Slaan oor na inhoud

Argentyne mag maar

September 19, 2007

S7301546In die lig van Argentinie se goeie vorm in die Wereldbeker, het ek dit gepas gedink om vir ‘n slag weer ‘n Argentynse wyn te probeer. Lank reeds is Argentinie nie meer bekend vir lae kwaliteit grootmaat-wyn, soos tydens die vroee 1990’s nie. Die afgelope tien jaar het hulle geweldig ge-investeer in nuwe tegnologie, gesofistikeerde wingerdbou-metodes en bemarking. Vandag is daar menige Argentynse wyne wat met die beste in die wereld vergelyk kan word.

Mendoza, gelee aan die oostelike voet van die Andes, is by verre die grootste en belangrikste van Argentinie se wynstreke. In hierdie pragtige gebied, geniet die wingerde oorvloed sonskyn van lang, warm somers, wyl die koue winters genoeg rustyd aan die wingerdstokke bied.

In terme van kultivars, het Argentinie met Malbec gedoen wat die Australiers met Shiraz gedoen het: dit hulle eie gemaak. Hoewel Malbec oorsponklik ‘n Franse kultivar is (een van die Bordeaux “groot vyf”), is dit Argentinie wat sekerlik tans die beste enkel-kultivar Malbecs in die wereld maak.

Ek het die Trapiche Malbec 2005 (WvO Mendoza) baie drinkbaar gevind.S7301562 Anders as die veel ernstiger Trapiche Malbec OakCask, is hierdie wyn gemaak om reeds in sy (relatiewe) jeug te geniet. Die wyn maak ook geensins aanspraak daarop op om ikonoklasties te wees nie. In die glas is die wyn helder, dieprooi, met ‘n effe pers ondertoon. Die neus vertoon ‘n groenterige kruie-karakter met geure van granaat, kaneel, asook ‘n prominente vleisagtigheid (nat biltong). In die mond val die goeie, sterk tanniene op. Dit bly egter in balans met die alkohol en smaak-karakter. Hoewel die nasmaak nie ‘n ewigheid hou nie, is dit aangenaam. Nie op die neus of smaak is daar enige leidrade wat ‘n ernstige hout-regime aandui nie. Die wyn is waarskynlik slegs skrikgemaak met ‘n paar eike-stawe. Opsommend: ‘n lekker wellustige wyn sonder pretensie! Maak hom oop as jy weer ‘n vleisie op die kole gooi!

14 Kommentaar leave one →
  1. Bertus! permalink
    September 20, 2007 3:36 vm

    Ek dag julle drink net Saki.

  2. September 20, 2007 4:15 vm

    Klink lekker! Ons het al hier varktjops gekoop wat van Brasilië af kom en baie lekker is, dan spot ek altyd met die kinders en se dit kom van Rubens Barrichelo se oupa se plaas af. (Dit was nou nog in sy beter Ferrari-dae). Miskien sal ‘n Suid-Amerikaanse wyntjie nie sleg afgaan daarmee saam nie.

  3. September 20, 2007 3:03 nm

    Hoekom staan daar op party bottels wyn jy moet dit drink binne 4 jaar na die oesjaar, maar ander wyne kan dekades lank in kelders gehou word?
    Sal jy omgee om dit te verduidelik sodat ‘n leek oor wyn soos ek dit ook verstaan?

  4. September 20, 2007 3:14 nm

    Ai, hoe lus is ek nou vir ‘n rooietjie!! Ek struikel net oor een woord … ikonoklasties…wat op dees aarde??

  5. September 20, 2007 3:19 nm

    ek klink vir jou een, was bevoorreg genoeg om al op ‘n paar argentynse wynplase rond te drentel!
    staan jy nog by jou voorspelling vir die goue koppie?
    😉

  6. September 20, 2007 4:30 nm

    Sjoe, nou’s ek self baie lus vir ‘n lekker wyntjie. Baie mense hier geniet nie Malbec nie, maar ek het dit onlangs begin drink en is mal daaroor. Dis heeltemal iets anders.

  7. Eben permalink
    September 20, 2007 9:24 nm

    BiB lekker leesstof. Maar as ek nou moet wyn drink, dan kom ek nie môre geloop met my gout/jig. En soos René vra daardie volksvreemde inkonoklasties??

    Jy wil nie ook bietjie in di ekristal glas kyk of jy iets kan sien rakend die krieket 20/20?

  8. kaalvoetkind permalink
    September 21, 2007 2:24 vm

    Jy beskryf die wyne altyd so goed, dat jy mens net lus maak vir ‘n lekker glasie! Maar gelukkig is dit “doctor’s orders” dat ek rooiwyn moet drink, so hoekom sal ek nou nie? Tjorts!!

  9. September 21, 2007 3:54 nm

    hmmm…rooiwyn is my gunsteling, ek kry hoofpyn van witwyn…en sjampanje…maar gee my eerder ‘n bottel Cape Velvet…of 2de beste Marula…dan’s ek gelukkig…..weet dis nou nie wyn nie, maar nou ja! wie gee om? 🙂

  10. September 21, 2007 9:49 nm

    Bertus, die Koreane se nasionale drank is Soju – ‘n tipe rys-mampoer (soos ek dit gedoop het). Wynverbruik is nog in sy kinderskoene hier, maar natuurlik is ek (nog) nie een van “hulle” nie.

    Kop, die wyntjie is reg vir varktjops ook! Ha-ha…Rubino se plaas!

    Da Mario, ek gaan sukkel, maar ek hou dit so kort as moontlik: Die primere faktore wat wyn langlewendheid gee is tanniene (vanaf houtvate) en suur (natuurlike suur vanaf die druiwe). Wyne wat vroeer drinkbaar is, het ‘n gebrek aan hout-tanniene en laer suur – daarom ‘n sagter wyn, wat gou drinkbaar is en nie lank sal hou nie. Hierdie is ‘n BAIE bondige antwoord, aangesien daar baie ander faktore is wat ook ‘n (mindere) rol speel.

    Rene, Eben: “Ikonoklasties”= “om ‘n ikoon te wil wees”/”om aaanspraak te maak op ikoon-status”.

    Wimps, jy was inderdaad bevoorreg! Ek moet nog daar uitkom. En ja, ek staan by my voorspelling!

    Kostannie, die lekkerste Malbec is vir my die een van Bellevue in STB.

    Eben, ek wou nog in my kristalbal loer, toe verloor die Proteas. 😦

    Kaalvoetkind – jy het ‘n goeie dokter!

    Chessalee – uit ervaring het ek geleer dat enige roomlikeur my erg hoorfpyn gee. Bygese, as ek net by een glasie bly, bly die hoofpyn ook weg…

  11. Sonstudio permalink
    September 23, 2007 4:46 vm

    Wens ek was so ‘n wynkenner.

  12. September 24, 2007 12:39 vm

    Boer as jy in Indie kom kuier drink ons Sula Rose!

  13. September 25, 2007 10:41 vm

    Willem, jy het my! Ek weet Indie maak wyn en die naam “Sula” lui ‘n klokkie, maar ek het geen kennis van die Indiese wyne nie. Ek sal hom drink, solank hy nie soet is nie.

    (Dankie vir uitnodiging) 8)

Trackbacks

  1. om oorrompel te word is ook lekker « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar op Sonstudio Kanselleer antwoord