Slaan oor na inhoud

Godskuns in Gayasan

November 11, 2009

framea8f93f7e0fc419f1bd8bcf6d0c4a9982becad7ed

Gayasan (geproklameer in 1972) is een van die kleiner van Korea se stuk of 20 nasionale parke, maar nie noodwendig minder indrukwekkend nie. Die park is te vinde ongeveer ‘n uur se busrit vanaf Daegu en is veral bekend vir die feit dat Haeinsa- tempel hier geleë is.

frame85965450f943623332de3cdf1c1314de67953625frame09855057177e74770d3199e13cccf89c74e039bc

Haeinsa dateer uit die 9de eeu en is opgerig tydens die heerskappy van Koning Aejang (800-809), die 40ste monarg van die Silla Koninkryk. Dit is ‘n UNESCO Erfenisgebied en nie om dowe neute nie. Want dis hier waar die Tripitaka Koreana bewaar word – die oudste en volledigste versameling Boeddhistiese skrifte in die wêreld. Dit is gekerf in Sjinese karakters op ongeveer 80 000 individuele houtblokke, gemaak van Koreaanse berkehout. Dit word gehuisves in die Janggyeong Panjeon, ‘n kompleks van geboue binne die tempelgronde. Die Tripitaka Koreana is een van die nasionale skatte waarop Korea baie heilig en trots is en dus word die geboue dag en nag bespied met geslotekring televisiekameras. Daar mag ook geen foto’s geneem word nie, maar ek is darem al by die tyd ‘n gesoute steelfotograaf.

frame8fd23c49eb18e79344ee57a71151f875aebe3ce2frame25a4c1d83ea1247bbc03bb2fd688020cd63a43bd

Die kerf van Tripitaka Koreana het sowat 16 jaar geneem en is in 1251 voltooi tydens die heerskappy van Koning Gojong, die 23ste monarg van die Goryeo Koninkryk. Dit is in 1398 na Haeinsa gebring, waar dit sedertdien bewaar word. Haeinsa self sien soos meeste ander Koreaanse tempels daaruit, maar dis die ligging van die tempel in Gayasan wat dit so spesiaal en die moeite werd maak om te besoek.

framed53ffaf4350c72a289eb6fc25159ba1246d095be

Dis juis in die herfs wat Gayasan tot sy volle reg kom en ‘n bondelose kleurespel tentoonstel, wat jou na jou asem laat snak. Dis ‘n natuurskouspel wat enige mensgemaakte skouspel laat vervaal.

framed9d049076aaafcf481290c7445f775214313b33aframedf0cfc43816c3537ce09bd8af9211bf95cf245f1

frame712845747310a1f56e21407144cbb8c77ddf62beframec0d3cbb0eab5f2aff1a86292ffc9779f09d5689e

Tydens herfs vertoon Gayasan eindelose kreatiwiteit wat in nimmereindigende skakerings vanaf God se palet drup. Kleure van dieprooi; pastelle van geel tot goud; wisselende weergawes van oranje; skakerings van bruin tot oker. Die verskeidenheid skakerings is as’t ware so groot en divers dat dit haas onmoontlik is om raak te beskryf. In die bome is daar ‘n swetterjoel voëls wat luid saamdoen aan die fees van kleur. Byvoeglike naamwoorde raak bloot ontoereikend. En deurentyd besef mens die ironie dat juis hierdie weergalose visuele simfonie die sterwensuur van die somer aandui.

framea68288baf5ac3b29ebe901eb5384808612bddfbfframe76f814d469c696ec0520551d485b0494f06079d5

frame0f3e2295edbd01df8ce5137dd390f03c4184c999framebf6d4b7ca35a7e460d20f4c5ee247fcc8f3e78b8

Ek kan sekerlik nog baie gedagtes pen oor die emosies wat die ervaring in Gayasan in my wakker gemaak het, maar ek voel dat my woorde reeds nie reg laat geskied aan die ervaring en die beelde wat ek hier plaas nie. Want dis einde ten laaste niks minder as Godskuns wat ver buite die sfeer van aardse woorde bestaan.

frame0c17440f6de222f5b0360489ff6e2ac44bf5db55

NS: En nou laat ek herfs gaan…staal myself vir die vaalheid van winter…met die hoop dat sporadiese sneeu tog die eentonigheid sal breek.

9 Kommentaar leave one →
  1. November 12, 2009 9:01 vm

    Sjoe! Darem baie mooi – al daardie herfskleure! Dis behoorlik ‘n simfonie van kleure! Pragtige foto’s!

  2. November 12, 2009 2:32 nm

    Jou woorde: “eindelose kreatiwiteit wat in nimmereindigende skakerings vanaf God se palet drup” is só ‘n raak en ‘n mooi beskrywing. Ek hou baie van die raampies wat jy gekies het – dit komplimenteer die foto’s absoluut!

  3. November 13, 2009 12:01 vm

    Buddhistiese kuns gejukstaponeer met Godskuns. Baie mooi — fotos en skrywe.

  4. November 13, 2009 11:45 nm

    Stunning herfskleure!! …

  5. November 14, 2009 11:36 nm

    Sommer net stunning.

  6. November 17, 2009 4:04 nm

    Jinne boer… die bome is regtig ongelooflik!

  7. Desember 1, 2009 3:02 vm

    Dankie vir die fotos. Dis so mooi!

Trackbacks

  1. Die visuele nirvana wat die koue die moeite werd maak « Boer in Ballingskap
  2. Nog ‘n najaar in die vreemde… « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar op Retha Kanselleer antwoord