Skip to content

Kimbap is koning in Korea

September 18, 2008

Nee, kimbap is nie een van Korea se antieke konings nie…dis die naam van sekerlik die gewildste kitskos in Korea. Vir alle praktiese doeleindes is dit Korea se weergawe van die gewilde california roll, of eerder is die california roll miskien ‘n weergawe van kimbap .

S7300437S7300441

Kimbap beteken letterlik seegras (kim) rys (bap). Dit bestaan basies uit rys, gerol in seegras met ‘n verskeidenheid moontlike vulsels binne (maar nooit avokado, soos in die california roll nie). In Korea is kimbap letterlik orals te koop: by straatstalletjies, supermarkte, kafees, restaurante ens. En natuurlik maak mense dit ook self tuis. Dis smaaklik, goedkoop, maklik om te maak, vullend en boonop baie gesond.

S7300447S7300446

Eers word die rys behoorlik met sesame-olie bewerk. Die velletjie seegras (so te koop in die supermarkte hier) word op die kimbap-matjie geplaas en die rys word sorgvuldig daarop gerangskik. Hierna word die vulsel op die rys geplaas. Die mees algemene vulsel is: wortel, gepersde krapvleis (crabstick), gepersde stroke visdeeg (odeng), eier, ham, komkommer en geelradys. Die seegras en vulsel word dan ‘n paar keer styf toegerol in die matjie. En siedaar! Die kimbap is klaar voorberei. Al wat oorbly is om die rolletjie met ‘n bietjie sesame-olie te smeer en met ‘n skerp mes te sny.

S7300453S7300454

Daar is ‘n hele paar variasies van kimbap, soos kimbap met kimchi (Korea se gewilde gefermenteerde rooipeper-kool), kimbap met tuna en wilde sesame-blaar, kimbap met rooipeper, asook die sogenaamde nude kimbap . In geval van lg. word die rys aan die buitekant van die seegras-velletjie gerol, met die vulsel aan die binnekant. Afgesien van hierdie variasies kan jy ook die inisiatief neem en enige kombinasie van vulsels self probeer.

S7300462S7300466

Dis heel moontlik die eerste kos waarmee jy sal kennismaak in Korea en ook moontlik die laaste ding wat jy sal eet voordat jy die land verlaat. In die begin was dit vir my nogals lekker om te eet, maar ek het dit nou-al so dikwels ge-eet, dat ek ‘n versadigingspunt bereik het. Eintlik is ek regtig sat daarvoor. Ek dink op die langeduur verkies ek King Pie .

(Ai, hoe lus kry ek nie nou vir ‘n lekker vars steak ‘n pepper pastei nie…)

17 Kommentaar leave one →
  1. September 18, 2008 12:53 vm

    Dis nou baie interessant. Eet hulle dit ook saam met soja sous en wasabi? Hier (en in Noord Amerika) as mens california role bestel sit die rys altyd aan die buite kant. Ek is baie lief daarvoor.

  2. September 18, 2008 3:05 vm

    Boer ek moet se as ek in n winkel instap dan skip ek heel eerste die kimbap. Dis rerig n eenvoudige lekker dis, maar mens kan net soveel daarvan eet, veral as dit jou daaglikse middagete vir 6 maande by die skool was. Maar ek sal dit miskien eendag weer geniet, vir eers soos jy se sal n king pie nou wondere kan verrig, jy is ook maar n bliksempie ek is nou rerig moerske lis vir n pie……..😦 🙂

  3. September 18, 2008 12:15 nm

    Ek stem MJ! Toemaar, ons gaan ons lekker dik vreet aan pasteie dan moet hy nog kimbab eet😈

    Ek is ook al keelvol vir kimbab en al die moontlike variasies!

  4. amanda permalink
    September 18, 2008 3:09 nm

    ag sies man, sit ek nou hier en kwyl vir ‘n lekker pie!

  5. thepooks permalink
    September 18, 2008 4:54 nm

    Is dit nie net ‘n wariasie op sushi nie? Marguerite se sushi vervaardigings proses lyk baie dieselfde.

  6. September 18, 2008 5:05 nm

    Dit lyk lekker! Maar te veel van ‘n goeie ding is seker ook nie goed nie. ‘n Geval van as die muis dik raak, is die kaas bitter?😉

  7. September 18, 2008 10:50 nm

    Mmmm.. dit lyk lekker en gesond😉

  8. September 18, 2008 11:51 nm

    Lyk baie soos sushi wat ons hier kry en die omgekeerde noem hulle ‘inside out” rolls, as die vulsel aan die buitekant is. En die groter weergawe is die handroll.

  9. September 19, 2008 3:10 vm

    ThePooks, ek het ook nogal so gedink. Woolies verkoop ‘n soortgelyke sushi dingetjie waarmee ek myself so een maal ‘n week bederf. As ek ooit die voorreg het om die we^reld te reis, sal my grootste inspirasie wees om al die verskillende kosse te proe. Wel, miskien nie AL die verskillende kosse nie. Daar’s ‘n rede hoekom ek nooit ‘n Fear Factor kandidaat kan wees nie.

  10. September 19, 2008 5:34 vm

    Foei, man, simpatie oor die King Pie! Maar ek sal nogal graag die kimbap wou proe.

  11. September 19, 2008 5:43 vm

    Dit lyk my elke land het maar sy “wrap” of “pastry” kosse wat staan-staan en vinnig geeet kan word en op straat hoeke verkoop word.

    Venezuela se arepas (mieliebrood met vleis, bone of kaas vulsel) wat baie dieselfde is as Mexico se tacos en burritos (burrito letterlik beteken klein donkie, so hotdog lyk my is nie so ‘n snaakse woord nie) en chimichanga (lang, maer fried burrito, Tex-Mex cuisine se fajita, die Russiese pirozhki (pastei met kool en allerlei Russiese alledaagse vulsels), Britse pies, Franse crepes (alhoewel die Franse hard skop teen fast food), en Suid Afrika se eie vetkoek (ons het dit altyd met weense worsies gevul.)

    Terloops, die Duitsers het ‘n heel nuwe konsep van die Fast food restaurant. Sien hier: http://bluegrassbaobabs.blogspot.com/2008/09/new-german-style-fast-food-restaurant.html

  12. September 19, 2008 7:24 vm

    Dit lyk heerlik! en ‘n mens kan seker bietjie rondspeel met jou vulsel en maak waarvan jy hou! dankie, ons het jou inskrywing hierdie kant interessant gevind…

  13. September 19, 2008 4:29 nm

    Mmmmm…laat jy my nou terugverlang na gisteraand se Patathoenderpotjie! (Nog nooit in my lewe het ek iets lekkerder geëet nie!)

    Die rys-rolletjie-goed van julle lyk darem nie te onaangenaam nie – en ten minste is dit DOOD!! Watse soort rys gebruik hulle? Seker nie TASTIC nie?😕

  14. Reisiger permalink
    September 19, 2008 10:06 nm

    Dit lyk nogal lekker en kleurvol en ek sou dit nogal uitprobeer as ek die kans kon kry. In Israel het ons ‘n paar jaar gelede shwarmas en felafel leer eet lank voor dit in Suid-Afrika te koop was en ons eet dit nou nog gereeld. Jammer daar’s nou nie eers ‘n ou pasteitjie vir jou êrens nie man!!

  15. September 19, 2008 10:07 nm

    Soos ek genoem het, is kimbap nie veel verskillend van california roll nie. California roll word ingesluit onder die sambreelterm “sushi” en word dan ook saam met wasabi en sojasous ge-eet. In Korea word kimbap egter nie as sushi beskou nie (want dit is per slot van sake nie rou vis nie) en word op sy eie as ‘n “enige tyd” versnapering ge-eet sonder die wasabi en soja. Een ding wat ek wel kan se van kimbap, sushi en sashimi (hwe in Koreaans) hier in die Ooste, is dat dit regtig lekker en BAIE vars is. Ek’s bevrees dat Woolies se weergawe my net nooit weer sal opgewonde maak nie en moontlik ook nie Cape Town Fishmarket nie.
    As die Koreane Tastic moet proe, hardloop hulle weg! Nee die rys hier is rou/grof – vars van die aar af, baie styselryk en glad nie verwerk (soos Tastic) nie.
    Ek weet vleispasteitjies is nou nie die gesondste versnapering op aarde nie, maar ek sal enigiemand op hierdie stadium ‘n 100 rolle kimbap ruil vir net een HAPPIE van ‘n vars vleispasteitjie!🙂

  16. VanDonk permalink
    September 20, 2008 6:46 vm

    Hi boer🙂 net more koop ek ‘n souserige, vars peppersteakpastei en sal dan aan jou dink wanneer ek die Rennies sluk🙂
    Dankie – was baie interessant!
    VanDonk

  17. September 20, 2008 7:58 nm

    lol!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: