Skip to content

Om Baekje te beleef

Februarie 3, 2010

S7309915

In Korea staan die tydperk 57vC-668nC bekend as die Tydperk van die Drie Koninkryke. Gedurende hierdie tyd het drie afsonderlike koninkryke die Koreaanse Skiereiland regeer en hulle was deurgaans in oorloë met mekaar betrokke. Hierdie koninkryke was te wete Silla (57vC-935nC) in die suidooste, Baekje (18vC-660nC) in die suidweste en Goguryeo (37nC-668vC) in die noorde. Hierby kan gevoeg word die klein, maar invloedryke, Gaya Konfederasie (42-562nC) in die suide as bykomende rolspeler. Silla het uiteindelik Beakje, Goguryeo en Gaya oorwin om die Verenigde Silla Koninkryk te skep, wat die voorloper was van die geografiese staat Korea (vandag natuurlik verdeel tussen Noord en Suid).

S7309916

Ek het al verskeie kere oor Silla geskryf, aangesien ek bevoorreg genoeg is om woonagtig te wees in Silla se eeue-oue hoofstad, Gyeongju. Ek het ook al voorheen oor die Gaya Konfederasie geskryf en spesifiek oor die stadstaat Daegaya, wat gesetel was in die dorp wat vandag bekendstaan as Goryeong. Hoewel ek in my skrywes al telkemale na Goguryeo en Baekje verwys het, het ek nog nie spesifiek oor hierdie twee koninkryke geskryf nie. Goguryeo se hoofstad was Pyongyang, wat vandag steeds die hoofstad van Noord-Korea is – dus glo ek nie ek gaan sommer gou daar uitkom nie. Die ou hoofstede van Baekje, nl. Buyeo (voorheen bekend as Sabi) en Gonju (voorheen bekend as Ungjin) is egter binne bereik en ek het die twee stede onlangs gaan besoek om so bietjie in die verlede te delf.

S7309912

Baekje se hoofstad was oorspronklik Gonju , maar is in 538vC verskuif na die nabygeleë Buyeo. Een van die eerste plekke om in Gonju te besoek, is die Songsan koninklike grafte en spesifiek die graf van Koning Muryeong (25ste monarg van Baekje wat geheers het vanaf 501-523). Muryeong was ‘n vername koning wat Baekje gelei het tot kritieke oorwinnings oor die magte van Goguryeo. Muryeong se graf het met ontdekking geweldige waardevolle artefakte opgelewer en die mure van die graf is met pragtige muurskilderye versier.

S7309794S7309797

Gonju museum is hoofsaaklik gewy aan die ontdekkings wat gedoen is in die graf van Koning Muryeong. Dit sluit die oorblyfsels van die versierde kiste van hom en sy vrou in, asook sy kroon en vele ander kunswerke en besittings. Hier word ook die mitiese dier (wat vir my na ‘n klein varkie lyk) uitgestal wat in Muryeong se graf gevind is en wat as bewaker van die graf gedien het teen bose invloede.

S7309787S7309785S7309796

Langs die Geumgangrivier wat deur Gonju vloei, lê Gongsanseong Fort se muur soos ‘n halssnoer. Die muur het ‘n lengte van ongeveer 2km; is 2.5m hoog en sowat 3m dik. Die fort is gebou voor die hoofstad na Buyeo verskuif is en het die oorspronklike kern van die Gonju-nedersetting ommuur. Die mure was oorspronklik van modder gebou en is eers ten tyde van die Joseon Dinastie (1392-1910) met steen herbou.

S7309981S7309975S7309982

S7309984

Van die twee stede, het Buyeo my egter die meeste aangestaan. Jy word dadelik verwelkom deur die standbeeld van ‘n sittende Koning Seong (26ste monarg van Baekje en seun van Koning Muryeong) by een van die hoof kruisings. Koning Seong is ‘n gerespekteerde Baekje koning wat sy troepe self in veldslae gely het.

S7309842Standbeeld in BuyeoS7309842

Hy het oa Baekje grondgebied uitgebrei met suksesvolle militêre veldtogte en het Boeddhisme as amptelike geloof van Baekje gevestig. Hy het ook die skuif van hoofstad vanaf Gonju na Buyeo oorsien en ‘n sterk administratiewe netwerk gevestig. Hy het ‘n militêre alliansie met Silla gehad teen Goguryeo, maar eersgenoemde het hom verraai, deur hulle steun aan Goguryeo toe te sê. Hy is in 554 deur Silla troepe in ‘n veldslag om die lewe gebring. Sy kop is as trofee terug Gyeongju toe en sy liggaam is teruggestuur na die Baekje magte.

S7309848S7309845

Oorlogsmonument in Buyeo

‘n Entjie verder, by ‘n volgende kruising, staan die standbeeld van die berede Generaal Gyebaek. Gyebaek het ‘n sentrale rol gespeel in die onsuksesvolle verdediging van Buyeo teen Silla magte gedurende 660. Die veldslag van Hwangsanbeol het hom ook in direkte konfrontasie gebring met die legendariese Silla generaal, Kim Yu Sin. Dit was ‘n geweldige veldslag met Gyebaek wat ‘n oormag van 1 tot 10 moes teenstaan. Op die ou-end is Gyebaek se magte verslaan, maar nie voordat hulle uitstekende rekenskap van hulself gegee het nie. Hulle dapper verdediging van Buyeo teen ‘n oorweldigende oormag word gedenk deur ‘n indrukwekkende monument in Seodong Park , opgerig vir Gyebaek en die 5000 troepe wat gesterf het tydens die veldslag van Hwangsanbeol . Hierdie veldslag het ook die einde van die Baekje Koninkryk ingelui.

S7309888S7309882S7309889

S7309986

S7309888S7309885S7309889

Neffens Seodong Park, vind mens die koninklike meer en pawiljoen, genaamd Gungnamji. Die meer en pawiljoen is in 634 deur Koning Mu (30ste monarg van Baekje) geskep as rekreasie-area. Gungnamji word erken as die eerste kunsmatige meer wat ooit in Korea gebou is. Gedurende die somer is die area om die meer oortrek van pragtige lotusblomme, maar in die winter is daar slegs die droë stingels en kelke in die bevrore water.

S7309938S7309935

Die koninklike grafte van Neungsan-ri neem dieselfde vorm aan van die in Gyeongju , maar is oor die algemeen aansienlik kleiner. ‘n Ander verskil is dat baie van hierdie grafte ‘n igloe-tipe steen-ingang het. Dit is egter vir bewaringsdoeleindes gesluit vir besoekers.

S7309930

Geen besoek aan so ‘n historiese plek is natuurlik volledig indien die museum nie besoek word nie. Buyeo Museum is kleiner as Gonju Museum, maar steeds baie interessant en pynlik netjies en goed uiteengesit, soos mens al gewoond geraak het van museums in Korea. Van die indrukwekkendste artefakte op uitstalling is die pragtige vergulde brons wierookbrander, wat intense detail bevat. Hierdie is dan ook die simbool van Baekje se kuns wat tydens die sg Sabi Periode tot volle bloei gevorder het.

S7309919S7309922S7309919

Om Baekje te beleef is voorwaar ‘n voorreg…maar meer nog: om ‘n land te beleef met so ‘n ryke geskiedenis wat so goed bewaar word, is ‘n besonderse voorreg (ditto tov Sjina en Japan).

Advertisements
4 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 6, 2010 12:57 vm

    Interessant!

  2. Bertus! permalink
    Februarie 6, 2010 4:31 nm

    Boerie, is jou vriende in Korea almal Koreane? Of hang jy met die expats uit? Of het jy nie vriende nie omdat jy heeldag sit en spy thrillers skryf? Ek vra omdat ek nogal geinteresseerd is in hoe Westerlinge in Korea leef. ‘n Vriend van my het eenkeer daar gaan Engels gee, maar hy was baie eensaam en het niemand gehad om mee te gesels nie. Mense in Taiwan maak glo makliker vriende.

    • Februarie 9, 2010 12:21 vm

      Bertus, ek is mos maar eintlik ietwat van ‘n kluisenaar. 😉
      Ek moet eerlik se die Koreane is kennisse en kollegas en mens sukkel maar om enige hegte vriendskapsbande met hulle te vorm. Ek het enkele Suid-Afrikaanse vriende hier, maar hang nie saam met expat-groupies uit nie. As mens hier op ‘n klein dorpie land, kan ek dink dat dit in ‘n eensame ervaring kan ontaard, maar in die groter plekke is daar gewoonlik oorgenoeg geleenthede vir sosiale interaksie. Ek dink die ervaring is wat mens maar daarvan maak.

  3. Februarie 8, 2010 12:32 vm

    Die Koreaanse geskiedenis bly indrukwekkend en ek verwonder my altyd aan wat hulle alles al vermag het. Daardie standbeeld is besonders met die steen wat soos vlerke lyk. As ek dit reg het is dit die vorm wat deel uitmaak van die dakke van daardie tyd.

    Die varkie is heel oulik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: