Slaan oor na inhoud

Oor vreemde kosse en dies meer

Julie 10, 2008

S7305467Om al die verskillende Koreaanse disse te probeer, is een van die interessantste en avontuurlikste aspekte daarvan om hier in die vreemde te wees. In Korea is die eetstyl drasties verskillend van die in Suid-Afrika en groot dele van die Weste. In die eerste plek sit jy gewoonlik plat op die grond by lae tafeltjies; in die tweede plek word die oorgrote meerderheid van die disse gemeenskaplik ge-eet; in die derde plek is daar altyd een hoofdis met ‘n swetterjoel klein bakkies van bykosse. Daar is dus nie die tradisionele “bord kos” nie en niemand het as’t ware hulle “eie” kos nie. Almal eet met hulle eetstokkies saam aan die hoofdis, asook die talle bykos-bakkies. Aanvanklik is hierdie eetstyl vir mens taamlik anargisties, maar mens raak gou gewoond daaraan en naderhand begin jy hierdie gesellige manier van eet geniet.

Samgyopsal is ‘n baie algemene en gewilde Koreaanse dis en ook een van my eie gunstelinge. Oor die algemeen is Koreaanse kosse baie gesond, maar samgyopsal is een van die min cholestrol-gedrewe disse (seker hoekom ek dit dan ook so baie geniet…).

S7302766

Dit bestaan hoofsaaklik uit gesnyde, spekryke repies varkvleis (meestal gemarineerd of ten minste ge-spesery) wat aan tafel gebraai word op ‘n gas-of houtskool braaier. Dit word egter nie alleen gebraai nie, maar saam met knoffel (deel van byna elke Koreaanse dis), uie, sampioene en soms selfs pampoen en rysrolletjies. Die bykosse (wat van restaurant tot restaurant verskil) kan bestaan uit enige kombinasie van bakkies met kimchi* (gefermenteerde kool wat gegeur is met hope rooipeper en knoffel), pajeon (‘n tipe Koreaanse pannekoek) slaai, groen uie, gesnyde radys, tofu, aartappeltjies, groenrissies, wortels, komkommer, spinasie en rys. Soms glip daar selfs ‘n bakkie grondboontjies of ‘n seekatpootjie in.

S7303034S7305469

Die klaargebraaide repies spek word met ‘n sker opgeknip, waarna jy dit kan doop in sojapasta en/of sesame-olie. Daarna plaas jy die stukkies spek saam met die bykosse van jou keuse en die gebraaide uie, knoffel ens. in ‘n sesame- of slaaiblaar (gesamentlik bekend as ssam). Jy vou die blaar om die inhoud in ‘n groen bondeltjie en sit dit in jou mond. Heerlik!

S7302450S7305472

Byna alle gebraaide vleisgeregte in Korea word op hierdie “blaarmetode” ge-eet. Dit klink sekerlik baie vreemd, maar is nogal baie lekker. Ander gewilde Koreaanse braaigeregte sluit in dejigalbi (die vleis van varkribbetjies), bulgogi (repies beesvleis), sogalbi (beesribvleis), origogi (eend) en takgogi (hoender). Bulgogi is by verre die gewildste (en duurste) van hierdie braaigeregte. Dis egter baie lekker en word aan tafel met ‘n rooster op houtskool gebraai – die naaste wat jy ooit aan ‘n regte braai sal kom hier in die Ooste!

S7303032S7305051

 

S7305469*Kimchi is Korea is se kenmerk nasionale dis. Ek het dit hierbo baie eenvoudig beskryf. Daar is inderwaarheid baie verskillende soorte en variasies. Die Koreane is omtrent oor hulle kimchi soos die Franse oor hulle kase. Om behoorlik oor kimchi te skryf, is ‘n inskrywing opsigself…

19 Kommentaar leave one →
  1. Julie 10, 2008 4:25 vm

    thanx boer, die dis wat nommer twee op my lys van lekkerste disse is die varkribbetjies stew. Dis absoluut fantasties, my nommer een is vanself sprekend ori-bulgogi en ori-tang.

    En vir een of ander vreemde rede kan ek nie genoeg van die kimchi die laaste tyd eet nie. Dit raak net lekkerder en lekkerder hoe meer ek dit eet.

    Moet se ek gaan dit vreemd vind weer terug in Suid-Afrika met my eie bordjie kos, en nie meer mede deelsaam eet nie. hehe

  2. Julie 10, 2008 10:10 vm

    Hoe honger is ek nou….mmmm….die kos is darem maar lekker hier! Ek sal net die kinchi ‘n mis gee, want dit brand die 7 soorte hel uit mens uit! Ek is mal oor ori-tang en moet nog ori-bulgogi probeer.

  3. jaans permalink
    Julie 10, 2008 8:37 nm

    Dankie vir die interessante blog – ek vind dit interessant hoe verskillende mense op WordPress oor die kulture blog waarin hulle hulle tans bevind.

    En die kos op hierdie een lyk nogal smaaklik!

  4. Julie 11, 2008 12:59 vm

    MJ, kimchi is soos goeie whisky of goeie musiek…jy moet dit tyd gee om as’t ware op mens te “groei”. Maar as jy nie hou van warm, spicy kos nie, weet ek nie of jy ooit daarvan sal hou nie – sorry, Kaalvoet 😦
    Dankie vir die inloer, jaans.

    Vir die wat nie weet nie, oritang is eendbredie en hier in Korea is dit lipaflekkend lekker…sal nog ‘n inskrywing doen daaroor.

  5. Julie 11, 2008 2:00 vm

    Njammies. Dit lyk heerlik.

  6. Julie 11, 2008 2:12 vm

    Bib ek is nou bly oor hierdie inskrywing. Kaalvoet het vir my ‘n site gegee waar ek al die Koreaanse resepte kan kry. Ek is besig om te beplan aan ‘n Koreaanse ete!! Ons gaan plat op die grond mededeelsaam eet 😉

  7. Julie 11, 2008 2:12 vm

    My mond water…

  8. Julie 11, 2008 2:31 vm

    Ek het vreeslik lekker in Qatar geëet. Die kos daar lyk net so kleurvol soos hier.

  9. Julie 11, 2008 6:13 vm

    Dit lyk aantreklik. Ek kon ook nie kla oor die kos die keer toe ek daar was nie, baie interessant om al die disse te probeer.

    Ek onthou ook die gebruik om eers elkeen ‘n glasie wyn te drink en dan vir die ander persoon in jou glas te skink en hy vir jou in syne. ‘n Manier om ewigdurende vriendskappe te sluit.

  10. Julie 11, 2008 4:25 nm

    Eish, die kos lyk actually heeeerlik! Ek is net bly ek hoef nie al die skottelgoed te was nie! :mrgreen:

  11. krista permalink
    Julie 11, 2008 5:57 nm

    Alhoewel baie vreemd, lyk dit baie lekker!

  12. Reisiger permalink
    Julie 11, 2008 9:07 nm

    Dit lyk kleurvol en baie lekker!

  13. Julie 11, 2008 11:52 nm

    No sweat Boertjie. Daai kimchi stink in elk geval te veel…ek kan nie dink dat dit kan lekker wees nie!

  14. Julie 11, 2008 11:56 nm

    hemel mar dit klink lekker eks nou rasend honger

  15. Julie 14, 2008 9:08 nm

    ….NOU IS EK HONGER!!!!!…….kyk met leepogies na my ou bakkie yoghurt 🙄

  16. Julie 15, 2008 4:27 vm

    Oh, dit lyk alles heerlik. Net die lae tafeltjies sal my rug laat dooi! Maar vir die res sien ek kans.

  17. Julie 17, 2008 1:52 vm

    Goeie idee, Wipneus! Ek hoop julle het die nodige eetstokkies en genoeg soju! Is ek genooi?
    Kop, jy het die Koreaanse gasvryheid dus ervaar. Ek het na hierdie gebruik verwys in my inskrywing oor die Koreaanse Mentaliteit.
    Ek is bly julle almal toon waardering vir hierdie disse. Ek sal bietjie in die toekoms nog kosblogs doen en van die meer “avontuurlike” disse vertel.

    NS: Rene, dis hoekom mens hier altyd in ‘n restaurant gaan eet. BTW ek hou van skottelgoed was…jy dan nie?

  18. Julie 18, 2008 11:54 nm

    Boer! Ek kom ook nie weer na jou site nie. Dit is onregverdig dat jy so lekker kan eet en ek moet te vrede wees met verdomde olie chips en “deep fried” alles hier in Ierland.
    😉

  19. Sonia permalink
    Augustus 10, 2008 10:51 nm

    Hoe jaloers is ek nie nou op jou nie! Om van honger niks te sê nie.
    Hierdie bring heerlike herinneringe terug van ‘n piepklein en outentieke Koreaanse restaurant wat ek een warm somersmiddag in ‘n stegie uit Bondstraat in Londen ontdek het, waar ek later dikwels alleen gaan eet het.
    Bulgogi!
    Die garnale bo lyk ook heerlik – ons kry mos net bevrores hier in Suid-Afrika, ek het nog nooit die voorreg gehad om varses te kan koop nie.
    Jou gelukkige duiwel.

Lewer kommentaar