Slaan oor na inhoud

Jou bagasie is bloot te swaar

November 17, 2009

Ek lees dikwels in die media en in die blogosfeer hoe daar kunstig gejongleer word met die term “Afrikaan”. Baie blankes (en veral Afrikaners) sien hulself as volwaardig Afrikaan en wil met alle geweld hulle selfdefinisie aan mede-landsburgers opdring. Daar is selfs diegene wat erkenning as Afrikaan skynbaar as hoër ideaal voorhou as bloot erkenning as Suid-Afrikaner. Is Afrikanerskap en/of Suid-Afrikanerskap bloot net nie goed genoeg nie? Waarom opsoek na nog ‘n etiket? Hoekom wil jy so graag as Afrikaan erken word? Waarom hierdie amperse Oedipuskompleks? Dink en tree jy op soos ‘n Afrikaan, is jou waardestelsel dieselfde, deel jy mee aan Afrika-kulture, tale, kosse, gelowe, danse, inisiasie, tradisionele troues ens.? Ondersteun jy enige van die historiese bevrydingsbewegings? Leef jy soos ‘n Afrikaan, of leef jy soos ‘n Europeër in Afrika (met die bykomende onrealistiese verwagting dat westerse standaarde in ‘n Afrika-land moet hoogty vier)? Die blote feit dat jy hou van potjiekos, braai, buitelewe en viertrekroetes maak nie van jou ‘n Afrikaan nie.

Maar selfs al sou jy kon voldoen aan al die kriteria om teoreties as Afrikaan te kwalifiseer, bly jou selfdefinisie steeds irrelevant. Hierdie irrelevansie word duidelik illustreer deur die feit dat jy bv. in die VSA nooit as ‘n Afro-Amerikaner beskou sal word nie (wanneer laas het jy iemand na Charlize Theron hoor verwys as ‘n “Afro-Amerikaner”?). Hou maar die internasionale media dop – daar is globale sensus dat Afrikane per definisie donkerkleurig is. En waar jy ook in die wêreld reis, hang monde oop van verbasing dat daar wit boorlinge uit Afrika kan kom.

Ek dink die situasie is duidelik: Dit gaan ten diepste oor jou velkleur en gevolglik hoe die huidige politieke elite, hulle volgelinge en die res van die wêreld jou beskou. Jy bly tog maar op die ou-end die setlaar, die voormalige onderdrukker wat nog geduld word, maar wat nooit onder die wanindruk moet verkeer oor wie se land Suid-Afrika nou eintlik is nie. Jy is en bly die objek waarop Afrikane hul historiese minderwaardigheidskompleks projekteer en waarop die westerse wereld hulle kolonialistiese skuldgevoelens stapel.

Jou velkleur en Europese afkoms diskwalifiseer jou nie slegs bloot daarvan om as Afrikaan erken te word nie, meer nog….jou stem en rol in Suid-Afrika word baie effektief geneutraliseer deur bloot die spoke van die verlede op te jaag en die populistiese mistasting subtiel (en soms minder subtiel) te verkondig dat blankes per definisie rassisties is (alle Duisters is immers Nazi’s, alle Moslems terroriste en alle Afrikane onnosel) Hierdie het by verre die maklikste, mees effektiewe en suksesvolste wyse geword waarop die regime blankes van legitimiteit stroop. Die realiteit is dat die donker skadu van apartheid altyd soos ‘n stank oor blankes en spesifiek Afrikaners sal hang en hulle kanse belemmer om ooit erkenning te kry as volwaardige Afrikane met ‘n rol om te speel. In hierdie verband blyk geen boetedoening ooit genoeg te wees nie. Die hart van die saak is dat die blanke, ondanks die feit dat hy geslagte lank reeds in Suid-Afrika woon, nooit sal aanvaar word as volwaardige Afrikaan wat kan beslis oor die lotgevalle van Suid-Afrika en/of Afrika nie. Meer as dit: blankes is by verre ‘n al hoe kleinerwordende minderheid en daarom is daar nog meer rede om hul te ignoreer. Hierdie loop van gebeure vind plaas ondanks die feit dat dit juis die blanke is wat die dun, wit lyn vorm tussen volwaardige derde wêreldstatus en die wankelrige instandhouding van standaarde. Verseker is daar stemme uit die geledere van Afrikane wat hierdie tendens uitwys en beveg, maar ongelukkig word hierdie stemme ontman deur hulle bloot af te maak as meelopers van rassiste (oftewel sg. coconuts ).

Hoewel ek nie sover sal gaan om mense aan te moedig om Suid-Afrika te verlaat nie, is ek verheug dat so baie Suid-Afrikaners geleenthede in ander lande aangryp om vir hulle aldaar ‘n beter toekoms te skep. Dit is immers oorspronklik hoekom die Europese setlaars die suidpunt van Afrika as tuiste gekies het. Die keuse wat individue maak om vir hulself ‘n beter toekoms te skep, moenie verkleineer word nie. Die geskiedenis van die mensdom, migrasie en die vestiging van nuwe volke is onlosmaaklik verbind tot die strewe na iets beters. En verseker is dit nie die “maklike” uitweg soos so dikwels verkondig word nie. Om uit jou gemaksone te beweeg, is deurlopend die moeiliker opsie.

Maar die realiteit is dat daar ‘n meerderheid is wat nie uit Suid-Afrika kan of wil padgee nie. En natuurlik is dit ‘n opsie om weens diverse persoonlike redes in Suid-Afrika aan te bly en in swak omstandighede die beste te doen wat jy kan. Maar maak dit dan vir jou makliker: hou op om teen die prikkels te skop. Besef oplaas dat Suid-Afrika ‘n Afrika-staat is met Afrika-probleme, Afrika-standaarde en middelmatigheid as maatstaf. Maak vrede hiermee…en met die feit dat jy nooit erkenning as Afrikaan sal kry nie. Jou vel is te lig en jou bagasie is bloot te swaar.

24 Kommentaar leave one →
  1. November 18, 2009 12:26 vm

    Puik inskrywing hierdie.

    Dis presies my uitgangspunt: as jy in Afrika wil bly, moet jy aanvaar dat jy ‘n “African” moet word om in te pas. Vergeet van jou westerse standaarde – pas in of voertsek.

    Ek het besef ek pas nie in nie, en het gevoertsek. Mense wat my vertel dat “Afrika se bloed in hulle are klop”, is van hulle sinne beroof. As dit waar is, hoort jy in ‘n derde wereld land en verdien jy jou regering.

  2. November 18, 2009 2:05 vm

    Goed gese, Boer. Ek moet ook saamstem, waar ons Saffas gaan, maak hulle ‘n sukses en dis verblydend om dit te weet. Ek het self al oor hierdie “Afrikaan”-term gewonder… jy het dit baie duidelik gestel. @Heiko, ek verkies dat daar Afrika-bloed in my are klop, dit maak nie van my daardie “agerlike” watookal nie. Daarmee sien ek eerder dat my “kultuur” in my are klop en nie die “Afrika-standaarde” nie.

  3. November 18, 2009 2:57 vm

    Hiermee stem ek ook volkome saam. Dit is so asof die mense ‘n “root” probeer soek wat nie daar is nie. Ons is van Europese afkoms en sal so bly tot in der ewigheid. Dalk “euro-african”! 😉

    • November 18, 2009 9:05 nm

      Ek is ‘n voorstander van die term “Euro-Afrikaan” en ek wou dit oorspronklik hier gebruik in stede van “blankes”. Ek het toe geoordeel dit sal onnodige semantiese verwarring skep. Maar ek dink die term (soos die term “Afro-Amerikaner” in die VSA) is die mees beskrywende woord vir blanke Suid-Afrikaners.

      • November 18, 2009 10:42 nm

        Dalk moet ons dit begin gebruik en mode maak daarvan. Mens weet nooit dalk word dalk ‘n erkende vorm wanneer daar na die blanke afrikaan verwys word.

  4. November 18, 2009 9:40 vm

    Ek stem glad nie saam nie, en hopelik kry ek tyd om in meer detail dit uit te druk. Al wat ek nou wil se is dat dit nou spesifiek ‘n tyd vir verwyte is – om duidelik te maak aan die witmens hoe swaar die juk van sy oorheersing was.
    Maar dit sal nie altyd so fel bly soos nou nie.

    • November 18, 2009 9:08 nm

      alleman, ek het vermoed jy gaan nie saamstem nie, juis oor my ongeinhibeerde gebruik van die term “blanke”. 😉

      Al verskil ek, hoop ek regtig diep in my hart jy’s reg as jy se dat dit nie altyd so fel sal bly nie…

      • November 19, 2009 7:01 nm

        Ek voel ook soos Alleman. Dalk… dalk is die manier waarop Bobby Godsell deur die regering hanteer is, die begin van ‘n aanduiding dat die tydvan verwyt BEGIN verbygaan. DIE Black Management Forum en Julius Malema se monde is stil nadat die regering en die ANC hulle teengegaan het. Ek weet nie altyd watse bloed klop in my are nie, maar ek is hier.

  5. Laurence permalink
    November 19, 2009 2:06 vm

    Dit is veronderstel om ‘n irrelevante gesprek te wees. Al wat vir my saak maak is dat ek ‘n burger van Suid Afrika is en daarom het ek regte as ‘n burger. Ek stem saam dat blanke Suid Afrikaners nie moet poog om hulself Afrikane te noem nie – dit is onnodige woordkuns. As ‘n voorbeeld dink ek aan Engeland en al die verskillende bevolkingsgroepe wat daar bly. Daar is ‘n verskil tussen burgerskap en bevolkingsgroep en ek kan nie verstaan hoekom dit ‘n issue moet wees nie. Ons moet net groot word – ons is almal mense en kom van verskillende plekke en bly op verskillende plekke. As ons wil deel wees van die moderne samelewing dan moet ons volgens daardie reels speel.

    • November 19, 2009 10:01 nm

      Laurence, lekker om weer van jou te hoor! Hoop dit gaan goed daar in die verte.

      “Onnodige woordkuns” Verseker.

  6. November 19, 2009 5:06 vm

    Bib, ek verskil baie meer fundamenteel as net oor woordkeuses en die betekenis van “blanke” en “afrikaan”. Ek voel dis nie reg dat mense wat in SA bly se moed gedurig getap moet word nie. Mens moet eerder probeer hoop gee.
    Onthou net, probleme en desperaatheid is nog altyd deel van die lewe. Daarom is hoop en planne maak van groot belang, en ‘n pessimistiese uitkyk eerder skadelik.

    • November 19, 2009 10:11 nm

      Ek hoor wat jy se. Natuurlik skryf ek op my tuiste wat ek voel en dink en vind dit dan ook terapeuties om soms my gedagtes uit te skryf. Dis geensins my doel om met enige inskrywings ander mense se gemoedstoestand te manipuleer nie. Dis maar soos ek dinge sien (in hiperbool, te kenne gegee) en ek besef dat baie nie die perspektief deel nie. Ek was nog nooit juis iemand vir versiersuiker nie en as dit beteken ek tel etikette op soos “negatief” of “pessimisties”, dan berus ek my daarby.

  7. rianabrand permalink
    November 19, 2009 5:08 nm

    SELA! Amen! Goed gese! Dankie vir ‘n goeie inskrywing.

  8. November 19, 2009 7:04 nm

    Mag ek hierdie vraag vra: In hoe ‘n mate is Afrikaners in die buiteland anders. Onder andere was Suid Afrikaners in sekere omstandighede van die eerstes wat hulle werk verloor het tydens die resessie in die VSA. Daarmee saam gaan die Engelse en die VSAners nie juis uit hulle pad uit om SAners tuis te laat voel nie. Hoekom sal hulle? (Ek gebruik maar net die VSa as ‘n voorbeeld, want ek het kontak met mense daar.)

    • November 19, 2009 10:05 nm

      Ek vermoed dat jy bedoel hoe is die “posisie” van Afrikaners in die buiteland anders? Wel, ek het ook naby-familie in die VSA (Oregon, om presies te wees) en hulle is reeds ‘n paar jaar daar en baie gelukkig. So ook andere wat ek ken regoor die wereld. Ek dink dit hang maar van elke persoon af of hy regtig wil inpas of nie.

      • November 19, 2009 10:14 nm

        Yep. Jy kan nie in ‘n ander land gaan woon en verwag hulle moet agteroor buig om jou tegemoed te kom nie. Dis die probleem wat baie Suid Afrikaners het as hulle emigreer – dink hulle die wereld skuld hulle iets en almal gaan hulle skielik op ‘n troontjie plaas?

        Dis ‘n Suid Afrikaanse mentaliteits-probleem. Sou jy nuwe immigrante van Europa in SA met ope arms verwelkom het, of sou jy verwag hulle moet dadelik begin afrikaans praat en biltong vreet? Wie sou jy eerste fire – jou Afrikaanse pel of die Uitlander wat van Europa af kom? Hoekom dink jy dit sal anders wees in ‘n ander land? Fit in or move along…

  9. November 19, 2009 7:06 nm

    Jammer dat ek net so inbars hier … maar kom Pik ‘n traantjie en Wip ‘n woordjie en sê koebaai vir Wipneus en Pikkelik?

    Don’t cry because it’s over …

  10. November 19, 2009 10:25 nm

    Ek hoor wat jy sê, ek het weer ander wroegings met die Afrikaner wat so trots is op homself dat dit ander mense af piepie … hoekom probeer ons so hart … hoekom kan ons nie maar net wees en laat wees nie…

    http://kekkel.wordpress.com/2009/11/18/afrikaner-trots/

  11. amanda permalink
    November 22, 2009 11:09 vm

    Net soos wetenskaplike navorsing alhoemeer bewys dat geslagsidentiteit meer kompleks is as uiterlike genitaliee, net soos is kulturele identiteit aansienlik meer kompleks. Ja, Charlize word nie beskryf in Amerikaanse media as “african-american” nie, maar as “south african” en Nelson Mandela word dieselfde beskryf. Een heelwat “african americans” het spontaan my beskryf as “our african sister.”

  12. November 24, 2009 5:39 nm

    Eienaardig hoe ‘n taal se grammatika, sintaksis en semantiek so verskillend vir baie kan sê, en dit is nietemin dieselfde woorde. Ek dink jy som dit baie goed op; dat ‘n mens eenvoudig die Afrika-ding aanvaar.

  13. November 28, 2009 5:53 nm

    Ek stem met jou standpunt saam, en ook nie. Ek beskou myself as ‘n Afrikaan, bloot omdat ek nie ‘n Europeer, Amerikaner, Asier, Brit, ens. is nie. My kultuur is Afrikaner (let wel, nie Boer nie), my nasionaliteit is Suid-Afrikaner, maar omdat ek ‘n boorling van Arika is, beskou ek myself net soveel ‘n Afrikaan soos die Zoeloe, die Sotho ensomeer. Net soos ek, het hulle ook maar van ander streke na Suid Afrika toe gemigreer. Dit is mos net die Khoisan wat werklik inheems is, of hoe.

    Ek het onlangs begin om in Afrikaans te blog en is op soek na ander Afrikaanse bloggers. Ek nooi julle almal uit om my te besoek by //ekisanna.blogspot.com/. Moenie teveel verwag nie. Ek is net ‘n alledaagse, gemiddelde, middeljarige vrou wat dit geniet om in Blogland te kuier. Sou jy my besoek, laat asseblief ‘n opmerking sodat ek sal weet jy was daar.

  14. Desember 1, 2009 7:36 vm

    Dis die Ding nê eks gatvol daarvoor dat waar ookal ons gaan ons gejudge word.
    Afrika klop in my are, maar sy is nie meer my ma nie. Die meeste blankes geboore in Suid-Afrika sit met ‘n identiteits krisis. ons hoort nerens nie. Ek se dus laat gaan met ide labels. Eks ‘n Globalist. Afrika woed in my wande, maar Europa loop op in my kop. Ek noem myself ‘n Globalist, want niemand is bereid om verandwoordelikheid te vat vir die straatkind nie.

  15. Desember 1, 2009 4:52 nm

    Op die Tonight Show met Jay Leno net nadat Charlize haar Oscar gewen het, het hy ‘n grap gemaak en gesê sy is die eerste vroue African American wat die Oscar gewen het. Die gehoor het maar net so beleefde laggie gegee. 🙂

Trackbacks

  1. Wat is ‘n Afrikaan? « alleman

Lewer kommentaar op boerinballingskap Kanselleer antwoord