Skip to content

Op Kelderbesoek in Korea

Maart 18, 2009

S7302298

Cheongdo is ‘n klein dorpie (bevolking 50 000) ongeveer ‘n halfuur suid van Daegu en op die oog af is daar nie veel rede om die moeite te doen om hier te besoek nie…dis nou te se as jy nie bewus is van tamatiepruime (persimmons) nie. Nou kyk, tamatiepruime is baie gewild in Korea en op geen plek meer so as in Cheongdo nie. Hierdie area produseer 90% van alle tamatiepruime in Korea en jy kan hierdie gewilde vrug feitlik in enige vorm hier raakloop: vars, gedroog, in sjokolade, in lekkers, roomys, spesiale kaas en natuurlik wyn!

S7302230S7302233

Sover ek kon vasstel is die Cheongdo Wynkelder (algemeen bekend as die Cheongdo Wine Tunnel) die enigste kelder in Korea enigsins vergelykbaar met ‘n konvensionele wynkelder. Juis ook oor waar die kelder gelee is, is dit ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid in die area. Dis gelee onder die grond in ‘n baie ou treintonnel wat in onbruik verval het. Die eienaars het in 2003 die inisiatief geneem toe hulle besluit het om hierdie ou tonnel in ‘n kelder te omskep en dit daarna ook vir die publiek oop te stel. Die tonnelkelder is baie atmosferies in die skemerlig en herinner baie aan soortgelyke wynkelders in die Kaap – selfs met ‘n reuse bottel buite die kelder a-la Simonsvlei . Hier kan jy dan ook van die wyne proe en koop, tesame met ander komplimenterende items, soos die lekkerste Franse bloukaas. Hulle produseer egter net drie wyne: ‘n semi-soet (genaamd Regular), ‘n droe weergawe (genaamd Special) en ‘n yswyn (gemaak van gevriesde tamatiepruime). Al drie hierdie wyne is oesjaarwyne. Ongelukkig is slegs die semi-soet en die droe wyne te proe, aangesien die yswyn in baie klein hoeveelhede gemaak word en baie duur is. Die hele opset is baie professioneel en die verpakking van die wyne van hoe gehalte. Maar hoe smaak hierdie wyne? Ek bepaal my by die Gamgrin Regular 2006 , aangesien hierdie wyn vir my die drinkbaarste was.

S7302201S7302238

Die kleur is diepgoud en briljant. Net op die kleur geoordeel, sou ek skat dit is ‘n verouderde botritiswyn. Die neus van die wyn lei my verder skeef, want dit vertoon die prominente geure van oorryp nartjies, lemoene en rosyntjies. Natuurlik tel mens ook maklik die geur van tamatiepruim op. Die neus is verrassend kompleks, want na ‘n rukkie tref mens ook aanduidings van appeliefie aan, tesame met ‘m moeilik beskryfbare parfuumagtige aangenaamheid.

S7302215S7302220

Die wyn is soet op die tong, maar nie so soet as wat die kleur en neus wil voorgee nie. Dis eers op die tong wat jy besef jy het hier met ‘n perd van ‘n ander kleur te doen. Die tannienaanslag van vrugte-tannien is skerp en onvergewendend op die tong en dit voel kompleet soos om ‘n droee roomysstokkie te lek. Vir my nie so aangenaam nie, want dit laat die tong rasperig en droog. Maar die kelder verkondig dan ook juis die wyn as ‘n hoe tannienwyn, want dis blykbaar wat die wyn so gesond maak – die hoe tanniene afkomstig van die dik skil. Hulle produseer dus met juisste die wyn met so ‘n hoe vrugtetannien. En dis net op hierdie punt waar ek besef hoekom druiwe die gekose vrug is om te verwyn. Maar dit bly ‘n interessante smaakervaring en onnutsig soos wat ek is, gaan ek ‘n botteljie saambring as ek weer koersvat SA toe, die wyn in ‘n blinde proe ingooi en kyk of ek ‘n paar wynproewers om die bos kan lei…👿

S7302223S7302254

Afgesien van tamatiepruime, is Cheongdo ook bekend vir hulle bulgevegte. Daarom vind mens die bulmotief oral in die dorpie en ook in die kelder self, waar spesiale keramiek “bulbottels” te koop is. Daar is ‘n groot, moderne stadion en die jaarlikse bulgevegfees is juis einde van hierdie maand. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag…

15 Kommentaar leave one →
  1. Maart 18, 2009 10:32 nm

    Kry ek nou sulke koue rillings van daardie roomysstokkie beskrywing! Ek het ook al van die wyn geproe en dis nie te sleg nie, maar ek verkies maar ‘n goeie rooie! Jammer jy kon nie die ys-wyn proe nie!

  2. Maart 18, 2009 10:48 nm

    Dit is nogal jammer van die yswyn, maar as dit enigsins te meet is aan die gewone wyn, koop ek veel eerder ‘n goeie (egte) Kanadese of Duitse yswyn vir helfte die prys. Yswyn is hemels!

  3. Maart 19, 2009 5:54 nm

    Waarvan word daai wyn gemaak?

  4. Maart 19, 2009 8:03 nm

    Ek dink ook nie ek hou van daai droë roomysstokkie effek nie. Ek sit al klaar hier in hoendervel ingegril…. Lekker beskryf BIB!

  5. Maart 20, 2009 1:48 vm

    Dankie, Pik!

    PV, jy’t nou alweer net prentjies gekyk!

  6. Maart 20, 2009 6:08 nm

    O . . . ja . . . uhm.

    “oorryp nartjies, lemoene en rosyntjies” gross!!!

  7. Maart 21, 2009 12:40 vm

    PV, probeer gerus Delheim Edelspatz, Slanghoek Noble Late Harvest of Paul Cluver se sublieme Riesling Noble Late Harvest, dan gesels ons weer.

  8. Maart 21, 2009 4:30 vm

    Interessant! Ek het nog hier ‘n bottel “goed” wat ek by die Koreane gekry het, ek weet nie of dit as wyn beskryf kan word nie. Ek hou dit liewer vir ‘n ornament.

  9. afrikola permalink
    Maart 21, 2009 4:39 nm

    Waar op dees aarde is hierdie woord,tamatiepruim, uitgekrap,ek dink dadelpruim is n beter beskrywing.Sien die vrug word in die laaste jare op n groot skaal om Bonnievale en Buffeljagsrivier aangebou vir uitvoer in die Ooste.
    Het op hierdie beskrywing afgekom,”dan proe dit soos n groen tamatiepruim,asof dit my mond die verkeerde kant na buite toe wil omdop” En hoe edel vrotter,des te beter!As n mens die keller so kyk lyk dit of hulle treinvragte daar uitry.

  10. Maart 21, 2009 10:45 nm

    Dis ‘n pragtige plek met baie mooi foto’s!
    Interessante inskrywing Bib.
    Hoe proe die tamatiepruim sjokelade? 😛

  11. Maart 22, 2009 5:25 vm

    Vir Spys-en-drank…amen!🙂 gee my ‘n lekker soet rooi wyn en ek is gelukkig soos more heeldag! maar nee dankie vir die blou kaas!

  12. Maart 22, 2009 9:37 nm

    Wip, die sjokolade smaak soos alle sjokolade – lekkerrrr!
    Kop, hou dit maar as ornament – netnou is die Koreaanse vuurwater (soju) en dan gaat jou “kop” behoorlik draai!
    afrikola, ek weet “dadelpruim” is ook ‘n benaming, maar persoonlik lyk die “tamatiepruim” vir my meer na tamatie as na dadel🙂 Interessant wat jy noem aangaande die verbouing daarvan in SA.
    Nikita…jy weet nie wat jy mis nie.

  13. Maart 31, 2009 10:51 nm

    Hier is ‘n interessante artikel oor bulgevegte in Korea.

  14. Giel Rossouw permalink
    April 30, 2014 10:39 nm

    Ek sien in ‘n woordeboek die volgende name vir Pesimmon : Tamtiepruim ; dadelpruim en kakiepruim. Wie my dalk die oorsprong hiervan verduidelik.

Trackbacks

  1. Bul teen Bul « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: