Skip to content

die seer wat nie wil sneuwel…

Junie 23, 2009

Nog ‘n aangrypende en kontensieuse gedig uit die pen van my goeie vriend, Johan. Die tema van jeug as kanonvoer, is tydloos en universeel.

bosoorlog

ek onthou julle amal

toe julle nog jonk was
julle, seuns met die dowwe oe,
julle met gesigte onsigbaar onder die boshoed
wat edel magnus vlok en die befokte krokodil
blind sou volg
uitbundig selfs
soos die kinders wat julle was

al julle leeg gebloeides
al julle wat nooit sou leef nie
al julle met die skroot lywe
die flossie het jul gaan haal
die flossie het jul gespaar

al julle wat snags asemhaal
vlak soos 20 jaar terug langs ‘n nuwe kis
die boks met die oranje blanje blou bande… onthou?
ek onthou julle almal
wat hortend snuif snuif soos ‘n lam na sy ma
hortend ruik
in jul drome aan die muwwerige pink rook uit die granate
aan die kolkende stofwolke van Afrika

al julle gebaar in sonde
al julle wat eens babas was
liefdevol opgepas was
deur jul ma’s se kloek kloek klanke deur jul pa’s
se nerfaf hard gewerkte hande
ek onthou julle misbruiktes
en die blikkerige medaljes vir die dapperes van Suid-Afrika

al julle wat dood verwonde
lewens lei(y)
al julle wat maar net kon traai en traai
julle met die beperkte harte
en die knetterende onthoukamers
vol beendere
en
ofkos die glansswart kraai
van die haan

almal het vergeet van julle
wie se blaserige voete nooit gewas word nie
wie se vergifnis in die dag steeds verhandelbaar is
onthou ek jou nog
jong soldaat
van die oos vrystaat rante

(c) Johan Horn

11 Kommentaar leave one →
  1. Junie 23, 2009 2:31 vm

    Ons het nie almal vergeet nie. Mens probeer net om nie te onthou dat alles eintlik ‘n klug was nie.

  2. ankoren permalink
    Junie 23, 2009 6:05 nm

    ek dra jou, jong soldaat,
    soos ‘n fotokopie in my gemoed

    jou hand steeds so ferm om my hart
    soos om die R1 geklem

    om jou skouers die kromme smart oor jou makker
    wat plat geboks terug moes keer na die Sates

    die ferm die lyne om jou mond
    getrek op die Lombo se wal

    weg gebêre jou heldedaad by Cuito Canavale
    agter die leuen gehap van ‘n groot krokodil

    jou voete steeds netjies gestewel vas gegrond
    waar geen vlok dit hoef te was

    die murg in jou gebeente
    in Mavinga gestaal

    al is dit grys om jou slape
    eer ek jou steeds,
    my soldaat
    en soms mis ek jou bloudruk
    in die jongman van vandag

  3. Junie 23, 2009 6:33 nm

    Briljant!

  4. Junie 23, 2009 7:53 nm

    Ek het my ‘medalje’ in die Kavango rivier gegooi.

    Briljante woorde.

  5. Junie 24, 2009 12:32 vm

    Hoe kan enige SA-ner daardie tyd vergeet…enige een wat sy sout werd was, sal dit nie vergeet nie. Ek stem met Sonkind, mens probeer die “negatief” daarvan vergeet. Baie lewens is opgeoffer – ook vir ‘n veiliger SA – op daardie stadium. Ek wonder net baie keer… was daar enige ondersteuning vir enige van daardie soldate wat emosionele skade opgedoen het – wat binne-in die gevegte was. Was daar die nodige ondersteuning beskikbaar vir “ons manne” in SA?

  6. Junie 24, 2009 4:59 nm

    “Oorwinnaars” skryf die geskiedenis. Dis maklik om dinge te vergeet waarvoor jy geen agting gehad het nie. Dis maklik vir die “oorwinnaars” om ongemaklike dinge ongesê te laat. Aan die einde van dag, soos die geval met ALLE oorloë in die wêreld, staan jy alleen langs jou makker – en dis al. Niks anders tel of maak saak nie.

    Ek dink ‘n mens moet som jou voete aanbied vir was en nie noodwendig wag dat iemand dit kom was nie. But that’s just me. En ek was nie daar nie.

  7. Junie 24, 2009 5:31 nm

    Een ding is seker – ‘n klug was dit beslis nie. Dis vandag se leuen – die leuen dat ons teen ‘n “imaginary” vyand geveg het. Daardie vyand was daar, hy was gewetensloos, en ons het hom op militere gebied sy gat laat sien in elke opsig – selfs met 50000 Kubane wat anderkant die grens gesit het.

    Ek het nie grens toe gegaan weens ‘n klug nie – ek was daar want die mense wat vandag regeer, was bereid om te moor, te roof en te verkrag om daardie mag te verkry – en hulle het nog nooit opgehou om dit te doen nie.

    • Sammi permalink
      Junie 25, 2009 5:19 nm

      Ja Heiko, ek stem saam met jou en die “vrugte” word vandag gepluk presies soos jy beskryf PLUS die werklike waarheid oor die Rooi Russe en Sjinese wat die “veiligheidsvegters” misbruik het vir hul eie gewin. Minerale en grond wat hulle wou inpalm daardie tyd. Nee dit was nie ‘n leuen nie en ek dink PW het gedoen wat hy moes. En tot vandag was hy die EEN leier wat dit vreesloos gedoen het.

  8. Junie 25, 2009 4:39 vm

    Heiko – ek het die grootste respek vir enige soldaat, maar in my oë is die meeste oorloë ‘n klug. Dit gaan om magsvertoon, natuurlik aan albei kante en die magshongeres sit agter toe deure in veilige kantore, terwyl die gewone man op die straat – die “dispensables” – voorgestoot word om ‘n stryd te veg waarvan hulle heel waarskynlik nooit die voordele van ‘n oorwinning sal smaak nie. DIT is die klug van oorlog!

  9. rianabrand permalink
    Julie 2, 2009 10:52 nm

    Ek het vriende in daai “ongesiende” oorlog verloor – ek het neefs en vriende terug gekry – wat nooit weer dieselfde was – ek het ‘n pa wat in daai oorlog met sy troepe geveg het – en vandag verbitterd alles bekyk van jongmense wat dood is – die meeste nie eens op die “grens” nie maar onderweg of in ‘n ongeluk….oorlog? ek weet dit nie, maar ons almal dra die littkenens daarvan, miskien op jou lyf, ander in hulle siel…ek dink nie enige van ons sal dit ooit ooit kan vergeet nie…dit het ons almal geraak – al is dit net in jou siel…dankie vir die besonderse mooi gedigte.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: