Skip to content

22 April 2009: ‘n Voorspelbare Formaliteit

April 5, 2009

690-1823-2657-0 23162920090226174549ACDP20090226174617Cope20090226174626DA20090226174647ID20090226174657IFPvote20090226174705UDM20090226174638FFPLus690-1823-2657-0 231629

Die vorige keer toe ek ‘n voorspelling gewaag het, het ek lelik op my neus gekyk. Maar ek gee nie om om verkeerd bewys te word en dit dan ook na die tyd te erken nie. Die vorige keer het ek ‘n kristalbal gehad, wat ek toe later weggesmyt het. Dit was ook ‘n onvoorspelbare sportgebeurtenis en van die begin af nie ‘n eenvoudige oefening nie. Hierdie keer waag ek ‘n voorspelling vir die Suid-Afrikaanse verkiesing later hierdie maand. Genadiglik is dit ‘n baie makliker oefening en ek het nie eers my kristalbal nodig nie. Ek gebruik sommer gewoon my gesonde verstand. Maar voor ek by die syfers uitkom, so bietjie agtergrond:

Wat mens van meet af moet besef is dat, getrou aan die Afrika-ervaring, verkiesings in Suid-Afrika ook die karakter van ‘n etniese sensus aanneem en spesifiek die vorm van ‘n rasse-sensus. Hoewel die ideaal nagestreef word van ‘n reenboognasie, waar stemme tydens verkiesings nie etniese voorspelbaarheid volg nie, weerspieel die werklikheid steeds Suid-Afrika se beheptheid met ras. (as jy my nie wil glo nie, gaan vergelyk gerus Suid-Afrika se rasse-demografie met die uitslae van verkiesings sedert 1994). Daar was tot dusver verskeie (onsuksesvolle) pogings om hierdie werklikheid te kierang.

Die DA streef reeds geruime tyd die ideaal van ‘n nie-rassige politieke party vuriglik na, maar hulle sukses in hierdie verband bly negeerbaar. Die (nou ontbinde) NNP het ook ‘n kortstondige poging aangewend. Die UDM is in 1997 met groot fanfare geloods met die doel om ‘n party te skep wat die rassekloof sou oorbrug. Dit het egter later maar net nog ‘n swart splinterparty geword wat rondom lojaliteit aan die persona van Bantu Holomisa bly voortbestaan. Nou is dit COPE wat opnuut met groot verwagtinge en ideale die politieke toneel tref. Inderdaad kan COPE moontlik ‘n oppervlakkige nie-rassige karakter aanneem, maar of hulle regtig die ANC gaan seermaak, is te betwyfel. Waarin COPE wel gaan slaag, is om die ander opposisiepartye seer te maak, met spesifieke verwysing na die DA.

Die etniese affiliasie van SA politieke partye is duidelik. Die enigste twee partye wat oenskynlik ‘n ware veelrassige steunbasis het, is die ID en tot ‘n mindere mate die ACDP – beide partye wat nie te suksesvol is nie. Dit volg nougeset die Afrika-patroon, waar meeste politieke partye wat hulself nie langs etniese kieslyne posisioneer nie, ongewild bly.

Verkiesings in Suid-Afrika gaan in werklikheid slegs daaroor om te bepaal wie die sterkste opposisie is. Alvorens daar nie ‘n dramatiese breuklyn ontstaan tussen die ANC aan die eenkant en Cosatu/SAKP aan die anderkant nie, sal elke nuwe party (selfs al word hulle aangedryf deur voormalige ANC -invloedrykes) slegs veg vir die handjiesvol opposisiestemme wat daarbuite in die politieke woestyn te vinde is.

Juis gesien in die lig van bogenoemde, is dit vir my soms vreemd hoeveel analiste fouteer deur die politiek (en dervolgens verkiesings) in Suid-Afrika te wil vergelyk met politiek in Westerse demokrasiee. Suid-Afrika is ‘n Afrika-staat en verkiesings moet derhalwe vergelyk word met die in ander Afrika-state. Demokrasie in Afrika werk effe anders.

In enige Westerse land, sou die skrif al lankal aan die muur gewees het vir die ANC (vergelyk die onlangse verkiesing in die VSA). Maar Afrikane stem nou maar eenmaal met hulle harte. Afrika het reeds duidelik bewys dat die gebrek aan prestasie van die regerende party geensins ‘n barometer is van sodanige party se gewildheid by die stembus nie. Die gemiddelde ANC -kieser kla en kerm en kritiseer die regering, maar as hy/sy by daardie stembus gaan staan, dan verdryf die nostalgie en jarelange lojaliteit baie vinnig rasionele politieke denke. Die kieser stem met die hart en trek dan maar weer eens die kruisie langs die geel-swart-en-groen skild-en-assegaai.

Hiemee dan nou my voorspelling vir die verkiesing:

verkiesing3

ANC: 267 setels66.75%. Die ANC gaan steun afstaan aan COPE, maar nie so dramaties soos daar in sommige kringe gehoop word nie. Mense verloor ook uit die oog dat die ANC heel moontlik aansienlike steun gaan wegrokkel vanaf die sukkelende IFP. Jacob Zuma is ‘n Zoeloe en boonop gewild in KwaZulu-Natal.

COPE: 45 setels11.25%. Hoewel die stryd tussen COPE en die DA baie fel gaan wees, glo ek dat COPE ‘n baie goeie kans staan om die DA as die amptelike opposisie te vervang (vir wat dit mag werd wees).

DA: 43 setels10.75%. Die DA gaan swakker vaar as in 2004, hoofsaaklik omdat hulle steun aan COPE gaan afstaan.

IFP: 12 setels3.00%. Die IFP is ‘n party wat se rakleeftyd verby is en ek verwag dat hierdie (eens gewilde party) noemenswaardig steun gaan verloor tkv die ANC en COPE .

Die kleiner partye, te wete die UDM (2.00%), ACDP (1.50%), ID(1.25%), PAC (0.75%) en die VF+ (0.75%) se steun behoort dieselfde te bly, dws baie lae vlakke van steun. Saam glo ek nie hierdie kleiner partye sal veel meer as 7% van die totale aantale stem op hulle verenig nie. Hierdie partye se enigste relevansie le op provinsiale vlak, waar hulle in sommige gevalle bruikbare alliansievennote is.

Dus:

As jy ‘n ANC -ondersteuner is en voel die party het jou steun nodig, gaan stem.

As dit vir jou belangrik is watter party die grootste opposisieparty is, gaan stem.

As dit vir jou belangrik is wie die Wes-Kaap regeer, gaan stem.

As die “gevaar van die 2/3 meerderheid” jou bangmaak (soos voorheen die “rooi gevaar” en die “swart gevaar”), gaan stem.

As jy dink dat jou stem kan lei tot ‘n nederlaag vir die ANC of selfs ‘n noemenswaardige verlaging van die ANC se meerderheid – moenie jou tyd mors nie!

Die verkiesing gaan weer met groot gejuig uitgesaai word en ontleed word, maar almal weet reeds lank vooraf wat die uitslag gaan wees. Die verkiesing in Suid-Afrika is bloot ‘n voorspelbare (en baie duur!) formaliteit. Amper soos die jare wat Michael Schumacher tot vervelens toe die Formule 1 oorheers het en die opwinding daaraan gekoppel was om te sien hoe ver hy wen en wie tweede gaan kom. Dis al wat die Suid-Afrikaanse verkiesing interessant maak – om te kyk hoe ver die ANC hierdie keer gaan wen en om te bespiegel oor wie tweede gaan kom…

  • ACDP: African Christian Democratic Party (gestig 1993) Leier: Kenneth Meshoe.
  • ANC: African National Congress (gestig 1912) Leier: Jacob Zuma
  • COPE: Congress of the People (gestig 2008) Leier: Mosiuoa Lekota / Presidentskanidaat: Mvume Dandala
  • DA: Democratiese Alliansie (gestig 2000) Leier: Helen Zille
  • ID: Independent Democrats (gestig 2003) Leier: Patricia de Lille
  • IFP: Inkatha Freedom Party (gestig 1975) Leier: Mangosuthu Buthelezi
  • NNP: Nuwe Nasionale Party (1997-2005)
  • PAC: Pan Africanist Congress (gestig 1959) Leier: Letlapa Mphahlele
  • UDM: United Democratic Movement (gestig 1997) Leier: Bantu Holomisa
  • VF+: Vryheidsfront+ (gestig 1994) Leier: Pieter Mulder

690-1823-2657-0 23162920090226174549ACDP20090226174617Cope20090226174626DA20090226174647ID20090226174657IFPvote20090226174705UDM20090226174638FFPLus690-1823-2657-0 231629

41 Kommentaar leave one →
  1. April 6, 2009 1:12 vm

    Ek dink die ANC gaan minder steun kry; sal nie verbaas wees as hulle by die 60% – 62% draai nie. Verder sal ek ook baie verbaas wees as Helen Zille nie die nuwe premier in die Wes-Kaap word nie, veral as mens onlangse tussenverkiesings in ag neem (bv Mitchell’s Plein waar die DA 79% van die steun gekry het in ‘n wyk wat voorheen deur die OD gewen is).

    Ek dink COPE gaan in provinsies soos die Oos-Kaap en Gauteng ook ‘n groter impak maak wat minder ANC LPs gaan beteken.

    Maar nou ja, ek kan seker ook verkeerd wees.

  2. April 6, 2009 3:18 vm

    Ag hel, BiB, ek hoop ten minste hierdie keer is jy verkeerd. Ek stem saam met George – ek dink darem die Wes-Kaap sal DA wees. Ek wens, hoop en bid vrek hard die ANC kry ‘n bloedneus!

  3. April 6, 2009 5:15 nm

    Boer, moenie neerslagtig of fatalisties raak nie. Die slak klim Berg Foedji uit, maar hy doen dit baie stadig.

    Ek het ‘n vriend in die VSA wat al dekades vir die Amerikaanse sosialistiese party stem. Nou daar is iemand met min hoop, maar nogtans gaan hy elke verkiesing stembus toe, want dis sy voorreg om sy stem gehoor te kan kry. Partykeer het mens net ‘n morele plig (in die losser sin van die woord plig, dalk eerder ‘n voorreg) om jou stem te lig en vir die ANC (en Cope) te sê ons hulle moet in hul moer vlieg, ons wil hulle nie hê nie. Dan gaan stem mens, ongeag wat die verwagte uitkomste op ‘n pragmatiese vlak is.

  4. April 6, 2009 5:30 nm

    Ek is seker maar verkeerd, maar ek is baie versigtig vir die COPE “clan”. Niks verhoed hulle om na die verkiesing met die ANC sam te staan nie. Afrika reël is “the winner takes it all”. Daar is nie tweede plek nie. Alles of niks.

  5. Sammi permalink
    April 6, 2009 8:06 nm

    En nou vier die massas fees, want Zuma is vry en dit op ‘n tegniese punt. NPA sê jammer TOG dink ek dat stadig maar seker die denkendes meer en meer gaan vrae vra. En die jonger, opgevoedes hul oumas en tannies gaan leer oor die “herd” mentaliteit vorentoe – hopelik!
    BAIE goeie artikel Boer – ek voorspel dat die ANC 63% gaan kry…

  6. April 7, 2009 12:05 vm

    Soos met die vorige verkiesings, staan die DA ‘n goeie kans in die Wes-Kaap, waar die pro-en anti-ANC steun al hoe sterker rasgewys verdeel word. Die DA sal egter verseker weer koalisievennote nodig he en die koalisievorming kan dalk weer ‘n drama opsigself wees. Ek is egter nog nie bereid om die ANC in die Wes-Kaap af te skryf nie.
    Ek het soveel gemengde gevoelens oor beide Zuma en COPE. Ek kon nog nie vir Zuma lekker plaas nie. Hoewel dit voorkom asof hy met sy hart op sy mou loop, lyk dit egter ook asof hy vir verskillende gehore verskillende goed se. ‘n Voorbeeld is sy onlangse heuningsmerery teenoor Afrikaners. Hoe opreg is hy werklik met hierdie en baie ander sake? Ek weet nie…Hy’s ook miskien gewilder as wat die media wil toegee.
    Hoewel COPE gesien word as die nuwe lig in die wapad, moet mens ook onthou dat hulle hoofsaaklik ‘n klomp Mbeki-meelopers is wat saam met Mbeki die magstryd binne die ANC verloor het. En ons het genoeg van Mbeki en sy idees gehad.

    Daardie slak teen die berg moet maar net versigtig wees dat niemand op hom trap voor hy bo is nie.🙂

  7. April 7, 2009 3:43 vm

    Wat Zuma betref, is dit ‘n muntstuk met twee kante: aan die eenkant hoor ek Dingaan se impi’s vir Piet Retief in nooi. Aan die anderkant dink ek weer, omdat hy ‘n neo-liberalistiese beskouing van kapitalisme het, hy nie sommer die rewolusionêre elemente te veel kan paai nie. Die onlangse klanke in erkenning van die Afrikaner se rol in die geskiedenis is bemoedigend. Die tyd sal leer.

    Sonder om fatalisties te klink, ek kan ook nie help om aan die populêre verkiesing van ‘n ene Hitler te dink nie. Populêre en “werkersklas” steun was nog altyd voorspel tot rewolusie en diktatorskap. Dan weer, solank ‘n president nie “lewenslank” in die stoel sit nie, is dit seker nog veilig.

    COPE se steun word wel oorskat, maar ek dink nie dit is so lig so jy dit afmaak nie. Almal vrees ‘n alliansie tussen COPE en die ANC – die onlangse broederstryd, vermoed ek, maak dit ‘n onmoontlikheid. Ek sal my glad nie verbaas in die DA en COPE iewers saam “bedmaats” word nie. In die Wes-Kaap is daar ook nog Patricia de Lille, en die staan al amper klaar hand om die blaas met Zille.

    Die ANC kry wel tussen 60%-65% steun, met heel moontlik ‘n nuwe opposisie, of ‘n sterker DA. Interessante tye!

  8. April 7, 2009 5:34 vm

    Jy is seker reg Boer, as mens kyk hoe vandag se verrigtinge gestage is, dan is dit seker net nog ‘n formaliteit. Ek het ook al gesien dat analiste wat graag wil hê die ANC moet steun verloor die pot so mis sit.

    Dis regtig ‘n grap hoe die nou hier gaan. Ek kan net nie glo dat al daardie joernaliste daar sit en nie een vra die regte vraag nie: Hoekom is Zille en de Lille uitgesluit? (Goed ek het nie heeltyd geluister nie, dalk het ek dit gemis.)

    Die ander ding wat my bietjie verstom is dat na die aankondiging die Rand versterk het. Mens sou dink die wêreld is teen korrupsie? Of is dit dalk ‘n beter klimaat vir sake?

    Ek hoop regtig ook jy’s verkeerd met die hoeveelheid steun aan die ANC, maar ek hoor iewers het die DA ‘n stadsaal bespreek, skielik is dit toe nie beskikbaar nie, toe hulle dreig met hof is dit weer beskikbaar, maar toe is daar bomdreigemente en ontlasting voor die deure. Met intimidasie kan hulle dalk jou syfer bereik.

  9. April 7, 2009 5:58 vm

    Zuma is ‘n hartseer storie en al probeer mens hard na albei kante kyk kom dit daarop need dat gedeelte van SA bly is vir die uitspraak, maar dat daar wel ‘n groot presentasie is wat verby de hel is vir die uitslag.

    Cope en DA het n groot verantwoordelikheid om die beheerende party op hulle tone te hou. Ek stem saam met Emil dat Cope se steun oorskat word, maar ja dit JZ se behaai is nou iets van die verlede so nou moet ons net voor ons kyk en hoop en bid.

  10. afrikola permalink
    April 7, 2009 3:26 nm

    @mykopop-“Mens sou dink die wereld is teen korrupsie”,nou vra ek my,wie het vir wie hier gesmeer,die Europeers die Afrikane,of die Afrikane die Europeers.Ek is altyd verbaas dat daar omtrent nooit oor die Europese wapensmouse n slegte woord uitgelaat word.It takes two to tango.Stel jou voor,hoeveel geld het gevloei dat mense soos Halliburton en Blackwater al daai kontrakte in Irak gekry het met hulle pelle,Mr. Cheney en kie.Vra ,maar vir Boer hoeveel Suid Koreanse regeringe al geval het oor korrupsie.Kyk hoe Berlusconi elke keer as hy ingestem word homself immuniteit teen vervolging verskaf.Belgie,n halwe jaar sonder n regering kan sit oor etniese verskille.Al Gore n vekiesing wen en tog verloor het.Kyk ek glo nie vir een oomblik Zuma is onskuldig nie ,maar hierdie “one stroke fits all” aansig tot Afrika is net nie waar nie.Kyk na Botswana.Kyk na Ghana se laaste verkiesing,die tegniese aspekte daarvan.Nee wat,ek is n Afrikaner en Afrika is my kontinent en niks kan dit verander nie,foute en al.En mykopop,hierdie is niks teen jou nie,net n argument om daai uitlating gebou.

  11. April 7, 2009 8:34 nm

    Nou voel ek sommer depressief.

  12. April 7, 2009 9:11 nm

    Ek hoop jou voorspelling is verkeer – baie goeie post BIB maar ek hoop van harte dat iewers in hierdie gemors ‘n wonderwerk gaan gebeur en ons NIE ‘n krimineel vir ‘n president kry nie. Dis skaam tye vorentoe vir ons…

  13. April 7, 2009 11:54 nm

    Ek dink jy oorskat Cope se steun. Hulle sal nie meer as 7% nasionaal kry nie. Die enigste ding wat hulle regtig het om aan te bied is ‘n terugkeer na die Mbeki-era en ek weet nie regtig wie nou eintlik nostalgies oor Mbeki is nie. Dalk word hulle ook gesteun deur ‘n paar Xhosas wat nooit vir ‘n Zoeloe sal stem nie, en dalk ‘n paar wit mense wat hoop en bid Terror Lekota is ‘n coconut “oor hy darem so mooi Afrikaans praat”, maar meer as dit gaan hulle nie kry nie.

  14. April 8, 2009 1:11 vm

    Die rede hoekom die Rand (wat in elk geval maar baie onstabiel is) miskien versterk het of nie noemenswaardig verswak het nie, is omdat die finansiele markte stabiliteit soek. Om Zuma in sy presidentskap te vervolg, sal baie onstabiliteit tot gevolg he (soos sy ondersteuners wat marakkas sal maak) en onsekerhede oor SA skep.

    Ek stem saam dat korrupsie onder politici ‘n internasionale siekte is en nie beperk is tot Afrika nie. Met die verskil dat regerings/ministers in ander lande meer kere om sodanige redes tot ‘n val kom as wat dit in Afrika die geval is. Daarom se ek in my inskrywing: Afrika het reeds duidelik bewys dat die gebrek aan prestasie van die regerende party geensins ‘n barometer is van sodanige party se gewildheid by die stembus nie.
    Dit smaak my meeste skat COPE se steun laer as wat ek dit weergegee het. Interessant, want COPE word tog voorgehou as die “nuwe reenboog”-hoop vir die land. Maar, hoe dit ookal sy, ek dink COPE se steun sal ‘n goeie aanduiding bied van hoeveel ANC-ondersteuners ongelukkig is met die ANC en bereid is om ‘n (kop)skuif te maak. Maar dat COPE die Mbeki-albatros om hulle nekke het – dis verseker so. Ek vermoed hulle gaan dalk meer Xhosa-steun trek as wat mens dink. Ek twyfel ook of COPE na die verkiesing weer saam met die ANC sal tango. Moontlik sal daar ‘n paar COPE-manne terugkrabbel na die magtige ANC, maar ‘n alliansie sien ek nie sommer nie.

    Laastens, dink ek dat dit, ironies genoeg, in SA se belang is dat die ANC verkiesings bly wen en ook met ‘n groot meerderheid. Ek het altyd gese dat demokrasie in SA eers werklik as gekonsolideerd sou kon beskou word wanneer die ANC die dag die mag moet afstaan. Op hierdie stadium vrees ek nog daardie dag. Ons almal het gesien wat in Zimbabwe gebeur het toe ZANU-PF begin besef het dat hulle staan ‘n realistiese kans om die mag by die stembus te verloor. SA is nou wel nie Zim nie, maar ek dink die demokratiese wortels moet maar eers bietjie dieper groei voor die ANC die trekpas kry.

    NS: Ai, dis so lekker om so “on-empiries” te bespiegel!🙂

  15. nesbitw permalink
    April 8, 2009 2:14 nm

    Ek verwag dat die krediet rating agencies (in die veronderstelling dat Zuma se oorwinning formaliteit is) SA ‘n verdere ‘downgrade’ in die loop van die jaar sal gee. Een van die redes is die huidige regerings beleid- en leierskapskwessies. Of gaan Zuma eenvoudig voortvaar in die slipstream van sy ANC presidents-genote?

  16. April 9, 2009 4:27 nm

    BiB, ek neig om myself iewers tussen jou en Piesangverkoper se uitkyke op hierdie saak te bevind. Ek wil nie oor die sake wat reeds op die tafel gesit is, redeneer nie, want ek dink julle doen dit goed.

    Wat ek wel wil noem, is dat dit dalk wyser mag wees om hierdie verkiesing saam met die daaropvolgende twee of drie verkiesings se uitslae te voorspel. Soos jy tereg noem – bo alle rasionele verstand dink massas mense in hierdie land dat Zuma gaan fix wat die ANC nie kon regmaak in 15 jaar nie. Dis ietwat onheilspellend.

    Indien hy en sy regering wonder bo wonder ‘n puik job doen – wonderlik. Dan drink ons almal heildronke en stoot die padongeluksyfer op.

    Indien hy en sy regering erger as Mbeki is?

    Wel, dan steek ek graag my nek uit en reken dat die skynbare naiewe massas skielik nie meer so pro-ANC gaan wees nie. Iewers, dink ek, gaan iets crack – en dit gaan negatief wees vir die ANC. Van Afrika en korrupsie kan jy sê wat jy wil (en ek stem grootliks met jou saam daaroor), maar moenie die ontstaan van ‘n nuwe revolusie buite rekening laat nie.

    Never say never.

    ‘n Mens dink mos altyd alles gaan dieselfde bly. Google gaan altyd die #1 soekenjin wees. Microsoft sal altyd bloated OS’s vrystel. Petrol gaan nog lank met ons wees. Piracy sal altyd illegal bly. Die ANC sal regeer tot Jesus kom. Bla bla bla bla bla etcetera.

    But never say never.

    Daarom – wat reken jy sal die scenario nie net vir 22 April wees nie, maar ook vir 5 en 10 jaar van nou af?

  17. April 10, 2009 1:05 nm

    Ummm! Wil graag saampraat oor die politiek maar ek lees maar liewers net. Soos Jacob Dylan gese het: The only difference I can see/is that you’re exactly the same as you use to be.

    Wil darem se korrupsie is orals. Kyk dan nou hier in die VSA. 4 of 5 (het opgehou tel) van Obama se benoemings vir top posisies het tax “probleme” of “little oversights” gehad met betalings van vorige jare. Hoe kan jy nou iemand aanstel as Treasury Secretary (wat ook die hoof is van die IRS is) wat glo “vergeet het” om sekere inkomste op sy belasting vorm in te vul. Sjoe!

  18. April 10, 2009 1:13 nm

    Johan, Jy is absoluut korrek. Die ANC gaan nie vir altyd regeer nie. Maar moet Suid Afrika eers in ‘n Zimbabwe verander voor daar verandering gaan kom? I guess time will tell.

  19. Tonteldoos permalink
    April 10, 2009 4:48 nm

    Ek het ‘n ou geskiedenisprof geken. Hy het al voor die verkiesings van Namibië in 1989 gesê :”die geskiedenis herhaal homself” Wie slim is, kyk en leer.

    Kyk na Zimbabwe. Kyk na Namibië. Gaan lees bietjie op hoe hulle verkiesings verloop het die laaste paar dekades. En die statistieke behoort jou te vertel dat hierdie verbande boer in korea dood reg voorspel.

    Die barbare ken net een manier. Totale oorheersing. En wee diegene wat in hulle pad staan.

    Bluegrassbob: Selfs nadat Zimbabwe in die “moderne” Zimbabwe verander het – terug na kerse en parafien en dooie grond – selfs dit het niks verander nie. Selfs al het Mug-aap-eh verloor, regeer hy vandag nog, en Tsivangirai se eie mense sit in die tronk terwyl hy hom dik vreet aan oysters en kaviaar saam met ou koning Robert.

    Word wakker – dis Afrika, die land van die barbaar. Hy sal nie regkom nie.

  20. April 12, 2009 6:37 vm

    hmm.. ek vertrou ook nie vir Cope nie, alhoewel ek hulle nie ken nie, maar ek voel oor hulle: “onder draai die duiwel rond” – ‘n regte Dalores-ek. Ek sal maar nie my geld op hulle sit nie.

  21. April 15, 2009 2:10 vm

    Johan, ek is nou geen Siener van Rensburg nie.😉 Ek wens ek kon jou sommer nou antwoord, maar daar is absoluut soveel veranderlikes en soveel scenario’s dat dit haas onmoontlik is om ‘n klare beeld te vorm wat die volgende 10 jaar inhou. Mens kan egter bespiegel en miskien moet ek my gedagtes laat gaan en dan so ‘n bespiegelingsoefening doen na die verkiesing. Dit is egter so dat niks vir ewig duur nie en ook so die ANC se beheer oor die land. Dit kan egter baie lank duur en miskien te lank…Voor die ANC ernstige opposisie kry, sal die party moet skeur. COPE is ‘n afsplintering en nie ‘n skeuring nie (selfs TIME het hierdie keer dit verkeerd gekry). Ons sal moet nog ‘n bietjie moet wag. Soos Bluegrass se: “time will tell” (by wyse van spreke).

  22. April 15, 2009 11:19 nm

    Mmmm, jaaaa… uuuhhhhmmmm – Jy’t my verloor by “onvoorspelbare sportgebeurtenis”……..

    Mag die beste span, wat aksie neem, wen.

    (Hulykit Boer??)

  23. April 16, 2009 6:22 vm

    Viva Zuma! Vir arm, rural mense is hy ‘n ikoon van hoop. Sy hart is groot en sy sang sterk bewoord.

    Wat sy beleid betref, volg hy die ANC se voorskrifte getrou na. Hulle erken hulle het die land gefaal en spreek hulle tekortkominge aan. Viva! Down with corruption, viva!

    Vir ryker, stedeliker mense is Zuma en sy Malema-sidekick egter bespotlike tekens tot wanhoop. Dis te verstane; hulle stort op verkeerde tye, en sukkel met somme.

    Die ANC gaan tereg wen, maar die afsplitsing van hulle party, en die hernude belangstelling in politiek deur jong, opkomendes (wat vantevore jou mees apatiese groep was), gaan sekerlik ‘n negatiewe effek op die ANC se stemgetalle oraloor hê, dink ek.

    Dit sal vir my interessant wees om te sien wat met die opposisie-partye gebeur, maar ek vermoed die ou bekendes gaan beter daaraan toe wees as in 1994. ‘n Diversifisering van partypolitiek genereer tog niché stemgroepies wat vir spesifieke belange stem, hetsy of dit nou is om plattelandse probleme aan te spreek of om ‘n provinsie saam-saam met ander partye, te wen.

    Helen Zille het die DA baie geboost sedert Tony Leon. Daarom twyfel ek of hulle getalle gaan afneem. Cope sal negatiewer op die ANC inwerk, vermoed ek. VF+ sal baat vind by méér vantevore-apatiese mense wat stem; ACDP se getalle, dink ek, bly konstant. ID moet nog sy staal wys. En IFP sal dalk stemme verloor teen Zuma, maar nie eintlik teenoor COPE nie.

    UDM, PAC en ander kleineres, sou ek voorspel, gaan die meeste sukkel. Maar nou ja, van politiek weet ek niks. So tot tyd en wyl is ek happy met Zuma – ons land se ikoon van hoop.

  24. April 16, 2009 6:25 vm

    *oftewel beter daaraan toe wees as in 2004, bedoel ek.

  25. April 17, 2009 10:42 nm

    Hallo boertjie’

    Ek verstaan nie politiek nie – wil eintlik net hallo se en hoor hoe dit gaan….

    Lekker bly

  26. Mary Jane permalink
    April 20, 2009 12:44 vm

    Hallo Bib! Man, dit was nou super interessant om jou artikel en al die comments te lees. So ek en die hubby gaan ook nou ons 2c gee. ONs altwee stem saam (en dan moet dit waar wees :-)) dat mens nie moet vergeet dat die Mbeki-kamp nie SOOO ver verloor het in Polokwane nie. As jy bloot gaan op Polokwane, dan gaan die ANC ten minste 30% van hulle stemme verloor. Maar ok, ‘n verkiesing is nie Polokwane nie en die gepeupel hou van die man wat dans en stort.

    Ons stem saam dat die ANC sy grootste bloedneus in die Wes-Kaap sal kry. Stem ook saam met Mnr Muller dat Zille die DA baie geboost het sedert Leon en dat hulle getalle eerder sal groei as sal daal. Dink ook dat die VF+ beter gaan doen as verwag met blankes wat al hoe meer ontnugter voel deur die nuwe SA en ook buitelandse stemme wat nou toegelaat word.

    Iets anders wat ek dink mens nie uit die oog moet verloor nie is die feit dat Cope ongetoets is. Hulle is ‘n wild card en soos Goran Ivanisivich (spelling?!?!?) in 200? bewys het op Wimbledon, moet nooit ‘n wild card onderskat nie.

    Ek twyfel nie vir een sekonde dat die ANC wel gaan wen nie. Wat ek wel glo, is dat hierdie verkiesing hulle D-dag is. Cope/DA/wie ookal gaan dalk net “Omaha beach” beset, maar punt is, hulle het gearriveer. Maar ja, dalk is ek super optimisties en tyd sal leer. En ja, ai dis regtig lekker om so onimpiries te spekuleer.

  27. April 24, 2009 4:36 vm

    Gits, lyk my baie het die IFP se steun aan Zuma as Zoeloe vergeet. Cope het dalk ANC stemme betrek, maar ou IFP gardes volg Zuma. Daar het jy die twee-derde meerderheid.

  28. Sammi permalink
    April 24, 2009 3:39 nm

    Ek erken, my voorspelling was TE optimisties

  29. April 24, 2009 5:57 nm

    Lyk my jy was reg oor die twee derdes meerderheid. COPE het egter nogal gesukkel.

  30. Jo-Ann permalink
    April 25, 2009 12:42 vm

    Cope het beter gevaar as wat ek verwag het. Ek het gehoop hulle sou bietjie meer van die ANC weggevat het; die magiese 66,6 bly op die tafel. Bly oor die DA se vertoning… keer “wat-help-dit-tog” kiesers uiteindelik terug stembusse toe en word daar wel hondhaaraf gemaak onder tradisionele ANC/IFP ens kiesers? Me Zille het gesê meer as 15%…. dit lyk so.

  31. Jo-Ann permalink
    April 25, 2009 3:28 nm

    Dit is nou dié een verkiesieng waar die klomp mense wat “nie belangstel nie want die ANC gaan in elk geval wen” en nie gaan stem het nie, ‘n verskil kon maak. Hier hang ons nou op ‘n mespunt met daardie meerderheid en ‘n paar duisend ekstra anti-ANC stemme mag dalk baie bepalend wees. Stupid mense met stupid houdings… en as jy hier lees en die skoen pas jou, jammer. Die simpelste verskoning wat ek gehoor het was dat die kar nie wou vat by die huis nie… terwyl daar, veral in die noordelike voorstede, stembusse binne redelike loopafstand was in elke woonbuurt. Twee stemme verlore omdat ‘n kar nie wou vat nie.

  32. April 25, 2009 6:02 nm

    Lyk my die ANC gaan toe nie die 2/3 meerderheid kry nie wat in elk geval simbolies is. Sou hulle die grondwet wou verander, sal hulle sekerlik iewers steun van ‘n mikro-party kry. Ek dink die verkiesing is ook die einde van mikro-partye soos die Vryheidsfront, PAC, ID, ACDP ens. Daar is nie regtig meer plek vir hulle in Suid-Afrikaanse politiek nie. Die IVP het swakker gevaar as wat ek gehoop het en is nou uitsluitlik beperk tot KZN.

    Ek dink die Wes-Kaap mag die begin van ‘n nuwe opposisie-groepering inlui as die DA, alhoewel dit nie hoef nie, saam met die ID en COPE regeer. De Lille vra klaar vir ‘n konsolidasie van opposisie partye. Indien hulle in koalisie in die Wes-Kaap regeer en dit goed doen, mag dit oorspoel na ander provinsies (spesifiek die Oos- en Noord-Kaap).

    As die DA (koalisie?) die Wes-Kaap gaan regeer soos Kaapstad, voorspel ek die einde van die ANC in die Wes-Kaap.

  33. April 25, 2009 6:36 nm

    Jo-Ann, 2 stemme uit 23,2 miljoen stemme is 0.0000000869565217391304%

  34. Sammi permalink
    April 25, 2009 8:26 nm

    Daarsy, op ‘n mespunt maar die DA HET die Wes-Kaap met net oor die 51% en die ANC het NIE hul meerderheid gekry nie! Net-net.

  35. Jo-Ann Schou permalink
    April 26, 2009 12:12 vm

    Johan, jy is heel reg, twee is onbenullig. Maar daar is honderde sulke stories en nog steeds honderde wat reken hulle stemme tel nie. Dit is ook die mense wat die hardste kerm oor die regering van die dag. Hoe kan mense, na al die geleenthede wat daar was, steeds reken hulle kon nie afkry by die werk om te gaan registreer vir die verkiesing nie? Stel seker maar net nie regtig belang nie. Dring aan op diensverskaffing en voorregte, maar wil nie ‘n eenvoudige plig as landsburger uitvoer nie.

  36. April 27, 2009 3:43 vm

    OK, lyk my ek het te vinnig gepraat. Lyk my ek was reg😉

  37. Tonteldoos permalink
    April 27, 2009 4:32 nm

    Ou Boer, jy was darem na aan reg hoor. Al hierdie ouens wat so bly is oor die 2/3 storie, vergeet een ding – Cope is almal oud-ANC lede. Maw die ANC se steun het gegroei na meer as 73%!!

    Dies wat dink die grondwet kan nie verander word nie, leef in ‘n droom wereld. Wat keer een of twee Cope lede om ‘n ANC aksie te ondersteun, en die 2/3 meerderheid weg te gee? Niks. hulle kom almal uit dieselfde skool. Hulle gaan nie westerse waardes beskerm en handhaaf nie.

  38. April 30, 2009 8:44 nm

    Hei Boer, wanneer kom die postmortem?

  39. April 30, 2009 10:03 nm

    Is Boer met vakansie?

  40. Mei 3, 2009 8:37 nm

    Lyk my so….

  41. Februarie 23, 2011 6:06 vm

    I conceive other website proprietors should take this internet site as an example , very clean and good user pleasant style .

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: