afgesien van tamatiepruime, is Cheongdo ook bekend vir hulle bulgevegte. Daarom vind mens die bulmotief oral in die dorpie en ook in die kelder self, waar spesiale keramiek “bulbottels” te koop is. Daar is ‘n groot, moderne stadion en die jaarlikse bulgevegfees is juis einde van hierdie maand. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

Kaalvoetinikroeg

S7302033Ek het toe uitendelik Kaalvoetinireen se uitnodiging aanvaar, nadat sy my vriendelik (maar tog ferm…) genooi het om Busan se wynkroee te gaan verken. Ek het egter seker gemaak ek doen my huiswerk vooraf en was aangenaam verras om te vind dat daar ‘n stuk of twintig wynkroee versprei is oor die stad van Busan. Op die ou-end was dit toe ek wat vir Kaalvoet geneem het na ‘n wynkroeg in Haeundae (waar anders?), waar dit voorkom asof die meeste van Busan se wynkroee gelee is. Lukraak het my keuse geval op ‘n plek genaamd Aligote. Op die ou-end is die ontdekking toe ook dat hierdie spesifieke plek veel meer as net ‘n wynkroeg is. Hoewel daar ‘n klein kroeggedeelte is, is die plek meerendeels ‘n deftige restaurant met deftige kosse en nog deftiger pryse.

S7302031S7302023

Die wynlys is indrukwekkend, maar nie heeltemal so epogmakend soos die wynlys wat ek by S-Wine in Seoulteegekom het nie. Tog is dit ‘n lus om te bestudeer. Ons het verkies om op die boonste vlak te sit en was beindruk met die minimalistiese, maar tog warm, moderne dekor. Ek sou selfs die eetgedeelte as romanties beskryf…

S7302001S7302029

My idee was oorspronklik slegs om ‘n bottel uitsoekwyn saam met Kaalvoet te geniet, maar toe ons eers by die tafels sit, het ons die spyskaart so een kyk gegee, vir mekaar gekyk, en besluit om kos ook te bestel. Nadat ek deur die lywige wynlys is, besluit ek op ‘n Cote du Rhone Villages, omdat ek al so lankal smag na die interessante S7302000 kultivarkombinasies so eie aan die die Rhone streek. Maar soos die geluk dit wou he, is die bottel wat hulle vir my bring toe liederlik gekurk (dan vra mense nog vir my hoekom ek skroefdoppe verkies?). Ek stuur die bottel terug en moes toe ‘n paar woorde met die bestuurder van die restaurant besig om hom die situasie te verduidelik (ek hoop nie Kaalvoet het gedink ek’s sommer vol fiemies nie…). Hy’t self geruik en geproe en toe vir my gese dat ek maar ‘n alternatiewe keuse kan maak. Of hy egter kon optel dat die wyn gekurk was, dit weet ek nie – miskien was hy maar net beleefd. Met my tweede probeerslag, is my keuse toe Chateau Lagarosse 2004 van die Premieres Cotes de Bourdeaux streek (Hierdie streek op die regterbank van die Garonne-rivier produseer goeie wyne, maar gewoonlik nie in die klas van die ander, meer bekende streke in Bourdeaux nie). Die wyn was te verstane miskien nie in dieselfde liga as die St Emilion wat ek in Seoul geniet het nie, maar tog was die Merlot-gedomineerde versnit sag en vol finesse. Saam met die wonderlike murgsag biefstuk wat ons ge-eet het, was die wyn ‘n wenner.

S7302021S7302026

En so van die kos gepraat. Die vyfgangmaaltyd wat ons geniet het was uit die boonste rakke en vir my was die biefstuk die hoogtepunt. Kaalvoet het egter verskil en gedink die Tiramisu was die hoogtepunt. Oor die pryse van die kos en die bottel wyn sal ek maar eerder swyg. Hier in Korea is biefstuk by verre die duurste item wat jy kan bestel in ‘n restaurant en dit sit jou lag-lag die ekwivalent van in paar honderd Rand terug.

S7301990S7302004S7302010S7302014

Ek het ook ‘n paar dinge van Kaalvoet geleer gedurende die aand. Die eerste is dat sy (anders as ek) nie haar mond kan sit aan biefstuk wat halfgaar gaargemaak is nie. Sy het skoon haarself hoendervleis gegril, toe sy ‘n byna rou biefstuk kry, nadat sy dit goedgaar versoek het (hulle het die foutjie darem vinnig reggestel). Ek het ook geleer dat sy baie van nagereg hou en ek vermoed dis dikwels die hoogtepunt van haar maaltye. Ek was verder verheug dat sy ook ‘n goeie wyn kan waardeer en geniet. Voorts het sy beindruk met haar skerp intelligensie en haar lekker humorsin. Sy was werklik goeie geselskap!

NS: Ek wou graag ‘n paar steelfoto’s van Kaalvoet hier publiseer, maar teen druktyd kon ek nog nie daarin slaag om my regsverteenwoordiger se advies in te win nie. ;)

fluisteringe van lente

S7302176

En as jy weer een oggend, gepantser teen die koue, die bekende paadjie deur die parkie volg, sien jy opeens dit wat jy amper kan sweer nie gister daar was nie. Die lelike droe bome wat al maande ‘n seer op die oog is, lyk opeens effe anders. As jy nader staan, kan jy dit skaars glo. Die bome is oortrek van die eerste botsels en bloeisels.

S7302153S7302151

Nie met kakofonie, soos later die geval sal wees nie, maar met ‘n saggiese fluistering word die lente aangekondig. En jy besef dat daardie laaste hoop op nog net eenkeer se sneeu, helaas nie gaan realiseer nie. Dis weer tyd vir vernuwing en die skynbaar dooie hout kan nie meer wag om die nuwe lewe binne hul stamme en takke aan die wereld te vertoon nie.

S7302177S7302173

Die eeue-oue rite van seisoenale wedergeboorte vind weer eens plaas en dis tyd om reg te maak vir die natuur se komende lente-simfonie.

loomlekker dae

S7301967

En soos mens al langer in die vreemde vertoef, raak die gewaarwording sterker dat hierdie halfweghalte onrusbarend soos ‘n tuiste begin voel. Stadig skif die vreemdheid weg en soms vang jy jouself dat jy skoon begin S7301919 vergeet dat jy so ver van jou heimat is. Dus, staan jy op ‘n Saterdagoggend op en neem die trein na Haeundae* in Busan*, asof reeds tweede natuur. Jy gooi jou gemaklikeS7301975 stoel agteroor en die ritmiese tik-tik op die spoorstawe laat jou lomerig en ontspanne. Buite die venster flits, nou reeds bekende, landskapsbeelde verby. Die trein skommel al kuslangs waar die Oos-see wydgestrek en blou le. Soms verbeel jy jou jy is op pad verby Muizenberg en Kalkbaai na Simonstad.

S7301930

In Haeundae aangeland, kies jou voete sommer so self koers see se kant toe – die vrees vir verdwaal is lank reeds besweer. Om jou is dit ‘n besige geroesmoes van mense. Almal is skynbaar buite om die meeste te maak van hierdie ongewone loomwarm wintersdag. Jy volg die tartan-S7301979S7301976 wandelpaaie, so noukeurig uitgele op die pragtige Dongbaekseom eiland. Die immergroen denne en japonikas vou jou toe. Ondanks die mense – gesinne, kinders met vlieers, baba’s in stootkarretjies, jong verliefdes, ouer verliefdes – is die atmosfeer snaaks rustig en sorgvry. Die totale afwesigheid van vrees is amper tasbaar in die lug. Daar is netjiese houtpaadjies oor die rotse langs die see en ‘n meermin wagtend, verlangend op ‘n klip. Meteens die salwende geur van wierook en kerse op die rotse. ‘n Vrou wat biddend mediteer, wyl branders digby teen die rotse klots…

S7301946

Vergesigte oor die see, bote wat skynbaar doelloos dryf, meeue wat krys en skree. Haeundae-strand wat breedwit die see omsoom. Die S7301982 imponerende Gwangan-brug wat soos stadsbewaker wydsbeen en uitdagend oor die see strek. Op die hersenskim die rits klein rotseilande, bekend as Oryukdo - bekende simbool van Busan. Die rykmans-S7301980toringblokwoonstelle afge-ets teen die laatmiddaglig. ‘n Eensame seiljag dryf verby. Hier en daar ‘n visserman wat hoopvol lyn natmaak. Duur ingevoerde motors staan geparkeer voor ekslusiewe restaurante, gewilde koffiewinkels, klubs en kuierplekke. Bekende K-pop musiek pols deur die skemer.

S7301948

En wanneer die laaste stukkies son oranjeblink tussen die rotse poel, daardie hartseer besef: as ek hier moet weggaan, sal ek Haeundae nooit weer kan ervaar…

S7301968

*Die naam Haeundae is ‘n samevoeging van begrippe wat letterlik beteken “Kop van see en wolke”. Dit is ‘n gegoede deel van Busan met reputasie as speelplek en toerisme-bestemming. Maar Haeundae is veral bekend vir die gewildste en grootste strand in Korea.

* Busan (bevolking ongeveer 4 miljoen) is die tweede grootste stad in Korea, maar die grootste hawestad.

…en op ‘n ligter noot

Ek het al vantevore hier en hier oor Konglish geskryf, maar dit bly ‘n snaakse alledaagse wat mens onwillekeurig opval. Konglish is die kortnaam vir Korean English en verwys na die komiese manier waarop die Engelse taal soms gemolesteer word hier in die vreemde. Nog nie op die skaal wat dit in Sjina voorkom nie, maar tog redelik algemeen. En ek kan julle verseker die Koreane doen regtig hulle bes! Hier is ‘n paar resente voorbeelde:

S7300170

Sal jy jou nuwe klankstelsel vir jou motor hier laat installeer?

S7300668

Hierdie restaurant was ‘n bewys dat jy nie goed hoef te spel om lekker sushi te bedien nie.

S7309367

Nou-ja…ek sal maar die koffie probeer.

S7304424

Wonder of ek snoek by die kitsbank kan trek?

 

St Emilion in Seoul

S7301621S7301615S7301623

Gereelde besoekers aan hierdie blog is seker teen hierdie tyd wel bewus van die feit dat ek ‘n uitsonderlike koestering het vir die vog van die wingerdstok. Korea is nou nie juis ‘n wynmekka nie en ek mis dikwels die uitstekende Kaapse wyne wat so in oorvloed en so goedkoop beskikbaar is in Suid-Afrika. Synde dat ek nie in een van die groot stede hier woon nie, is my wynkeuses meeste van die tyd beperk tot die krummels op die rakke van groot supermarkgroepe, waar ek maar noukeurig moet aas vir bekostigbare kwaliteit – en dit is ‘n kuns! Wyn is ‘n baie duur kommoditeit in Korea en dis haas onmoontlik om ‘n drinkbare wyn op te spoor vir onder 10 000 Koreaanse Won (ongeveer R75). Ek bederf my dus bitter selde met ‘n werklik ordentlike wyn. Dis ook eerder die uitsondering as die reel om enigsins ‘n Suid-Afrikaanse wyn raak te koop.

S7301613S7301610S7301614

As mens egter die groot stede besoek en sorgvuldig snuffel, kom jy op die wonderlikste plekke af, waar jy nie net ‘n verskeidenheid Suid-Afrikaanse wyn ontdek nie, maar ‘n wonderlike skatkis van kwaliteit wyne van reg oor die wereld. Vir my is dit soos ‘n lushof van genot. Ek het eenkeer vantevore genoem dat Seoul oor die 50 wynkroee het en ‘n rukkie terug was ek bevoorreg om een van die vernaamstes te besoek, nl. S-Wine (die naam miskien nie so goed oorweeg nie!) in die yuppie Gangnam-distrik van die groot stad. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring en ek het my skoon vergaap aan die wynlys en die beste verskeidenheid Suid-Afrikaanse wyne tot nog toe hier in die vreemde teegekom.

S7301597S7301618

My mond het gewater vir Rustenberg se sublieme John X Merriman, maar die prys het swak waarde vir geld gebied in vergeleke met die letterlik honderde ander internasionale aanbiedinge. ‘n Keuse moes egter gemaak word en ek was nie spyt om ‘n liplekker en karaktervolle 2004 Lussac St Emilion te kies nie. Nou nie Cheval Blanc nie, maar tog ‘n pragtige voorbeeld van die finesse en grasie wat so tiperend is van hierdie befaamde wynstreek se Merlot-gedomineerde wyne. In kombinasie met my geselskap vir die aand, het Chateau Picampeau gesorg vir die skep van ‘n kosbare herinnering.

S7301630S7301629

« Previous entries Next Page » Next Page »