Skip to content

1865 onder tong

September 20, 2009

S7306625S7306623S7306625

In 1865 het die broers Albano die Vina San Pedro wynkelder in Chili gevestig. Vandag is Vina San Pedro een van Chili se grootste en bekendste wynprodusente. Hulle super-premium reeks wyne dra heel gepas die naam 1865, juis om die stigting van die kelder en die Albano -broers se visie te gedenk. Ek was natuurlik nie bewus van hierdie agtergrond nie, totdat ek sowat ‘n week terug die voorreg gehad het om die 1865 Single Vineyard Cabernet Sauvignon 2007 onder neus en tong te neem. Hierdie wyn is afkomstig van Chili se beroemde Maipo Vallei, gelee net so neffens suid van Santiago .

Die kleur in die glas is diep, donker, broeiend en onpeilbaar – reeds ‘n aanduiding dat mens hier dalk meer te wagte moet wees as die gemiddelde braaivleiswyn. Die neus is indrukwekkend, met tipiese Cabernet-geure van swartbessie, tabak en sigaardoos. By verdere ondersoek, is ‘n effense kruierigheid te bespeur, asook subtiele geure van bosbessies (cranberries ). Spore van vanielje dui aan dat hierdie wyn moontlik bederf is in nuwe houtvate.

Op die palaat is hierdie wyn geensins subtiel nie. Dis ‘n oorweldigende oorrompeling wat die hele binnekant van jou mond betrek. Hierdie is ‘n wyn wat nie verdien om slegs gesluk te word nie. Hy moet eers behoorlik in jou mond le om sy teenwoordigheid te vestig. Jy kou behoorlik hierdie wyn met die sappige bessiegeure wat deur jou tande bars, voor die wyn uiteindelik loop neem en jou met ‘n blywende indruk laat. Daar is goeie balans en die tanniene – hoewel teenwoordig – is mooi versteek deur die vrugtesmaak. Die nasmaak is aangenaam, lank en talmend, wat byna altyd ‘n aanduiding is van ‘n kwaliteitwyn.

Op sy eie is hierdie wyn ‘n smaaksensasie, maar verseker eerder bedoel om saam met die beste biefstuk wat jy jou hande kan ople, geniet te word. My enigste kritiek teen die wyn, is die hoe alkoholvlak (so kenmerkend van die Nuwe Wereld) wat ‘n effense branderigheid in die keel laat. Eintlik jammer, want dit doen afbreuk aan ‘n andersins indrukwekkende smaakervaring, veral in ag geneem dat hierdie wyn my barmhartige buurvrou anderkant die berg die ekwivalent van ongeveer R240 uit die sak gejaag het.

S7306625S7306623S7306625

Advertisements
4 Kommentaar leave one →
  1. September 21, 2009 4:50 nm

    Oi… nee, wat… vir daardie prys kan jy maar liewer die geldjie weg bere tot jy weer ‘n draai in die kaap kom maak… Sou jy se dit is die moeite werd?

  2. September 21, 2009 9:42 nm

    As jy dit nou in rand en sent omsit is dit darem maar baie geld, maar hier is dit nie SO erg nie!

    Die wyntjie was lekker, maar daai hoë alkohol het so bietjie gepla en dis nog nie so koud dat ek dit nodig het nie 😉

  3. September 23, 2009 12:46 vm

    Wyn, veral baie goeie wyn, bly maar bitter duur in Korea. Vir my was die wyn nie heeltemal die geld werd nie. Ek dink daar is ‘n hele paar Europese wyne hier beskikbaar wat vir dieselfde prys, beter waarde bied. Maar nou-ja, dis nou nie aldag wat ons soveel uitgee op ‘n bottel wyn nie…dalk weer eendag.

  4. September 23, 2009 12:30 nm

    Ek het die bottel net gekoop omdat ek dit altyd sien en wonder hoe dit smaak en dit was darem bietjie afgemerk.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: