Skip to content

my gebed

November 12, 2008
tags:

S7301076

Flippiefanus het my gevra om redes te verskaf hoekom ek glo. Aanvanklik het ek die versoek as oorbodig beskou, maar later besef dat dit ‘n natuurlike opvolg is vir my oorspronklike inskrywing oor wat ek glo . En dis weer eens ‘n bewys hoe die blogosfeer mens dwing om te besin oor mens se eie denke en wereldbeskouing. Dus, in retrospeksie, dankie aan Flippiefanus , wat my gedwing het om weer te gaan dink.

Ek glo in U omdat U eerste in my geglo het. Lank voordat ek selfs ‘n gedagte was in die wye uitspansel van die skepping, het U namens my slaaf geword en reeds geglo dat ek U sou volg.

Ek glo in U omdat U my geliefdes in U almaghande vou en ek telkens reeds in hulle lewens U krag tot openbaring kon sien en ervaar.

Ek glo in U, want U bring hoop in dorre valleie waar daar slegs verlatenheid is. U laat liefde gedy waar daar voorheen slegs ‘n woesteny van haat was. U verander lewens.

Ek glo in U omdat ek U asemrowende kreatiwiteit en menslik-ondenkbare perfeksie en beplanning in die natuur kan sien.

Ek glo in U omdat U my vertroueling en vriend is. U is die enigste een met wie ek onbeskroomd my diepste vrese, wense, geheime en hartseer kan deel. Ek ken U slegs ten dele, maar U ken my ten volle.

Ek glo in U omdat U die enigste een is wat my werklik aanvaar vir die onperfekte en faalbare mens wat ek in werklikheid is. Ek hoef nie voor te gee nie, want wat ek is, is vir U genoeg.

Ek glo in U omdat U altyd geduldig en inderdaad lankmoedig met my is. Al wandel ek so dikwels in eie waan en verteer die twyfel my, bly U onwrikbaar getrou.

Ek glo in U, want U is my keerwal teen die verweer van elke dag. By U vind ek asiel en die vrede wat verstand te bowe gaan.

Ek glo in U, want in my gebrokenheid, heel U my keer op keer. U maak my sterk wanneer ek op my swakste is.

Ek glo in U, want U was, is en sal altyd wees. Ek kan my eenvoudig nie ‘n lewe sonder U voorstel nie.

U is ‘n misterie, onbegrensd deur menslike denke, verhewe bo begrip en verstand. Meeste van die tyd verstaan ek nie, maar helaas het ek besef dat ek nie hoef te verstaan om bloot te glo nie. Dankie dat U my hierdie bevryding skenk.

Advertisements
23 Kommentaar leave one →
  1. November 13, 2008 3:23 vm

    Dankie Boer. Ek dink jy het dit baie goed opgesom. Jou laaste punt veral: “U is ‘n misterie, onbegrensd deur menslike denke, verhewe bo begrip en verstand.” Hoe verduidelik mens vir mense wat nie glo nie dat mens eenvoudig net nie alle vrae kan beantwoord nie?

  2. Sammi permalink
    November 13, 2008 3:49 vm

    Boer
    Dis magtig, hierdie glo van jou. Dit laat my dink aan ‘n naweek wat ons deurgebring het in die Midlands waar ek hardegat saam met die “ladies” was en aan die einde net oor en oor die gebedjie wat my paps my geleer het, kon prewel: Bennekindjie klein, liewe Jesus, maak my hartjie rein.
    Ek dink dis die hele geheim – ‘n strewe na ‘n rein hart.

    Flippie
    Dis die ding, ons het nie nodig om al die antwoorde te verskaf nie. Hy sal dit doen – jy help, Boer help, Johannes help, Retha, Sonkind ens – ons almal op ons eie manier. Jou passie met dit is so erg soos myne oor die land – ai! arme ons.

  3. Jaco permalink
    November 13, 2008 3:07 nm

    Kragtig

  4. November 13, 2008 4:21 nm

    Onbeskryflik Boer. Ek dink vir enige iemand want hierdie woorde lees bring n rustigheid binne jou.

  5. November 13, 2008 5:37 nm

    Wow…dis baie raak.
    Eks bly ek het dit nou gelees, beteken vir my baie.
    Dankie!

  6. November 13, 2008 5:58 nm

    Pragtig, Boer.

  7. November 13, 2008 6:36 nm

    Dankie BiB. Dis baie kragtige woorde en ek sal dit met my saamdra.

  8. November 13, 2008 7:32 nm

    Sjoe! Baie mooi. Die onbeskryfbare het jy so mooi beskryf. Ek wens ek het dit self kon skryf.

  9. annora eksteen permalink
    November 13, 2008 9:35 nm

    Pragtig

  10. November 13, 2008 9:45 nm

    Mooi gebed Bib!! Jy het ‘n spesiale gawe om jouself baie goed te verwoord! Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

  11. November 14, 2008 3:12 nm

    Amen, amen, amen.

  12. November 14, 2008 5:23 nm

    Wow baie mooi en ek gaan dit verseker bêre!

  13. November 14, 2008 7:06 nm

    Ongeag wat mens glo, hier is baie mooi poetry in hierdie gebed.
    “Ek glo in U, want U is my keerwal teen die verweer van elke dag. By U vind ek asiel en die vrede wat verstand te bowe gaan.”

    Ek het egter ‘n interessante vraag. As mens stel dat God vir jou vrede gee, dan maak jy ‘n baie goeie argument daarvoor dat die mens sodanig aanmekaargesit is dat hy aan God moet glo. Augustinus se “My hart is rusteloos totdat dit rus in U vind” en Salman Rushdie wat na sy ontkering gese^ het “Daar is nou ‘n Godvormige gat in my lewe.”

    Maar daar is ‘n sprong tussen “Ek is gemaak om in God te glo” en “God is ‘n objektiewe werklikheid wat e^rens bestaan”. Nie dat God noodwendig ‘n objektiewe werklikheid hoef te wees vir geloof in God om sinvol te wees nie. Ek het net gewonder of jy saamstem dat daar ‘n logiese sprong is. En of die sprong jou pla? Dalk is daar ruimte vir iets soos ‘n geloofsprong – anders was dit seker nie geloof nie.

    Ek hou daarvan dat jy nie deur logiese argumente jou geloof probeer bewys nie, maar eerder deur jou hartgevoelens. Ek dink dit is ‘n beter manier. Die rede kan dalk hier ‘n effense doodloopstraat wees (of dalk nie, ek sal verder daaroor dink).

  14. November 16, 2008 8:09 nm

    Dankie vir almal se kommentaar. Hierdie is ‘n baie persoonlike inskrywing en ek het ook maar redelik getwyfel of ek dit moes plaas. Ek is egter bly ek het.
    Op die ou-end kan ek maar net getuig van persoonlike ervaring en dit is bloot wat ek so probeer verwoord het.
    Piesangverkoper, dankie dat jy ‘n paar piesangs hier kom swaai het. Ek stem saam met jou – dit is vir my ‘n logiese sprong en dit pla my nie…hoewel ek tog begrip het vir mense vir wie so ‘n sprong (basies “tot anderkant rede”) ‘n probleem is.

  15. November 17, 2008 12:07 vm

    Baie inspirerend Boer, geseënd is jy.

  16. November 17, 2008 5:55 nm

    Is geloof nie deurgans ‘n “persoonlike inskrywing” nie? Baie dankie vir die deel hiervan.

    U is ‘n misterie, onbegrensd deur menslike denke, verhewe bo begrip en verstand. Meeste van die tyd verstaan ek nie, maar helaas het ek besef dat ek nie hoef te verstaan om bloot te glo nie. Dankie dat U my hierdie bevryding skenk./

    Bevrydend, inderdaad. Daarom is niks ‘n bedreiging nie.

  17. November 18, 2008 12:16 vm

    Jy het regtig ‘n besondere manier om met woorde om te gaan, en dan getuig dit wat jy skryf ook nog van deurdagtheid ook. Vir my ook besonders. Die geloof het redes waarvan die rede niks verstaan nie – iemand het dit geskryf, ek weet net nie wie nie.

  18. November 18, 2008 4:42 vm

    Sjoe! Hierdie is baie special! Dankie Boer! My lewe het die winterseisoen bereik en hierdie wys net weer vir my die Lig!

  19. Merriemuis permalink
    November 18, 2008 6:50 nm

    Boer

    ‘n persoon kan sien dat hierdie beskrywing, gebed, deur die strate van jou hart geloop het en is nou geskryf in elke hartklop en elke pols deur elke aar.
    Daar is net een Persoon wat jou so kan inspireer en alleenlik wanneer ons ons oe van ons eie lewens afhaal en rig op God, kan Hy Sy waardige plek in ons kom neem – He doesn’t want visiting rights, He wants to inhabit you (jammer vir die engels – ek weet nie hoe om die beter in afrikaans te se nie) … wanneer dit gebeur ……. daar is geen woorde, in enige taal, wat kan beskryf hoe die vrede jou omvou en jou neem op arends vlerke na die hoogste bergpieke

  20. rianabrand permalink
    November 20, 2008 12:36 vm

    ‘ Sela ‘ of soos my ma sal se ” amen ” – dank u x

  21. Roer permalink
    November 25, 2008 3:16 vm

    Pragtig Boer.

  22. Mixema permalink
    Oktober 21, 2012 4:59 vm

    Op ‘n manier laat hierdie saam met jou “Wat ek glo” my dink aan Sheila Cussons se “My dank na die mis – Universele gebed”

Trackbacks

  1. Geloof « waterstroom

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: