Skip to content

Aangename Italianers

Januarie 26, 2010

92c0c2d7bc473168Een van Italië se wyngeheime is te vinde in die minder bekende wynstreek van Puglia op die sg. hak van Italië. Waar oa Toskane se sg “Super Tuscans” (dink Tignanello) en Sangiovese-gebaseerde Chianti, asook Piedmont se Nebbiolo-gebaseerde Barolo en Barberesco aan die voorpunt is van Italiaanse kwaliteitwyne se aanslag op wêreldmarkte, is Puglia (ook bekend as Apulia) amper ‘n nagedagte. Maar in Puglia word pragtige wyne van die minder-bekende Primitivo kultivar gemaak. Laasgenoemde deel blykbaar DNA met die sonderlinge Zinfandel van Noord-Amerika en dit word vermoed dat Primitivo oorspronklik van Kroasië afkomstig is. Hoe dit ookal sy, Primitivo sorg vir warm, volmondige, lekker drinkbare wyne, sonder skerp tanniene. Dalk sonder die uitsonderlike karakter van Chianti of Barolo , maar eweneens aangename wyne wat selde teleurstel. En natuurlik ook aansienlik goedkoper as eersgenoemdes.

Weens die koste van kwaliteitwyn, is my normale vloeibare dieet maar gebaseer op bekostigbare Chileense, Argentynse en/of Australiese wyne wat drinkbaar is, maar nie sommer die palaat verras nie. Dieselfde prysklas sorg egter soms vir ‘n verrassing of twee. Dit was onlangs die geval met die Ogio Primitivo 2008 (IGT Puglia). En ek deel my ervaring graag met Bluegrass na sy onlangse teleurstellende ervaring met ‘n ander Italianer.

S7300519Lanklaas het ‘n wyn in hierdie prysklas my so beïndruk. Op die neus vind jy ‘n mélange van ryp framboos, kaneel en kakao. Dit is inderdaad ‘n uitlokkende, donker, speseryagtige neus. Voorwaar ‘n wintersneus met warm geure. Die wyn borduur voort op die palaat: Mondvullend met sagte tanniene. Vol op die palaat, baie drinkbaar met lieflike geure van dadels en pruimedante en donker sjokolade op die lang nasmaak. Pragtige gebalanseerde mondvol lekkerkry. Dis werklik ‘n wyn wat ek in ‘n hoër prysklas sou verwag het. Baie, baie sappig, lekker en verseker bloggenswaardig. ‘n Koswyn wat verkieslik met vleisbredies gekombineer moet word. (Vir iets verlangs dieselfde in Suid-Afrika, probeer ‘n Blaauwklippen Zinfandel …as jy dit nog in die hande kan kry iewers, want dit word nie meer geproduseer sover ek weet nie)

fb9ed37d66c4cb08Die Primitivo se maat is die Ogio Pinot Grigio 2008 (IGT Delle Venezie).S7300524 Delle Venezie in die groter Friuli-Venezia Giulia wynstreek, is bekend vir baie aangename witwyne en veral daardie onderskatte kultivar, genaamd Pinot Grigio. Die wyn vertoon ‘n pragtige helder strooikleur. Die neus is gemaakpas vir die seisoen van somer, met elemente van sitrus – spesifiek lemmetjie – en peer. Van meet af pragtig sag en tuis op die palaat met verdere lemmetjie geure en ‘n amperse roomagtigheid. Maar, baie belangrik – ‘n lewendige suur wat die wyn pragtig vars hou. Die nasmaak is die van sitrus en pere en iewers, net waarneembaar, ‘n aanduiding van nat hooi. Baie lekker vir die somer en die lae alkohol van 12% is ‘n bonus. Geniet die wyntjie op sy eie of saam met ‘n lekker romerige hoenderslaai, gebraaide steurgarnale, calamari of met spek-en-eiers ontbyt, vir al wat ek omgee. (Vir ‘n aangename Suid-Afrikaanse Pinot Grigio – hoewel nie met dieselfde intensiteit van die Italianer nie – probeer Uitkyk Landgoed se Flat Roof Manor Pinot Grigio)

Bogenoemde wyne is albei by Tesco beskikbaar en hier in Korea het hulle my elkeen ongeveer R77 gekos – baie goeie waarde vir geld, indien jy vertroud is met wynpryse hier in die Ooste.

8 Kommentaar leave one →
  1. Januarie 27, 2010 5:48 vm

    “Die wyn borduur voort op die palaat.” Afrikaans op sy beste. In my geestesoog sien ek die naald van Bachus op en af beweeg soos die smaak in my tong getattoeer word. Uitstekende artikel!

    Boer, ek kan nie saam praat oor Puglia wyne nie, want ek nie onthou of ek al ooit daarvan gedrink het nie. Maar Blaauwklippen se Zinfandel is welbekend, of liewers, was welbekend. My laaste proe was heelwat jare gelede en soos met so baie ander hedendaagse Suid Afrikaanse wyne, het Blaauwklippen ook seker ’n ietwat ander smaak as vroeer jare omdat die moderne wyndrinker meer ligter en jonger wyne najaag. (Die ongeduld van die Informasie Era, maar dis ’n tema vir ’n artikel op ’n ander geleentheid.)

    Maar met Pinot Grigio, soos dit bekend staan in Italië en Kalifornia, oftewel Pinot Gris in die res van die wereld, wil ek saamstem: Die mees onderskatte somerswyn. Jong, lig, amper borrellend soos die Italianers dit maak. Ek hou van jou idee dat dit goed paar met spek-en-eiers vir ontbyt. Nog nie geprobeer nie, maar altyd gewillig. Dankie vir die verwysing na my artikel.

    • Januarie 28, 2010 12:15 vm

      Bacchus borduur mooi!😉

      Dit is jammer dat wynstyle soveel moes aanpas by die kitslewe van vandag…sien uit na so ‘n tipe inskrywing van jou kant af (skimp).

  2. Januarie 27, 2010 9:34 nm

    Die Primitivo is vir my net so lekker en ek was aangenaam verras, veral oor die prys. EK hou ook baie van die etiket!

  3. Januarie 28, 2010 12:16 vm

    Ja, ek het eers na die tyd besef ek het niks oor die etiket genoem nie, want ek wou eintlik. Dit is treffend in die eenvoud.

  4. Bertus! permalink
    Januarie 30, 2010 2:05 vm

    Hulle maak ook die beste kos in die wêreld.

  5. Januarie 31, 2010 8:56 nm

    …en die mooiste motors.

  6. Riko permalink
    Februarie 2, 2010 12:37 vm

    Ek het al hierdie goed gepryste wyne in Tesco gesien en (miskien weens die etiket, wat my nie juis beindruk nie) verbygehou, maar ek sal nie weer die fout maak nie!

    Dankie vir die tip, Bib. Ek het al ‘n paar keer van Tesco se goedkoper wyne gekoop wat dan maar goedkoop geproe het ook, maar dis goed om te weet daar is uitsonderings…

  7. Februarie 2, 2010 10:19 nm

    Ek hoop jy kry dit in die hande en nog meer, dat jy ook so baie daarvan hou soos ek het. Maar oor die algemeen hier ook in die supermarkte, proe die goedkoop wyne…wel, goedkoop.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: