Skip to content

22 April 2009: ‘n bondige nabetragting

Mei 4, 2009

Ek dink nie ek kan werklik enigiets byvoeg tot dit wat alreeds gese en geskryf is oor die afgelope verkiesing van 22 April nie.  Maar omdat ek die voorspelling gemaak het, wil ek vlugtig net terugkyk en uitlig waar ek verkeerd was en waar ek dalk reg was.

Soos ek aangevoer het, was die verkiesing weer eens ‘n etniese sensus. Miskien was die etnisiteit nog baie duideliker as vorige verkiesings. In KZN het die ANC die IFP bloedneus geslaan omdat eersgenoemde doelbewus die Zoeloe-stem gekaap het deur Jacob Zuma as die nuwe “Zoeloe-leier” voor te hou. In die Wes-Kaap het die DA die kleurlingstem bekom en sodoende die ANC gekierang. Nasionaal het dit duidelik geword dat blankes, kleurlinge en indiers oorwegend die DA steun, wyl swartmense oorwegend die ANC, IFP en COPE ondersteun. Dus bly Suid-Afrika vasgevang in die ras-paradigma wat so verinterweefd is in die land se geskiedenis. Maar kom ek kyk gou na die partye se individuele vertonings:

Die ANC het effe minder steun ontvang as wat ek voorspel het. Almal is opgewonde omdat die ANC nie die sielkundige 2/3 meerderheid gekry het nie, maar soos George Maru tereg opmerk, is dit bloot simbolies. Indien die ANC werklik ‘n 2/3 stem wil kry in die parlement, hoef die party maar net enkele stemme oor te trek om in elk geval die 2/3 meerderheid te ontvang. Mense raak byna paranoies oor hierdie magiese 2/3 meerderheid, maar persoonlik dink ek dat dit maar meestal ‘n kwessie is van gogga-maak-vir-baba-bang.

Met my voorspelling vir die DA was ek duidelik uit die kol, maar soos byna almal voorspel het, het die DA met oorgawe die pyp in die Wes-Kaap gerook.  Ek het ‘n paar dinge nie na regte verreken nie en sekerlik die belangrikste aspek is die geweldige aansien en gewildheid van Helen Zille (spesifiek in die Wes-Kaap). Om die waarheid te se, dink ek meer mense het vir Zille gestem as wat vir die DA gestem het. Die DA kon egter nie enige veld wen onder die swart kieserskorps nie. Met die dinamiese figuur van Zille, het die DA nou sy plafon bereik. Vir die DA om enigsins in die toekoms ‘n party met nasionale impak te wees (en nie slegs ‘n streeksparty nie), sal die DA ‘n geloofwaardige swart leierskorps moet kry. Met ‘n blanke leier (al is dit Zille) of selfs ‘n kleurlingleier gaan die DA nie verder hond haaraf maak nie. (Terloops, dis so Suid-Afrikaans uniek dat ‘n party wat ‘n karige 16% van die stemme in ‘n nasionale verkiesing wen, die uitslag vier asof dit ‘n oorwinning is.)

Die ander rede hoekom ek so ver uit was met die DA se stemme, is omdat ek COPE se vermoeens oorskat het. In die verband was verskeie kommentators (soos oa Piesangverkoper) nader aan die kol deur daarop te wys dat COPE se steun oorskat word. Met my voorspelling het ek uit die oog verloor dat COPE ‘n baie nuwe party is met min geld om die verkiesing te beveg. Ek het ook die impak van die fout om die relatiewe onbekende Mvume Dandala as presidentskandidaat daar te stel, onderskat. COPE het nie die DA of die ANC seergemaak nie, maar wel in tandem met die DA ‘n geweldige impak gehad op die brose steunbasisse van die kleiner partye. Inaggenome dat COPE steeds goed vertoon het vir so ‘n jong party, het COPE vir die toekoms miskien meer potensiaal as die DA.

Soos ek voorspel het, was dit die IFP se laaste tango in KZN. Hulle het effe meer stemme gekry as wat ek gedink het hulle sou kry, maar steeds glo ek dat die IFP geskiedenis is. Hulle sal miskien nog ‘n tydjie daar  wees, maar invloed sal hulle nie weer he nie.

Ek het groter steun aan die UDM, ACDP, ID en PAC toegedig as wat hulle ontvang het. Ek het nie verreken watter impak COPE en die DA se groei op die kleiner partye sou he nie.  Hierdie partye se steunbasisse is vir alle praktiese doeleindes uitgwis en sal in ‘n oorlewingstryd wees vir die volgende 5 jaar. Dit sal my glad nie verbaas as van hierdie partye sal ontbind of saamsmelt voor die volgende verkiesing in 2014 nie. Mens kan spesifiek sien dat die einde van die eens trotse PAC aangebreek het.

Die VF+ is die enigste van die kleiner partye wie se steun min-of-meer stabiel gebly het. Dit dui aan dat die party se klein steunbasis baie gevestigd en lojaal is. Die grootste sielkundige impak op die VF+ was die feit dat die oorsese stemme waarvoor hulle so hart baklei het, toe almal na die DA gegaan het. Die VF+ is ‘n dinamiese party, maar ongelukkig kleef daar ‘n historiese stigma aan hulle wat onoorkombaar blyk te wees.

Bogenoemde dus slegs ‘n kort nabetragting as opvolg vir my oorspronklike voorspellings. By ‘n ander geleentheid sal ek weer skryf oor wat ek glo die volgende 5 jaar dalk inhou.

NS: en ja, ek hou vakansie en geniet myself gate uit!!!

16 Kommentaar leave one →
  1. Mei 4, 2009 4:23 nm

    Lekker vakansie hou, Boer. 😉

  2. Sammi permalink
    Mei 4, 2009 11:55 nm

    En jy dink aan politiek? Oi!
    Ek hou van Dandala en glo hul gaan vorentoe beter doen.
    Nou maar dankie in alle geval dat jy ons kom verlos het uit ons ellende terwyl jy jouself so gate uitgeniet – en daar dog ek jy’s iewers togesluit. Hoe LANK hou jy dan vakansie?

  3. Mei 5, 2009 2:12 vm

    WAAR is jy?

  4. Mei 5, 2009 12:09 nm

    Hi boer, ek het die inskrywing gelees, en ek weet nou meer as wat ek vroeer geweet het, want ek het nie die verkiesing gevolg op die nuus nie.

    Hoop jy geniet dit daardiekant en moenie te groot gaan op die kos nie, jy weet wat die vorige keer gebeur het.🙂

  5. Mei 5, 2009 1:43 nm

    Uh-huh! Ek wou net al kom aanklop om te vra, is hier blogvakansie? Geniet dit.

    Die probleem bly maar en sal seker lank nog bly, die mense stem vir ‘n bevrydingsorganisasie, nie vir ‘n politieke party nie. My opinie: as ons regtig hond haaraf wil maak moet COPE en die DA saamsmelt, met miskien nog een of twee klein partye daarby.

  6. Mei 5, 2009 8:40 nm

    Boer, ek lees dalk nou te veel in jou skrywes in, maar soms kry ek die idee jy het ‘n spesiale sagteplekkie vir die VF+. Wil jy nie meer daaroor skryf, hoekom dit die geval is en hoe jy hulle by ander sal aanbeveel etc nie?

  7. Mei 6, 2009 8:49 nm

    Volg MJ se raad! Maar geniet die blaaskansie😉

  8. Laurence permalink
    Mei 7, 2009 3:55 vm

    Ek wonder of Mockajava (kommentaar #4) iets weet wat die res van ons nie weet nie. Volgens ingeligte bronne hou Boer baie lekker vakansie en hy skryf sekere gedaantewisselings toe aan eg Suid Afrikaanse gasvyheid…

  9. Mei 8, 2009 5:31 vm

    Geniet jou vakansie, myne is binne 2 weke!

  10. Mei 12, 2009 9:28 vm

    Nou wie kan dan nou nie ‘n sagte plekkie het vir die moedige Mulder-broers nie – hulle vorder dan nou selfs tot in die kabinet!😉
    Laasgenoemde kan natuurlik die einde van die VF (in huidige gewaad in elk geval) beteken. Die ANC het baie suksesvol kooptering gebruik om voorheen die NNP en AZAPO polities te ontwapen.

  11. Mei 12, 2009 9:29 vm

    Laurence, is jy by spioenasie betrokke?🙂

  12. Mei 15, 2009 7:04 nm

    Irrelevant tot hierdie inskrywing – ek het op RSG gehoor daar is ‘n braaidag in Suid-Korea. Beteken jou vakansie jy gaan dit misloop?

  13. Lynn Bresler permalink
    Mei 19, 2009 7:05 nm

    Waar bly jy in Korea?

  14. Mei 19, 2009 7:51 nm

    Kop, dis’n jaarlikse instelling hier. Egter ‘n bietjie ver om te reis, want ek woon hier in Gyeongju in die suid-ooste (Lynn). Gelukkig het ek sopas ‘n paar weke van braai agter die blad.

  15. Mei 22, 2009 7:38 nm

    Mense raak byna paranoies oor hierdie magiese 2/3 meerderheid, maar persoonlik dink ek dat dit maar meestal ‘n kwessie is van gogga-maak-vir-baba-bang.

    Amen.

Trackbacks

  1. ‘n Eenvoudige statistiese oefening om die ooreenkoms tussen die DA en die Japannese rugbyspan te bepaal « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: