Skip to content

Wat ek glo

Junie 17, 2007

cross

Een ding wat die blogosfeer doen, is om jou denke te stimuleer. So het verskeie inskrywings en kommentare oor geloof en geloofsake die afgelope tyd myself weer tot selfondersoek gedryf. Ek het weer vir ‘n slag gaan sit en dink wat ek nou eintlik glo. Hierdie is die resultaat.

Ek glo dat Christenskap gefundeer is in een basiese beginsel, naamlik dat Jesus Christus, God geïnkarneer was en ‘n onherhaalbare en wonderbaarlike wyse was waarop God uitgereik het na die mensdom om so Homself aan mense te openbaar.

Ek glo dat God, as Christus, ‘n menslike dood kom sterf het vir die mense se sondes en die dood finaal en onherroeplik oorwin het. Dus glo ek nie dat enige gelowige Christen die dood meer hoef te vrees nie. Ek glo dat die dood slegs nog ‘n geboorte is en die poort na ‘n nuwe wesensbestaan, geslote en bo alle menslike pogings tot verklaring verhewe.

Ek glo dat Christene wetend/onwetend met/sonder goeie bedoelings met kortsigtigheid die Evangelie vertroebel. Dus word sake soos die letterlikheid van die Bybel (oa die 7-dag skepping ens.) nie ondergeskik gestel aan die sentrale boodskap van God (absolute liefde geïllustreer deur Christus se Verlossingsdaad) nie. Ek hoop andere kan ook insien dat kortsigtige en eng argumente oor periferale aspekte in die Bybel, die sentrale Evangeliese boodskap striem.

Ek glo dat die Bybel ‘n illustrasie is van die Almagtige God se verhouding met die mens. Ek glo nie dat die Bybel die volle aangesig van God openbaar nie of dat dit antwoorde op alle kwessies bied nie. Die Bybel is “glimpse van God” wat aan die mens slegs die essensie bied van wat hy/sy oor God behoort te weet. Daarom dat ons steeds in ‘n “dowwe spieël” kyk. Ons as nietige mense kan nie met ons beperkte verstand die die volle omvang van God besef nie. Ons kan ook nie onsself sien as die finale spreekbuise van God nie. Geloof is in wese irrasioneel. Om God se grootheid binne menslike pogings tot rasionaliteit te probeer kluister, is soos om met ‘n tandestokkie ‘n tonnel deur Tafelberg te probeer grawe.

Ek glo dat ons nietige mense te veel tyd en woorde spandeer aan oordeel veroordeel en vooroordeel. Ek glo dat slegs God in Sy Alwysheid en Almag kan oordeel. Ek glo ook dat die God wat ek aanbid bo alles regverdig sal oordeel.

Ek glo nie in voorspoedsteologie nie. Ek glo dus nie dat dit noodwendig met jou sal goedgaan as jy die Here dien nie. Ek glo dat God die reën oor goeies en slegtes laat val. Die gelowige se lewe is nie makliker of moeiliker as díe van die nie-gelowige nie. Wat God wel beloof is dat Hy by ons sal wees in ALLE omstandighede en dat NIKS ons van Sy liefde kan skei nie.

Ek is nie skaam vir my geloof nie. Dis my eie keuse en ek kan eerlik se dat dit positief in my lewe meewerk. Ek voel ook myself selde gedring om my geloof te “verdedig” of om apologeties daaroor te wees. Ek glo nie as gelowige hoef ek enigsins God te “beskerm” teen beperkte menslike begrip nie. Persoonlik hou ek nie van agendas om die Christelike geloof verdag te maak nie. Maar ek gun diesulkes daardie vryheid, want ten minste hou dit Christenskap op die agenda. Hierdie ironie ontgaan my selde.

Die pad van geloof is geensins ‘n maklike pad nie. My eie struikelgang is deurtrek met twyfel. Dikwels is ek soos Jakob wat met die engel stoei. Ek raak kwaad vir God en (poog) om met Hom te stoei oor so baie antwoordlose vrae. Maar, bo alles, en verby, en deur al die aanslae van intense twyfel, glo ek en bly ek glo. Dis my eie, persoonlike keuse. Dis my lewe.

Advertisements
28 Kommentaar leave one →
  1. luigiblog permalink
    Junie 17, 2007 6:15 nm

    Die bogenoemde siening is voorwaar een waarmee ek kan saamleef. Jou blok inskrywings is baie goed versorg. Blog so voort.
    Groete

  2. Junie 17, 2007 7:15 nm

    amen broer!
    Ek het vir jou die rugby se hoogtepunte op my blog gelaai, weet jy kan nie die games kyk nie!

  3. Thea permalink
    Junie 18, 2007 3:59 vm

    Ek volg ook al ‘n paar weke die debatte rondom die geloofskwessie. Godsdiens/geloof is eintlik so eenvoudig en ongekompliseerd en dis vir my partymaal soos ‘n dolksteek in die hart as mense dit wil ingewikkeld maak en alles wil tegnies ontleed en bevraagteken óf onverskillig daar teenoor staan. LIEFDE (God is liefde) is tog die sentrale punt waarom alles draai en solank ek dìt net elke dag kan uitdeel en ontvang, vra ek vir niks meer nie.

    Stem 100% saam met “luigiblog” – ek kan definitief ook saamleef met jou siening!

  4. sonkind permalink
    Junie 18, 2007 4:04 vm

    Ek glo ALLES wat jy glo en jy het dit so ten volle in woorde gestel. Ek wens almal wat geloof en God so kompliseer, wil hier kom lees!

  5. Junie 18, 2007 5:44 vm

    Amen meneer

  6. Thomas Dreyer permalink
    Junie 18, 2007 4:01 nm

    Ja, ek stem saam! Dit is wonderlik.
    Hoekom moet alles so moeilike en gekompliseerd wees.
    Soos Thea sê: LIEFDE is tog die sentrale punt waarom alles draai…

    Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
    (Romans 13:10.)

  7. Junie 18, 2007 6:09 nm

    Boer die ou “hollandse” vertaling het my gehelp om “geloof van” versus “geloof in” beter te verstaan…

    (Gal 2:16) Doch wetende, dat de mens niet gerechtvaardigd wordt uit de werken der wet, maar door het geloof van Jezus Christus, zo hebben wij ook in Christus Jezus geloofd, opdat wij zouden gerechtvaardigd worden uit het geloof van Christus, en niet uit de werken der wet; daarom dat uit de werken der wet geen vlees zal gerechtvaardigd worden.

    genadiglik skenk God die lewensnoodsaaklike “geloof van Jesus” by wedergeboorte… iets wat geen mens ‘n aandeel in het nie…. net uit genade.

    Sien daarna uit om Hom van aangesig tot aangesig te sien wanneer Hy terugkom….!

  8. Salige Rus permalink
    Junie 18, 2007 7:28 nm

    Ek stem nie 100% saam nie.
    (Wel iemand moes dit sê!)
    Ek dink wel mens sal ‘n interessante gesprek oor bogenoemde kan hê. Ek hou verskriklik baie van jou benadering – dat jy lyk asof jy gemaklik is met jou oortuigings en dus kan gesels met mense wat van jou verskil, sonder om defensive te hoef te wees. Ek vir een beskou jou as ‘n stimulerende gespreksgenoot.

  9. Junie 18, 2007 10:52 nm

    Ek kan my vereenselwig met alles wat jy sê. Dankie dat jy jou siening gedeel het.
    Nelba

  10. Junie 18, 2007 11:01 nm

    Dankie, Wimpie! Waardeer dit en sal gaan kyk.

    Ek is eintlik verbaas dat so baie mense volmondig saamstem, maar dis ‘n blogriem onder die hart.

    Salige Rus, ek kan nie verwag dat almal gaan of moet glo soos ek nie, want hierdie is juis ‘n baie persoonlike, subjektiewe geloofs”verklaring”, ongebonde deur enige kerk/denominasie se geloofstandpunte. Dankie vir die kompliment en deel gerus enige sienings.

    8)

  11. lanaba permalink
    Junie 18, 2007 11:31 nm

    Dankie vir die simpatie….en jy was defnitief lanklaas in Windhoek….want spitsverkeer is hier defnitief.!!!

    Hoop jy het n mooi week

    troedelkies
    xx

  12. Junie 19, 2007 7:30 nm

    Sjoe, ek kan ook net Amen sê en het hier gesit en my kop geknik soos wat ek gelees het. Die basis vir my is regtig om soos ‘n kind te glo. Natuurlik moet ons ook vrae vra, maar op die ou end aanvaar dat ons nie nou al alles sal kan verstaan nie. Die King James sê dit vir my so mooi: “For now we see through a glass, darkly; but then face to face: now I know in part; but then shall I know even as also I am known”.

  13. Mary Jane permalink
    Junie 19, 2007 9:00 nm

    Hey Boer, ek wil tog graag in die woorde van Rich Mullins byvoeg wat hy sê oor sy geloof (waarmee ek myself 100% kan vereenselwig. Dis presies hoe ek ook voel oor my geloof): I did not make it, but it is making me! Jy’s
    ‘n cool blogger!

  14. Kristiaan permalink
    Junie 19, 2007 11:32 nm

    Hallo Boer

    My eerste kommentaar op jou blog! Dankie vir wat jy geskryf het hier. Dit beteken vir my baie! Soos Jesus sê, die evangelie is vir kinders bedoel! Ek stem heeltemal saam met wat jy skryf!

  15. Junie 19, 2007 11:46 nm

    Boertjie … ek “sukkel” nou al van gister af om te comment op hierdie inskrywing! Jy praat so raak uit my hart, dat ek nie nog-iets KAN (of wil) byvoeg nie! As ek aan my godsdiens dink (wat vir my ‘n baie persoonlike saak is) – is daar net een skrifgedeelte wat altyd terugkom na my – 1 Korintiërs 13!! En dit vat alles vir my saam … ek wil niks meer verstaan nie, ek wil nie vrae vra of antwoorde hê nie en ek wil in alle nederig soos ‘n kind in God glo en in liefde leef! Dis waaroor godsdiens vir MY gaan! Dis my lewe!

  16. Junie 20, 2007 9:21 nm

    Dankie kostannie vir die aanhaling uit die King James. Dis baie mooi! Dankie vir jou aanhaling, MJ, ek stem saam, hoewel ek nie weet wie Richard Mullins is nie (behoort ek te weet?).
    Welkom, Kristiaan – besoek gerus weer!
    Rene, jou kommentaar itv Kor.1:13 is so relevant!

    Ek wil net byvoeg dat ek weet dat ons soos kinders behoort te glo – ons verstand is immers soos ‘n kind s’n ivm God. Maar ek erken dat dit defnitief nie maklik is nie. Dit bly ‘n stryd.

  17. Julie 3, 2007 4:08 vm

    Boer, jy het ‘n mooi siening en dit is seker hoe meeste Christenne voel, tog moet ons saam met Christus sterwe, om saam met Christus op te staan in ‘n nuwe lewenswandel, anders het Jesus se kruisdood ons nie gebaat nie. Ons moet ook in die breeking van die (siele) brood bly, tot ons almal kom tot die eenheid van geloof kom. Soos ek dit verstaan, moet ons oor die geloofsake en oor die Bybel in gesprek wees, want die volk van God gaan ten gronde weens die gebrek aan kennis.
    Verstaan my net reg, dat ek van hou wat jy hierbo geskryf het.

  18. Oktober 11, 2007 5:04 vm

    Net ‘n bykomende gedagte op wat Johannes geskryf het; Jak. 2 v 14 sê die volgende; Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Diè geloof kan hom tog nie red nie? Hier dink ek dat ons werke, nie aan die wet gekoppel moet wees nie omdat die wet ons beperk. Uit genade, m.a.w. deur God lief te hê bo alles en my naaste soos myself, moet my werke ontstaan. ‘n Passiewe geloof is dus net verbeelding en so ‘n offer, vind dus nie guns in die oë van God nie.
    Ook wat Renè oor 1 Kor 13 genoem het, sal ek nie v. 11 uit die oog uit verloor nie, asook 1 Kor. 14 v 20.

  19. Oktober 11, 2007 2:31 nm

    Boer:
    Jy het hierdie post geskryf lank voordat ek eers begin blog het. Dit was vir my baie lekker om dit te lees en ek stem met jou saam.

    Ek hou nogal van hierdie woorde wat jy skryf: “Ek glo dat Christene wetend/onwetend met/sonder goeie bedoelings met kortsigtigheid die Evangelie vertroebel. Dus word sake soos die letterlikheid van die Bybel (oa die 7-dag skepping ens.) nie ondergeskik gestel aan die sentrale boodskap van God (absolute liefde geïllustreer deur Christus se Verlossingsdaad) nie. Ek hoop andere kan ook insien dat kortsigtige en eng argumente oor periferale aspekte in die Bybel, die sentrale Evangeliese boodskap striem.”

    Oor kernaspekte kan ons nie verskil nie. Ons kan nie verskil oor die Bybel as die Woord van God nie en ons kan nie verskil oor die sentrale boodskap van God se liefde wat gestalte kry in Jesus Christus se lewe, sterwe en opstanding nie. Ons kan bv. verskil oor die sewe dae waarvan Genesis praat. Ek vermoed die huidige baie pynlike debat is juis omdat ons vertrekpunte nie dieselfde is nie.

    Dankie vir jou gedagtes.

  20. wolliem permalink
    November 6, 2007 5:08 vm

    Meeste mense neem die sentrale boodskap van God aan en ignoreer die ander wat sekerlik nie om dowe neute vir ons gegee is. Ek sou dink dat ons moet strewe om te groei, in die kennis van God en tog by die sentrale boodskap bly. Voorbeeld: Ons moet nie dronk word van wyn, maar ek mag nog wyn drink en as een oormatig drink, behoort ek as Christen, daardie een, met liefde, te help, deur nederige teregwysing en ondersteuning. So ook in alle ander aspekte, volgens wat in die Bybel voorgeskryf word. Om ander met oordeel, te vermaan, is dus sonder liefde, wat dan die sentrale boodskap van God ondermyn. Om te swyg, is ook om die sentrale boodskap van God te ondermyn, want dan is ek nie lief vir daardie een, wat teen Gods wil handel.

  21. Giddie permalink
    Februarie 6, 2008 4:35 vm

    Ek stem saam met julle almal en groei daagliks.Boertjie jy maak my trots om een te wees!

  22. Februarie 9, 2008 6:47 nm

    Ek ook…

    Dankie hiervoor, dis kragtig.

  23. Julie 15, 2008 2:15 vm

    Wow! ‘n jaar later word die blog steeds gelees! Dis baie nice geskryf. Ek dink ons kan maar ‘n geloofsbelydenis daarvan maak. ek hou veral van: “Ek glo dat Christene wetend/onwetend met/sonder goeie bedoelings met kortsigtigheid die Evangelie vertroebel. Dus word sake soos die letterlikheid van die Bybel (oa die 7-dag skepping ens.) nie ondergeskik gestel aan die sentrale boodskap van God (absolute liefde geïllustreer deur Christus se Verlossingsdaad) nie. Ek hoop andere kan ook insien dat kortsigtige en eng argumente oor periferale aspekte in die Bybel, die sentrale Evangeliese boodskap striem.”
    Ek kan grensloos geirriteerd raak met debatte oor die 7 dae en die 4000 jaar. Ek probeer wegbly van redenasies wat my nie in of uit die hemel gaan kry nie. Quite frankly is dit mos net ons wonderlike God se saak of dit 4000 of 4000 biljoen jaar is. Feit bly, God is Amazing en daarom aanbid ek Hom in Drie.
    Dankie vir die nice opsomming.

  24. September 4, 2008 5:44 nm

    Boerinballingskap, ek lees nou jou blog en jy sal my seker verskoon dat ek op ‘n ou draad comment. Bostaande is ‘n pragtige pos. Jy verwoord dit so mooi. Ek stem saam met soveel wat jy sê. (Veral oor kortsigtigheid van mense wat nie-sentrale sake sentraal wil maak.)

    Goeie nuus! “Glo soos ‘n kind” (wat jy in kommentaar 16 noem) beteken nie jy moenie vrae vra of redeneer nie. Dit staan nie eers direk so in die Bybel nie. Die idee kom uit Matteus 18 waar Jesus sê ons moet “verander en soos kinders word.” Maar hy vertel dit nie vir mense wat moeilike vrae vra nie. Hy vertel dit vir mense wat stry wie die beste plek in die hemel verdien. Kleintjies stry nie oor wie die beste bababedjie verdien, of die meeste melk in hulle bottels nie. Toe Tomas egter sê hy sal glo as hy vingers in die spykermerke steek, wys Jesus hom spykermerke.

    Het jy al gesien hoe ‘n 2 of 3-jarige seerkry, of dors is, en dadelik in ‘n vertrek vol mense NA SY MA hardloop vir hulp? Hy hardloop na haar, niemand anders nie, want ervaring (bewyse) vertel dat sy die een is wat hom in die verlede gehelp het. Selfs kleintjies soek – en gebruik – bewyse.

  25. Johan Horn permalink
    November 14, 2008 1:05 vm

    amen
    j

  26. November 17, 2008 5:49 nm

    Dit is lekker as mens op ou inskrywings nog kommentaar kry – wys jou die geskrewe woord is vir ewig 😆

    Goeie, eerlike inskrywing.

    Die pad van geloof is geensins ‘n maklike pad nie. My eie struikelgang is deurtrek met twyfel. Dikwels is ek soos Jakob wat met die engel stoei. Ek raak kwaad vir God en (poog) om met Hom te stoei oor so baie antwoordlose vrae. Maar, bo alles, en verby, en deur al die aanslae van intense twyfel, glo ek en bly ek glo. Dis my eie, persoonlike keuse. Dis my lewe.

    Dis hoe dit is!

Trackbacks

  1. My vyf? Nee, JULLE vyf! « Sonkind
  2. my gebed « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: