Skip to content

Ongevraagde raadgewers

Julie 27, 2007

Die ongevraagde raadgewers.

Hulle is hier oral tussen ons en om ons. Hulle lyk soos ons, tree soos ons op, maar hulle is anders, want hulle weet van beter: Hulle is die ongevraagde raadgewers.

Miskien jou buurman, ‘n familielid, ‘n vriend (heel dikwels), ‘n kollega of net ‘n kennis. Dit kan enigiemand wees, maar een ding is seker: Hulle gee raad! Tydig en ontydig. Oggend, middag en aand. Persoonlik, per telefoon of per e-pos. Hulle meerdere kennis word op ‘n verlammend gereelde wyse vir jou opgedis. Elke terloopse mededeling, raak ‘n beradingsessie, elke potensiele debat of gesprek word doodgebore ontvorm tot ‘n raadgewende konsultasie. Hierdie mense weet eenvoudig net van beter en glo hulle lotsbestemming is om raad uit te deel. Die enigste probleem is dat hulle nooit die gawe ontvang het om te onderskei tussen diegene wat raad nodig het, en die wat dit nie nodig het nie.

Soms hardloop jy na die badkamer om net in die spieel te kyk of daar nie dalk “EK HET RAAD NODIG” op jou voorkop gekerf is nie. Soms raak jy so ontsenu, jy begin wonder of jou gesig so voorkom dat almal dink hulle moet jou met raad bedien, of miskien is dit jou liggaamstaal? Maar dan kom jy gelukkig agter dat dit die ongevraagde raadgewers is en nie jyself nie.

Hierdie mense het net die beste bedoelings en dis juis wat hulle so gevaarlik maak! Kort voor lank is jy vasgevang in die web van raad wat stadig en ongesiens om jou geweef is. As jy dan eers wil uit, besef jy dat die tyd vir diplomasie of ‘n onderhandelde skikking uitgeloop het. Julle verhouding se vervaldatum is lank reeds verby. Die eenvoudige mededeling dat jy nooit eintlik enige raad wou gehad het nie, verander jou mond skielik in ‘n verbale vernietigingsmeganisme en jy herontdek swetse wat jy al tien jaar gelede afgesweer het. Die ongevraagde raadgewer stap swaargewond weg en dink by hom/haarself: “Jislaaik! Hierdie ou het regtig raad nodig!”

Wees dus gewaarsku…hulle is hier en hulle weet van beter.

Kyk om jou en wees baie bang, want JY het blykbaar raad nodig!

10 Kommentaar leave one →
  1. Julie 27, 2007 2:40 nm

    Ek sal jou raad volg en nie raad vat nie!

  2. Julie 27, 2007 3:20 nm

    As ek jou nou vanoggend raad kan gee Boertjie … pos vir my van daai dino-smarties!! Whahahaha!!!!😉

  3. Julie 27, 2007 4:00 nm

    Partykeer wonder ek of ek myself nie soms daaraan skuldig maak nie. Omdat mens soms net nie genoeg LUISTER na mense nie en graag jou eie stem wil hoor.

    Dalk is jy net ‘n moerse nice mens wat nie vir mense sê: “Loop vlieg in jou moer!” nie?🙂

    Elkgeval, as ek ook bietjie raad kan gee: luister vir René.😉

  4. lanaba permalink
    Julie 27, 2007 4:44 nm

    Weet jy wat piepie my battery nat….soos in sopnat!!!!!!

    Alwetende mense-mense wat altyd beter weet-sê jy so,dan sê hulle sis……
    Ek het so kollega……!!!!!

    Courier nou die dino smarties man!!!!😉

    Lekker naweek
    troedelkies

  5. Julie 27, 2007 5:00 nm

    Toe ek jou post lees, moes ek ook gou wonder of ek nie soms so ‘n ongevraagde raadgewer is nie. Hoop darem nie so nie. Maar, ek dink almal het die potensiaal om daaraan skuldig te maak, want die antwoord op ander mense se probleme lyk gewoonlik net soveel meer eenvoudig as jou eie.

  6. Julie 27, 2007 9:36 nm

    Miskien moet jy die situasie begin omkeer en as hulle met hulle raad begin, dan gee jy raad terug! Gewoonlik wil die wyses nie hulle eie medisyne proe nie.

  7. Julie 27, 2007 9:37 nm

    Jy laat my nou dink aan die ou wat vir die bedelaar parkeergeld vra!

  8. Julie 27, 2007 9:39 nm

    LOL – moenie my idees gee nie! Hier is hoeka so baie bedelaars by die robotte!

  9. Julie 27, 2007 10:05 nm

    “ME” dink George is slim en gee goeie raad!!!😉

  10. Julie 27, 2007 10:15 nm

    Ek ondervind ook nogal dat die raadgewers gewoonlik nie hulle eie raad kan volg nie, dan wonder ek nou so by myself, hoe weet jy dit gaan werk as jy dit dan nie self toepas nie? Dis soos ‘n uiters oorgewig antie wat jou wil help met jou dieet, en vertel presies hoe jy moet oefen, ens. Hallo!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: