Skip to content

Waar die Koue Oorlog steeds woed…

Maart 29, 2009

nkoreaskorea

Noord-Korea staan hierdie komende week op die punt om hulle nuwe langafstand ballistiese missiel, genaamd Taepodong II, te toetsvuur vanaf die Musudan-toetsgronde in die noordooste van die land. Hoewel Noord-Korea volhou dat hulle ‘n kommunikasie-satelliet gaan lanseer, is daar konsensus binne intelligensiekringe dat Noord-Korea inderdaad beplan om ‘n ballistiese missiel te toetsvuur. Dit is in weerwil van ‘n VN-resolusie wat sodanige toetse deur Noord-Korea verbied. Suid-Korea, die VSA en Japan is verstaanbaar ontsenu oor die toets van ‘n gevorderde missiel wat teoreties sover as Alaska kan trek. Al drie hierdie lande het reeds Aegis-klas oorlogskepe in die Oos-see ontplooi, wyl beide die VSA en Japan aangedui het dat hulle moontlik die missiel sal probeer afskiet, indien dit gevuur word. Veral Japan is op hete kole, aangesien die missiel se toetsbaan heel moontlik oor Japan sal strek (soos met vorige toetse die geval was). Die vrees bestaan dat, sou daar iets fout gaan met die toets, dit bo Japan kan gebeur (in 2006 het die vorige poging om die Taepodong II te toetsvuur gefaal en brokstukke het in die Oos-see neergstort).

Binne hierdie konteks dink ek die tyd is gepas om te skryf oor my onlangse besoek aan die grens tussen Noord-en Suid-Korea, insluitend die historiese konteks van die verdeling en redes vir die dikwels stormagtige verhouding tussen hierdie twee state.

S7302046

Dit was ironies, maar miskien tog gepas, om op ‘n baie koue, mid-winter dag die laaste front van die Koue Oorlog te besoek. Terwyl die Koue Oorlog lank reeds deel van die geskiedenis is, klaar beskryf en ontleed, woed dit steeds voort hier op die 38ste Breedtegraad in Korea. Dis hier waar twee van die grootste staande weermagte in die wereld uitdagend teenoor mekaar opgestel is, altyd paraat op die moontlike voortsetting van ‘n dekades-oue oorlog. Prakties gesproke is die Koreaanse Oorlog reeds in die middel van 1953 beeindig, maar tegnies verkeer Noord-Korea en Suid-Korea steeds in ‘n staat van oorlog, aangesien daar nooit ‘n vredesooreenkoms gesluit was nie. Nie een van hierdie twee lande erken die ander as ‘n onafhanklike staat nie.

S7302049

In Julie van 1953 is ‘n permanente skietstilstand onder VN-toesig bewerkstellig en ‘n groot stuk niemandsland is geskep – die sogenaamde Ge-demilitariseerde Sone, beter bekend nav die Engelse afkorting, DMZ. Dis eintlik ongelooflik dat hier, op ‘n oorbevolkte kontinent, ‘n onbewoonde stuk aarde le van 4km breed, wat ongeveer 240km lank strek vanaf die Geel-see tot by die Oos-see. Die amptelike grens tussen Noord en Suid (bekend as die MDLMilitary Demarcation Line) is verbasend genoeg slegs ‘n strook onindrukwekkende wydgespasieerde klein wit paaltjies. Mens moet egter onder geen illusies verkeer nie. Ongeveer 2km na beide kante van die MDL, waar die DMZ begin, staan die hoe lemmetjies en rol-draad grensdrade trippelvoudig, met addisionele elektriese heinings en allerhande hoe-tegnologie sensors en kameras, omring met duidelike waarskuwings van mynvelde – ‘n pertinente aanduiding dat jy die mees gemilitariseerde stukkie aarde op hierdie planeet betree. Hier word gereeld militere oefeninge gedoen en dag en nag gepatrolleer. Weens hierdie stand van sake, klassifiseer die Suid-Koreaanse Weermag sekerlik as een van die paraatste magte in die wereld.

S7302038

Agv verbeterde verhoudinge tussen die Noorde en die Suide die afgelope dekade of wat, het die DMZ baie gewild geraak as ‘n toeriste-aantreklikheid. Amper soos ‘n perverse tipe oorlogstemapark waar jy 50 jaar teruggewerp word na ‘n era toe ‘n bipolere wereldorde so dikwels op die rand van verwoestende oorlog gehuiwer het. Georganiseerde toere vertrek daagliks vanaf Seoul en die DMZ -toer is op meeste toeriste se moet-doen lysie, wanneer hulle Korea besoek. Natuurlik gaan hierdie toere gepaard met baie streng sekuriteit en daar is ‘n hele rits moets-en-moenies. Van die klere wat jy mag dra tot waar presies jy mag foto’s neem en nie, word streng gereguleer deur Suid-Koreaanse soldate wat die toere vergesel. Nogtans bly die toere baie gewild.

S7302052

Die sogenaamde “vredesdorp” van Panmunjeom, ook bekend as die Joint Security Area (JSA), is sekerlik die bekendste gesig verteenwoordigend van die DMZ. Dis hier waar soldate van die Suide en Noorde mekaar op daaglikse basis aangluur en bespied. Panmunjeom is ‘n gedeelde bestuurde gebied tussen Noord en Suid en val onder die VN se gesag. Die nederige rits blou geboue, is waar verteenwoordigers van die VN, Suid en Noord mekaar ontmoet en, indien nodig, samesprekings voer. Dis ook hier waar die skietstilstand in 1953 onderteken is. Die konferensiegeboue le wydsbeen oor die MDL en word so in twee verdeel. Indien afgevaardigdes vanaf beide kante van die grens ontmoet, kom hulle deur die deur aan hulle kant van die grens, die gebou binne. Die Noorde bewaak die deur wat oopmaak na die Noorde en ditto vir die Suide. Hier by Panmunjeom sien jy werklik hoe die Koue Oorlog steeds in swang is. Hier is die waghuise uitdagend regoor mekaar geplaas en verkykers en kameras bespied mekaar se elke bewing, opsoek na die geringste afwyking vanaf die opponerende magte se daaglikse sloerroetine.

S7302053

Deur die jare sedert die oorlog het die Suide verskeie tonnels ontdek wat deur die Noorde binne die DMZ gegrawe is met die doel om die Suide molsgewys binne te val. Daar is reeds vier ontdek, maar die vermoede is dat daar nog vele meer kan wees. Die grootste van hierdie tonnels, is die sogenaamde Derde Tonnel, ontdek gedurende 1978. Vandag kan toeriste 300m na die buik van die aarde ry met ‘n eenspoortrein, om hierdie 1.6km tonnel, wat ongeveer 2x2m in grote is, te besigtig. Na ontdekking van die tonnel, is dit op die denkbeeldige grenslyn onder die aarde deur die Suide met baie, baie lae versterkte beton gesluit. Hierdie tonnel is nie aan te beveel vir mense met engtevrees nie. Dit voel kompleet asof jy onder in ‘n humiede goudmyn stap en plek-plek is die spasie effe nou. Hierdie is egter geen goudmyn nie en hier is geen grondstowwe te vinde nie (al het die Noorde na die onbloting van die tonnel destyds beweer dat hulle besig was om vir steenkool te grawe!).

S7302037

Binne die DMZ, aan die Suide se kant, vind mens die nedersetting van DaesongDong – die enigste burgerlikes wat binne die DMZ woon. Hierdie dorpie van nagenoeg 200 inwoners word bewoon deur die direkte nageslag van families wat hier gewoon het voor die uitbreek van die oorlog. Hierdie klompie boere met hulle ryslande het inderdaad ‘n interessante lewenstyl. Hulle betaal geen belasting nie en is van diensplig vrygestel (Suid-Korea het verpligte tweejaar-diensplig en Noord-Korea ‘n ongelooflike tien jaar!). Onder die wakende oog van patrollerende soldate werk hulle op die lande en saans na donker word die deure en luike gesluit om sodoende die aandklokreel te eerbiedig.

S7301747

Reg teenoor Daesongdong, aan die Noord-Koreaanse kant van die grens, vind mens die spookdorp, KijongDong, beter bekend in die Suide as “propaganda village”. Dit is ‘n onbewoonde dorp, kompleet met netjiese woonstelblokke, wat gebou is om die Noorde se “welvarendheid” aan die Suide te vertoon. Al lewe wat daar egter in hierdie dorp is, is die groot Noord-Koreaanse luidsprekers wat dag en nag luide propaganda-boodskappe uitsaai. En bo hierdie spookdorp waak ‘n monsteragtige Noord-Koreaanse vlag van ongeveer 250kg en 31m in lengte op die hoogste vlagpaal in die wereld wat ‘n volle 160m die lug in reik. Die grandiose afmetings van beide hierdie vlag en die paal is direk gemik daarop om die Suid-Koreaanse vlag wat bo DaesongDong wapper, te verdwerg.

S7302043

Onder die vorige Suid-Koreaanse President, Roh Moo Hyun en sy voorganger, Kim Dae Jung, se sogenaamde Sonskynbeleid, het die kille betrekkinge tussen Noord en Suid vanaf die draai van die eeu stelselmatig verbeter. Die Sonskynbeleid het die hoop laat opvlam vir die hereniging van die twee Koreas – ‘n droom vir vele Suid-Koreane. Die verbeterde betrekkinge het oa gelei tot die eerste opening van ‘n spoorverbinding tussen die twee lande sedert die oorlog, asook padverbindinge. Voorts is ‘n industriele kompleks buite Gaesong in Noord-Korea ontwikkel, waar Suid-Koreaanse maatskappye hulself gevestig het om Noord-Koreaanse arbeid te benut. Toerisme is ook aangemoedig en gereelde toere het plaasgevind na die Gaesong-kompleks en Geumgangsan in die suid-ooste van Noord-Korea.

S7302045

Gedurende Roh se bewind het twee historiese spitsberade ook tussen hom en die Noord-Koreaanse leier Kim Jung Il plaasgevind, waartydens verskeie ooreenkomste onderteken is. Die pragtige nuwe Dorasan-stasie, net suid van die DMZ is ook voltooi (56km noord van Seoul en 205km suid van Pyongyang ) en is in 2002 ingehuldig, nie as die laaste stasie in die Suide nie, maar die “eerste stasie na die Noorde”. Die stasie, met sy indrukwekkende muurskilderye, staan egter steeds gewyd en spokerig leeg met bordjies wat optimisties Pyongyang aandui en ‘n reuse kaart teen die muur wat die Koreaanse droom van ‘n Trans-Eurasiese spoornetwerk (wat vanaf Suid-Korea, deur die Noorde tot in Londen loop) uitbeeld. Tot dusver is slegs 15km spoorlyn egter gebou na die Gaesong industriele kompleks.

S7302044

Tydens die Roh -bewind het samesprekings tov die beeindiging van Noord-Korea se kernprogram, onder geesdriftige aanmoediging van die VSA, ook belofte getoon. In ruil vir hierdie vordering en met die oog op versoening het die Roh-administrasie doelbewus daarvan weggeskram om enigsins Noord-Korea te kritiseer vir hulle menseregtevergrepe. Roh het ook feitlik voorwaardeloos voedsel -en ander hulp aan die honger en bankrot Noorde geskenk. Verdere vordering onder Roh het ingesluit emosioneelbelaaide sporadiese ontmoetings tussen familielede van die Noorde en Suide wat sedert die oorlog geskei was. Dit het plaasgevind by die sg. Vryheidsbrug oor die Imjin -rivier. Huidiglik is daar nie meer ontmoetings nie, maar die Suid-Koreaanse vlag wapper dapper in die son, waar dit waak oor die duisende boodskappe, klaagliedere en wense deur verlangende en hoopvolle Suid-Koreane daar aangebring.

S7302048

Die wiel het egter gedraai sedert die verkiesing van die meer konserwatiewe Lee Myung Bak as Suid-Koreaanse President in 2007. Betrekkinge tussen Noord en Suid het die afgelope jaar beduidend versleg en word nou weer eens gekenmerk deur militante en dreigende retoriek vanuit die Noorde. In teenstelling met Roh se beleid het die Lee-administrasie van meet af nie daarvan weggeskram om die Kim-regime in die Noorde te kritiseer oor hulle menseregterekord nie. Lee stel dit duidelik dat die Noorde eers moet afsien van hulle kernprogram, alvorens betrekkinge kan normaliseer. Lee het ook hulpverlening aan die Noorde begin koppel aan vordering van die aftakeling van die Noorde se kernprogram.

S7302040

In teenreaksie, het die Noorde reeds verskeie keer na Lee as ‘n “verraaier” verwys en die spoorverbinding toegemaak, asook die toere na Gaesong stopgesit. Die ekonomiese bedrywighede by Gaesong is voorts afgeskaal en in ‘n simboliese stap het die Noorde verskeie Suid-Koreaanse besigheidspersoneel, betrokke by Gaesong , gedeporteer. Om verdere olie op die vuur te gooi, is ‘n Suid-Koreaanse toeris sowat ses maande gelede by Geumgangsan deur ‘n Noord-Koreaanse soldaat doodgeskiet en dit het weer gelei tot die beeindiging van toere na Geumgangsan. Op die oomblik is die ses-nasie (Noord-Korea, Suid-Korea, die VSA, Rusland, Sjina en Japan) kernsamesprekings stagnant. Noord-Korea het onlangs aangedui dat die regime weer hulle kernwapenprogram gaan hervat, nadat daar groot hoop gedurende 2008 was toe die Noorde hulle program sigbaar begin aftakel het. Boonop is die gesondheid van Kim Jung-Il onder verdenking na ‘n beweerde beroerte en hospitalisering in Augustus verlede jaar. Daar word gevrees dat rigiede sg. “valke” binne die Noorde se weermag al hoe meer hulle invloed laat geld. Onlangse berigte wil dit egter he dat Kim blakend gesond is en ten volle in beheer. In Februarie is sy 67ste verjaardag met groot fanfare gevier.

S7302054

Op hierdie spesifieke oomblik is betrekkinge tussen Noord en Suid so koud soos die wit-bevrore Imjin-rivier wat deur die grensgebied kronkel. Sedert die begin van 2009 het die retoriek vanuit die Noorde al hoe feller geword en het hulle talle ooreenkomste van die tien jaar beeindig. Hulle dreig ook met oorlog en waarsku die Suide dat hulle hulself moet “voorberei”. Die Noorde het die afgelope maand grensdeurgang na Gaesong sporadies gesluit en so verskeie Suid-Koreane binne die Noorde gestrand gelaat. Dit is gedoen om beswaar aan te teen die VSA en Suid-Korea se jaarlikse gesamentlike militere oefeninge. Soos reeds genoem, het Noord-Korea ook aktief begin voorbereidings tref om hulle mees gevorderde ballistiese missiel te toetsvuur. Op sigwaarde kom die Noorde se retoriek en dade baie onheilspellend voor, maar mens moet ook inagneem dat hulle baie graag die nuwe Amerikaanse administrasie se aandag wil trek omdat hulle in werklikheid desperaat is vir hulp en ontwikkeling. En Noord-Korea is verseker op Obama se al hoe langerwordende “om te doen”-lysie.

S7302047

Uit elke slegte situasie kom daar egter, ironies genoeg, so dikwels iets goeds na vore. Met die skep van die DMZ in 1953, het die strydende faksies onwetend ‘n paradys vir fauna en flora geskep. Reeds vir amper 60 jare le hierdie groot strook land braak aan enige mense of ekonomiese ontwikkeling. Dus het hierdie area ‘n paradys geword vir skaars soorte diere, plante en voels. Dis ‘n wonderlike natuurlike bewaringsarea, waar moeder natuur ongestoord haar eie gang kan gaan. Die hoop word uitgespreek dat, sou hereniging geskied, die DMZ ‘n bewaringsarea sal bly. Op die ou-end kan hierdie strook aarde ‘n paradoksale nalatenskap en herinnering wees aan ‘n tyd van trane en tragedie toe ‘n volk verskeur was.

S7302055

In Suid-Korea (en – sou ‘n mens wou glo – in die Noorde) bly die droom onbeskaamd leef dat die twee Koreas uiteindelik weer sal herenig. Dat geskeurde families weer sal saamwees. Dat die Koue Oorlog uiteindelik in elke faset sal verby wees. Dat ‘n herenigde en welvarende Korea sonder grensdrade en gebalde vuis, weer sy regmatige plek in die wereld sal inneem. Die Noord-Koreane en die Suid-Koreane is immers een volk met ‘n gemene taal, tradisie en kultuur. Korea was ‘n verenigde staat vir ongeveer 13 eeue en is maar eers die afgelope 6 dekades verdeel. Ekself glo dat hereniging ‘n historiese onafwendbaarheid is. Maar wanneer en hoe is op hierdie stadium ‘n wetenskap vir waarseers…

S7301645

 

Advertisements
15 Kommentaar leave one →
  1. Maart 30, 2009 2:01 nm

    Dit sou fantasties wees as dietwee sou herenig, want dan kan mens die Noorde sien sonder om eers Sjina toe te vlig en dan Noorde toe 😉

    Ek dink egter ook dat die Suide eers bietie wil opbou in die Noorde itv nywerhede ens. anders gaan ‘n samesmelting dalk die Suide aftrek wat die ekonomie aanbetref!

    Ek het ook die DMZ vroeer in die jaar besoek en dit was nogal ‘n ervaring en dis iets wat ek dink almal moet sien wat hier kom. Jy het my egter voorgespring met ‘n inskrywing, maar dalk plaas ek tog later een 😉

    Dankie vir die deel hiervan!

  2. Maart 31, 2009 3:52 vm

    Wat se geluid maak die Taepodong II as hy iets tref? “Dong” seker!?

    Dis ongelooflik wat mense eintlik aan hulle self kan doen. Die natuurbewaringsstrook is darem ‘n ligpuntjie.

  3. Maart 31, 2009 9:15 nm

    Die Koue Oorlog woed ook nog in die gemoedere van die ANC, moenie verbaas wees as jy Kim Jong Il by Zuma se inhuldiging sien nie.

  4. April 1, 2009 2:26 nm

    Bib, wat ‘n interessante inskrywing.

    Die foto’s dra ook perfek oor, hoe ek Korea voorheen gesien het (voor blogging/kaalvoet/Bib) Korea was vir my so kil, koue land, die mense gevoelloos. Nou sien ek Korea as snaakse skrefies ogies mense , snaakse grillerige kos en ‘n fantastiese mooi plek.

    Dankie.

  5. April 1, 2009 8:35 nm

    Werklik ‘n interessante inskrywing. Soos die meeste oorloë was die eertydse Koreaanse oorlog ook maar vir en oor niks. Dit was aangrypend om die twee Korea’s by ‘n paar jaar terug se Olimpiese Spele ‘herenig’ te sien onder ‘n enkele vlag. Ek dink hierdie magstryd sal steeds voort woed solank die demokratiese en kommunistiese teenpole bestaan.

  6. April 1, 2009 11:20 nm

    Dankie vir julle wat deur hierdie lang stuk geworstel het en veral vir julle wat kommentaar gelewer het.. Ek weet dis nie sommer enigiemand se koppie (groen)tee nie – veral as jy nie belangstel in Korea of internasionale politiek nie.
    Kaalvoet, die Suide het inderdaad nodig om die Noorde eers finansieel op te hef, alvorens hereninging konstruktief kan plaasvind. Oos-Duitsland was baie minder geisoleerd en meer ontwikkeld en steeds was hereniniging nie soomloos nie.
    Kop….Dong, dong dong – klink soos die groot klok by die Notre Dame. 😆
    Ja, Bertus, maar ek twyfel of Kim dit sal maak – hy geniet nie veel van reis nie. Maar dat hy dalk genooi sal word – dit sal my nie verbaas nie.
    Dankie, Wip! Ek het hierdie foto’s met opset so kleurloos geplaas.
    Emil, ek het gedink jy sal dit interessant vind. Net twee dinge: 1) Soos met die destydse inval in Normandie (en anders as die oorlog in Irak), was die verdediging van Suid-Korea onder VN-vaandel sentraal tot die bewaring van ‘n uiteindelike demokratiese enklawe vis-a-vis die Noorde. As die Noorde se aggressie nie teengegaan is nie, het die hele skiereiland vandag gelyk en gefunksioneer soos die Noorde. Ek is ook trots op die feit dat Suid-Afrikaanse soldate hulle lewens gegee het vir Suid-Korea. 2) ek stem saam met die twee pole, maar Noord-Korea het lank reeds klassieke kommunisme en Maoisme agtergelaat. Al wat vandag oor is, is ‘n obskure persoonlikheidskultus in die Noorde, baie soos in 1984 deur Orwell beskryf is. In die Noorde is Kim Jung-il ‘n godheid en die mense aanbid hom. Ek sou die Noorde eintlik beskryf as ‘n totalitere militere diktatorskap oorspronklik geskoei op kommunistiese beginsels, maar lank nie meer kommunisties in die ware s’n van die woord nie.

  7. VanDonk permalink
    April 2, 2009 3:35 vm

    Ja BrB … die foto’s werk uitstekend om die koue en gevoeloosheid van die landstrokie tussen die 2 Koreas te wys. Ampers soos ek die muur onthou in Berlyn. Ook al ‘n leeftyd terug. Werklik uitstekende stuk wat jy saamgestel het!! Ek sien uit na nog!
    VanDonk

  8. April 3, 2009 5:00 vm

    Fantastiese fotos! Regtig, dit is eintlik kunsfoto’s. Die inskrywing is ‘n baie goeie blik op die geskiedenis en die moeilike situasie daar. Dankie.

  9. April 4, 2009 3:07 vm

    Dankie Boer, ek het hierdie stuk deurgelees en dit ontsettend interessant gevind en werklik geniet, het my nogal herinner aan die Berlyn-situasie. Jou foto’s is uitstekend! Ek is gek oor geskiedenis – maar net om dit te lees en plekke te besoek, moet dit nie vir my gee op te leer vir ‘n eksamen nie, dan haat ek dit! 🙂

  10. April 5, 2009 11:23 nm

    Van Donk, Rosa en Nikita – baie dankie vir julle positiewe kommentaar!

    En daar is die vuurpyl nou gevuur met die gebruiklike histerie wat daarmee gepaardgaan. En more is maar weer nog ‘n dag.

  11. rianabrand permalink
    April 7, 2009 2:35 nm

    Dankie vir die byskaaf van my kennis. Intressant en insiggewend. Mooi foto’s ook. Lekker dag.

  12. April 10, 2009 12:37 nm

    Ek sien die klein mannetjie Kim Jung Il is terug op die scene na sy beroerte. Was vanaand op die TV op BBC. Jou laaste paragraaf in die comments som dit mooi op: “Persoonlikheidskultus”. ‘n Mens kan jou amper nie indink dat iemand so veel hardship aan sy eie mense kan aandoen nie. Die mens, of sal ek se sommige mense bly maar diere. Kyk dan wat het gebeur in Ruwanda and nou nog in Dafur.

    So twee maande gelede het die National Geographic ‘n excellent artikel gehad oor ontsnapping van mense uit die Noorde en die nuwe stryd van aanpassing in die Suide (as hulle suksesvol is om by Suid Korea aan te kom.)

  13. April 15, 2009 2:20 vm

    Jung-il is inderdaad ‘n koddige mannetjie en soos tereg opgemerk word: “every day seems to be a bad hair day”. Hy lyk meer soos ‘n Casper de Vries karakter as ‘n diktator, maar ongelukkig is hy nie snaaks nie, maar gevaarlik. Dankie vir die Nat Gee leidraad – sal bietjie gaan soek.

Trackbacks

  1. Weer sal die Suide die ander wang moet draai « Boer in Ballingskap
  2. Die verdeelde skiereiland: ‘n Perspektief op die voortslepende spanning tussen Noord en Suid « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: