Skip to content

‘n graaf bly ‘n graaf

Februarie 10, 2009

(met dank aan alleman en blik, wat my inspireer het om hierdie inskrywing te doen )

Politieke korrektheid…Daaraan het ek nou ‘n broertjie dood! Wat, komaan, wat is dit nou eintlik? Dit is bloot ‘n legitieme vorm van opsetlike oneerlikheid om feite te verdoesel en te pypkan dmv die selektiewe aanwending van inligting. Dit word gedoen om sekere persone, groepe, volke ens. se gevoelens te spaar. Amper om te weet iemand het ‘n terminale siekte, maar te swyg oor die feit en eerder die persoon te vertel sy/haar tande is so gesond. Of, volgens die klassieke voorbeeld, die keiser poedelnakend te aanskou, net om te verkondig hoe pragtig sy klere is.

Maar kom ons neem ‘n praktiese voorbeeld: Gestel ek sou se dat meeste gewapende rooftogte in Suid-Afrika deur swart mans uitgevoer word. Dit sou byvoorbeeld polities onkorrek wees. Dat dit bloot ‘n stelling is wat die realiteite reflekteer, is van minder belang. Politieke korrektheid dwing jou dus om van feite bewus te wees, maar voor te gee asof jy nie van daardie feite bewus is nie. Dws almal weet dit, maar niemand mag dit se nie.

Nog ‘n voorbeeld: Op die oomblik word meeste internasionale terroriste-aanvalle uitgevoer deur Moslems. Nou wat moet ek nou anders se? Dis nou nie asof meeste aanvalle deur ateiste of Boeddhiste uitgevoer word nie, is dit? Ja (sal die antwoord wees), maar jy skep die persepsie dat alle Moslems terroriste is. Regtig? Nou redeneer jy darem snaaks, want jy se dat meeste terroriste = Moslems die inverse beteken, nl. die meerderheid Moslems is terroriste. En dis mos nou glad nie wat ek gese het nie!

Was jy al ooit binne ‘n verhouding waar die ander persoon geweldig fyngevoelig was? Ken jy daardie gevoel dat jy senuweeagtig op eiers moet loop en elke woord moet tel? Is dit ‘n lekker verhouding?

Mense, volke, gelowe, rasse, geslagte en sommer die hele boksemdais hier op aarde moet groot word. As jy soos ‘n volwassene behandel wil word, tree dan op soos ‘n volwassene. Moenie daar agter die veilige rokspante van moeder politieke korrektheid gaan wegkruip en so debat probeer smoor of ontwyk nie!

Politieke korrektheid is ten diepste Orwelliaans (lees gerus weer 1984) en veroorsaak dat gesonde, openlike debat in die kiem gesmoor word, tesame met vryheid van spraak en ander liberale waardes. Maak nie saak hoe jy feite probeer versluier nie, daardie feite gaan nie weg nie. Net soos die geval is met fundamentalistiese weergawes van geloof of rigiede politieke ideologie, is daar ‘n hele rits heilige koeie binne die raamwerk van politieke korrektheid. En wee die een wat dit wag om hierdie koeie aan te raak! Al waarin politieke korrektheid slaag, is om ondersoek, analise en moontlike probleemoplossings te voorkom. So raak dit, ironies genoeg, nadelig juis vir daardie persone/groepe wie se gevoelens jy in die eerste plek wou spaar.

Kom ek noem ‘n laaste voorbeeld wat duidelik aandui hoe die selektiewe aanwending van feite totale wanpersepsies tot gevolg het: Daar was ‘n man wat kuns en argitektuur kon waardeer. Hy was baie lief vir diere en spesifiek honde. Hy was ‘n virtuele vegetarier en het meeste van die tyd groente en vrugte verkies. Hy was ‘n geheelonthouer. Hy het nooit gerook nie en het moeite gedoen om mense te oorreed om op te hou rook. Hierdie man se naam was Adolf Hitler.

‘n Graaf bly ‘n graaf, al verswyg jy die feit dat jy met hom kan spit.

Advertisements
30 Kommentaar leave one →
  1. boendoe permalink
    Februarie 10, 2009 3:12 nm

    Sela.

    Maar ek dink nie dis iets wat gaan verdwyn nie. Veral nie in ons liewe ou land nie. 😉

  2. Februarie 10, 2009 3:17 nm

    Amen. Ek stem volhartig saam.

    Luister, ek het jou blog gelink op myne.

  3. Februarie 10, 2009 5:05 nm

    Ek kan natuurlik nie regtig stry met wat jy hier skryf nie, maar het tog ‘n gevoel dis nie die hele verhaal nie. Daar is baie mense wat stellings maak, en wat met trots sou beweer hulle is on-PC, maar in werklikheid is hulle ongemanierd en/of rassisties. Miskien kry ek later kans om beter te beskryf wat ek bedoel.

  4. Februarie 10, 2009 5:49 nm

    Luister egter die nuus: ‘n BLANKE seun het tussen SWARTES ingevaar en hulle voor die voet afgemaai.

    Selektiewe beriggewing. Bewuste weglating, of beklemtoning. In SA.

    Luister, jou skrywes oor wyn laat tot vir my loer na ‘n botteltjie rooi, al is dit 35 grade buite! Hier staan juis ‘n Cab Sauv van Zorgvliet se Silver Myn reeks op my lessenaar, so as ek stil raak, soek my nie…

    🙂

  5. Februarie 10, 2009 7:47 nm

    Boer: Hier in Europa is dit omtrent ‘n tamelletjie. Baie eensydig ook. Die waarheid was nog nooit iets wat mens maklik sluk nie.
    (het jy reg gekom met die RSS feed?)

  6. Februarie 10, 2009 8:06 nm

    Deur polities korrek te wees, spaar mens regtig gevoelens of ignoreer mens net die feite? Dis ook net sekere bevolkingsgroepe se gevoelens wat gespaar word en as dit by ander kom is word daar tog te maklik op die sogenaamde waarheid gewys. Dis ‘n siek speletjie as jy my vra! Goeie inskrywing Boer en iets waaroor die polities korrrektes gerus kan dink.

  7. Februarie 10, 2009 8:10 nm

    Dis so waar! Veralgemening is nie goed nie, maar die feite is bloot dit. Die feite. Goeie inskrywing

  8. Februarie 10, 2009 9:54 nm

    Dis verseker ‘n siekte van ons samelewing. Ons is geleer om van kleins af taktvol op te tree, om altyd die regte goed op die regte tyd te se. In baie gevalle bly ons eerder stil omdat ons bang is ons kom bevooroordeeld voor. Soos Kaalvoet ook tereg vra, is ons regtig net ordentlik of ignoreer ons ook maar net die feite? En dan is dit ook so dat nie almal altyd die groter prentjie van die waarheid raaksien nie en daarom meer geneig is om polities korrek op te wil tree. Ons word ook elke dag deur politieke korrektheid onbewustelik beïnvloed. Hier dink ek aan myself. Ek was half verontwaardig toe ek die eerste keer hoor hoe die Europeers sonder om te skroom Mugabe se optredes as die van ‘n monster uitmaak en hom selfs met Hitler vergelyk, terwyl ons versigtig oor eiers loop.

  9. Februarie 10, 2009 10:20 nm

    Ek stem saam dat die waarheid ons vrymaak. Wie se waarheid
    Die laaste voorbeeld laat my wonder wat eintlik jou punt is: Die feit dat ons nou moet hoor dat Hitler al daardie mooi kwaliteite het, is dieselfde as om op die pragtige tande te fokus terwyl die persoon se liggaam besig is om weg te kwyn. Op watter feite (waarheid) fokus ons ? Ons kan nie op alles fokus nie.In die voorbeeld van Hitler is bg kwaliteite irrelevant: gegewe die groter sake, soos moord. Ek kan ook vertel van Mugabe se fancy, skoon onderbroeke- maar dit is irrelevant as mens in ag neem hy is ‘n massamoordenaar. Die meeste misdadigers is swart, so ook die meeste slagoffers van misdaad.

  10. Februarie 10, 2009 11:31 nm

    alleman, ek verstaan eintlik wat jy bedoel. Dit gaan natuurlik baie oor die intensie agter die stelling van feite. Die intensie kan rassisties/seksisties wees en feite-stellings kan met ‘n bepaalde agenda gemaak word. Ek glo egter nie die afdwinging van politieke korrektheid op almal is ‘n kuur vir sommiges se vooroordele nie.

    Skoor en Kaalvoet, julle maak geldige punte. Dis inderdaad sosiale mode sekere feite weer te gee, terwyl dit in ander gevalle glad nie die geval is nie. Dis maar ‘n klassieke geval van dubbele standaarde. Ek wonder baie keer hoe die media daaroor sal berig as bendes blanke krimineles dag na dag swart gesinne moor, martel en verkrag. Sal dit steeds net berig word as misdaad?

    Reggie, dankie vir die besoek. Ek probeer slegs deur die laaste voorbeeld illustreer hoe belaglik dit kan raak wanneer mense die selektiewe aanwending van feite in die algemeen begin gebruik om gedagteprente te skets waarmee hulle gemaklik voel. Dis juis die punt dat politieke korrektheid aan groepe en individue die gereedskap bied om hulle eie “waarheid” te skep.
    Terloops, ek dink dis bloot logies dat die meeste slagoffers van misdaad in SA swart sal wees, want hulle maak in verre die grootste deel van bevolking uit. Dis dan miskien ook bloot logies dat meeste misdadigers ook swart is. Juis te meer wys dit die belaglikheid van politieke korrektheid in my eerste voorbeeld uit.

    NS: Rustig…dit sukkel nog, weet nie wat fout is nie. Skoor, ek hoop jy’t daai wyntjie geniet! Dankie, SA Expats.

  11. Roer permalink
    Februarie 11, 2009 5:40 nm

    Mmm, ek wonder wat sal die statistiek ons vertel van geweldsmisdaad. Hoeveel daarvan word gepleeg deur wit mans? Rasse moorde, hoeveel daarvan word deur wit mans gepleeg? Hoeveel wit mans breek in swart mense se huise in, verkrag hul vrouens en vermoor hul mans? Jy kan nie verby dit kom nie. Dis soos Carina se^, bloot feite. Pasop vir wie jy preek dat die waarheid jou vry maak Reggie.

  12. Februarie 11, 2009 6:17 nm

    Ek moes net gou weer hier inspring – madam Roer het die manier om die fietsketting in my kop te laat ‘zing’.

    My g*t se deksel is die feit dat ons die doelbewuste breinspoeling gelate aanvaar, en op die ou end van die dag veronderstel is om flippen skuldig te voel om dat dit ons ‘skuld’ is dat mense soos barbare buite in die strate optree.

    En dit is verdomp nie. Ek is nie skaam of skuldig omdat ek WIT is nie. Of sit ek die pot mis?? Kan rassisme wragtag in this day and age, steeds net aan Blankes toegedig word??

    Ek raak so opgetjaarts, ek moet nou eers my ketting gaan olie met ‘n koppie Rooibos.

    Sorrie BiB, maar jy’t die graaf met die steelkant uitgehou…

    NS: ek gaan die wyn hou vir die eerste kaggelvuur. Sien, ek is ‘n absolute optimis, want deur die brande, die as, die 40 grade, die suid-oos en die gatvolgeit, weeeet ek hieraan is ook ‘n einde, en die lafenis sal binnekort weer op ons neersak.

    NNSS: ek het sopas ‘n belofte gekry van ‘n promosie boks Zorgvliet gemeng. Hoes daai vir onderhandeling op ‘n Woensdag!!!

    😆

  13. Februarie 11, 2009 6:47 nm

    Roer, ek verstaan nie. Wie het gepraat van witmans ? Waarom haal jy dit op ? My punt was bloot dat die stelling dat ‘meeste gewapende rooftogte in Suid-Afrika deur swart mans uitgevoer word.’ (Boer) ‘n feit is- en om dit te stel nie noodwendig polities inkorrek is nie, maar die ander kant van die saak is ook waar: die meeste misdaadslagoffers is swart. As ek jou reg verstaan wil jy my oortuig dat wanneer dit kom by geweldsmisdaad, witmense uitgesonder word vir verkragting en moord, deur swart mans. Dit is eenvoudig nie die waarheid nie. Maar, miskien mis ons die punt van die inskrywing. Ek wou eindlik maar net byvoeg dat ek saamstem dat almal gehelp word waar ons eerlik, met mekaar die ‘n graaf ‘n graaf noem. En nou hierdie hostile reception. Dankie

  14. Februarie 11, 2009 11:24 nm

    Ek dink hierdie debat beweeg nou in die rigting van wie nou eintlik teenoor wie misdaad pleeg, misdaadstatistiek ens. Dis effe van die punt af: ekself wou bloot in my kommentaar uitbeeld dat politieke korrektheid binne media-geledere dubbele standaarde tot gevolg het. Die debat oor misdaad, wie deur misdaad geteiken word ens. is miskien ‘n debat vir ‘n ander dag. Daar is reeds bepaalde studies gedoen oor die etniese identiteit van slagoffers en misdadigers binne sekere kategoriee misdaad, maar ek sal dit nie hier opper nie, aangesien dit nie ‘n bydrae te lewer het tot hierdie debat nie. statistieke is miskien ‘n debat vir ‘n ander dag.
    Skoor en Roer, ek verstaan vanwaar julle sentimente vandaan kom.
    Reggie, ek dink nie ons standpunte verskil so wesenlik nie.

  15. Februarie 12, 2009 4:06 vm

    “Polities korrek” is net ‘n politiese korrekte naam vir huigelary, d.w.s om doelbewus iets te sê wat jy weet nie waar is nie. Dit is baie duidelik anners as om ordentlik of taktvol te wees.

    Dit is een van ons land se siektes wat besig is om epidemiese hoogtes te bereik. Dit het ontwikkel uit die beheptheid met pollitiek (lees mag), ten koste van eerlikheid en integriteit.

  16. Februarie 12, 2009 5:44 vm

    Wie ken Terry Pratchett se boeke? In een, moenie my nou vra watter een nie, word ‘n koerantopskrif weergegee met tikfout en al “The truth shall make thee FRE(T).”

  17. Februarie 12, 2009 5:50 vm

    Bib, wat ‘n uitstekende inskrywing. Ek wens nou werklik ek het ‘n Screaming Eagle om vir jou in die werklikheid te gee, want hierdie inskrywing verdien so iets besonders. Aan die einde van die dag is dit inderdaad so, prontuit en reguit, en raak ons verstrengel in semantiek en woordeskat wat hul unieke bagasie met hul saamdra. Ek het altyd gedink politieke korrektheid (hoekom politiek nou noodwendig voor korrektheid moet staan, is so onduidelik, maar dit geen tog te kenne die dieper grondige kleursel) is die mees korrekste (sorry vir die pun) vorm van verdraagsaamheid denkbaar in ons Suid-Afrikaanse unieke situasie, maar helaas, dit bou eintlik niks op nie; inteendeel, dit is veel eerder kunsmatige verskansing van die ware feite!

    Tog, dit alles gesê, moet mens wel maar oordeelkundig en met oorleg die semantiek toepas – die afstand tussen die verlede en die hede is nog te klein om werklik eerlik en opreg met mekaar om te gaan.

    /me buig!

  18. Februarie 12, 2009 12:15 nm

    Briljante inskrywing, Bib! Ek voel soos jy oor politieke korrektheid. Veral vandat ek die eerste keer die sin: “Affirmative action do not discriminate on the basis of race” gehoor het…

    Joh, jou “Polities korrek” is net ‘n politiese korrekte naam vir huigelary,” is ‘n perfekte opsomming, en ek sal Nelba se Pratchett-aanhaling: ““The truth shall make thee FRET.” onthou!

  19. Februarie 12, 2009 1:16 nm

    Ja ek is ook al fed-up met die politieke korrektheid. Aanvanklik gevoel dit maak sin om onnodige informasie soos watter ras watter misdaad gepleeg het te verswyg, maar wanneer dit skielik nie meer toegepas word wanneer dit spesifieke rasse is nie dan maak dit my vies. Party dae voel dit vir my as mens blank is, ‘n man is, en ‘n Christen is, is jy die mees bedreigde wese in die wereld.

  20. Duusman permalink
    Februarie 12, 2009 2:06 nm

    Soms is dit wat verswyg word , die mees belangrikste. Hierdie is ‘n tweesnydende swaard- met die skerpste kant na jouself toe.

    FF sê;”…..as mens blank is, ‘n man is, en ‘n Christen is, is jy die mees bedreigde wese in die wereld.” My gevoel is dat blanke,christen mans-as ‘n groep- van die mees geskoolde,rykste en bevooregte mense in die wereld is.

  21. Februarie 12, 2009 3:33 nm

    Ek is nou ook nie so seker van die Christen verwysing nie. Maar wat beide flippiefanus en Duusman oor die witman sê, is vir baie seker waar.

  22. Februarie 12, 2009 3:42 nm

    BiB – Ek stem heeltemal met jou saam, maar nou moet jy jouself eers vra: hoekom ENIGIETS hoegenaamd sê? Wat wil jy bereik met enige taalhandeling wat jy besig? Ek dink dis tog belangrik om – jou standpunt waarmee ek saam stem ten spyt – steeds ook deurgaans onsself te peil en te kyk hoekom ons dinge sê om mee te begin.

    Uitsprake het baie keer dit ten doel om mag te verskuif van die onderwerp na die uitspreker..

  23. Februarie 12, 2009 6:16 nm

    Nogtans, Johan, watter skema moet ons dan gebruik in verwysing? Die omseiling van werklike kwessies met poltieke korrekte benaming, soos byv PDI in stede van armes, of (met respek) nie-blankes, skuif uiters sorgsaam die agterdog en blaam in een rigting. Dit moet tog genoem word, dat die armes met ons is. Ek dink as mens dan met vooroordele begin praat, dan sou ek sê dieper besonkenheid is nodig oor hoekom ‘n ding gesê word.

  24. Februarie 12, 2009 11:08 nm

    Moenie bekommerd wees nie. Liewe Jesus sal daai kopstampende moslem satan gatkruipers uitsorteer.

  25. Wipneus! permalink
    Februarie 12, 2009 11:56 nm

    Baie goeie inskrywing Bib. Mens moet deesdae jou woorde tel voor jy uitlatings maak! Ek het besluit om dan eerder stil te bly en niks te sê nie!

    Ons het laasweek 2 “hoë” manne hier by ons gehad. Ek was verstom om te hoor hoe hulle Mugabe sleg sê, hulle het selfs gefluister dat Mugabe en Mbeki familie bande het! En het met smaak vertel dis hoekom hy (Mbeki) nooit regtig teen Mugabe wou optree nie.
    Ek het ongemaklik rond geskuif want ek moes polities korrek bly, wat sê mens nou in so situasie?
    Ek het maar net groot oë, my kop geskud en gesê: eishh!!!
    Dit het gewerk!! 🙂

  26. Februarie 13, 2009 1:08 vm

    LOL @ Wipneus

  27. Februarie 13, 2009 4:33 vm

    Jy is SO reg met hierdie inskrywing. Ek het ook die kommentaar baie geniet 🙂

  28. Februarie 13, 2009 9:50 nm

    Dankie Emil! Ek droom oor skreeuende arende op my tong! 🙂

    Tog, dit alles gesê, moet mens wel maar oordeelkundig en met oorleg die semantiek toepas

    Ek dink beide hierdie woorde en Johan se kommentaar sluit aan by alleman se kommentaar. Dat mens nie feitestellings moet aanwend om jou eie vooroordele te bevorder nie. Tog dink ek daar ‘n eerliker en meer reguit gesprek in SA nodig is, veral waar dit ras aangaan. Ek is bevrees dat as mense nie doelbewus die keuses begin maak om stadigaan op te hou om op eiers te loop nie, politieke korrektheid sonder vervaldatum sal voortduur. En hierdie woorde rig ek veral op die Suid-Afrikaanse media.

    Dankie vir almal se insette en deelname tot die gesprek.

    NS: Vaktap, as jy geen konstruktiewe bydrae het om te lewer nie, moet dit asseblief nie op my blog doen nie!

  29. Februarie 14, 2009 12:50 vm

    Emil – Daar is geen skema nie.

Trackbacks

  1. A Different View of Reality » Screaming Eagle Award for Best Post February 2009

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: