Skip to content

Schumi jaag weer!

Desember 24, 2009

schumacher joins mercedes

Foto: Formula 1

Die 40-jarige Michael Schumacher het besluit om te teken as jaer vir die Mercedes Benz Formule 1 renspan (voorheen Brawn GP). Schumacher het in 2006 uit die sport getree op die hoogtepunt van ‘n fenomenale loopbaan waarin hy nie slegs die legendariese Juan Manuel Fangio se rekord van 5 kampioenskappe met twee verbeter het nie, maar ook talle ander Formule 1 rekords ingepalm het. Schumacher wou al verlede jaar vir die Ferrari span terugkeer, maar is toe deur ‘n besering gekortwiek.

Die Brawn span het verlede jaar geskiedenis gemaak, toe hulle teen alle verwagting in, die eerste span geword het wat op debuut beide die jaers-en vervaardigingstitel kon inpalm. Hulle het Mercedes se enjins gebruik, maar vir die nuwe seisoen het Mercedes die beherende aandeel in die span gekoop en vandaar die naamsverandering. Met sy aansluiting by die Mercedes Benz span hernu Schumacher sy baie susksesvolle vennootskap met Ross Brawn (spanbestuurder) saam met wie hy al sewe sy wêreldtitels gewen het.

Dis sekerlik nie slegs die $10 miljoen wat hom gelok het nie, maar die algemene gebrek aan adrenalien en opwinding van die burgerlike lewe wat so dikwels afgetrede sportmanne oorreed om terug te keer na hulle ou nering. Meeste sportsoorte het hulle rits van sterre wat net nie hulle rug kan keer om dit wat roem en geld gebring het nie. Net die afgelope jaar het Lance Armstrong weer die Tour de France gery en die vroulike tennisspelers Lindsay Davenport en Justine Henin het weer die raket opgeneem, sover redelik suksesvol (bygesê, hulle is nog relatief jonk). Dis veral ook boksers wat keer op keer op keer weer terug na die kryt en ek het al vergeet hoeveel keer George Foreman nou eintlik uitgetree en weer begin veg het.

Ek vermoed binne hierdie siklus van uittree en weer begin deelneem, geld nie altyd so ‘n oorwegende rol speel nie, maar eerder die adrenalien verbonde aan sport en die beroemdheid en heldeverering wat eensklaps verby is, wanneer jy uittree.

Ek is met gemengde gevoelens bly oor Schumi se terugkeer. Aan die eenkant sal ek hom in aksie wil sien teen die jonger geslag, maar aan die anderkant dink ek hy maak dalk ‘n fout. Hy het uitgetree toe hy nog baas van die pak was en swakker vertonings deur hom sal slegs skade doen aan sy nalatenskap.

Ek het ook gemengde gevoelens oor my eie lojaliteit, want ek ondersteun Ferrari en die Spanjaard, terwyl ek ook ‘n stoere Schumi-aanhanger was. Om een of ander rede, gaan dit net nie dieselfde wees met Schumi agter die stuur van ‘n motor wat nie rooi is nie…

Hoe dit ookal sy, 2010 beloof om ‘n baie interessante seisoen te wees en dalk kry ek nog die geleentheid om Schumi hier in Korea in aksie te sien.

8 Kommentaar leave one →
  1. Desember 24, 2009 4:06 vm

    Ek voel nes jy. Ferrari is my span en Schumi is my man. Hoe nou gemaak? En persoonlik dink ek ook hy het op ‘n hoogtepunt uitgetree. Kom ons hoop maar hy verras ons🙂

  2. Desember 24, 2009 10:51 nm

    Ek hoop saam met jou, Son…Sien vandag die beroepswedders beskou hom nie juis as ‘n gunsteling nie. Maar interessant en boeiend sal dit wees.

  3. Desember 25, 2009 5:35 vm

    Is daar ouens wat met Alfa’s jaag?🙂 Ek was gek oor Alfa toe ek ‘n student was.

  4. Desember 27, 2009 8:34 nm

    Alfa jaag nie in Formule 1 nie. Fiat is Ferrari en Alfa se moedermaatskappy en daarom konsentreer hulle op eersgenoemde (wat natuurlik sin maak). Ekself het familie wat fanatiese Alfa-liefhebbers is. Kyk, ander mense hou van motors, maar diegene wat van Alfa hou is tot die dood toe lojaal!

    • Desember 28, 2009 12:09 vm

      Dis presies wat jy se, ek ken ook daardie fanatiese lojale Alfa-fans. My gunsteling was Alfa Guiletta – donker maroen of blou-metaal…ek draai nou nog my nek om as ek ‘n Alfa sien. ‘n Vriend van my het ‘n Alfa Spider gery- wat ‘n mooie!

  5. Desember 28, 2009 2:29 vm

    Ek sit met dieselfde penarie, en dan hou ek nog van Alonso ook! Ek dink ek sal maar Schumi ondersteun vir die bestuurderskampioenskap en Ferrari vir die “constructors”. Behalwe as Alonso die kampioenskap begin inpalm – dan is Schumi op sy eie!

    Ek stem nie met jou saam nie, Schumi was glad nie baas toe hy uitgetree het nie – hy het te lank gewag. Miskien hoop hy om nou op te maak daarvoor, maar dit kan ook lelik backfire!

  6. Desember 28, 2009 11:32 nm

    Dan’s daar nog Hamilton, Button en Vettel wat dit ook interessant gaan maak. Ek verwag ook Kubica kan goed doen, maar dan sal Renault hard moet werk aan hulle motors.
    Die jaar wat Schumi uitgetree het, het hy nou wel nie gewen nie en hy was ‘n baie sterk mededinger. Verseker was hy nie een van die agterryers nie.

  7. Desember 29, 2009 3:20 nm

    Ek stem met julle, ek voel soos ‘n kat op ‘n warm sinkplaatdak… waarnatoe – Ferrari of Shumi…. ek dink egter Ferrari wen in my boekies.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: