Skip to content

‘n Groote Post vir ‘n grote wyn

Januarie 12, 2009

S7300541 Kyk, ek het baie tyd vir Groote Post se wyne. Hierdie relatiewe klein kelder in die pragtige Darling-heuwels, maar so ‘n kraaivlug vanaf die Atlantiese Oseaan, het van meet af die lekkerste wyne geproduseer. Maar ek het sekerlik nog meer tyd vir die wynmaker, Lukas Wentzel . Behalwe dat hy van wynmaak ken, is hy een van die aangenaamste persoonlikhede in die wyn-industrie. In die Suid-Afrikaanse wyngemeenskap, waar soveel wynmakers ontpop het in kwasi-glanspersoonlikhede en hulself ietwat snobisties verhef tot meerdere wesens, is Lukas ‘n verfrissende uitsondering. Met sy voete vierkantig op die aarde, kan ek net met lof praat van Lukas se vriendelikheid en gasvryheid.

Die wyn wat ek deur ‘n simpatieke weldoener ontvang het vanaf Suid-Afrika, is die Woolworths Groote Post Reserve Sauvignon Blanc 2008, wat Lukas spesiaal gemaak het vir die kettinggroep. Wine tydskrif het die 2007 oesjaar uitgesonder as een van hulle top 10 Sauvignon Blancs en nadat ek met die wyn klaargespeel het, kan ek net die tydskrif se oordeel beaam. Lukas het hier ‘n besonderse wyn geskep. Die druiwe vir hierdie wyn kom van Groote Post se mees suidelike hellings, vanwaar mens op die blou van die oseaan kan uitkyk. Dit was vir my bepaald ‘n voorreg om dit hier in die verte te geniet, veral omdat kwaliteit Sauvignon Blanc hier so skaars soos hoendertande is. En sou jy dalk ‘n Marlborough (van Nieu-Seeland) of ‘n Loire (van Frankryk) raakloop, betaal jy die spreekwoordelike ore van jou kop af.

Die wyn se kleur in die glas is bleek strooikleurig en briljant helder, met ‘nS7300542 waarneembare en jeugdige groen skynsel wat die meniskus omlyn. En “groen”, met tropiese nuanses, is miskien juis die regte manier om die wyn te beskryf. (Mens kry gewoonlik Sauvignon Blanc in ‘n tropiese of groen styl en ek dink hierdie wyn is ‘n pragtige middeweg). Die neus van die wyn is intens uitgesproke en vang onmiddellik jou aandag vas. Ek sal die neus beskryf as grasvars, beset met die geure van aspersie, grenadilla en groenrissie. Met moontlik slegs die byvoeging van die geur van appelliefies, kaap dieselfde geure oombliklik jou palaat. Dis ‘n mondvol somer – so absoluut ongekontamineerd vars, skoon en verfrissend! Die groen geure bly talm in die mond lank nadat die wyn gesluk is en laat jou mond vars, smagtend vir meer. Die hoe suur in wyn is wonderlik en nes ek dit sou verwag van ‘n kwaliteit wyn! Dis mos hoe ‘n Sauvignon Blanc moet smaak! Ek sal graag die wyn oor ‘n jaar of twee weer wil proe, wanneer dit meer kompleksiteit behoort te vertoon.

S7300608Geluk, Lukas! Jy het ‘n meneer van ‘n Sauvignon Blanc gemaak! (ek kom haal sommer ‘n paar botteltjies persoonlik by jou as ek weer kom kuier). Boonop het jy die wyn verseel met die uiters moderne en verbruikersvriendelike Vino-Lok glasprop, in stede van faalbare kurk of mindere sintetiese materiaal.

NS: Behalwe vir die Sauvignon Blanc, maak Groote Post ook ‘n indrukwekkende Shiraz, aangename Merlot en ‘n baie lekker Chardonnay. Hulle Pinot Noir is verseker ook ‘n wyn waarmee ek kan saamleef. Besoek die kelder gerus en geniet sommer die voortreflike cuisine van hulle restaurant, waar ek beloof jy ure om sal kuier.

Advertisements
13 Kommentaar leave one →
  1. Januarie 13, 2009 3:29 vm

    Dankie Bib, ek sal onthou van Groote Post as ons weer in die Kaap kom. Ek het bietjie na hulle spyskaart gaan loer op hulle webblad en die geregte klink ook heerlik! Daar’s só baie wynkelders in die Kaap en dis nogal oorweldigend vir ons Gautengers want jy weet nie by watter een jy moet gaan koop nie!

    Jy beskryf die geure alweer so goed dat jy mens regtig lus maak om dié wyn op die proef te stel!! Sal ek nou ook sê soos Mauritz laas gesê het – jy dryf mens na drank! 😆

  2. Januarie 13, 2009 4:00 vm

    Boer, Groote Post is net my gunsteling wynplaas! Ek het hul Sauvignon Blanc leer liefkry (ja, liefkry) op Ons Huisie se stoep. En toevallig is dit een van die naaste wynplase aan waar ek bly.

    Ek wil darem net noem dat hulle Chenin Blanc ook nie te sleg is nie – dit is nou as jy Chenin Blanc drink 🙂

    Terwyl ons nou in daardie geweste is, Lammershoek is ook ‘n aangename ervaring.

  3. amanda permalink
    Januarie 13, 2009 2:33 nm

    yikes – hoe water my mond vir daai wyn’tjie!

  4. meermin permalink
    Januarie 13, 2009 2:48 nm

    Lekker wyn bly maar lekker, lekker dag!!

  5. Januarie 14, 2009 12:57 vm

    Jy laat wyn drink na gedigte lees klink! Pragtige beskrywing soos gewoonlik!

    So by the way – ek is terug! Daar is weer lewe op Woestynsand!!

  6. Januarie 14, 2009 2:52 vm

    Klink regtig na besondere wyn.

  7. Januarie 15, 2009 10:19 nm

    Thea, gaan besoek gerus. Dis “off-the-beaten-track”, maar definitief die moeite werd! En dan gaan besoek jy sommer Evita se Perron op Darling!
    George, al wat ek kan se, is dat jy bevoorreg is om in ‘n pragtige deel van die Kaap bly! En ja, hulle Chenin is ook nie te versmaai nie. Ek het al van Lammershoek se lekker wyne geproe, maar moet nog die kelder besoek.
    amanda, niks drink vir my so lekker in die somer as SB nie. Maar op die oomblik vrek julle mos van die koue! Kry ‘n lekker bottel port byderhand!
    Voorwaar, Meermin!
    Rene, regtig great om jou weer hier te sien! Ek’s bly jy’s uiteindelik weer op die lug.
    Attie, dit is…dit is.

  8. Januarie 16, 2009 2:25 vm

    Al is dit ‘n rondom-die-Wêreld-reis om daar te kom, maak ons gereeld verskonings om soontoe te gaan. Nie net is die wyn bekoorlik nie, maar ook die omgewing. Nou het jy my weer ‘n verskoning gebied om daar te gaan draai, al kan ek net hier om die hoek seker ‘n paar voorbeelde by Woolworths gaan optel – ek het gelees van die wyn, maar nou, as jy dit so bekoorlik en liries aanbeveel, moet dit beslis in die versameling ingesluit word. 12.5% klink na baie alkohol vir ‘n Blanc.

    Die Pinot en Chardonnay is nou al lank van my gunstelinge.

  9. Januarie 21, 2009 6:23 nm

    Ek kan nou maar eenmaal net nie witwyn in my lyf kry nie…

  10. Januarie 21, 2009 11:02 nm

    Emil, dis nou een om-die-wereld-reis wat die moeite werd is (anders as George wat my klink sommer soontoe stap.) 🙂 My ervaring is weer dat 12.5% deesdae eintlik laag is vir ‘n SA Sauvignon. Meeste van hulle klim so bo die 13%, as ek dit nie mis het nie.
    Kaalvoet…dwing jouself! 👿 (dit gaan lieflik af saam met hwe)

  11. Januarie 22, 2009 2:16 nm

    Neewat boer, hou daai rou vis van my af weg! Ek drink eerder die wyn!

  12. Januarie 23, 2009 1:06 nm

    Klink lekker, ek sal uitkyk daarvoor. Ek het die Vino-lok skakel gevolg, ‘n interessante ontwikkeling.

Trackbacks

  1. Stocking the winecellar in Darling | A Different View of Reality

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: