Herfs as halfweghuis
Ek het myself reeds baie afgevra hoekom herfs my gunsteling seisoen is. Ek het tot die slotsom gekom dat herfs daardie seisoen is wat die beste reflekteer wie ek is, of ten minste wat ek streef om te wees.
Die herfs bring ‘n bepaalde rustigheid en vrede. So asof die natuur, na die ekstreme hitte, asem skep en vir ‘n oomblik stilstaan; amper of die natuur skielik in stadige aksie beweeg. Anders as die ongemaklike temperature van die somer en winter, is herfs gematig. Herfs is subtiel, genuanseerd, en omsoom ‘n tipe misterie wat ontbreek by enige van die ander seisoene. Selfs met die indrukwekkende kleurespel wat so opvallend is in Korea, behou herfs ‘n bepaalde waardigheid, gestroop van die uitbundige ekshibisionisme so tekenend van die lente .
Dis die koeler korter dae, die wye blou lug, die goudryp ryslande, die stadig verkleurende bome wat mens weer tot stilstand dwing en vir jou ruimte skep om jou eie gedagtes te orden; momenteel dit te verberg van die alledaagse geraas. Dis ‘n seisoen wat weer waardering bring vir die voorreg om net te wees.
Maar dis bowenal ‘n inspirerende en geborge halfweghuis waar jy kan rus en voorberei vir die ongenaakbaarheid van die komende winter. En nerens vind ek hierdie halfweghuis so helend as hier waar ek tans woon nie.
Dit is seker een van die dinge wat my aantrek na Kanada toe. Die herfs kleure. Mens kry dit soms in die Boland as die winter saam speel.
Snaaks genoeg is dit die tyd van die jaar waar ek net nie kan ophou om vir almal te sê hoe wonderlik die wêreld is nie. Ek woon in die Swartwoud en ek is verlief op hierdie tyd van die jaar. Daar moet een of ander iets wees wat ons as Suid Afrikaners aantrek tot die herfs.
Miskien is dit omdat ons gewoond is aan soveel verskillende kleure. 😉
Ek is ook ‘n herfs-mens, maar ‘n vroee herfs-mens…laat-herfs is te naby aan winter en als lyk te verdroog/dood/somber – vroee-herfs het daardie speelsheid van kleure en baie veranderinge vind nog plaas soos die seisoen vorder. [klink nou soos ek wat my mind change soos ek dinge doen – haha]
Die herfs bring ‘n bepaalde rustigheid en vrede – ek kan dit aanvoel in jou woorde…. baie rustig
Ek probeer hard om vas te klou aan die rustigheid. 🙂
Herfs is vir my die teken van hoop, na herfs kom winder, maar na winter kom lente – nuwe lewe. Hoop is om te aanvaar dat dit wat oor die toekoms belowe is waar gaan word, selfs al is daar geen teken daarvan nie.
Dis mooi gestel, Attie.
Is die ritsel van ‘n herfsblaar, altyd die wind?
http://skoor.wordpress.com/2009/10/29/ek-spook-jy-spook/
Inderdaad, sonder twyfel ook my gunsteling seisoen (hier in Korea en elders). Ek’s gedurig in eforie omtrent die kleure en vind myself in ‘n aansienlike beter bui.
Iemand het vir my onlangs gesê dat herfs aan haar openbaar het dat die dood ook mooi kan wees. Die blare sterf af, maar in hulle sterfte verkleur hulle tot die allermooiste skakerings.
Ek was die naweek bietjie berge toe en dit was asemrowend! Die kleure is so helder, dit kom amper kunsmatig voor.
Mooi verwoord!
As Kapenaar het ek min aandag gegee aan herfs want dit was nooit so intens soos in die noordelike halfrond. Behalwe in die Boland en in agter-Durbanville. Maar die groot trek noord het ‘n regte “vier seisoene kind” van my gemaak. Herfs is savouring the last drops of summer. Nice picture frames!
Ja, herfs was vir my ook maar altyd die wingerde en die akkerbome op S’Bosch. Maar hier is dit so dramaties, dit laat ‘n blywende indruk.
Dis baie mooi gestel Boer, in woorde wat ek nie het nie. Ek hou ook baie van die herfs, maar ek deel Nikita se sentement: dis te naby aan die winter.
BnB, Pragtige foto’s! werklik.Veral die laaste een. sjoe
Beste groete
Dankie, Johan!
DIe kiekies is uitsonderlik mooi….en die seisoen die begin van nuwe lewe….pragtig dankie Boer!!
Dankie vir die kommentaar en welkom hier, Daizy!