Skip to content

‘n Juweel genaamd Oksan

Julie 23, 2009

S7300440

Angang is ‘n klein dorpie gelee ongeveer halfpad tussen Gyeongju en die kusstad van Pohang . Opsigself is daar nie veel beweegrede om die dorpie te besoek nie. Dis slegs ‘n klein beboude eiland binne in ‘n oseaan van groen, ryperwordende ryslande. Maar dis juis hierdie groen ryslande wat sag op die oog is en dit die moeite werd maak om mid-somer die hitte te trotseer.

Copy of S7300423

Neffens Angang (of eintlik seker deel van Angang – in Korea loop die dorpe en stede maar eintlik almal in een), is die prentjiemooi nedersetting van Oksan. Oksan is vir my een van die mooiste plekke om hier te besoek en sekerlik die naaste wat ek hier in Korea kan kom aan ‘n Greyton of Franschhoek. Dis maar net ‘n paar huise in die rysvelde, omring deur berge en met ‘n rivier wat tussen die digte bosse deur die vallei kronkel. Dis ook die tuiste van verskillende kunstenaars, soos ocarina-makers (ocarinas is baie gewild in Korea) en pottebakkers wat die mooiste produkte skep.

Copy of S7300433

In hierdie vallei vind mens rustigheid en kan mens ure spandeer om die somerlewe van die natuur te ervaar. Van die pragtige blomme wat lukraak gesigwys, tot die talle naaldekokers, spinnekoppe, bye en paddas (waarvan die rivier oenskynlik ‘n groot bevolking onderhou). Om voete in die rivierwater te druk, is verfrissend en hier en daar skuil ‘n swempoel tussen die rotse. Op ‘n drukkend bedompige dag is daar vele Koreane (amper altyd in gesinsverband) wat piekniekplekke langs die rivier vind.

Copy of S7300404

Die historiese monument, Dongnakdang, le reg langs die rivier. Hierdie huis is in 1532 gebou en dis hier waar die Neo-Confuciaanse filosoof, Yi Eon Yeok (1491-1553) gewoon het. Mens kan mens self indink in watter rustigheid Yi hier moes woon en watter geweldige bydrae dit tot sy denke moes lewer. Legkaartmooi.

Copy of S7300427

Sowat ‘n kilometer verder met die kronkelteerpad en weg van die rivier se kabbel, vind mens die Jeonghyesa pagoda wat merkbaar in vorm verskil van die ander pagoda’s wat uit die Silla -era dateer. Die pagoda word rofweg gedateer na die 9de eeu en is byna 6 meter hoog. Dit was oorspronklik deel van die Jeonghyesa -tempel wat gedurende 1765 in ‘n brand vernietig is. Mens het telkens weer bewondering vir die fyn vakmanskap van eeue terug…

S7300300S7300434S7300307

Volg mens die pad verder, word die klank van die Boeddhiste se getokkel op hul ronde hout-instrumente (die moktak) duidelik. Uit die bosse verskyn ‘n tempel. Kom mens nader, ruik mens die wierook en hoor jy die geprewel van sutras wat die ritmiese getok-tok-tok van die moktak vergesel met skemeraand.

Copy of S7300419

Die Oksan-motel nestel knus langs die rivier en hier kan mens die geurigste cappuccino afsluk. Mens word maklik verlei om aan te hou cappuccino’s sluk, maar soos altyd in Korea die geval is met cappuccino, is die prys inhiberend. (die ekwivalent van R35 per koppie).

Copy of S7300414

Daarna vinnig oor die bruggie voor die skemer finaal sy donker arms om die vallei vou. Net so ‘n 100 meter verder tref jy Oksan Seowon aan – ‘n historiese Confuciaanse skool, nou ‘n monument. Hierdie opleidingskool is in 1572 opgerig ter ere van Yi Eon Yeok. Binne die skool is daar ‘n monument van Yi, asook historiese kalligrafiewerke van vooraanstaande kalligrafiste tydens die Joseon-dinastie (1392-1910). Ongelukkig was die gebou reeds gesluit vir die dag. Die lug was erg skemer en vogbelaaid en derhalwe nie fotovriendelik nie.

S7300416

Soos lesers seker reeds afgelei het, is dit vir my lekker om hier in die vreemde moeite te doen om plekke te soek wat ongekommersialiseerd is en waar die kanse goed is dat mens nie ander expats sal raakloop nie. Ek wil sulke juwele opsoek om vreemd en in verwondering te bly in hierdie anderste land. Oksan is een so ‘n juweel.

Advertisements
16 Kommentaar leave one →
  1. Julie 24, 2009 2:28 vm

    sjoe, die foto’s is mooi, lyk soos roomys/nagereg wat mens wil eet, daardie by-foto en die kosmos(?) hou ek veral van!

  2. Julie 24, 2009 2:29 vm

    Dis baie mooi. Jou foto’s – jy’s seker al moeg hiervoor – stunning! 😉

  3. Julie 24, 2009 3:08 nm

    Pragtige plekke en foto’s, jy baie gelukkig!

  4. Julie 24, 2009 6:56 nm

    Hier is ons nuutste Endtime Warning aangaande die begin van Judgment Day op 21 Mei 2011

    http://www.familyradio.com/graphical/literature/judgment/judgment.html

    (2Kor 2:15-16) Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?

    Mag God elkeen van ons genadig wees.

    johannes

    • Julie 24, 2009 11:02 nm

      Johannes, ek sal dit waardeer as jy in jou kommentaar min of meer by die inhoud van die inskrywing hou.

      • Julie 24, 2009 11:58 nm

        Ek sekondeer. Dis geensins dat mens teen godsdiens gekant is nie, maar daar is talle godsdienstige blogs, en selfs daar is elke inskrywing oor ‘n spesifieke onderwerp en glo ek ook verwag die skrywers relevante kommentaar.

      • Julie 27, 2009 4:48 nm

        Jammer ek sal nie weer nie.

        Delete asb.

  5. Julie 24, 2009 11:34 nm

    Soos altyd het ek hierdie inskrywing ook weer ontsettend geniet. “…ruik mens die wierook en hoor jy die geprewel van sutras wat die ritmiese getok-tok-tok van die moktak vergesel met skemeraand” – ek kan my dit net indink – moes ‘n belewenis gewees het!! Jou “stunning” foto’s weerspieël absoluut die rustigheid!

  6. Julie 25, 2009 12:02 vm

    Puik inskrywing Boer, baie interessant en jou foto’s is onverbeterlik. Die toneeltjie op die eerste een kan mens maklik aansien vir ‘n tipiese plasie in S.A. met meer as een groot plaashuis, al is dit bietjie baie groen, maar hier is mos darem ook sulke plekke.

  7. Julie 25, 2009 10:29 nm

    Angang is ‘n beautiful plekkie en so die moeitewerd om te sien! Daar is ‘n baie lekker swemgat daarby die tempel wat jy moet besoek, veral na ‘n lang warm dag se stap!

  8. Julie 26, 2009 12:46 vm

    Pragtige foto’s Boer.

  9. Julie 28, 2009 5:44 nm

    pragtige fotos

  10. Julie 30, 2009 11:56 nm

    Dankie, Johannes. 🙂

  11. Augustus 31, 2010 11:54 nm

    magnifieke plekjes!

  12. September 24, 2010 4:21 vm

    Dit is, tine, dit is pragtig.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: