Skip to content

Oor Selfone en Skype

Desember 30, 2009

Ek is altyd geamuseerd as ek die reaksie sien van my kinders as ek hulle meedeel dat ek nie ‘n selfoon (of “handfoon”, soos hulle dit hier noem) hier in Korea besit nie. Meeste van die tyd glo hulle my nie eers nie, want in Korea word jy feitlik gebore met ‘n selfoon in die hand. Van so vroeë ouderdom as 8, is dit glad nie snaaks vir kinders om hulle eie selfone te hê nie. Om dus vir mense hier te se jy is minus ‘n selfoon, is soos om vir mense te sê jy besit nie ‘n yskas nie. Hier (en in meeste wêrelddele, glo ek) word ‘n selfoon as ‘n noodsaaklikheid beskou. Soms as ek vir amptelike sake my selfoonnommer moet opgee (visums, medies ens.) en ek die spasie vir die nommer bloot ooplos, kyk mense my baie snaaks aan en vermoed dikwels ek het ‘n fout gemaak.

Maar hoekom het ek dus nie ‘n selfoon hier nie? Wel, die eenvoudige antwoord is dat ek dit nie nodig het nie. Ek het ‘n landlyn by die werk en ‘n landlyn by die huis en boonop nog Skype op my rekenaar. Enigiemand kan my dus bereik; waarom dan die selfoon? Ek verstaan dat dit baie essensieel is vir party mense se tipe werk, maar nie vir wat ek doen nie. Ek het dus geen behoefte nie. Miskien sou ek anders gedink het, as ek teksboodskappe vanaf Suid-Afrika hier kon ontvang. Maar selfs dan, om sonder ‘n selfoon te wees is ongelooflik bevrydend. En ek geniet dit. Miskien is ek ‘n rare mens, maar eintlik wil ek nie 24 uur beskikbaar wees oral waar ek gaan nie. Ek hou van privaatheid, rustigheid en soms alleenwees. Ek soek nie ‘n apparaat wat my deurentyd binne bereik plaas nie. Ek wil nie die heeltyd bereikbaar wees nie. Ek hou van verdwyn.

Wat my uitbring by Skype. Nou Skype is, veral as jy ver van jou geliefdes is, die beste ding sedert gesnyde brood. Dis ‘n baie goedkoop en effektiewe manier om kontak te behou. Maar met Skype het ek dieselfde probleem as met selfone. Sodra jy op Skype is, is jy onmiddellik bereikbaar vir al jou Skype-kontakte. Die rekenaar is skaars aan, of jy word gebel of geteks. Dis soos om aan die wêreld uit te basuin dat jy nou op jou rekenaar is – blykbaar ‘n outomatiese uitnodiging om kontak te maak. Soms skakel ek Skype heeltemal af en meeste ander keer stel ek my status op onsigbaar, net sodat mense nie kan sien ek is op nie. Ek weet daar is ook ander opsies wat vir mense wys jy wil nie gesteur word nie, maar dit kan andere min skeel. Ek het absoluut geen behoefte om die heeltyd bereikbaar te wees nie.

Dan kry mense nog natuurlik Facebook en Twitter en GoogleChat ens. ens. Sosiale forums waarbinne mense hulle privaatheid vrywillig opoffer en ‘n deurdringende behoefte toon om gedurigdeur vir die hele wêreld te laat weet waar hulle is en wat hulle doen. Ek sien die nut en die positiewe van hierdie sosiale netwerke heeltemal in, maar ek het geen behoefte om gedurigdeur my eie bewegings en doen en late aan die groot klok te hang nie. Dis amper vir my soos om jouself te onderwerp aan ‘n tipe voyeurisme vir ‘n uitgesoekte groepie mense.

Miskien is ek maar net bietjie eksentriek, maar die wete om onbereikbaar te wees wanneer ek so voel, is vir my ongelooflik bevrydend. Voorts ook so om my eie doen en late privaat te hou en slegs te deel met die wat baie na aan my is en vir wie dit werklik intereseer.

Advertisements
26 Kommentaar leave one →
  1. Mefri permalink
    Desember 30, 2009 1:50 vm

    Ek het nou soooo lekker hier by jou gelees BiB, en my kop knik al die pad bevestigend, veral wat privaatheid en alleentyd betref, ek was eintlik jammer gewees die gesprek was oor.

    As my cell lui, is die eerste woorde wat ek hoor; “waar is jy?”…. dan… ja.. sjuut Mefri‼

  2. ELF permalink
    Desember 30, 2009 2:20 vm

    Good point very well made!

    Meeste mense vra vir my hoekom ek nog die moeite doen om n selfoon te he omdat ek nooit beskikbaar is nie. Maar ek se altyd ek beheer my selfoon, nie anders om nie.

    Iemand se eendag vir my ‘jy is seker die mens wat meeste online is maar die minste beskikbaar is’ .. juis omdat ek soos n waghond oor my spasie is. Deesdae doen ek net nie meer die moeite om in te log of register nie.

    Lekker post.

  3. Desember 30, 2009 6:11 vm

    Ek hou my permanent onsigbaar op meeste plekke. Ek sal self besluit wanneer ek met wie wil praat of nie. En baie dae antwoord ek net my selfoon as dit my kinders is wat bel 🙂

  4. Desember 30, 2009 5:31 nm

    Dis die ding van blogs – mens voel so bietjie weird oor hoe jy oor sommige ding voel en dan ontdek jy daar is eintlik vele mense wat dieselfde as jy voel!

  5. Desember 30, 2009 10:11 nm

    Ek stem volkome saam met jou! Ek het ‘n selfoon hier, maar gebruik dit glad nie..ek het dit net op die pad vir nood. Ek moet nou ‘n nuwe kry, want myne is nou al 4 jaar oud en ek kry nie meer batterye vir dit nie. Ek gee ook nie om vir die “ekstras” van die selfone nie, ek moet net kan bel en klaar. My kollegas stuur text-boodskappe..ek kry dit nie..want ek gebruik nie my foon tuis nie..dus ek lees dit nie eens nie. Ek sien ‘n selfoon slegs as ‘n nood-item..soos ‘n “first aid kit” as jy in die nood is. Facebook dieselfde, ek het ‘n FB, maar dit was net om ander s’n te lees wat wou he ek moet hulle s’n sien, verder is ek pateties as dit kom by FB- ek hou dit nie op datum nie – ek wil nie. Ek sien dit as tydmors. Twitter kan nogal baie bruikbaar wees as jy weet hoe om dit te gebruik, ek het al baie bruikbare inligting [wat link tot dit wat ek nodig het vir skool] daar gevind. Ek gebruik Twitter deesdae slegs vir skooldinge – baie links word daar uitgegee wat baie bruikbaar is.

    • Desember 30, 2009 10:16 nm

      O ja, ek het eintlik gekom om Voorspoedige Nuwe Jaar te se – En, ek het ‘n HEERLIKE likeur hierdie kant. Sjoe, lanklaas so iets lekkers gekry – wat dit aanbetref. “Elderflower” – jy moet dit bietjie kry as jy kan…Brits..Chase distelleerders. Nou’s ek darem bly ek’s die enigste een wat “drink”. 🙂

  6. Desember 30, 2009 11:19 nm

    Ek kan identifiseer met hoe jy voel Bib. Ek wou my ook al uitlaat op my blog oor Facebook, Twitter ens. maar dis soos jy sê – mens voel bietjie weird omdat jy anders dink. Ek is erg gesteld op my privaatheid en het baie eie tyd nodig.

  7. Desember 31, 2009 4:56 nm

    DIdo.

    Die meeste van my aanlyn media is op “onsigbaar” gestel. Ek het ‘n selfoon in Korea, maar is baie eksklusief met wie ek die nommer deel. My werk het glad nie my nommer nie, en studente kry dit ook glad nie. Ek gebruik die selfoon hoofsaaklik as ‘n akkurate horlosie (al die selfone in Korea is op tyd), en om sosiale byeenkomste te orkestreer. Soms as ‘n mens iemand vir ‘n geleentheid moet ontmoet in die metropool is ‘n selfoon baie handig.

    Ek sien dat ‘n mens ‘n plaaslike (landlyn) nommer met Skype kan kry. Jy kan dus ‘n nommer in Suid-Afrika kry waarna mense jou kan bel teen plaaslike tariewe. Dus iets wat ek oorweeg aangesien my mense in Suid-Afrika (veral die Internet-gesremdes) sukkel om my te kontak. En soms sal ek graag bietjie meer van hulle wil hoor.

  8. Desember 31, 2009 5:05 nm

    lol! Nee boer, maar ek het vir jou nou ‘n “virtuele drankie” op my blog 🙂

  9. Januarie 1, 2010 2:31 nm

    Weet jy Bib ek voel net so. Kyk ek sal erken dat dit soms vir my lekker is om te chat met gmail of facbook, veral as dit iemand is wat oor die water is en wat ek lanklaas gesien het, maar die probleem is dat wanneer mens so begin chat dan sit jy vas. Jy moet nou daar voor die rekenaar sit en wag vir die antwoord en dan weer reageer. Meeste van die tyd kan ek net nie bekostig om so vasgemaak te word nie, so dan maak ek myself maar onsigbaar.

  10. Januarie 1, 2010 3:21 nm

    Ek is ook nie ‘n selfoonmens nie, om die waarheid te sê, ek besit nie een nie, die een wat ek dra behoort aan die werk. Gelukkig kan myne radio ontvang en dis waarvoor ek dit op hierdie oomblik gebruik. Dikwels as ek hier by die huis rond is en gou iewers heen ry dan vergeet ek om hom saam te vat. As daar dan van my gevra word hoekom ek dit nie saamvat nie, is my kommentaar dat ek net nie op daardie oomblik daaraan gedink het dat ek ‘n selfoon het nie. Deesdae onthou ek meer dikwels, maar soms is die battery pap.

    Ek weet van Skype, maar het nou nog nie ‘n toepassing daarvoor gekry nie. Gewoonlik sê ek ek verkies ‘n foonlose koord bo ‘n koordlose foon!

    Voorspoedige 2010 vir jou en lekker skryf!

  11. Januarie 2, 2010 6:12 nm

    Ek het wel ‘n selfoon in Korea, maar ek gebruik dit bittermin. Ek het dit in my eerste jaar hier gekry oor ek nie ‘n werkende landlyn gehad het nie. Wat skype aanbetref, ek is meeste van die tyd daar, maar nie daar nie 😉

  12. Januarie 3, 2010 12:00 vm

    Ek verpes my selfoon! Dis altyd op “silent” gestel. En ek dink ek is omtrent die enigste 18-jarige in Suid-Afrika wat nie mxit nie. Ek het wel Facebook, maar ek basuin nie alles wat in my lewe gebeur daarop uit nie. 🙂

    • Januarie 8, 2010 12:10 vm

      Jy’s dalk reg – ek weet nie van enige tieners wat nie mixit gebruik nie, maar aan die ander kant ken ek ook nie so baie 18-jariges nie. In elk geval, welkom hier! 🙂

  13. Louwie permalink
    Januarie 6, 2010 2:31 nm

    Kan nie sonder my selfoon nie. Eerstens moet ek dit hê vir my besigheid. Ek is baie op die pad en moet in kontak wees 24/7.
    Self het ek begin skryf, ook op die blog sodat ek kan sien wat ek dink. Soos julle sê, dit is aanvanklik effe weird, soms selfs ontstellend om jou gedagtes op skrif te sien. Dus skryf ek nie om met ander ouens te stry nie, ek stoei maar so met myselwers!
    BB, vertel ons van die 2 Koreas. Behalwe ideologies, is daar ook kultuur verskille? Hoe moontlik is versoening en eenwording?

  14. Januarie 6, 2010 4:22 nm

    Partykeer “vergeet” ek ook maar my foon op silent…. mens moet tog partykeer net bietjie rus en vrede hê. Eintlik haat ek ‘n foon, dis nou by die werk en die selfoon, en soos jy sê, toe kom skype ook nog by… sug…. laat ek bietjie op my arms lê en rus voor skype weer oranje begin flikker….

  15. Petrusia permalink
    Januarie 6, 2010 5:30 nm

    Haai

    baie geluk met die vrystelling van jou boek!!! Baie trots op jou en die storie van om vry te voel – jy weet waar dit vandaan kom. Om onbereikbaar te voel is vryheid! Dit loop in die bloed en kom uit die verlede….

  16. Januarie 13, 2010 7:57 vm

    Hi

    Ek dink meeste mense wat geselsprogramme soos Skype gebruik, gebruik ook die “Invisible” opsie van tyd tot tyd vir dieselfde redes as jy. Ek is een van hulle en ons is nie in die minderheid nie. As ek myself in “Away” of “DND” plaas, en iemand stuur steeds vir my ‘n boodskap, dan ignoreer ek dit, tot ek wel tyd het om te antwoord.

    Indien iemand kla dat ek traag is, dan wys ek hulle vinnig uit dat daardie opsies mos ‘n spesifieke doel het.. 🙂 Ek respekteer ander se privaatheid en sal hulle nooit onnodig pla nie, so ek verwag dieselfde van hulle af.

    Facebook se nuutste veranderinge in Desember m.b.t. privaatheid het my definitief gepla, want heelwat meer op jou Facebook-profiel was skielik meer sigbaar en ek moes spring om weer die privaatheid verstellings te doen, alhoewel dit nie so goed is soos dit voorheen was nie.

    Dis een ding om aktuele dinge aanlyn te deel maar sekere inligting wil mens steeds privaat hou of dan ten minste net met sekere mense deel. Dis natuurlik. Maar blykbaar verskil Facebook en glo dat ons alles publiek wil hê. Ek kan verstaan dat dit hul besigheidsmodel bevoordeel maar sodra jou privaatheid ge-affekteer word, buite jou beheer, dan laat dit my wonder in hoe ‘n mate ek werklik baat by sosiale netwerke in die eerste plek.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: