Skip to content

Brief aan Stefan

September 15, 2007

Picture 061Beste Stefan,

Jammer dat ek nou eers skryf. Tyd vlieg inderdaad! Dis nou reeds ‘n jaar sedert jou skielike vertrek…Ons mis jou almal vreeslik baie en die wete dat jy nie gaan terugkeer nie, rus swaar op ons harte.

Jy sal seker verbaas wees om te weet dat ek nou in Suid-Korea is. Ja, ek gee nou die rooi taal vir skrefies-oog kinders. Ek moet se ek geniet die hele kultureel-vreemde ervaring baie. My geleenthede in Suid-Afrika het maar redelik beperk geraak, so hierdie was vir my ‘n goeie opsie. Ek dink ook jy sou nogal so ‘n kulturele ervaring geniet het. Die betaling is nie te vrot nie en die ure orraait. Die somers hier is net bitter warm en ongemaklik humied (maar nie so erg soos die “hel” in die Wildtuin nie). Ek sal graag vir jou wou foto’s stuur, maar ek weet nie of jy dit sal kan aflaai nie.

Met jou Ma-hulle gaan dit goed. Ek dink hulle mis jou maar (soos ons almal). Jou Pa word waardig oud en beide jou ouers hou hulself goed besig met ‘n allerlei van aktiwiteite. Riette het ‘n ruk terug vir hulle verras met ‘n kuier en hulle het dit baie geniet. En jou Ma se beskuit is natuurlik nog so lekker soos altyd!

Ek hou kontak met Riette oor die Internet en lyk my dit gaan goed. Die kinders word al groot. Sy het onlangs vir my die mooiste foto’s van Alaska gestuur – het selfs ‘n swart beer gesien tydens hulle besoek daar. Ek glo nie hulle sal terugkeer SA toe nie en ek blameer hulle nie.

Marie is toe getroud op lentedag. Ek kan nie onthou of jy ooit vir Kristiaan ontmoet het nie, maar ek dink Marie het ‘n goeie keuse gemaak. Ek was hartseer dat ek nie daar kon wees nie, maar na wat ek verneem, het Marie pragtig gelyk en was die troue ‘n groot sukses.

Ek het nie veel kontak met Johan nie. Hy is natuurlik baie besig (jy sal mos weet). Hy was by Marie se troue en dit klink of dit goedgaan. Hy en Ankie trou blykbaar in Desember (of November?) in Mosambiek. Ek is baie bly, want ek dink sy pas baie goed by hom. Ek hou baie van haar.

Ek het nogal gereeld kontak met Willem. Ai, ek het nou maar eenmaal ‘n sagte plek vir hom. Sover ek weet, gaan dit goed aan met sy werk in Pretoria. Anmar was saam met hom by Marie se troue. Hulle sien mekaar gereeld en is weer goeie vriende.

Met Ouma gaan dit ook goed. Sy het nou-al mooi aangepas in die ouetehuis en ek voel baie gerus oor haar. Maar jy ken haar mos – nes al die Malans, ‘n regte kanniedood. Al wat haar bietjie kou, is die rumatiek en haar kniee. Sy gaan moontlik ‘n knievervanging kry en ek dink dit sal haar lewenskwaliteit dramaties verbeter.

Ek en Brenda bly in kontak. Ek is baie dankbaar teenoor haar, want sy hanteer my geldsake, wyl ek hier in die vreemde swerf. Sy is nou maar eenmaal goed met geld (jy weet mos). Ek probeer haar ondersteun waar ek kan. Sy is sterk, maar ek dink soms vang alles wat gebeur het haar erg. Sy woon nou in Kaapstad, waar sy – na ‘n effe gesukkel – ‘n goeie werk gekry het.

Die Brother is terug uit Engeland en woon nou in die huis op Calitzdorp. Ek het nog net eenkeer met hom gepraat vandat ek in Korea is, maar sal hom spoedig weer bel. Laas het hy heel positief geklink. Hy bou en breek nog die huis, sny hare (in daai stoel, ja!) en ek dink hy is ook besig met ‘n steenmakery. Ek het hom belowe dat ek gaan kom kuier, sodra ek weer in SA is en dan gaan ons ‘n meneer van ‘n volstruispot aanmekaarslaan.

Dinge tussen my en Hanna het toe nooit uitgewerk nie…sy trou binnekort met iemand wat sy vroeer ontmoet het. Op ‘n manier laat dit my hartseer…sy is ‘n baie spesiale mens (soos jy weet). Maar miskien sal die man wat sy trou beter vir haar wees, as wat ek ooit sou kon…

In SA gaan dit maar soos altyd. Die sieldodende middelmatigheid is nou maar eenmaal deel van die daaglikse bestaan in SA. Die geweldsmisdaad duur onverpoos voort en die regering lyk steeds onwillig (magteloos?) om dramaties op te tree. Zimbabwe het finaal ineengestort, maar Mugabe – in sy malligheid – is steeds in beheer. Bush is vasgevang in die dryfsand van Irak, maar die kruistog duur voort.

Ai, man! Ek dink so baie aan jou en mis jou. Wat spesifiek telkens my denke binnedring, is ons muurbal-games in Durbanville (jy was meeste van die tyd vinniger as ek). Maar ook daardie Nuwejaar in Kaapstad, toe ons Tafelberg op is. En oujaarsaand se lekker ete in Bloubergstrand. En dan die kuiers in Melville – veral die ontbyt by Jannie se plek. En daardie dag by Imax in Menlyn (‘n fliek van die ou wat die Nyl geroei het). Ons het na die tyd pizza ge-eet. En natuurlik die Nam-trip – hoe sal ek dit ooit kan vergeet! Meeste van als mis ek ons gesprekke en dit wat ek by jou kon leer.

Ek sluit nou af, want dis laat in die nag en ek is vaak. Anyway, ek hoop en vertrou dit gaan sommer baie goed met jou!

Baie liefde en verlange

G

NS: Vir wat dit werd is: hulle het nooit jou moordenaars gevang nie. Ek is egter nie te ontnugter nie, want ek het nooit veel van die SAPD verwag nie. Jy weet mos dat intellek en effektiwiteit maar skaars kommoditeite binne ons beskermingsdienste geraak het. Ai, wat maak dit nou ook meer saak…

36 Kommentaar leave one →
  1. September 15, 2007 12:14 nm

    Dit was nou baie hartroerend…jy het my sommer in trane!

  2. September 15, 2007 2:54 nm

    😦

    (((Boer))), ek voel hartseer, kwaad, magteloos as ek jou brief lees. Gaan dit ooit ophou?

    Hoekom?

  3. September 15, 2007 6:53 nm

    Ja jong, maar steeds moet ons maak of daar nie probleme in SA is nie. Jammer BiB en sterkte.😦

  4. September 15, 2007 8:32 nm

    ek weet ek loop nou die risiko om onsensitief te klink, maar ek kan nie anders nie: BiB – as hierdie inskrywing ‘n kortverhaal was, het dit ‘n damn goeie einde gehad. well done.

    ok genoeg literêre nonsens. ‘n groot vet drukkie vir jou.

  5. September 15, 2007 9:15 nm

    BiB…check jou booskap op my site vir my antwoord op die registrasie…:)

  6. September 15, 2007 10:14 nm

    Soos wat jy hier Stefan geskryf het, net so het ek aan my ma geskryf, maar nog nie geplaas nie. My kop raas daaroor. As ons net die dokters harder gedruk het, het sy miskien nog tyd gehad. As is en bly seker maar verbrande hout, maar het ek persoonlik hard genoeg baklei? Mens wil nog met hulle kan gesels….

  7. September 15, 2007 11:05 nm

    Net ‘n “hug” vir jou, niks woorde nie. Mooi loop.

  8. kaalvoetkind permalink
    September 15, 2007 11:11 nm

    Ek het ook nie woorde nie, net ‘n drukkie! (((Boertjie)))

  9. Anita permalink
    September 16, 2007 1:59 vm

    Hopelik sal eendag kom, dat al die “Johanne van ons dierbare land” se sterwes nie verniet was nie…

  10. Anita permalink
    September 16, 2007 2:02 vm

    ns. sien dis wat die trane doen, ek bedoel Stefan!!

  11. Bertus! permalink
    September 16, 2007 4:16 vm

    Ek voel nou skoon asembloos nadat ek hierdie post gelees het.

  12. September 16, 2007 6:13 vm

    Baie aangrypend. Sterkte en ek dink daardie Hanna maak ‘n groot fout.

  13. September 16, 2007 7:52 nm

    hi BiB…’n ander site waar ek speel is http://www.chess.com…oulike site…nuut, en dinge gebeur daar! gaan check dit bietjie uit….en laat my jou nickname op my site sodra jy gereed is…moenie gedruk voel nie…!

  14. September 16, 2007 10:37 nm

    Ai, dis nie cool nie!!
    *hug*
    Ek is seker dat daar baie mense aanklank gevind het, dankie daarvoor.

  15. September 17, 2007 12:23 vm

    Sterkte! Dis baie hartseer.

  16. marat permalink
    September 17, 2007 1:55 nm

    ((((BiB))))

  17. September 17, 2007 4:31 nm

    Boer: My kleinboet is verlede Sondag 4 jaar terug dood. Hierdie was nie ‘n lekker post om te lees nie, maar dit was dalk die regte post. vandag. Dankie. In die kerkwêreld sou ons gesê het: Boer was gehoorsaam.

  18. September 17, 2007 6:50 nm

    Sterkte. Die heel-word proses is soms ‘n trippie op sy eie.

  19. Sproetjies permalink
    September 17, 2007 6:58 nm

    BIB. Sal dit ooit ophou? al die onregverdigheid? Koester die mooi “memories”

  20. Eben permalink
    September 18, 2007 1:48 vm

    BiB …. as kuber kennis, kan ek net sê ‘….. Sterkte en dink spesiaal aan jou in my gebede’

  21. September 18, 2007 6:00 vm

    Hey net om jou te laat weet… jy’s nie alleen nie! Bid vir jou!
    STRONGS!!!!!

  22. hexi permalink
    September 18, 2007 8:13 nm

    BiB, dit was so hartseer storie, en ek is jammer vir dit wat julle moes, en steeds, deurgaan. Bitter baie sterkte vir julle… (((((BiB))))))

  23. September 19, 2007 6:12 vm

    Jammer

  24. September 19, 2007 6:03 nm

    Dis ‘n pragtige brief. Ek is seker hy het dit gelees. Sterkte met die eina.

  25. September 19, 2007 10:15 nm

    Dis ‘n eina briefie! Om iemand vir wie jy so baie omgee op so ‘n manier te verloor, is ‘n eina wat nooit weggaan nie! Nie eers TYD kan daardie wonde heel nie!! Dis so onregverdig dat daar verwag word dat ons net moet “vergeet” van die onreg wat gedoen is! Dink aan jou mater!! xx

  26. September 20, 2007 12:04 vm

    Ai tog BiB. Ek in my meisiekind is nou albei amper in trane.

    So ‘n oulike en lekker geselsbriefie.

    En aan die einde… ek het nooit besef nie.

    Sterkte vir jou.

    K

  27. September 20, 2007 3:17 nm

    eish!

  28. September 21, 2007 9:36 nm

    Baie dankie vir almal (nuwe en ou besoekers) se meelewing en kommentaar. Die werklike tragedie is nie Stefan se dood nie – dit is die feit dat Stefan maar slegs een van duisende is. Ek sukkel om die meedoenlose gewelddadigheid waarmee mense daagliks in Suid-Afrika sterf, te verwerk en weier om afgestomp te raak in hierdie opsig.

  29. duskant permalink
    Oktober 3, 2007 6:49 nm

    my hart huil nou, soos almal hier bo s’n.
    mag stefan vir altyd leef

  30. Oktober 3, 2007 8:10 nm

    Die laaste woorde van daardie klassieke roman, “How Green Was My Valley”, kom by my op:

    “Men like my father cannot die. They are with me still – real in memory as they were in flesh, loving and beloved forever.”

  31. Oktober 7, 2007 12:50 nm

    So sit ek en lees en lees, ek dink, haai hoe mooi…. en toe kom die einde en met ‘n skok gly die bloed in my kop tot tussen my tone. Ek is nou so hartseer, ek is so jammer oor jou verlies.

  32. Oktober 16, 2007 9:33 nm

    Dankie dat jy dié stuk persoonlike seer gedeel het. Dit het my dag laat draai.

  33. April 30, 2008 7:29 vm

    Weer dat ek, ik kom dat overal tegen…..

  34. zonika permalink
    Julie 11, 2008 3:19 vm

    BiB, was nou vir my aangenaam om jou blad te leer ken. Hierdie briefie laat verlang my na die dae toe briefskryf nog algemeen was. Briefskryf is ‘n kuns, en jy slaag daarin. Ek het heeltyd vermoed Stefan is nie meer met jou nie, maar die manier hoe hy weg is, is nie net sad nie, dis skokkend. Jammer jong. Eendag sal ons seker verstaan hierdie spieel en raaisel waarby ons nou staan… Sterkte.

  35. kyker permalink
    September 4, 2008 1:44 nm

    Sjoe. Jammer Boer.

  36. November 8, 2008 4:02 nm

    Wat ‘n aangrypende inskrywing! Jammer oor jou verlies Bib!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: