Skip to content

Die strewe en sterwe van ‘n volk: ‘n Retrospektief op die Afrikaner

Oktober 2, 2008

Die Afrikaner (soms ook gespel Afrikander) was ‘n volk wat bestaan het vir ongeveer ‘n tydperk van 400 jaar tussen die 17de eeu en die 21ste eeu. Die land wat hulle bewoon het, het bekendgestaan as Suid-Afrika en was gelee aan die suidpunt van die kontinent van Afrika. Eenvoudig gestel, was die Afrikaner die afstammelinge van Europese setlaars wat in die 17de eeu ‘n verversingspos aan die Kaap de Goede Hoop gevestig het. Hoewel die Afrikaner hoofsaaklik van Nederlandse bloedlyn afgestam het, was hierdie volk ook die resultaat van die vermenging van oa Franse, Britse, Duitse, Belgiese en Ierse bloed. Hulle het gedurende die 18de eeu gaandeweg hulle identiteit gevestig deur gedeelde ervaringe, geskiedenis, geloof (streng Christelik-Calvinisties) en veral hulle eie, unieke taal. Laasgenoemde sou beskryf kon word as ‘n verbasterde vorm van Vlaams, wat geleidelik in die volksmond van die nuwe setlaars ontstaan het. Hier moet ook genoem word dat die Afrikaner ongelukkig van meet af ook met groot entoesiasme hulle kaukasiese ras as deel van hulle volksidentiteit aangeneem het. Juis die vasklou aan hierdie deel van hulle identiteit sou later deels tot hulle ondergang lei.

Teen die tweede helfte van die 19de eeu was die Afrikaner (toe ook bekend as sg. Boere omdat meeste van hulle in die landbou bedrywig was) as ‘n onafhanklike volksidentiteit goed gevestig in twee republieke genaamd Transvaal en die Oranje-Vrystaat – albei gelee in die noordeliker gebied van die destydse Suid-Afrika. Botsende belange (veral mbt tot die ontdekking van ryk goudreserwes in hierdie twee republieke) met die magtige Britse Ryk het egter teen die einde van die 19de eeu gelei tot ‘n drie-jarige vernietigende oorlog, bekend as die Anglo-Boereoorlog of Tweede Vryheidoorlog, later gedoop die Suid-Afrikaanse Oorlog. Hierdie anti-koloniale oorlog (die eerste van vele op die Afrika-kontinent) is op die ou-end, ondanks aanvanklike militere suksesse, deur die Afrikaner verloor weens die oorweldigende getalle-oorwig van Britse troepe. Die oorlog het hierdie jong volk arm, hooploos en vernietigd gelaat. Hoewel die Afrikaner sy onafhanklikheid in die twee sogenaamde Boere-republieke moes prysgee, het hulle wel ‘n hele paar jaar later ‘n mate van onafhanklikheid ontvang, toe die voormalige republieke, asook die Britse gebiede genaamd die Kaap en Natal verenig is as die Unie van Suid-Afrika .

Waar die Afrikaner hooploos en verslae gestaan het na die Suid-Afrikaanse Oorlog, het uniewording nuwe impetus aan die volk verleen. Ondanks die vernietiging van die oorlog, interne verdeeldheid, twee wereld-oorloe waaraan hul deelgeneem het en ‘n knellende ekonomiese depressie, het hierdie klein volk deur verskeie bemagtigingsprojekte daarin geslaag om armoede uit te wis en dramaties op ekonomiese en politiese terrein gevorder. Teen ongeveer die middel van die 20ste eeu het die Afrikaner die toppunt van sy mag bereik. Afrikaners het die staatsmasjinerie beheer, hulle het ‘n al hoe groter aandeel in die ekonomie begin kry (waar slegs Britse belange voorheen geheers het) en Afrikaans was op gelyke voet geinstutisionaliseer as een van die amptelike twee landstale. Op hierdie stadium is die finale naelstring met die Britse Ryk geknip, toe die Afrikaner gekies het om republiek te word. Die Republiek van Suid-Afrika (RSA ) is gevorm en so sou hierdie land vir amper meer as ‘n eeu bekendstaan.

Na Republiekwording het die Afrikaner die kruin van ekonomiese vooruitgang gery en die sterkste staat op die kontinent van Afrika gevestig. Hulle het die mees gevorderde infrastruktuur in Afrika geskep, die mees professionele weermag, polisiediens en staatsdiens, die beste mediese dienste, onderwysstelsel, suksesvolle industriee…en die lys gaan aan. Kortom het hulle ‘n baie vooruitstrewende en suksesvolle staat geskep. Die RSA, onder Afrikaner-leierskap, was ook die enigste Afrika-staat ooit wat kernwapens ontwikkel het. Die Afrikaner het daarin geslaag om die hele RSA (voormalige Britse gebiede inkluis) in ‘n uitgebreide Afrikanerstaat te omskep, met ‘n eie geskiedenis en kultuur. Teen die tweede helfte van die 20ste eeu het hulle ook die letsels van die Suid-Afrikaanse Oorlog geheel en was, vir alle praktiese doeleindes, versoen met RSA -burgers van Britse afkoms. Hulle het ‘n werkende demokrasie gevestig en die politieke mag deurentyd behou. Baie Engelssprekendes is in die proses gekoopteer en het saam die ekonomiese vrugte gepluk van ‘n snelgroeiende ekonomie.

Die sprokie kon egter nie onverpoos voortduur nie. Demografie het van meet af teen die Afrikaner getel. Al het die Afrikaner teen die tweede helfte van die 20ste eeu die appeks van mag bereik, was dit grootliks ten koste van die groot getalle inheemse Afrikane wat getalsgewys die Afrikaner verdwerg het. Om die situasie verder te versleg het die Afrikaner spesifiek ras as deel van volksidentiteit uitgebou en sodoende dit regverdig om grotendeels politieke, sosiale en ekonomiese regte aan die inheemse Afrikane van die RSA te ontse. In die proses het hulle ook moontlike bondgenote, nl. ander Afrikaanssprekendes wat blas van kleur was en oorspronklik van Suidoos-Asiese afkoms (bekend as Kleurlinge of Bruinmense ) vervreem.

Die Afrikaner het op die rug van ‘n golf van nasionalisme die beleid van sg. apartheid geimplementeer, wat daarop gemik was om in een land op alle gebiede die kaukasiers te skei van die wat nie kaukasiers was nie (sg nie-blankes). Hierdie was ‘n baie duur en grandiose eksperiment in sosiale ingenieurswese en word vandag in konvensionele kringe alom gesien as die begin van die einde van die Afrikaner. Die implementering van hierdie beleid (wat ten minste op papier regverdig voorgekom het – Afrikane het selfs hulle eie sg. tuislande gekry) het gelei tot geweldige menseregte-vergrepe en ander wandade. Die toepassing van hierdie beleid het die Afrikaner enersyds vervreem van Afrikaanssprekende Bruinmense en andersyds van die inheemse getalsterke swart groepe. Die ergste gevolg van hierdie beleid was egter dat die Afrikaner homself internasionaal geisoleer het. Waar internasionale mening ten tyde van die anti-koloniale Suid-Afrikaanse Oorlog oorlog ten gunste van die Afrikaner was, het die Afrikaner homself skielik aan die skerpkant van internasionale mening gevind. Die Afrikaner is internasionaal ge-etiketeer as ‘n rassistiese volk en hulle sou helaas nooit weer van hierdie stigma ontslae kon raak nie. Ipv om die inheemse swart volke ten minste ekonomiese vryhede of sosiale vryhede te bied as vergoeding vir politieke beperkinge, het die Afrikaner voortgegaan om die inheemse Afrikane op alle gebiede uit te sluit.

Die sosiale eksperiment van apartheid was van die begin af gedoem, want dit was ontmoontlik om die spreekwoordlike eiers te ontklits. Daar was reeds miljoene van die inheemse Afrikane wat die RSA se grondstof-gedrewe ekonomie aan die gang gehou het en dit was haas onmoontlik om werklik die swartes en die kaukasiers geografies-fisies te skei. Teen die laat 20ste eeu was die Afrikaner internasionaal geisoleerd en die RSA se ekonomie het gebuk gegaan onder kruppelende ekonomiese sanksies. Terselfdertyd het die sg gewapende stryd van die inheemse versetbewegings in felheid toegeneem en boonop was die RSA in ‘n duur oorlog gewikkel om die gebied bekend as Suidwes-Afrika (SWA, later Namibie) aan sy noordgrens (wat ook onder Afrikaner-beheer was) te beskerm teen vryheidvegters van die destydse Angola. Die Afrikaner het ook in eie geledere verdeeld geraak en al hoe meer protes begin ontlok oor die wyse waarop die land bestuur word. Politieke onrus was aan die orde van die dag en die skrif was duidelik teen die muur. Op die ou-end was daar niks anders om te doen vir die Afrikaner as om al die verbanne inheemse bevrydingsbewegings te ontban en samesprekings te loods met verteenwoordigers van die inheemse Afrikane nie. Hierdie politieke demokratiseringsproses is onder die vaandel gedoen van versoening, gemene belang en die gedeelde bestuur van die land, maar in die praktyk het dit daarop neergekom dat die Afrikaner die politieke mag sonder voorbehoude aan die inheemse Afrikane oorhandig het. Nooit weer sou die Afrikaner politieke mag he nie en hulle ekonomiese mag en sosiale kohesie sou uiteindelik verbrokkel.

Na die oorhandiging van politieke mag, het die RSA ‘n bloeitydperk beleef en weer volwaardig deel geword van die internasionale gemeenskap. Die eerste leiers van die nuwe swart regering het ook uit hulle pad gegaan om versoening te predik en sodoende vergelding teen Afrikaners te verhoed. Vir ‘n enkele paar jaar het dit inderdaad vir die Afrikaner gevoel asof daar ‘n blink toekoms wag as deelgenoot in die sogenaamde Nuwe Suid-Afrika. Hierdie droom so egter inderdaad vlietend wees. Namate ‘n nuwe generasie leiers uit die inheemse swart bewegings na vore gekom het, het versoening agterwee gebly. In pas met die Afrikaner se eie bemagtiging van ‘n eeu terug, het die Afrikane deur diskriminerende wetgewing en praktyke stelselmatig die mag begin totaliseer op politieke en ekonomiese gebied. Baie Afrikaners was ontnugter hierdeur. Terselfdertyd het die regerende groep Engels tkv Afrikaans begin bevorder, soveel so dat Afrikaans slegs in naam een van die 11 amptelike landstale (op daardie stadium) was. Infrastruktuur en die staat se dienste het in geheel agteruit begin gaan, deels omdat ervare en kundige Afrikaners uit die staatsdiens en talle ander terreine van die samelewing gestoot is. Wat veral Afrikaners op hierdie stadium begin ontgogel het, was die toename in geweldsmisdaad, waarin die gegoede Afrikaners vele kere die slagoffers was en met hulle lewens moes boet. Stadigaan het die Afrikaner vervreemd geraak in sy eie land en dit het op verskeie manier vergestalt.

Sommige Afrikaners het die nuwe bedeling met omgekeerde diskriminasie en verlaagde standaarde omarm en hoopvol gebly dat dit sal verander. Ander Afrikaners het vir hulle belange bly veg en gereken dat politieke deelname en die vorming van drukgroepe ‘n verskil sou maak aan die regering se beleid. Emigrasie na veral ander Engelssprekende lande het drasties toegeneem, aangesien baie Afrikaners kundig was, baie goeie opleiding gehad het en dus relatief maklik werk kon vind in ander lande. Die meeste Afrikaners het egter “na binne” emigreer. Hulle het in die RSA bly woon, hulle hoofsaaklik afgesny van die realiteit, polities en sosiaal onttrek en hulle identiteit in die materiele welvaart gesoek. Daar was ook ‘n klein groepie Afrikaners wat gepoog het om hulle eie sg. volkstaat in ‘n dorre gedeelte van die RSA op die been te bring, maar die poging het min steun gelok. Soveel so dat die regering van die dag hierdie klein selfregerende gebied vir baie jare geduld het, totdat dit op die ou-end sonder enige verset gedwonge deel geraak het van ‘n groter metropool en alle vorm van selfbestuur ontneem is.

Soos algemene lewensomstandighede in die RSA verswak het en hulle vervreemd geraak het in hulle geboorteland, het al hoe meer Afrikaners ge-emigreer – op die ou-end basies almal wat kon. Hier behoort genoem te word dat talle opgeleide Afrikane, Bruinmense, Asiate en blanke Engelssprekende Suid-Afrikaners ook gedurende hierdie tyd ge-emigreer het. Die Afrikaners wat in die RSA agtergebly het, het sosio-ekonomies agteruitgegaan, soos die RSA se staatsintellings en ekonomie deur swak bestuur al hoe sneller verbrokkel het. Dit word bereken dat teen die middel van die 21ste eeu die oorgrote meerderheid Afrikaners in sg. ballingskap gebore is. Sommiges het hulle lot gaan soek in naburige Afrikalande soos die voormalige Mosambiek en voormalige Namibie. Daar was selfs die sg “tweede vlaag” emigrante na Suid-Amerika (die “eerste vlaag” was na afloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog). Baie Afrikaners (soveel as 250 000) is natuurlik ook oor ‘n tydperk van jare dood agv anargistiese geweldsmisdaad. Teen die tweede helfte van die 21ste eeu was daar nie veel van die Afrikaner (wat numeries nog altyd min was) in die RSA oor nie en die land is geknel deur ekonomiese depressie, gewelddadige konflik tussen inheemse swart groepe en intense misdadige geweld oor die algemeen. Gedurende hierdie tydvak het ‘n gewelddadige en uitgerekte rebellie deur Afrikaners,sommige ge-allieerde Bruinmense en en ‘n handjievol Engelssprekende Suid-Afrikaners byna ‘n duisend lewens gekos. Die rebellie het gevolg op nuwe wetgewing wat oa plase onteien het en Afrikaanse koerante verbied het. Hierdie gebeure het saamgeval met die samesmelting van die RSA en ander Suider-Afrikaanse state tot een mega-staat, genaamd die Suidelike Afrikaanse Azaniese Konfederasie (SAAK ).

Vandag is daar bitter min persone van Afrikaner-oorsprong in die SAAK oor. Huidige syfers skat getalle op ongeveer 1 500. Meeste van hulle praat nie meer Afrikaans nie en is ook nie meer kaukasiers nie. Ekonomies lei hulle ‘n swaar bestaan in plakkersgebiede sonder enige basiese dienste. Enkele Afrikaners is gekoopteer deur die regerende elite en dien op die direksie van talle staatsbeheerde konglomerate in die SAAK . Hierdie syfer word egter nie op meer as 100 geskat nie.

Die oorgrote meerderheid mense van Afrikaner- oorsprong (ongeveer 4 miljoen in totaal) woon tans in Noord-Amerika, die Verenigde Koninkryk, Europa, Australie en Nieu-Seeland, met kleiner getalle in die Midde-Ooste, Verre-Ooste en Suid-Amerika. Hulle nageslag het alreeds geassimileer met hulle aangenome land se kultuur, so om tans dus van Afrikaners te praat, is as’t ware ‘n kontradiksie in terme. Daar is wel klein gemeenskappe van hierdie nageslag wat die taal nog magtig is en aan sekere tradisionele gebruike vasklou. Hulle is egter in die minderheid.

Dit word vandag deur meeste historici erken dat kaukasiers geen reg gehad het op enige vorm van mag in Afrika nie, net soos die geval met kaukasiers in Asie. Die Afrikaner se magstrewes in Afrika was, volgens hulle, dus van die begin af immoreel en bestem om te faal. Die konvensionele historiese standpunt is steeds dat die Afrikaner se einde reeds in die middel van die 20ste eeu ingelui is met die implementering van apartheid . Hierdie sienswyses word egter al hoe meer deur revisioniste bevraagteken en weerle. Die huidige revisionisme wat plaasvind vra ook met die reg die vraag hoekom die Afrikaner skynbaar so maklik van die mag afgesien het, synde dat hulle moes besef het, dat hulle nooit weer enige vorm van mag of invloed as volk sou he nie. Baie historici is dit nou eens dat die Afrikaner ten tyde van onderhandelinge in die laat 20ste eeu vir homself ‘n beter bedeling kon onderhandel het, waarin hy werklik deelgenoot in die RSA kon wees en bly. Hulle meen dat die Afrikaner tydens hierdie onderhandelinge amper onverklaarbaar gekapituleer het. Meer en meer historici sien nou die aard van die skikking tydens daardie periode as kortsigtig en die werklike begin van die einde vir die Afrikaner . Hoe dit ookal sy, die volk wat die Afrikaner was, is nie meer nie en mettertyd sal hierdie klein volk se bestaan heel moontlik beperk wees tot ‘n voetnoot oor apartheid in sommige geskiedenisboeke.

As ek dink oor die redes vir die uitsterwe van die Afrikaner, kom ‘n goeie vriend van my (‘n ervare joernalis in Kanada) se mening altyd by my op. Hy is lief daarvoor om volke met individue te vergelyk en glo dat ‘n suksesvolle volk die eienskappe van ‘n suksesvolle individu deel. Sy mening is dat die Afrikaner uitgesterf het omdat die Afrikaner in wese nie in homself geglo het nie en vir die lengte van sy eie bestaan homself bevraagteken het. Hy se dat, solank enige volk homself bly vra wie die volk nou eintlik is, is daardie betrokke volk bestem is om uit te sterf. ‘n Volk, se hy, wat nie weet wie of wat hy is nie, is ‘n volk sonder enige toekoms en rigting. Juis omdat daar soveel Afrikaners was wat nie hulself as Afrikaners wou beskou nie (hoofsaaklik agv die skuldgevoel oor apartheid), kon die volk nooit werklik herstel na die laat 20ste eeu se verlies aan politieke mag nie. Hier moet ook genoem word dat die latere leiers van die inheemse swart bewegings baie effektief daarin geslaag het om die Afrikaner se volkstrots en self-esteem baie subtiel, maar effektief oor ‘n tydperk van dekades te ondermyn. Die gevolg was dat baie Afrikaners in ‘n tipe volksdepressie verval het, hulself verguis het en geglo het dat hulle nooit meer as onbekeerde rassiste kan wees nie en ook geen bydra meer oor gehad het om te lewer in hulle land van geboorte nie.

Hoe dit ookal sy, hierdie was vir myself ‘n interessante ondersoek, aangesien die bestaan en uitsterwe van die Afrikaner my nog altyd na aan die hart gele het. Hierdie skrywe is slegs ‘n bondige oorsig en bevat geen detail of finale antwoorde nie, maar is gemik daarop om mens in te lig wat nog nooit van die Afrikaner gehoor het nie, asook op die enkeles wat nog bietjie Afrikaans magtig is en wonder oor hulle voorouers se geskiedenis.

(c) Gerhard-Ahn-Kim

(Dosent in Afrika-Geskiedenis, Universiteit van Pyongyang)

Die Verenigde Republiek van Korea (VRK)

34 Kommentaar leave one →
  1. Oktober 3, 2008 12:14 vm

    Treffend en hartverskeurend. Mens wil glo dat die voorspelling foutief is, maar ek dink dis ongelukkig in die kol.

  2. Oktober 3, 2008 12:24 vm

    Ek sit nou en dink en herkou. Sjoe. Die onvermydelike Scramle for the Afrikaner.
    Wel geskryf.

  3. Oktober 3, 2008 1:10 vm

    Wel gedaan Boerie! Dit laat mens nogal dink en ek hoop regtig dat dit nie die uitkoms van sake gaan wees nie. Maar dit is glad nie so verregaande voorspelling vir die toekoms van die Afrikaner nie.

  4. Oktober 3, 2008 1:21 vm

    Hartseer maar waar. Goed opgesom Boer. Net jammer dis nie ook in Engels geskryf nie, siende dat dit gemik is op o.a. mense wat nog nooit van die Afrikaner gehoor het nie.

  5. Oktober 3, 2008 4:29 vm

    Hierdie is werklik soos ‘n kykie die toekoms in en dis “scary”. Hopelik sal hierdie Afrikaner nie leef om daardie dag te beleef nie.

  6. Oktober 3, 2008 6:43 vm

    Sug! Baie hartseer, en as kind het ek so seker geweet wie en wat ek is (natuurlik half in onkunde). Wonder hoe ervaar vandag se skoolkinders dit.
    Baie goed geskryf! Raak aan die emosies! Laat ‘n mens ook wonder of ‘n mens hier moet bly en wag vir die lewe in plakkerskampe!

  7. Oktober 3, 2008 8:01 vm

    Uitmuntende stukkie skryfwerk. Jy slaan die spyker op sy kop. Ek hou van jou beeldspraak met die “eiers te ontklits”.

  8. Oktober 3, 2008 8:12 vm

    Sjoe Boer, ek is nou nie van die “proudly” Saffa – groep nie, en ek weet dit gaan maar bitter, maar dit het al baie erger gegaan as nou en ons was voorheen ook al sonder mag. As ons net verby die volksdepressie kan kom, kan jou dosent in Afrika-Geskiedenis nog die pot mis sit. Die geskiedenis het ‘n manier om voorspellings verkeerd te bewys.

  9. Oktober 3, 2008 9:18 vm

    Dis ‘n bleek vooruitsig, maar ek dink eerlikwaar nie dis hoe dit gaan verloop nie. Soos my man altyd se as ons sukkel met die krieket: “Never underestimate a Boer.”

  10. Mary Jane permalink
    Oktober 3, 2008 3:30 nm

    Sjoe…. ek sit net gou vir ‘n uur om te herkou wat ek sopas gelees het……. Ok, kom ek begin by die skryfwerk – baie goed gedoen!!! Sjoe, regtig, baie geluk! Ek stem baie saam met die feit dat die Afrikaner homself gedurig bevraagteken. Man, jy praat hier diep dinge! Sommer ook dinge wat alles hier binne omkrap. Ek wil graag glo dat dit alles baie onwaar is. Ek wil dit baie graag glo…………… en tot ek emigreer en rustig in my dubbel verdieping huis in een of ander Amerikaanse of Europese voorstad sit en alles in Afrika KAN ignoreer en my grootste bekommernis is hoe ek my facial en my manicure gelyktydig kan inpas, SAL ek ook glo dat dit onwaar is…………………..

  11. Oktober 3, 2008 10:16 nm

    Jy reken ?
    🙂

  12. Oktober 3, 2008 11:40 nm

    Die geskiedenis van volke is soos tuinmaak met blomme wat verskyn en verdwyn met die verandering van die seisoene. Die Afrikaner volk was amper soos ‘n blommetjie in the toendra. Pragtig maar kortstondig as mens na die groot prentjie kyk. Maar waar die toendra blommetjies jaarliks terug kom sal die Afrikaner ongelukkig nie gou weer sy verskyning maak nie. Dit mag dalk dekades of eeue neem, indien ooit.

    Dis heel moontlik ‘n baie akkurate voorspelling en ‘n sad storie maar net omdat dit ons na aan die hart lê omdat ons self Afrikaners is. The sadness of looking back. Miskien was ons ou volkie maar net soos die Minoans, die Gauls, die Sakse, die Vikings, etc. Almal het hul tydjie in die son gehad en met sonsondergang in die stof van geskiedenis in verdwyn. Die siklus van volke is dus baie dieselfde as die siklus van die lewe en die siklus van seisoene. Die kom en dit gaan.

    Maar tot en wanneer Aspoeterjie se koets kom teen middernag om ons weg te neem na ‘n beter tydperk, is daar nog genoeg tyd om dronk te word, onthou-jy-nog herinnering speletjies te speel, en te glo dat Afrikaners plesierige mense was.

  13. Oktober 4, 2008 4:48 nm

    Briljante inskrywing! Ek sê soos Sonkind hopelik is ek ook nie meer hier om daardie dag te beleef nie!

  14. Bertus! permalink
    Oktober 4, 2008 9:27 nm

    Boer, is jou van regtig Ahn Kim?

  15. Oktober 5, 2008 4:22 vm

    Boer, dis ‘n baie goeie inskrywing, ek stem saam dat daar Afrikaners is wat nie weet “waar hulle hoort nie”..of hulle is “skaam” as gevolg van die “regering van die dag” se “skandes”…en wil nie met Afrikaans geassosieer word nie, ek voel jammer vir hulle, want dis juis hulle wat “dryf” en nie weet waar hulle inpas nie. Ek het juis 2 weke terug weer so onderwyseressie raakgeloop by ‘n laerskool hier..sulke mense is gou om te se…”ek kom van Jo’burg af”…o, praat jy Afrikaans/Engels…”nee, ek kan min Afrikaans praat”..maar dan is daardie aksent so duidelik AFrikaans soos more heeldag! Siestog. By die hoerskool waar ek nou is, twee manne, trots daarop om Afrikaans te wees en praat dit ook reguit tussen die spul Engelse..en duidelik ouens wat jy kan sien hulle het “karakter”.. ander mense wat so “verskonend” praat kan jy sien is onseker van hulself…ai-ai

    oor die inligting hier…ek stem nie saam dat ons die oorlog verloor het jeens die getalle van die Britte nie, dit was eerder juis as gevolg van hulle “verskroeide aarde”-beleid…om af te brand en te vernietig…wat die Afrikaner laat “ingee” het omdat hulle nie daarvoor kans gesien het nie en ook met die dat die vroue/kinders in konsentrasiekampe gesit is, in dieselfde asem. Dit is waar dat hulle hulp van Kanada/Nieu Zeeland/Australia hulle dalk meer gemaak het, maar die eintlike rede was daardie “wreedaardige” beleid wat juis die Afrikaner-leiers onder gekry het as gevolg van die leiding van die volk. Ons boere was geharde vegters en dit het die Engelse 2 jaar+ geneem om ‘n boere-mag (die grootte van Brighton se inwoners (Engelse kus dorp) – te “wen”.
    Hierdie oorlog was eintlik ‘n “stalemate” soos sommige bronne dit beskryf, waarmee ek saamstem, omdat hulle ons nie “kon” wen nie, het hulle ons op ‘n ander manier “gedwing” om oor te gee…ek het ‘n link op my blog wat ek gedurig opdateer soos ek op ander webwerwe afkom, skree as jy hom wil he, hy’s getitel..”Boer War Art Poetry and History” en ek dateer hom op met inligting wat ek kry en links oor dit wat die titel se–al wat kort is die resepte!🙂 ek het selfs ‘n “mode”-foto en ‘n “boere”-foto want baie soek op my blog ‘n foto van hoe “boere” lyk!🙂

  16. Oktober 5, 2008 5:14 vm

    jammer vir die spelfout…nie “leiding” nie, maar “lyding”…..by “lyding van die volk”😉

  17. Laurence permalink
    Oktober 5, 2008 5:40 vm

    As jy probeer vasklou aan iets en die res van die wêreld stap aan, dan stem ek saam sal jy soos die dinousaurus uitsterf, maar as jy aanpas dan is daar ruimte vir jou.

    Ek dink die gemiddelde Suid Afrikaan (en dit sluit alle rasse in) is heel aanpasbaar, en solank daar nie menseregteskendings plaasvind nie, is daar heelwat plek in die son vir almal.

  18. Oktober 6, 2008 6:48 nm

    Ek sal graag ‘n ander senario wil skets. Net kortliks. Die ANC skeur en een van die faksies wat meestal uit Zoeloes bestaan vorm ‘n alliansie met die IVP. Burgeroorlog volg. Dit is die fonk in die kruitvat want die UDM gesteun deur Botswana probeer ZANU-PF omverwerp. Zanu-PF kry militere hulp van Kuba en Noord-Korea. Die EU gryp in met die hulpvan die VSA maar kry teenkanting van Indie en die Arabiese state. In die res van Afrika is daar skielik konflik tussen die Weste en Ooste. Die uiteinde is onderhandelde skikking waar die meeste state in die Noord-ooste en oostlike kus onder Arabie/oosterse bewind geplaas word terwyl die Noorde, noordweste en sentrale state meestal deur Europese (en varal Britse) bewind bestuur word.

    Omdat Suid-Afrika nog ‘n sterk Afrikaner-volk het word daar besluit dat hulle die Suider-afrikaanse state (SADEC) sal bestuur.

    Mens kan maar net hoop!

  19. Oktober 6, 2008 11:21 nm

    Dankie vir elkeen wat hierdie uiters lang inskrywing lees (weet dit kan so bietjie vermoeiend wees) en vir diegene wat die moeite doen om kommentaar te lewer.
    Met hierdie inskrywing het ek sommer lukraak met ‘n paar gedagtes en idees gedobbel en dit in ‘n narratief probeer vervat. Dit is bloot ‘n futuristiese “wat as…” oefening en is onder ‘n fiktiewe naam geskryf om in te pas by die narratief. Ek het sommer gewonder hoe historici ‘n honderd jaar van nou sal terugkyk op die Afrikaner se geskiedenis (amper soos ek vandag terugkyk op antieke Korea se geskiedenis). Hoewel die vertelling baie van my eie vrese en opinies verteenwoordig, is dit nie in geheel my persoonlike scenario nie. Dat elemente van hierdie scenario egter wel kan waar word, betwyfel ek nie. Dat so ‘n scenario homself sal afspeel, presies soos uitgespel, is egter onwaarskynlik.
    Ek is egter bly dat die skrywe mense laat dink en wonder, soos ek maar self so dikwels wonder oor my eie en baie ander se langtermyn toekoms. Feit bly staan dat die besluite wat ons vandag maak die toekoms vorm en dat mens ongelukkig nie die luukse het om ‘n tydreis te onderneem om die verlede te herbesluit nie.

  20. Oktober 8, 2008 10:58 nm

    Boer, ek dink dit is tekenend van die Afrikaner se worsteling sedert … hel … sedert die begin. Dit is nog steeds ‘n soekende groepie mense. Miskien lê deel van die antwoord nie in ‘n eksklusiewe “volk” nie, maar eerder soos Giliomee in sy seminale werk Die Afrikaners: ‘n Biografie aanvoer, in ‘n identiteit los van historiese simbole en leiers. Soos Freud al aangedui het, simboliese identiteite misluk en laat ons met slegs die traumatiese leemte wat die Afrikaner vandag ervaar, uitgedruk is vrae soos “waar is ons leiers” of in die verslawende refrynne van “De la Rey, sal jy die Boere kom lei? Die pogings om “Afrikaner wees” te laat herleef verteenwoordig óf ‘n oorblyfsel van essensialistiese denke rakende Afrikaner-heid óf ‘n poging om ‘n politieke platform te bewerkstellig vanwaar in die Suid-Afrikaanse konteks gehandel kan word. As ‘n volk wat steeds op eksklusiwiteit aandring en weier om by die tye aan te pas en voortdurend oor sy behoed allerhande vrae stel, is die Afrikaner verseker gedoem tot uitsterwe. Ek praat en skryf nog met trots Afrikaans, maar die taal is reeds goed vermeng met kulturele beelde nie eie aan die Afrikaner nie. Volkstrots is problematies, want uiteindelik handel dit oor simbole. Kom ons wees Afrikane wat Afrikaans praat onder die skroeiende son van Afrika, waar ons gelaat met tyd tog meer grys kan vertoon.

  21. Oktober 9, 2008 12:41 vm

    Emil waar wat jy se, maar die enigste kritiek wat ek op Giliomee se boek het, is dat hy die rol/plek van die Afrikaanse vrou (of in gevalle haar miskenning) omtrent totaal uitgelaat het.

  22. Oktober 9, 2008 12:52 vm

    Emil, dankie vir jou deelname. Ek glo ek verskil in ‘n mate van jou siening. Ek het Giliomee se boek so 2 jaar terug gelees, so dis nie meer so vars in die gedagtes nie. Ek kan nie myself herinner dat hy gepraat het van ‘n identiteit los van simbole en leiers nie, maar 10-teen-1 is dit die geval.

    Ek kan op hierdie stadium slegs ‘n vergelyking tref tussen die Afrikaner en die Koreane, omdat my ervaringe van ander volke beperk is. Die Koreane se identiteit staan beslis nie los van simbole en historiese leiers nie. Miskien kan dit los staan daarvan, maar dit doen nie. Ek twyfel ook orf enige ander volk (Japan, VSA, Ierland, Frankryk ens. ens.) hulle identiteit los sien van simbole en historiese leiers (anders het die Franse darem sekerlik lankal doelbewus die Napoleon-mites nek-om gedraai!). Waarom moet die Afrikaner-identiteit dus losgemaak word van die simbole en leiers?
    Jy verwys na eksklusiwiteit, maar spel nie die definisie daarvan uit nie. Wat maak die Afrikaner minder of meer eksklusief as die Koreaan? As jy verwys na die uitsluiting van mense op grond van bv. ras, ideologie of geloof, dan is ek met jou eens. Maar dit is nie my eie siening van wie of wat die Afrikaner is nie. Volkstrots (glo ek) is slegs problematies agv die skuldgevoel oor apartheid (soos genoem in my inskrywing). Het Duisters nog volkstrots (ek’s nie heeltemal seker nie, maar dit wil so voorkom)…het Japanese nog volkstrots (verseker!)? Ek glo nie mens hoef noodwendig die negatiewe aan die begrip “volkstrots” toe te dig nie. Die Koreane het geweldige volkstrots en as dit nie deels daarvoor was nie, sou Korea nie gewees het wat hulle vandag is nie. Is jy as individu trots op jouself en wat jy in die lewe vermag het? Indien wel, wat maak ‘n volk anders? Met volkstrots verwys ek geensins na fascisme of ‘n erge jingoisme nie, maar na ‘n gesonde selfbeeld wat elke persoon of volk behoort te he. En steeds hoef so ‘n volkstrots nie eksklusief te wees nie. As ek eet wat die Koreane eet, glo wat hulle glo, respek het vir hulle kultuur (en meedoen daaraan), hulle geskiedenis en prestasies deel van my maak en saam met hulle staan in alle opsigte, glo ek dat ek op die ou-end as Koreaan sal aanvaar word, ondanks die ooglopende etniese verskille. Net so het soveel immigrante in die VSA Amerikaners geword, ondanks hulle aanvanklike etniese agtergrond.
    Afrikane wat Afrikaans praat onder die Afrika-son? Verseker – nes geassimileerde Amerikaners wat Koreaans praat onder die Asiese son (en daar is heelparty van hulle). Feit van die saak is dat sodanige ideaal die einde van die Afrikaner as volk voorafgaan. Maar miskien is dit goed so, miskien is die term “volk” nie werklik meer ‘n relevante begrip nie en sal ons almal beter af wees indien volke op die ou-end bloot verdwyn binne ‘n identiteitlose massa van mense. Persoonlike egter, vind ek verskillende volke en hulle unieke kulture fassinerend en opwindend. Dit sal inderdaad ‘n droewe dag wees as daar geen verskille meer tussen volke is nie. Boonop sal dit uiters vervelig raak om te reis, want oral sal jy dieselfde kultuur, gebruike en gewoontes aantref, al is die taal miskien nog verskillend.
    Die skuheid vir die term Afrikaner, die verwerping van volkstrots en die subtiele wegbeweeg van enige volksbegrip sien ek as die nalatenskap van apartheid, want selde in die wereld het ‘n beleid in so ‘n mate ‘n volk van “hero” na zero” laat beweeg in so ‘n kort tydjie. Dis tog hartseer dat baie, baie jare (van nou-af) na die einde van apartheid, wanneer almal reeds die Afrikaner vergewe het, die Afrikaner hom/haarself steeds op masochistiese wyse sal straf en dat die Afrikaners (wil dit voorkom) hulself nooit sal kan vergewe nie.

  23. Oktober 9, 2008 3:10 vm

    Boer, eerstens dink ek die Afrikaner wil nie juis sy rol in die geskiedenis aanvaar nie. Hulself nooit sal kan vergewe nie? Dis my beskeie opinie dat die Afrikaner juis nie in sy oë skuldig staan nie. Die debatte wat ek volg en aanhoor, inteendeel, is tussen mense wat hulself (as volk?) van apartheid distansieer, asof dit skielik nou net vae, historiese figure se uitsluitlike skuld is. Skuldgevoel? Ek wens! Duitsland het na die Nazi-bewind kollektiewe skuld aanvaar – ek dink dis miskien hoekom volkstrots daar dalk ‘n meer vrome betekenis het as hier? Sou ons die beginsel van kollektiewe skuld omhels, dink ek sal ons kon vorentoe beweeg en nie deurgans as die kenmerklike antagonis en dwarstrekkers bestempel word nie. ‘n Lang pad wat voorlê, en die hartseer is dat die pad inderdaad kan eindig in ‘n voetnota vir die Afrikaner.

    Ek weet nog nie wat volkstrots beteken nie. As dit gaan oor kultuur, kan ek eens met jou wees. Maar ook nie sonder verdere kwalifikasie nie. Is kultuur taal, volkspele, braai ens.? Wat is Afrikaner-kultuur, sê, teenoor Zulu kultuur? En praat ons dan van 13 verskillende volke en dus kulture in Suid-Afrika? Verseker. Is ‘n Suid-Afrikaanse kultuur dan moontlik?

    Ek dink wat ek met eksklusief bedoel is juis in die apartheidsverwysing – dat die “volk” uniek en spesiaal is, dat ons steeds onsself nog geregtig ag op die land as ons God-gegewe reg. Hoeveel erkenning en bestaansreg gee ons Afrikaners vir die ander inboorlinge van die land? Deur bloot oor die Afrikaner se toekoms te wonder, is vir my amper al aanduiding van andersheid. Is dit nie beter om aan almal hier as Suid-Afrikaners te dink nie, in vergeleke met, soos jy tereg uitwys, Amerikaners nie? Ek dink die beter vraag is eerder: wat moet die Afrikaner doen om Suid-Afrikaner te word?

    In iedergeval, jou scenario speel homself verseker so uit sou ons bly aandring op ons unieke bestaansreg (want wat is dit anders as apartheid?).

    O, ek is ‘n Jung – simbole en hulle interpretasie speel ‘n reuse rol by my. Miskien moes ek eerder dit soos volg gestel het: los van die simbole van die verlede (alhoewel ek gedink my “historiese” sinspeel wel daarop), en dalk die skepping van nuwe simbole met nuwe betekenisse. Straatname sou so ‘n simbool kon wees. Ekskuus oor daardie wilde verwysing na Giliomee – dis heeltemal verkeerd – dit is natuurlik William Beinart. Onverskoonbaar, maar nou ja, ‘n fout. Giliomee, natuurlik, voer aan die Afrikaner moenie van eiebelang en groepsbelang afstand doen nie. Hy sê wel:

    [Die Afrikaner] se uitdaging is om hul geskiedenis reguit in die oë te kyk, om hul liefde vir hul taal en hul land te koester en te vernuwe, en om hul kulturele erfenis aan ‘n volgende geslag oor te dra. As hulle hierdie uitdaging aanvaar, sal hulle deel word van ‘n nuwe, demokratiese Suid-Afrika op hul eie, besondere manier.

    As mens kyk na dinge soos die Waterkloof 4, gril ek vir wat die “kulturele erfenis” impliseer. Geen skuheid, eerder ‘n versigtigheid.

    Dit is dan ook ‘n onomwonde feit dat die Afrikaner vir nou ‘n rieële prys vir sy bestaansreg gaan betaal.

  24. Oktober 9, 2008 4:01 vm

    Ek dink nie die groot probleem is die gebrek aan ‘n skuldgevoel nie. Dit sou impliseer dat so kollektiewe skuldgevoel ‘n verskil sou maak en dit sal nie. Die probleem is die Afrikaner is nie ‘n volk in sy eie land nie. In daardie opsig is hulle meer soos die Baske in Spanje of soos die Frankofone in Kanada. Hierdie twee groepe is baie meer eensgesind as wat die Afrikaner is. (OK goed ek is nie heeltemal seker van die Baske nie, maar hulle maak ten minste hulle stemme dik.) Die verskil is dat weens Apartheid het die Afrikaner nou soort van sy reg tot bestaan verloor. Hy kannie vir homself opstaan en op sy voortbestaan aandring nie.

    Wat die eksklusiwiteit betref. As jy ‘n groot land met ‘n grootendeels homogene volk is kan jy klomp immigrante van ander lande toelaat, want hulle word mettertyd geassimileer in jou kultuur. Die Afrikaner is te min. Eerder as wat ander in hom geassimileer gaan word gaan die Afrikaner in ander kulture geassimileer word. Dit is dus ter wille van voortbestaan as kultuur groep wat hy eksklusief moet wees.

    Nogtans kan hy weens sy troebel geskiedenis nie daarop aanspraak maak nie. So nou kry jy twee tipes Afrikaners. Die wat moed opgee en vir beter weivelde soek en die wat vasbyt en probeer klou aan ‘n kultuurerfenis.

    In ieder geval het ek nie veel hoop vir die toekoms van die Afrikaner nie.

  25. Oktober 9, 2008 4:57 vm

    Of ‘n derde groep wat dalk nie omgee vir assimilasie nie? En steeds kultuurgebonde kan wees, of is dit nie moontlik nie?

    Boer, hierdie is regtig ‘n goeie post van jou – geensins bedoel om dit te kaap en in ‘n ander rigting te stuur nie. My boek “I am African, I am White” is so te sê klaar (moet ‘n paar dinge vir die uitgewer edit), maar ek wil graag hierdie stukkie en gesprek bywerk, met eervolle verwysing, natuurlik😉

  26. Oktober 9, 2008 5:25 vm

    Ek dink nie so nie Emil want as mens omgee vir die kultuur wil jy tog nie he dat dit geassimileer word nie. Assimilasie impliseer tog juis dat die kultuur tot niet gaan.

  27. Oktober 11, 2008 12:07 vm

    Emil, jy’s nie ‘n kaper nie, jy maak die gesprek net soveel interessanter!😉
    Ek dink baie van my antwoorde op jou komentaar is reeds vervat in my oorspronklike inskrywing. Het nie geweet jy bring ‘n boek uit nie. Laat maar die komplimentere kopiee kom!
    FF, dankie ook vir jou bydrae en ek is geneig om saam met jou te stem itv jou siening oor die effek van skuldgevoelens en assimilasie.

    Maak nie saak wat die standpunte is nie en hoe mense redeneer nie – dis vir my ‘n riem onder die hart dat Afrikaners (al wil sommige van hulle nie so genoem word nie) steeds redeneer en steeds dink oor kwessies. Die dag as Afrikaners nie meer omgee nie – daardie dag sal Afrikaners slegs ‘n voetnota word.

    Laastens, Emil, ek vermoed dat jy jouself as Afrikaan sien, dan as Suid-Afrikaner en laastens miskien as Afrikaner? En dis waar mense seker maar verskil. Kan ‘n Euro-Afrikaan werklik ‘n volwaardige Afrikaan word? Ek se ja (met baie spesifieke voorvereistes)…maar dis moontlik ‘n debat vir ‘n ander blogdag…Feit bly staan dat die Afrikaner eers waarlik Afrikaan sal moet word om weer ‘n Suid-Afrikaner te wees.

  28. Oktober 15, 2008 9:09 vm

    ‘Moet bieg, ek beplan nie om uit te sterf nie. Not on my watch.

  29. Oktober 15, 2008 11:46 nm

    BiB ek wil vir jou ook dankie se^ vir ‘n baie stimulerende inskrywing. Dit ruk mens so bietjie aan jou korthare rond en laat jou dink.🙂

  30. Sammi permalink
    November 5, 2008 7:31 nm

    Boer
    En hier land ek by jou deur ‘n mede-Afrikaner dmv www.
    Uitstekende inskrywing – maar dit weet jy reeds😉
    Siklus was vir ons gewees:
    Onderdrukking, opstaan en veg, wen, mag, te veel mag, VAL.
    Siklus nou vir die huidige regeerders
    Onderdrukking, opstaan en veg, wen, mag, magsuitbuiting, VAL?

    Siklusse vir almal, verloop van die lewe – ek begin aldag meer verstaan waar ons inpas, en dis nie noodwendig landsgrense nie MAAR grense van ontmoediging. Ek glo vir diegene wat besluit het om aan te bly in RSA dat ons werk het om hier te doen. Hulpverlening aan minderes – bekragting dmv kennis. Miskien is dit juis die Afrikaner se rol hier in die toekoms?
    ‘n Hartstaal sal moeilik uitsterf, ‘n kultuur kan aanpas.

  31. November 6, 2008 11:37 nm

    Welkom, Sammi. Kom wys gerus maar enige tyd avatar hier.🙂

    Ek dink die Afrikaner het geweldig ge-individualiseer en beskou hom/haarself nie meer as ‘n tropdier nie. Baie keer dink ek dat die Afrikaner slegs in individuele hoedanigheid ‘n rol sal speel, maar nooit weer as ‘n homogene groep nie.

  32. Sammi permalink
    November 8, 2008 8:19 nm

    Net Avatar, Boer? 😉 Maar dankie!
    Hierdie #31 kommentaar van jou het nounet mooi die legkaart vir my voltooi. Ek sê dankie vir jou insig en nou gaan ek my reeks begin.

  33. Bravolander permalink
    November 19, 2008 5:44 nm

    Wat maak die vryheidstryd van die Afrikaner vandag anders as al die ander? Nog nooit het die Afrikaner die mag van getalle gehad nie. Nog nooit het die wereld ons gestuen nie. Telkens was dit ‘n handjievol wat die moed gehad het om te doen wat reg is vir die oorlewing van die Afrikaner.

    Reeds 15 republieke is gestig deur die Afrikaner, wat telkens soos ‘n dief in die nag van ons gesteel is. Dit het egter nog nooit die moed van die Afrikanernasionalis gebreek nie. Dit sal ook nie nou nie.

    Die Afrikaner SAL weer oor homself regeer.

Trackbacks

  1. “Ons bly in tronke” « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: