Skip to content

Aanvaar dit nou! (‘n selfgesprek)

Junie 3, 2009

Toe ek verneem dat my suster en haar man pistool-in-die-gesig voor hulle huis in Somerset-Wes gekaap is, was ek nie heeltemal so verontwaardig of woedend soos ek gedink het ek sal wees nie. Ek was eerder dankbaar. Dankbaar dat hulle gespaar is en slegs ‘n motor verloor het. Buitendien is dit nie die eerste keer wat geliefdes van my aan geweldsmisdaad blootgestel word nie en sal dit ook seker nie die laaste keer wees nie. Ek het gewonder oor my gebrek aan woede en toe tref dit my: aanvaarding. Ek besef dat dit waarteen ek nou al so lank predik, nl. dat Suid-Afrikaners nie die pandemie van geweldsmisdaad bloot as normale lewensgang moet aanvaar nie , ‘n uitgediende argument is. Want sien, behalwe vir emigrasie, het Suid-Afrikaners werklik geen ander opsie nie. Om woede uit die hart te weer en om geestesgesondheid te behou, moet Suid-Afrikaners begin vrede maak met die situasie in Suid-Afrika.

  • Aanvaar dat gewapende rooftogte, moorde en motorkapings so eg Suid-Afrikaans is soos biltong, boerewors en braaivleis. Dis deel van die lewe in Suid-Afrika. Soos met sekere siektes (bv. kanker) kan jy versigtig wees en baie voorsorgmaatreels tref. Maar as dit die dag met jou gebeur, dan gebeur dit maar net en jy kan dit nie keer nie.
  • Aanvaar dat meeste misdadigers in Suid-Afrika wegkom met moord, nooit aangekeer word nie en selde die binnekant van ‘n tronk sien.
  • Aanvaar dat die president, kabinetsministers en senior staatsamptenare nie intellektuele reuse is nie.
  • Aanvaar dat staatsdepartemente geskoei is op die onderbou van onbevoegdheid.
  • Aanvaar dat logiese denke ‘n skaars kommoditeit binne regeringskringe is en besef dat jou sin vir humor jou hierdie feit hanteerbaar kan maak.
  • Aanvaar dat die SABC die spreekbuis van die regering was, steeds is en moontlik altyd sal wees.
  • Aanvaar dat baie Suid-Afrikaanse paaie besonder geskik is vir viertrek-voertuie en dat die land moontlik nooit Duitse autobahns sal he nie.
  • Aanvaar dat Eskom geen verband kan sien tussen kundigheid en kragvoorsiening nie. Waardeer die romantiek gekoppel aan kerse in die donker.
  • Aanvaar dat velkleur en politieke affiliasie in Suid-Afrika altyd boustene sal wees vir diskriminasie, nepotisme en bevoordeling.
  • Aanvaar dat die regering nooit tevrede sal wees met die demografiese samestelling van sportspanne nie (sokker uitgesluit).
  • Aanvaar die heersende strewe na middelmatigheid. Ten minste is daar ‘n strewe.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika se buitelandse beleid nou nie heeltemal is wat Madiba oorspronklik in gedagte gehad het nie.
  • Aanvaar dat onwettige immigrante altyd waardering sal toon vir die regering se lakse grensbeheer.
  • Aanvaar die pornografiese materialisme wat deurlopend skaamteloos tentoongestel word aan die groot meerderheid burgers wat in moedelose armoede leef.
  • Aanvaar dat die woordeboek se definisie van dienslewering nie geldig is in Suid-Afrika nie.
  • Aanvaar dat die name van stede en dorpe simbolies belangriker is as hoe daardie dorpe of stede bestuur word.
  • Aanvaar dat min Suid-Afrikaners ooit ‘n studie gedoen het van post-koloniale politiek in Afrika. Gun dus diegene wat steeds glo dat Suid-Afrika ‘n eldorado in wording is, hul verbeeldingsvlugte.
  • Aanvaar dat Suid-Afrika ‘n Afrika-staat is en nie aan Westerse standaarde gemeet behoort te word nie.

My lysie het nou leeggeloop, maar ek dink die boodskap is duidelik: Aanvaar Suid-Afrika soos hy is . Ten spyte van vele menings, illusies, stemme en scenarios, gaan nie ek, jy of enige ander apologeet, idealis, denker of dromer enige noemenswaardige verskil maak nie.

This is as good as it’s gonna get .

Hou op kerm.

Hou op kla.

Hou op stribbel.

Hou op stry.

Hou op om jou siel te versaak.

Hou op raas.

Hou op rou.

Dis die lewe.

Dis soos dit is.

Dis Suid-Afrika.

Aanvaar dit nou!

Advertisements
49 Kommentaar leave one →
  1. boendoe permalink
    Junie 3, 2009 9:59 nm

    Sjoe.

    Ja, ek HET dit aanvaar. For better or for worse.

  2. Junie 3, 2009 11:33 nm

    Ek weet nie oor daai stuk van dat die buitelandse beleid tans nie is wat Madiba in gedagte gehad het nie. Het jy al die gastelys vir sy inhuldiging in 1994 gesien?

    • Junie 5, 2009 12:47 vm

      Waar, maar weet nie of hy die regering se beleid tov oa Zimbabwe, Soedan, Myanmar en die Dalai Lama steun/sou steun nie.

  3. Junie 3, 2009 11:49 nm

    Sjoe – nes Boendoe gese het. Sjoe. Ek dink ons wat nog hier bly het dit reeds aanvaar – wat help dit tog om te kla?
    Maar nogtans skrikwekkend om dit so opgesom te sien!

  4. Junie 4, 2009 12:46 vm

    Dankie tog! Nou voel ek ook sommer beter. Altyd gedink daar was iets verkeerd met my denk vermoë. Baie goed gestel.

  5. Junie 4, 2009 1:12 vm

    Boer, ek wou ook noem, ek is jammer oor jou suster en ek hoop hulle is soortvan oukei.

    Sorg net dat jy nie vir Kim Jong Il en sy bomme daar oorkant die grens aanvaar nie!

  6. Junie 4, 2009 7:21 vm

    Ek wonder oor die ene – ek krap my kop. As mens die dinge aanvaar, dan moet mens seker maar aanvaar dat die water stadiger warmer word innie ou pot. Mens moet dan aanvaar dat die paddatjie op ‘n tyd nie meer sal kan/wil uitspring nie. Mens moet dit seker ook maar aanvaar.

    Ek wonner wat sou van die ‘Boere’ geword het as hulle al die verwikkelinge in Europa aanvaar het en ‘vasgebyt’ het? Ek wonner wat van die ‘Boere’ sou geword het, as hulle nooit hulle ou waens gevat het en getrek het nie? Dit is as hulle nou alles doer in die Kaap aanvaar het.

    Ek wonner maar net – ek wonner wat geword het van ” ‘n Boer maak ‘n plan?”

  7. Junie 4, 2009 8:07 nm

    Goeie inskrywing die – som dinge baie mooi op.

    Ek wens ek kon sulke dinge so gelate aanvaar, want dan het ek ook sommer net gebly en in vrede gelewe met die morone, kriminele, onbevoegdes en dom-astrantes.

  8. Mary Jane permalink
    Junie 5, 2009 2:59 vm

    Ek moet ook net morning sickness AANVAAR!!!! Maar ai, elke keer as daai naarheid jou so tref dan skop jy darem met elke greintjie van jou daarteen. So ja, dis seker maar ook dieselfde met SA! Jy weet die aanvaarding bring meer rustigheid, maar ai, elke liewe keer as jy hoor van ‘n kaping, ‘n moord, ‘n baba wat verkrag is en nog ‘n onwettige immigrant oor die grens, dan skop jy maar met elke greintjie in jou daarteen. Ek dink nie dis aanvaarding nie, dis magteloosheid!!! Ek dink ook dis wat jy ervaar, magteloosheid, nie aanvaarding nie

    • Junie 5, 2009 11:36 nm

      Baie geluk en sterkte met die naarheid – dis nou iets wat ek sekerlik nooit sal ervaar nie…hoop dit gaan vinnig oor! En ja, jy het reg – dis seker maar meer magteloosheid as aanvaarding. Kom ek noem dit dan maar “gedwonge aanvaarding”. As ek die dinge werklik reeds aanvaar het, sou ek seker nie eers moeite gedoen het om hierdie inskrywing te skryf nie…

  9. Junie 5, 2009 8:18 vm

    Ek las by: Aanvaar dat “Apartheid” altyd die skuld sal kry vir wat ookal verkeerd gaan in die land. (dood het altyd ‘n oorsaak). Selfs mense in die buiteland sal Apartheid die skuld gee as “dinge” nie “reg” gaan nie.
    Oulike inskrywing, jammer om te hoor van jou suster! Gelukkig is hulle darem veilig na wat gebeur het.

  10. Junie 5, 2009 2:07 nm

    Dis sickening dat mens hierdie dinge net gelate MOET AANVAAR! Kla en kerm gaan in elk geval NIKS verander nie!

  11. Junie 5, 2009 6:11 nm

    Daai aanvaar klink so … fatalisties.

    Ek weier om te aanvaar dat ek niks daaraan kan doen nie. Met die res van die lys stem ek wel saam. Om my stem so dood te maak onder die voorwentsel van “ek aanvaar” sit nie in my broekspype nie. Wat jy dis sê, is dat ek middelmatigheid as bakermat van ons samelewing moet aanvaar. Se vóét!

    Waar sou die land vandag gewees het indien die meerderheid eenvoudig die onderdrukking van apartheid aanvaar het?

    Ek dink ons moet ‘n sekere mate van berusting in die omstandighede kry, want nie eenstemmig is met “aanvaar” nie. Nee, jammer, maar so maklik onthef ek nie die heersende party van hulle verantwoordelikhede nie.

    Al dink ander hulle stemme tel nie, glo ek wel myne doen – en as ek die nuttelose, onbevoegde dame agter die glaskastoonbank by die bestuurlisensieafdeling in my beste Engels vetel hoe onbeholpe sy as individu is, voel ék ten minste beter 😉

    Sometimes a scream is better than a thesis!

    Jammer om te hoor van jou suster-hulle. Dit klink baie naby aan ons.

    • Junie 5, 2009 6:30 nm

      Tot die dame agter die glas weier om jou lisensie te gee. 😉

      • Junie 5, 2009 8:09 nm

        Hoe kan sy? Sy het wettige, deurdagte redes nodig om dit te doen. Sy kan my frustreer deur dit stadig te doen, maar uiteindelik moet sy.

    • Junie 5, 2009 11:42 nm

      Emil, jou houding is seker reg. Ek stoei maar so met my eie gemoed en probeer so mettertyd “berusting” vind, soos jy dit stel. Die verskil met apartheid, natuurlik, is dat die regering se beleid absoluut geensins volhoubaar was nie. Die huidige situasie in SA is ongelukkig ad infinitum volhoubaar, soos die voortslepende middelmatigheid in vele Afrika-state as bewys dien.

  12. Junie 5, 2009 8:08 nm

    Afrikaans die toekoms is swart deel 1: http://tinyurl.com/koosdeel1 en dan ook deel 2: http://tinyurl.com/koosdeel2 Koos kombuis oor toekoms

    ‘n Móét lees van Koos Kombuis.

  13. Junie 5, 2009 8:45 nm

    Daarsy, SA mooi opgesom!

    Ek dink ons situasie is regtig hartseer.

  14. Johan Horn permalink
    Junie 6, 2009 5:11 vm

    My vriend! hallooo daar anderkant die waters. Jou blog is soos gewoonlik wonderlik kreatief en presies op die man af. En soos altyd rig dit uitdagings om almal wat dit lees te noop om weer te dink oor waar ons as lesers regtig staan met sekere sake.

    Vergeef my dus asseblief as ek in hierdie reaksie op jou blog ‘n bietjie kwaai mag klink, maar soos jy weet, IS ek en baie ander, ook maar daagliks en sonder dat dit ons keuse is, hier in Suid-Afrika, swemmende in ‘n rowwerige see.

    Soos jy weet verwag ek nie ‘n volmaakte land nie. Ek verwag ook nie ‘n totaal beheersde bevolking of ‘n “all caring” regering nie, Na alles is dit ‘n land wat vorm en verander en niks kan dus altyd glad of selfs pynvry verloop nie.

    Dus: leer om (tydelik minstens) saam te leef met sommige dinge wat jy noem in jou lys, dit kan ek doen; aanhou om die meeste daarvan op elke wettige manier (maar sonder om myself nou vir tyd en ewigheid ten volle daartoe te verbind) teen te staan, dit doen ek, maar nooit ooit aanvaar ek een enkele aspek in jou lysie as die reël waarvolgens ek, net byvoorbeeld, my kinders moet leer nie. Nog minder (en met die nodige minagting) aanvaar ek dat, soos dit al by paar geleenthede deur sg. belangrike mense aan my voorgestel is, indien ek nie iets o.a soos die genoem in jou lysie, sou aanvaar nie, ek my gesin en goed moet vat en trek nie; en laaste van alles aanvaar ek nooit die klaarblyklike natuurlike neiging van Afrika om middelmatigheid tot ideaal te kroon nie. Die laasgenoemde standpunt kan net (soms selfs met baie trots) deur onderpresteerdes wat o.a. ook ons regering vol sit, aan ‘n gullable gehoor verkoop word.

    Indien my kritiek of besprekings, my oordenkinge en kritiese evaluasie van gebeure om my, my verwerping van die onvergeefbare hartseer wat aan baie van my mede landgenote van alle kleure en geslagte aangedoen word, en die byna duiwelse verwaantheid waarmee die wat in magsposisies is met die lydende burgers van die land omgaan (om maar net twee aspekte te noem), deur mense tot bloot klagtes vervlak word, dan beteken dit bloot dat ek ‘n styl aanpassing moet maak in my argumente en debatte. Dit beteken nie dat ek my menings gaan of sal verander nie, of ooit my doelwitte en ideale sal verlaag tot die vlak waar, onder hierdie onderdanigheidskultuur (die woord wat Charl Pauw in sy kommentaar oor die SABC in Beeld gebruik het), ek middelmatigheid ooit sal aanvaar nie.

    Verder: sal ek nie ophou om aan elkeen wat wil luister te vertel dat hierdie land aan elke Suid-Afrikaner (wit mense ingesluit) behoort ongeag die stereotipiese en stompsinnige relase oor apartheid en die skuld van apartheid. Die meerderheid het gestem en dit moet ek aanvaar. Maar misdadigheid, korruptheid, inhaligheid, diskriminasie teen witmense / blankes/whatever minderhede en die emosionele mishandeling wat steeds in baie werkplekke gedy saam met die byna minagtende afmaak en ignoreer van ander numeriese en politieke minderhede, die magsmisbruik, die onderdanigheidskultuur wat op alle vlakke getolerate moet word, die onderdrukking van kreatiwiteit en ontwikkeling in ons kinders deur onkapabele politici, lui onderwysers en afsydige ouers, sal ek nie aanvaar nie.

    Maar meer belangrik vir my persoonlik, my en ander mense wat soms baie vulnerable is as ek se reg om menswaardig, veilig, in my eie kultuur, en onderdanig aan die God wat ek aanbid alleen, in hierdie land te leef, is nie vir meerderhede om oor te besluit nie. Ek eis dit.

    Ek vra nie geleenthede nie, ek werk daarvoor en staan nie terug vir kompitiese nie, ek bedel nie vir aanvaarbare diens nie, ek eis dit ook; ek smeek nie vir ruimte om te leef, krities te dink, alles om my te evalueer en die misdadige, korrupte swak diensleweraars in die staatsdiens, te verkla nie, dit is my goeie reg.

    Hier het ek en my voorgeslagte net soveel gesweet as enigiemand anders. My voorgeslagte het hier gebou en ons het hier gebloei. En nie die stadige maar sekere metamorfose en verval van die ideologië van die sg regering en sy touleiertjies nie, nog die aanvaardings- en humanistiese preke van die wat nooit in ‘n kompiterende wereld kon oorleef nie, sal my oortuig van die nut van ‘n lewe waarin middelmatigheid as ideaal nagestreef of bloot net aanvaar moet word nie.

    Die sg positiwiteit of negatiwiteit “troefwoorde”, wat so baie opgehaal word, o.a in die media is irrelevant. Die terme is bloot afhanklik van ‘n emosionele toestand. Ten einde die emosies “positief” te stimuleer moet die toestand aangevat word. Is so’n doelwit dan minder positief as bloot om op te hou “kla”?

    Beste groete hier uit ‘n kouerige Pretoria.
    Jou vriend
    Johan

    • Junie 7, 2009 10:06 nm

      Johan, dankie vir jou weldeurdagte en eerlike kommentaar, wat opsigself ‘n waardige inskrywing is. Ek dink ek verstaan jou sentimente en jy som die situasie waarin baie hulself bevind baie goed op.
      Hierdie inskrywing het ek spesifiek “‘n selfgesprek” gedoop, want dis presies wat dit is. Dis gebore uit die blote magteloosheid van emosie wat ek ervaar het ten tyde die tyding van my familie se teenspoed. Daar het Mary Jane gelyk – hierdie inskrywing is verseker meer ‘n refleksie van my eie emosies van magteloosheid, eerder as wat dit in werklik ‘n pleidooi vir werklike aanvaarding is. Dit spruit ook uit my eie frustrasie om te neig om SA te bly vergelyk met ontwikkelde Westerse en Oosterse state, wat telkens tot ontnugtering en teleurstelling lei. Natuurlik het jy en ander kommentators hier gelyk, dat mens sekerlik nooit die huidige toestande bloot moet aanvaar nie, maar as burgers van die land, waar jy kan, jouself demokraties behoort te verset. Of dit enigsins op die lange duur ‘n noemenswaardige verskil gaan maak, dit weet ek egter nie. Dis miskien die regte opsie, maar of dit die beste opsie is vir die behoud van mens se eie geestestoestand, dit weet ek ook nie…

    • Junie 9, 2009 4:32 vm

      Sjoe, pragtig.

  15. Junie 6, 2009 8:11 vm

    Jammer om te hoor van jou familie.
    Goeie inskrywing, dis ‘n berusting by my. So ruk gelede het ek geskryf ek is nie bang vir misdaad nie en mense het dit misverstaan dat ek optimisties is, wat verkeerd is.
    Dit is net, ek berus my by die land. Ek besef dit sal nooit ‘n eerste wereldse land wees/word nie, hoe kan dit tog? Dit was ook nooit nie.
    Ons bly in Afrika, en ek is lief vir haar, Foute en al. Dis genoeg vir my.

  16. Junie 7, 2009 2:43 vm

    Ek stem saam met Rosalind. Ek hou nie altyd van Suid-Afrika nie, maar ek is ALTYD lief vir hierdie stukkie land.

  17. Junie 7, 2009 3:24 vm

    Ek dink dankbaar wees is dit belangrikste ding wat jy genoem het. Ons woon nou al meer as 12 jaar in Gauteng en die ergste wat nog met ons gebeur het is ‘n motor wat uit die erf gesteel is, en ons sekuriteit het bietjie ‘n swak plek gehad toe dit gebeur het.
    Ek stem baie saam met jou vriend Johan – moenie die dinge aanvaar nie, leef maar net daarmee saam en bly stry daarteen. Soos hy sê, baie van ons het nie ‘n opsie om ‘n skuif te maak elders heen nie.
    (en eh, Johan, dit raak nou ernstig tyd vir Wintersdagboek 2, wat ek glo jy ook net hier in S.A. sal kan skryf!)
    Groete,
    Chris

  18. Junie 8, 2009 2:03 nm

    Ek hou nie van alles wat hier gebeur nie, maar ek is ook lief vir hierdie land en het tot op hierdie stadium nog nooit oorweeg om die land te verlaat nie, maar ek verstaan 100% waarom mense gaan. Ek wil nie aanvaar dat dit is hoe dit gaan wees nie, alhoewel ek myself in moedelose oomblikke wil oortuig dat dit nie gaan verander nie. Ek sal bly hoop, in geloof bly hoop. Ek is met my hele hart daarvan oortuig dat hierdie die plek is waar die Here my wil hê en wil gebruik.

    • Junie 9, 2009 12:13 vm

      Lekker om jou terug te he hier in die blogosfeer! Sterkte met die volvloering van die groot besluit wat jy geneem het.

  19. Junie 9, 2009 12:30 vm

    Na almal se kommentaar en insette, sit ek steeds met ‘n klomp vrae. Soos hoekom moet die prys van vryheid noodwendig wees dat standaarde val en dinge agteruitgaan? In sovele lande (Suid-Korea, Maleisie, Pole ens.) het politieke vryheid juis gelei tot progressie en ‘n verbetering van standaarde, soos die verhoging van lewensverwagting ens. SA was weliswaar nooit per definisie ‘n Eerste Wereldstaat nie, maar het wel ‘n Eerste Wereld karakter gebou itv infrastruktuur, mediese dienste, beveiliging ens. Die ANC het die besbestuurde land in die hele Afrika ontvang met die sterkste ekonomie, infrastruktuur, politieke tradisies en wetstoepassing ens. Hoekom nie net hierop voortbou nie? Die grondslag was gele. Hoekom nie daarna streef om die agtergelate swart bevolking op dieselfde vlakke te kry as die voorheen bevoordeeldes nie, eerder as om slegs ‘n elite groepie op simboliese manier skatryk te maak? En hoekom ervare (en hoofsaaklik blanke amptenare) die trekpas gee, eerder as om hulle te hou en hulle expertise tgv die regering in te span sodat alle mense in SA baat vind itv dienslewering, bekamping van misdaad ens? Maar nou-ja, dis soos dit gebeur het en dis soos dit is. Ek vermoed dat sodra staatsamptenare (ministers ingesluit) se motivering nie meer die bymekaarmaak van rykdom is nie, maar ‘n werklike drang om die burgers se belange eerste stel, dan sal dit seker eendag beter gaan.

    • Junie 9, 2009 4:39 vm

      Ek dink die rasverdeling en ons geskiedenis speel tog ‘n reuse rol in middelmatigheid. Dit strem juis innovasie omdat mense in posisies kom waarvoor hulle nie geskik is bloot vir die rede om historiese onreg reg te maak. Mbeki het immers bely die afbetaling van vorige staatsamptenare, byvoorbaat, was kortsigtig.

      Dit is ‘n komplekse aangeleentheid. Dalk is ons verwagtinge te hoog in die kort tydjie wat die meerderheid regeer, veral gesien teen die agtergrond dat ons sedert ons aankoms aan die suiderpunt “regeer” het, en die meerderheid terug gehou het.

      • Junie 10, 2009 12:10 vm

        Ek dink een van die groot post-apartheid leuens wat vertroetel word, is dat – as daar nooit apartheid was nie – alle strukture, sportspanne, besighede, instansies ens. vandag die Suid-Afrikaanse demografie korrek sou weerspieel. Nerens in die vrye wereld werk dit so nie, en dit sou ook nie so in SA gewerk het nie.

  20. Junie 9, 2009 2:00 vm

    Aanvaarding is soms ‘n bitter pil om te sluk.

    Veral as ons nie hierdie verval gewoond was nie.

    Veral omdat dit eens op ‘n tyd veilig was. En omdat die basiese dinge gewerk het.

    Nou betaal ons steeds, maar ipv instandhouding, word dit spandeer op parties, karre, huise en onbevoegdheid.

    Need i go on?

    Jammer om te hoor van jou mense BiB

  21. Junie 9, 2009 4:43 vm

    My oom wat in Nederland ‘n welgestelde lewe leef, is soms net so moedeloos oor Nederland. Goed, omstandighede is anders, maar omdat ons almal ons eie idee van utopia het, raak ons seker moedeloos, maak nie saak waar ons ons bevind nie. Die dinge moet nie onder ons vel laat inkruip nie.

    Op ‘n ligter noot: ek kyk nou die T20 en sien Australie is so pas uitgeskop. Dink nou net hoe moedeloos voel hulle daaronder 😆

    • Junie 10, 2009 12:03 vm

      Hoewel ek glo dat daar selfs moedelose mense in Switserland en Luxembourg woon, ek dink net sommige plekke maak mens effe meer moedeloos as ander…

  22. Junie 9, 2009 5:43 nm

    Baie goed gesê.

  23. Junie 10, 2009 12:41 vm

    Ek wil nou nie rebels ( 😉 ) wees nie, maar ‘n onsaglike groot klomp dinge wat jy in jou lys noem, is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Inkompetensie, nepotisme, korrupsie, luiheid, geweld – dis human vices wat nie vinnig gaan verdwyn nie. Ook dink ek jy oorvereenvoudig ‘n paar situasies. Pornogafiese materialisme, byvoorbeeld, is die soort drek wat van Amerika afkomstig is. Ons buit dit maar net hier verder uit.

    Die korporasie – hy’s nie van Afrika nie. Maar hy fungeer hier op die basis van vrees, van wanpersepsies, van leuens, van geldlus. En hier in Afrika skroef hy ons dwars deur die oor. (Verskoon die uitdrukking, maar ‘n beter manier kon ek nie nou uitdink nie.) Hoekom die status quo verander as jy daaruit kan munt slaan? Hoekom mure afbreek en mense herenig as jy die Swart Gevaar in jou koerant kan verkondig, of die Wit Gevaar in jou ander koerant? Dis winsgewend om die land verdeeld te hou.

    In Suid-Afrika het ons die LSM-skaal ontwikkel – ‘n skaal wat korporasies gebruik om tot die armstes van die armes van hul geld te beroof. Sit jy sonder riolering? Dan gaan jy verseker van jou geld ontneem word deur Pepstores. Hou jy oorsee vakansies? Geen probleem – Woolworths sal jou geld vat. En MTN sal aanhou om jou geld te vat tot jou kind nie brood kan kry vir die maand nie en jou kind sal honger raak en kos steel en jou familie sal ‘n smokkelhuis raak.

    Voor ek ‘n lang relaas begin met ‘n risiko om van die punt af te wyk en soos ‘n maniese profeet te klink, net dit: die probleme in Suid-Afrika is bedrieglik – dis maklik om hulle toe te dig aan die chaos van die wanopgevoede Ander. Die realiteit is dat dit nie baie uniek is aan Suid-Afrika nie – en dat dit dalk nie heeltemal die skuld is van diegene wie jy dink nie.

    • Junie 10, 2009 1:25 vm

      Johan, nerens beweer ek die punte wat ek maak is uniek aan Suid-Arika nie. Soos ek al voorheen redeneer het, is die skaal en frekwensie waarop dit in SA figureer egter redelik uniek (as jy maar net geweldsmisdaad as voorbeeld neem). Selfs al was die skaal waarop dit voorkom nie so uniek nie, bly hierdie aspekte steeds verfoeilik.

      Neem byvoorbeeld “pornografiese materialisme”, wat jy so goed uiteensit. Dit het wel miskien van die Amerikaners oorgewaai, maar die feit dat SA se Gini-koeffisient die hoogste in die wereld is, dui die skaal aan waarop dit in SA voorkom.

      Soos ek in die inskrywing verwys, moet mens SA binne die post-koloniale Afrika-konteks plaas. Op hierdie punt stem ek saam dat dit dalk nie uniek Suid-Afrikaans is nie, want vele van hierdie faktore kan in talle ander Afrika-lande bespeur word. Maar selfs dan…selfs dan blyk die vlak en intensiteit van geweldsmisdaad in SA uniek te wees binne Afrika (oorlogsones uitgesluit).

      Ek het geen, maar geen twyfel dat feitlik al die faktore wat ek noem teruggvoer kan word na die totale onbevoegdheid binne die staatsdiens nie. Die media in SA, met enkele voorbeelde na, verkies meerendeels om die gesaniteerde weergawe rakende hierdie situasie aan hulle lesers deur te gee. Maar dis ook maar goed dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse burger nie bewus is van die omvang van hierdie onbevoegdheid en gepaardgaande mors van geld nie….

      En ja, jy is rebels, duiwelsadvokaat! 😉

  24. Chantelle permalink
    Junie 10, 2009 12:49 vm

    Iemand het vandag vir my gesê woede se oorsprong is selfsugtigheid, want jy kry nie jou sin nie, dus word jy kwaad. Dit opsig self het my bloeddruk op gestoot, want nou word ek nie eers ‘n vloermoer gegun nie. Ek moet aanvaar. ‘n Bitter pil om te sluk, Boer, maar tot en met my volgende uitbarsting oor ons land, sal ek aanvaar.

  25. Junie 10, 2009 1:49 vm

    Ek’s te hardkoppig om te aanvaar.

  26. Junie 10, 2009 11:26 nm

    Net ‘n laaste gedagte oor die begrip “aanvaarding”. Ek sien aanvaarding as daardie bewustelike proses wat lei tot vrede en berusting by ‘n situasie wat jy nie kan verander nie. Soos die geval met siektes of amputasies of die dood van ‘n geliefde ens. Dis gewoonlik nie maklik nie, maar in sekere situasies die enigste uitweg vir jou eie behoud. Dus dink ek dat mens al die punte wat ek noem een vir een moet neem en die volgende vraag vra:

    Kan ek op my eie of as deel van ‘n (wettige) kollektiewe aksie realisties gesproke die situasie binne die afsienbare toekoms verander/omkeer?

    Indien jou antwoord “nee” is, dink ek aanvaarding is jou beste opsie, hoe moeilik dit ook dan nou mag wees. Natuurlik kan jy (terwyl jy aanvaar) steeds hoop dat daar dalk (nou steeds onbekende) veranderlikes in die toekoms le wat die situasie kan omkeer. So kan mens ook deur ‘n geloofsprisma daarna kyk en glo dat die situasie deur bonatuurlike ingryping kan omkeer.

  27. René permalink
    Junie 11, 2009 8:11 nm

    Dis van AANVAAR dat ons sit waar ons sit! Ek dink ons voorvaders wie se bloed vir hierdie land gevloei het, maak dubbele bollemakiesies in hul grafte!

    Ek sien jou punt Boertjie, maar ek is geneig om my eerder by Johan Horn se kommentaar te skaar!

    Ek WIL NIE aanvaar nie! Ek sal aanhou bid EN GLO dat my gebede (en ook miljoene ander gelowiges in ons land) eendag verhoor sal word, al is dit dan ook na my dood!

    Lekker daggie!
    Rx

  28. Julie 1, 2009 1:38 nm

    Boer, woede is amper te polities korrek. Daar is sterker woorde wat meer beskryfbaar is. Maar ek verstaan hoe jy voel. Ek hoop jou familie is OK. My swaer is nou al twee keer at gun point van sy motor beroof en laas naweek is sy beursie helder oordag van sy eetkamer tafel besteel terwyl hy ‘n slapie gevang het op die sitkamer bank voor die TV (met ‘n stuk draad of iets deur die venster.). Gelukkig het hulle nie die huis ingekom nie want al die deure was gesluit. As ek hom vra wat gaan hy maak dan se hy net altyd: ons drink maar net ‘n bietjie meer die volgende keer. Aanvaarding! Ek aanvaar ook ek sal eendag hoor hy het hom uiteindelik dood gedrink of…

    Ek lees sommige van die kommentaar met verwondering en dink maar net. Woede kan nie altyd gekoppel word aan selfsugtigheid nie. Elke patriot bly altyd lief vir sy geboorte land, maar waar hou liefde vir die land op en waar begin realiteit, en soms moet ‘n mens besluit: Aanvaarding of ‘n beter lewe. Maak soos die boere van die Anglo-Boere oorlog: veg, verloor, aanvaar, om net weer alles te verloor of soos die ander Afrikaners wat na Argentina se Patagonia distrik gegaan het, liewers my goed te vat en trek Ferreira. In die moderne Suid Afrika is daar natuurlik nog ‘n opsie soos deur Coenie De Villiers in “Weenen” beskryf. Skep jou eie eiland in die donker, eet jou kreef en drink jou Cabernet, Dis mos hoe ‘n mens moet lewe en vergeet van wat buite die hoë mure gebeur. Ongelukkig moet mens soms die laer verlaat. Dis dan wanneer daardie bruin goed die fan strike.

    Bid tot jy blou word, gelate aanvaarding, of glo dat ‘n enkele (of ‘n paar miljoen anti-ANC) stemme ‘n verskil gaan maak, gaan eenvoudig net te lank vat na my mening. Ek het nie die tyd daarvoor nie. Ek aanvaar ek leef net eenkeer. En dis ‘n damn kort lewe. Ek aanvaar ek hoef nie te aanvaar wat Suid Afrika my meer aanbied nie. Ek aanvaar ek is onpatrioties (behalwe as ek rugby kyk) en dat ek meer liefde het vir my lewe as vir my land. Ek aanvaar ek is ‘n selfsugtige humanist.

  29. Julie 1, 2009 10:29 nm

    Baobab, dis nou werklik goed gestel en verwoord baie van my eie denke! Veral jou uitwysing van die “Weenen”-opsie is baie waar en ek ken persoonlik baie wat volgens daardie opsie leef. Jou laaste paragraaf is ook baie treffend. Mens moet in die heel eerste plek patrioties wees teenoor jouself en wie en wat jy is of wil wees.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: