Skip to content

VSA se verloorstryd

Mei 29, 2007

Hierdie inskrywing is oor internasionale politiek en spesifiek die situasie in Irak. As sulke aangeleenthede jou verveel, kan ek jou verseker jy wil nie verder lees nie…

Ek kan my nie op die gawes van ‘n Siener van Rensburg beroep nie, maar vir my kom dit voor asof die VSA besig is om die sogenaamde Oorlog teen Terreur loshande te verloor. Hier, waar ek blootgestel is aan die Amerikaanse media, is dit vir my duidelik dat Bush se Baghdad-avonture ‘n baie duur fout was (hoewel ek dit reeds in 2003 kon voorspel het). Hier wil ek net noem dat ek glad nie myself tuisvind tussen die gemiddelde Bush bashers nie. Ek het geen erg aan die man nie, maar om ‘n Bush basher te wees het eintlik ‘n middelklas-modegier geraak, hoofsaaklik gedryf deur mense wie se insigte van die VSA beperk is tot ongekontroleerde Michael Moore-uitsprake. Wat ek egter wel kan se, is dat Dubya nie sal onthou word vir sy strategiese denke en vergesigte nie. Inteendeel, ek vermoed die geskiedskrywers sal hom nie spaar nie.

Vandag is Irak baie slegter daaraan toe as onder Saddam Hussein. Die frekwensie en omvang van die daaglikse menseslagting in Baghdad alleen, is onverwerkbaar. Ek is geen Saddam-apologeet nie, maar die feit van die saak is dat Saddam (deur sy brutale metodes) die deksel op ‘n entniese Pandora-prutpot gehou het en sodoende gesorg het dat die verdelende etnisiteit (Sunni’s, Shia’s en Koerde) in Irak nie die land verskeur nie. Die VSA olv Bush het gung-ho styl ingestorm waar selfs die spreekwoordelike engele dit nie wou waag nie. Om Saddam omver te gooi, was nooit regtig ‘n kuns nie, maar in watter naiewiteit het Bush en sy raadgewers gedink hy gaan ‘n demokrasie vestig in ‘n diep-verdeelde samelewing wat nog nooit demokrasie ervaar het nie? Om die inval en die virtuele burgeroorlog wat nou woed, nog steeds onder die mantel van die Oorlog teen Terreur te klee, is onsinnig, kortsigtig en propagandisties.

Voor die VSA-inval, het Al-Qaida geen statuur in Irak gehad nie, ondanks ongeloofwaardige CIA intelligensie-verslae wat die teendeel probeer bewys het. Saddam Hussein was in wese ‘n Arabiese nasionalis en het Moslem-ekstremisme met geweld in sy land onderdruk. Tans wemel dit van steun vir Al-Qaida in Irak en hulle sukses teen die “Koalisie” neem hand-oor-hand toe. Met kortsigtigheid het Bush as’t ware ‘n nuwe teelaarde vir terrorisme geskep. More se 9/11 vliegtuigkapers word vandag gekweek in die bloedige strate van Baghdad. Irak het die nuwe internasionale “fabriek” vir terroriste geraak, nes destyds gebeur het met Afghanistan tydens die Sowjet-besetting. Van Afghanistan gepraat – daar gaan dit nie veel beter nie en die Taliban is besig met ‘n hengse comeback. Osama Bin Laden (wat minder gesien word as die Lochness Monster – miskien al oorlede?) is steeds soek.

Wat Bush klaarblyklik nie verstaan nie, is dat die Moslem-terrorisme wat tans vergestalt, ‘n idee in mense se koppe is. Mens kan nie oorlog maak teen idees nie, veral nie as mens daardie idees verder versterk deur jou eie optrede nie. Mens kan net idees verander. En hoe? Wel die VSA kan begin deur aan die Moslem-wereld te wys dat hulle nie dubbele standaarde het nie, deur ook hulle Moslem marionetstate te dwing om te demokratiseer, soos Saudi-Arabie, Jordanie en ander golfstate, asook die onderdrukkende regime in Pakistan. Hoekom moet Irak “bevry” word, maar ander outoritere state kan voortgaan op hulle wee? Dis hierdie tipe vrae wat die militantes gebruik om jongelinge te kweek wat deurgaans bereid is om hulle self in stukkies te blaas in stryd met die groot “VSA-Satan”.

Bush en die VSA is tussen die spreekwoordelike rock-and-hard-place. Een of ander tyd sal hulle moet uit. Die VSA sal moet uit, want die Amerikaners raak emosioneel uitgemergel vir die ongeveer 3-4 Amerikaanse soldate wat tans daagliks in Irak sneuwel. Ook is Tony Blair nou deel van die verlede en moet Bush sekerlik twyfel oor die volgehoue en blinde steun van die VK onder Brown. Verder tap die oorlog Amerikaanse reserwes. Die Irak-fiasko het reg in Al-Qaida en ander militantes se hande gespeel. Hulle stryd raak sterker en hulle motivering nou baie groter as in 2001. Voorts is die magsbalans in die Midde-Ooste versteur met Iran die groot wenner (Saddam se Sunni-Irak was ‘n goeie teenwig vir Iran se Shia-ekstremisme). Die ratte vir die Amerikaanse presidentsverkiesing het reeds begin draai. Persoonlik wil ek nie Bush in ‘n 100 jaar opvolg as President nie. Want as Bush se opvolger, sal dit jou taak wees om die derms te ontryg en te cope met ‘n baie gevaarliker wereld as wat bestaan het voor die 2003-inval in Irak.

20 Kommentaar leave one →
  1. Mei 30, 2007 12:11 vm

    Dankie vir jou onlangse besoekie en kommentaar. Net jammer mens het nooit genoeg tyd om die gesprek verder te voer nie!

    Ek geniet jou blog — en ek het gereken jy mag dalk belangstel om te sien wat ek te se het oor jou!

    http://chateaulalinde.blogspot.com/2007/05/another-blogging-bit_29.html

  2. Mei 30, 2007 10:45 vm

    soos hulle sê, you know what comes from texas…

  3. Mei 30, 2007 9:09 nm

    Wilna, baie dankie vir die inloer. Ek is uit die veld geslaan…

  4. Mei 30, 2007 10:27 nm

    Hey Boertjie – ek weet dit het nou niks met die prys van gespikkelde eiers te doen nie – maar ek kry nou, terwyl ek jou post lees hierdie prentjie in my kop van drie middeljare wyse manne, elkeen met ‘n sigaar in die hand, blou dampe in ‘n donker vertrek, besig om internasionale politiek en spesifiek die situasie in Irak, te bespreek. In die agtergrond tokkel iemand op ‘n vals klavier! hehehe, ek dink ek kyk te veel TV!!🙂

    Jy weet hoe ver my kennis van politiek strek, so ek gaan my nie uitgee vir kommentaar oor jou post nie! Ek weet net daar het alreeds te veel mense onnodig en onregverdig doodgegaan in ons wêreld!

    Lekker daggie xxx R

  5. Mei 30, 2007 10:36 nm

    Rene, ek dink nie jou prentjie is veel uit nie. Maar ek dink dis sigarette, goedkoop Franse wyn en ‘n rokerige hoekie iewers in Parys se kobbelsteen Latin Quarter, waar die ou anargiste saamkoek.

  6. Mei 30, 2007 10:48 nm

    Vir ‘n oomblik het ek gedink jy gaan sê ek kyk te veel TV! So tipies van my om so ‘n ernstige onderwerp te “romantiseer”, en toe moes jy dit verder voer met Parys!! Hoekom sigarette? Is anargiste te kommin om sigare te rook?

    Wat sê hulle nou weer van “great minds” en “fools”!!🙂

  7. Mei 30, 2007 10:52 nm

    Eintlik “Le Quarier Latin”. Dis ‘n magiese plek!

  8. Mei 31, 2007 12:55 vm

    Ag nee wat Boet Boer – die Amerikaners (veral Bush) speel mos maar in die globale elite se hande. Dit het nog nooit oor die “oorlog teen tereur” gegaan nie – maar oor olie en mag oor die midde ooste. Die volgende teiken is Iran, en dan Korea. Maar hier sal hulle hulle gatte sien – Iran was nooit onder sanksies nie, het ‘n moerse army en is allankal lus om die VSA en sy trawante ‘n bloedneues te gee.

    Verder kan ek aanbeveel dat jy bietjie wyer lees oor die Amerikaners op sites soos http://www.davidicke.com en ander conspiracy sites. Nie dat ek alles glo nie, maar ek het al die man se boeke gelees en dvd’s gekyk en hy het ‘n punt beet.

    My gevoel is dat Amerika op hulle hel gaan kry en moet buig teen-oor die mag van lande soos Sjina en Rusland wat nou al lank nie meer rus nie!

    Die “wild-kaart” in die hele storie van my oogpunt af is wat die VK se Gordon Brown gaan doen. Ek voorspel dat hy die agenda om die midde-ooste “oor te neem” sal bevorder.

    Ek dink net een ding gaan die globalisering van die wereld stop – inligting aan almal en onafhanklike denke wat op die WEB floreer.

    Ek dink Hillary Clinton sal die nuwe Amerikaanse President wees – sy het baie mag en is ook ingeboer by die BUSH-Windsor-spul.

    Ek het jou gesprek geniet en hoop om meer sulke bydraes te lees.

    Voorspoed!

  9. Mei 31, 2007 3:24 vm

    Het in 2001 in VSA gebly en baie maats gemaak onder senior Weermag lede. Hulle het reeds in 2003 aan die politieke masjien hulle onrus bekendgemaak. In een van die aanbiedings is die huidige situasie soos nou as een van die mees moontlike scenario’s genoem. Dit het egter nie in die politirke prentjie gepas nie. So onlangs soos begin 2006 het invloedryke militere en siviele dinktenks artikels begin publiseer oor Vietnam II. Nie annoniem nie, maar onder die name van bekende militere strategee.
    Interresante blog – doe so voort (uit ‘n Pretoria waar die koue vanaand in die vingers byt!)

  10. Mei 31, 2007 7:08 vm

    Lourens, ek twyfel of die internet die wêreld van globalisering kan red (en hoekom red? Jy sê dit asof dit ‘n slegte ding is?) om twee redes:

    1. Dis grootliks klaar geglobaliseer, maar meer belangrik:
    2. Net ‘n fraksie van die wêreld se bewoners het rekenaars.

    Reality check, ou tjom…

  11. Mei 31, 2007 1:20 nm

    Bib, nice post!

    Ek dink Bush het dit uiteindelik reggekry om die woord demokrasie kaal te stroop van die oorspronklike konnotasies van hoop en vryheid en dit in ‘n vloekwoord erger as p**s te verander.

    Vir my is die ergste van die oorlog in Irak hoe deursigtig die Bush administrasie se werklike bedoelings was, en die vermetelheid waarmee hulle dit steeds opgedis het as ‘n edele stryd.

    Die era van demokrasie kom stadig (of vinnig) tot ‘n einde. Nuwe reuse soos Sjina is lankal reeds besig om te wys dat demokrasie nie ‘n voorvereiste vir vooruitgang is nie, maar selfs dikwels as ‘n demper daarvoor kan dien. Ek wonder wat hou die nuwe era vir menseregte in.

  12. Mei 31, 2007 3:03 nm

    Bush was ‘n absolute ramp vir Amerika en ook die Republikeine. Ek hoop maar nie Amerika kies weer ‘n Republikein vir president in 2008 nie, want die beskikbare kandidate is nie veel beter nie.

    idiwidi, ek dink jy is heeltemal te oorhaastig om demokrasie te begrawe. Myns insiens is demokrasie – dalk nie presies soos ons dit in die Weste verstaan nie – onvermydelik in China. Ek gee toe, demokrasie is nie ‘n vereiste vir vooruitgang nie. Ek dink byvoorbeeld Rusland se eksperiment daarmee was minder suksesvol na die einde van kommunisme.

    Maar ek weet ook nie van ‘n moderne, welvarende samelewing waar die inwoners nie meer individuele regte opgeëis het nie. Dit sluit die reg in om te besluit deur wie en hoe hulle regeer wil word. Namate China se middelklas groei en die land ekonomies vooruitgaan, sal die druk toeneem om burgers meer regte te gee.

    China is lankal nie meer ekonomies-gesproke kommunisties nie; daarvoor is daar te veel kapitalistiese tendense in die eknomie te bespeur.

    Ek dink China volg die evolusionêre pad na demokrasie – treetjie vir treetjie.

  13. Mei 31, 2007 3:13 nm

    Ek is hopeloos te onosel of te naief of saam te gesels oor wêreld politiek, maar ek geniet julle sienings…ten minste is dit rasioneel en verstaanbaar.

    Die oorlog in Irak het vir die Amerikaners Vietnam(II, III of IV) geword – as jy plekkies soos Somalie in berekening bring.

    Op grondvlak kom dit daarop neer dat daar vanaand nog 4 gesinne in die VSA gaan wees wat wag vir ‘n soldaat wat nie weer gaan huis toe kom nie.

  14. Mei 31, 2007 10:42 nm

    Julle het nou soveel gedagtes by losgemaak, ek dink ek moet ‘n nuwe post doen! Kortliks:

    Lourens, dankie vir die besoek en kommentaar. Jong, ek het al bietjie David Icke gelees, maar ek loop maar sulke laaaang draaie om hom. Ek is in beginsel gekant teen samesweringsteoriee, want sulke teoriee onderskat gewoonlik mens se intelligensie en negeer ook die kompleksiteit en totale verweefdheid van internasionale gebeure. Min internasionale gebeure het ‘n eenvoudige of een-dimensionele verklaring. Sulke teoriee neig ook te dikwels in die rigting van die “Illuminati”, Katolieke Kerk, die 666-brigade en ander spookstories. ‘n Groot dryfveer vir die Moslem-ekstremisme is, ironies genoeg, juis sulke teoriee.

  15. Mei 31, 2007 10:55 nm

    Kowie, dankie vir die insigte. Die probleem met hardkoppige politici is ongelukkig dat hulle nie altyd na raad luister of wil luister nie. Ditto Suid-Afrika.

    Johan, die anti-globalisering brigade het al baie momentum opgebou. Hoewel ek nie 100% met hulle sentimente saamstem nie, steun ek hulle in hulle teenstand teen ‘n wereld, doodgesmoor in die greep van ongebrydelde konsumerisme (verbruikerskultuur).

    Idiwidi, jy is ‘n slimkind! Jy roer nou daardie hele debat aan van “democracy first” vs “economic freedom first”. ‘n Vergelyking tussen Sjina en Rusland is baie gepas. Persoonlik glo ek dis duidelik dat Sjina se weg om ekonomiese vryheid eerste te stel, die beste weg was, in vergelyking met Rusland, waar demokrasie redelik skielik en dramaties plaasgevind het. En dit bring my by die volgende punt: Vir ‘n land om suksesvol en ekonomies vooruitstrewend te wees, is demokrasie nie ‘n voorvereiste nie. Daar is talle voorbeelde, wat ek nie nou hier gaan noem nie.
    En hier is George reg – die evolusionere pad, maar ekonomiese vryheid sal op die lange duur demokrasie op Sjina afdwing. Op daardie stadium hoop en bid ek net dat die Sjinese leiers dit sal besef en nie weer die tenks op Tiananmen Plein uitrol nie.

    Eintlik wil ek nog baie goed noem, maar ek laat die gedagtes binne my broei vir ‘n volgende inskrywing…

    8)

  16. Mei 31, 2007 11:41 nm

    cool shades. wat was hulle kosprys?😉

  17. Junie 1, 2007 11:59 nm

    Blogbrille met komplimente veskaf deur “China Inc. – We fake it better than the original”.

  18. 7roer7 permalink
    Junie 2, 2007 4:35 nm

    Aangename kennis boertjie. Snaaks, ek het gedink ek is die enigste een wat nie 100% Bush-basher is nie… maar ek is ook nie op hoogte met wêreld politiek nie. Steur my te veel aan ons ou landjie se probleme. Ek dink net die man is in ‘n baie moeilike posisie en weet darem nie of ek in sy skoene wil staan nie. Moet darem sê daar is ‘n paar BAIE snaakse Bush grappe daar buite, maar dis nou weer ‘n ander storie. Nice blog!

  19. Junie 2, 2007 4:54 nm

    Dankie vir die kommentaar, 7roer7. Interessante naam wat jy gekies het, “7roer7″…

  20. Junie 2, 2007 5:54 nm

    Ek het mos gese Bin Laden word minder as die Lochness monster gesien:

    http://www.mg.co.za/articlepage.aspx?area=/breaking_news/other_news/&articleid=310085

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: