Skip to content

‘n Nuwejaarsgeskenk so na my hart

Januarie 1, 2009
tags: ,

S7300545Kan mens nou so ‘n geskenk in hierdie feestyd die rug draai? Staan ek nou die dag in een van Korea se grootste supermark-kettingwinkels rond en maak ‘n wonderlike ontdekking: KWV Cathedral Cellar Pinotage 2003 vir slegs 15 000 Koreaanse Won (ongeveer R115 teen die heersende wisselkoers). Wat ‘n winskoop! Wat ‘n wonderlike winskoop in Korea vir so ‘n kwaliteit wyn! (Meer onlangse oesjare van die wyn is by die KWV Emporium in die Paarl te koop teen R78 ‘n bottel) Huiwerig besluit ek om slegs een bottel te koop, ingeval die wyn iewers in die son of op reis seergekry het. Die volgende dag was ek terug om nog ‘n bottel of 3 te koop. Wat ‘n lekker en onverwagte bederf!

Die kleur van die wyn is roorierig amber, met die rante wat met ‘n effense oranjekleurige skynsel verklap dat die wyn nou nie meer vandag se kind is nie. Aanvanklike oorweldig die neus jou met die tipiese Pinotage-geure van ryp, oondgebraaide piesang, tesame met ‘n ondertoon van vanielje (steeds waarneembaar na 5 jaar – heel moontlik agv die gebruik van nuwe eikevate) en ‘n subtiele rokerige geur. Die wyn slurp gulsige hale suurstof op daar in die glas en dit bring ook ander geure van die komplekse neus na vore, soos ryp aarbeie, framboos en kersies.

Op die palaat is die wyn pragtig sag en gerond, ondanks ‘n effense gebrek aan intensiteit op die mid-palaat. Die hout is lank reeds in harmonie met die wyn en die waarneembare suur gee die wyn daardie bietjie byt, wat so dikwels kortkom by ‘n ouer wyn. Die geure op die neus volg deur op die palaat en nuanses van aarbeie en framboos bly talm op die tong. Daar is selfs net-net ‘n waarneembare romerigheid wat moontlik appelmelksuurgisting verklap.

Hierdie was vir my ‘n wonderlike nuwejaarsgeskenk en ek het elke oomblik met die wyn geniet – impromptu gepaar met Deense salami en Australiese Camembert.

Ek haal my hoed af vir die wyn, wat ver moes reis en goed verouder het, ondanks die moontlike in-transito terugslae wat daar mog gewees het. Dis ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n tipiese Pinotage en ‘n wyn waarop KWV met reg trots kan wees.

(Cathedral Cellar is KWV se ultra-premium reeks uitvoerwyne en sommer ‘n hele klomp trappies bo die Golden Kaan -reeks. Ek het ook voorheen oor die Cathedral Cellar Merlot geskryf.)

En hiermee wil ek sommer vir almal wat hierdie blog lees (ja, ook daardie enkeling in Uzbekistan) ‘n verrykende 2009 toewens, waarin die slegte sal klein word in die skadu van die goeie. In dieselfde asem, wil ek vir Graeme Smith en die Suid-Afrikaanse krieketspan baie geluk se met hulle geskiedkundige toetsreeks-oorwinning in kangaroeland. Dit wil gedoen wees! Wat ‘n manier om 2008 af te sluit!

Advertisements
16 Kommentaar leave one →
  1. Januarie 1, 2009 5:08 vm

    Voorspoedige Nuwe Jaar. Elke keer as jy iets oor wyn skryf, dan dryf jy my na drank.

  2. Januarie 1, 2009 4:40 nm

    LOL @ Mauritz!!

    Danksy jou gereeld inskrywings oor wyne, het ek nou al baie geleer oor die verskillende tipes wyn en is ek meer ingestel daarop om al die smake en reuke wat jy so goed beskryf te herken. Hmmmm…daai Deense salami en Australiese Camembert klink vir my na die perfekte kombinasie saam met die wyn.

    Mag 2009 vir jou ook ‘n wonderlike jaar wees Bib!

  3. amanda permalink
    Januarie 1, 2009 5:39 nm

    Voorspoedige nuwe jaar! Dit is ‘n vreugde vir my om jou blog te lees! Ek sal jou in die nuwe jaar moet begin voorstel aan die voortreflike wyne wat hier uit my vallei kom (Santa Ynez vallei).

  4. Januarie 1, 2009 8:30 nm

    Ek stem saam met Mauritz! Jy sal mens na drank dryf…
    Klink baie lekker en jy was gelukkig om die wyn teen so goeie prys te kry! Is dit my verbeelding of het die wynpryse die afgelope ruk opgegaan hier in Korea? Voorspoed vir 2009 Bib!

  5. Januarie 1, 2009 9:33 nm

    Dankie vir die wense! Nou weet ek net nie of dit ‘n goeie ding is om mense na drank te dryf nie…die laaste persoon wat my na drank gedryf het was baie onaangenaam (en ek drink nog steeds). 😆
    amanda, sal baie graag van daardie wyne wil leer ken (en proe!).

  6. Mefri permalink
    Januarie 2, 2009 3:57 vm

    LOL Voorspoedige Nuwejaar BiB. Ek was so bietjie verstrooid gewees toe ek my goeiewense vir jou by Kaalvoetjies afgelewer het. Wys jou net; wat vir jou bedoel is sal jou vind…. 🙂

  7. Januarie 2, 2009 4:55 vm

    Voorspoed met die Nuwejaar! Nog nie Cathedral Cellar hier by my gesien nie, maar gaan nou beslis my oe oophou vir die naam.

  8. Januarie 2, 2009 2:32 nm

    Hehe Boerie! Dis nie jy as persoon wat ons na drank dryf nie, maar jou skrywes en op ‘n goeie manier! Jy laat die wyn ekstra besonders klink. Mens kan nie anders as om dit te wil/moet drink nie!

  9. Wipneus! permalink
    Januarie 2, 2009 6:18 nm

    LOL Voorspoed vir jou ook Bib! Laat ek gou die drankwinkel gaan besoek :mrgreen:
    Is die vliegtuig al oor? 😯

  10. Januarie 2, 2009 8:57 nm

    Mefri….ai, die ouderdom? 😉
    Bluegrass, goed om weer van jou te hoor! Jy behoort definitief Cathedral Cellar in die VSA te kry, maar ek weet nie van Kentucky nie…
    Dankie, Kaalvoet! Eersdaags deel ons ‘n botteltjie1
    Wip, daar’s al ‘n hele eskader hier verby! 😆

  11. Januarie 3, 2009 2:05 vm

    Ah die Paarl! La Concorde – die plaas waarop KWV staan – het eens aan ‘n stamvader van my behoort…kan ek ‘n land claim daarop plaas? 😉

  12. Mefri permalink
    Januarie 3, 2009 9:51 nm

    🙂

  13. Januarie 5, 2009 1:30 nm

    Is daai wyn van rys gemaak?

  14. Januarie 6, 2009 8:45 nm

    😆

  15. Januarie 7, 2009 4:55 nm

    hehehe, bietjie laat, maar ek hoop dit was heerlik. (of staan dit nog en verouder?) voorspoedige 2009 vir jou ook.

    Uzbekistan??

  16. Januarie 7, 2009 7:20 nm

    Wyn kry nooit kans om naby my te verouder nie…gelukkig het hierdie outjie nie nodig gehad om ouer te raak nie. 🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: