Skip to content

Lankal nie meer verbode nie

Februarie 9, 2010

S7300078

Die Verbode Stad (sedert 1925 ook bekend as die Paleismuseum) is sekerlik die bekendste landmerk in Beijing waar dit net noord van Tiananmenplein (self die grootste plein in die wêreld) lê. Hierdie indrukwekkende stad (want dit is per definisie ‘n stad binne ‘n stad) was vir vyf eeue die setel vanwaar die keisers van die Ming-en Qing Dinastieë Sjina regeer het. Altesaam 24 keisers van beide die Ming– en Qing Dinastieë het in die Verbode Stad gewoon tot en met die laaste keiser, Keiser Xuantong (heers 1908-1912, beter bekend Puyi) in 1924 beveel is om die Stad te verlaat (die Qing Dinastie is reeds in 1912 deur republikeine tot ‘n val gebring, maar as toegif het hulle Xuantong vir nog 12 jaar daar laat woon).

S7300087

Die oorspronklike kompleks van geboue is tussen 1406 en 1420 opgerig deur Keiser Yongle (3de monarg van die Ming Dinastie, geheers van 1402-1424) toe die keiser besluit het om Sjina se hoofstad vanaf Nanjing na Beijing te skuif. Teen 1644 is groot dele van die Verbode Stad vernietig in die gevegte wat die Ming Dinastie tot ‘n val gebring het. Die Qing keisers het egter ‘n punt daarvan gemaak om die Stad tot sy voormalige glorie te herstel. Teen die einde van die 17de eeu is die Stad ten volle herstel onder Keiser Kangxi (3de monarg van Qing, geheers vanaf 1662-1722) en onder Keiser Qianlong (5de monarg van Qing, geheers vanaf 1735-1796) is die stad noemenswaardig uitgebrei. Sedert die einde van die 18de eeu het die Stad byna onveranderd gebly en staan steeds soos mens dit tans sien.

S7300248

Reeds sedert 1925 is die Stad nie meer verbode nie. Nadat Keiser Xuantong vrywillig verplig is om die Stad te verlaat, is dit amptelik as die Paleismuseum herdoop en as bewaringsarea oopgestel vir die publiek (voorheen mag niemand die Stad binnegegaan het sonder toestemming van die keiser nie). Bernardo Bertolucci se epiese The Last Emperor was die eerste fliek ooit wat binne die Stad verfilm is. Hoewel ek hierdie meesterstuk reeds twee keer gekyk het, gaan ek ‘n punt daarvan maak om dit weer te sien, synde dat ek nou self die plek kon besoek het waar dit verfilm is. Die fliek gaan spesifiek oor Keiser Xuantong se gebeurtenisvolle lewe en sluit die uitbeelding in van sy latere verraaiersrol rol as ‘n Japanese marionetkeiser in die verowerde provinsie van Mantsjoerye (deur Japan herdoop tot Mantsjoeoku).

DSCF9199

Vir enige besoeker is die Verbode Stad oorweldigend asemrowend en indrukwekkend. Die Stad beslaan in totaal 720 000 vierkante meter; daar is in totaal 980 geboue en ongeveer 8 700 vertrekke (die storie van 9 999 vertrekke is slegs ‘n mite). Die ringmuur om die Stad is 8m hoog en buite die muur is daar ‘n 52 meter wye mout wat gemiddeld 6 meter diep is. Amper nodeloos om te noem, is hierdie die grootste paleiskompleks in die wêreld, asook die grootste versameling historiese houtgeboue in die wêreld. Alles in ag geneem, is dit eintlik half vreemd dat die Verbode Stad eers in 1987 as ‘n Wêrelderfenis-gebied verklaar is.

S7300247

Die geel dakteëls van die geboue val dadelik op (hoewel dit op die dag van my besoek wit gekleur was deur die sneeu). Dis nie om dowe neute nie, want geel was tradisioneel die kleur van die keiser in Sjina. Die keiser se hooftroon was gesetel in die sg Saal van Opperste Harmonie (Taihe Dian), wat die grootste en mees majestueuse gebou is in die Verbode Stad. Dis ook die grootste staande houtgebou in Sjina. Hierdie gebou was tydens die Ming en Qing Dinastieë die hoogste gebou in Beijing en volgens wet mag geen ander geboue hoër gewees het nie. Hoewel dit bitter moeilik is om uitsonderings te maak, is ander geboue wat vir my imposant was oa die Pawiljoen van Aangename Klanke (Changyinge) – die grootste teater binne die verbode Stad, asook die Paleis van Hemelse Rynheid (Qianqing Gong), geleë net noord van die Paleis van Opperste Harmonie .

S7300250

Daar is so baie om te sien binne die Stad, dat dit haas onmoontlik is om die visuele ervaring in woorde te omskep. Daar is geweldig baie geboue, verskillende paleise, vermaaklikheidsareas, sale, aanbiddingsplekke, tuine, poorte, pawiljoene, hekke, binnehowe ens. met soveel verskillende name dat mens dit bloot net nie kan onthou nie. Deur die hele Stad is daar honderde en honderde meters marmer (seepglad met die sneeu) en kunstige afbeeldings van drake en fenikse, kleurryke mure en groot bronsleeus. Die tuinlandskap van klip in die Imperiale Tuin (Yuhuayuan) is veral indrukwekkend met die verskillende pawiljoene, ou sipres- en dennebome en pragtige brons wierookbranders. Wat veral opval, is die pragtige, gedetailleerde argitektuur, die reuse rooi houtdeure met brons en die geglasuurde keramiek wat orals op die mure aangebring is. Veral die sg. Nege Drake Muur het ‘n blywende indruk op my gelaat.

S7300209

Binne die stad is daar ook talle geboue wat as museums dien en waar artefakte van vervloë dae aanskou kan word. Dit sluit in geskrifte, pragtige keramiek, jade ornamente en bronsware. Die indrukwekkendste hiervan vir my was die Saal van Horlosies. Hier word pragtige kunswerke tentoongestel, wat al die unieke horlosies insluit wat die keisers van die Qing Dinastie laat invoer het van oa Engeland en Frankryk. Daar is ook pragtig gedetailleerde horlosies wat Sjinese horlosiemakers gemaak het vir die koninklike hof en dis duidelik dat die Europese styl van horlosies hulle geweldig beinvloed het.

S7300511

Sjina het geglo dat die keiser die hemelse regeerder is wat die hele wêreld regeer met die mandaat van die hemel (die tradisionele geloof in Sjina het spesifiek na die hemel verwys en nie na ‘n god of godheid nie). Gedurende 1793 het Keiser Qianlong trots aan ‘n Britse diplomaat verklaar dat die Qing se hemelse keiserryk alle state in die wêreld regeer en dat alle state hulself aan die keiser behoort te onderwerp. Die geloof in die keiser as hemelse regeerder van die aarde word goed weerspieël in hoe grandioos en majestueus die Verbode Stad in werklikheid is.

DSCF9195

Die Verbode Stad is veel, veel groter en indrukwekkend as wat ek dit my ooit voorgestel het en selfs een volle dag is amper nie genoeg om hierdie historiese kompleks na reg te in te drink nie. Dis net te groot en te oorweldigend veel. Self het ek seker maar so effe oor die helfte van die hele kompleks te siene gekry. Sommige dinge in die lewe oorrompel jou eenvoudig en vertoon die beperkinge van beide jou woordeskat en jou kognitiewe raamwerk. Die Verbode Stad is so ‘n plek.

S7300149

Advertisements
8 Kommentaar leave one →
  1. Februarie 9, 2010 1:16 vm

    Dit bly ‘n droom van my om Sjina te besoek. Ek hoop nie dit vat te lank om die droom te bewaarheid nie. Die ooste is net so baie anders as die westerse kultuur. Pragtige fotos. Lucky you!

  2. Februarie 9, 2010 10:45 nm

    Bluegrass, my mond het gewater vir die lekker bredie en Sonoma wyn daar op jou blog, maar daar’s een of ander gogga wat nou verhoed dat ek daar kommentaar lewer.

  3. Februarie 10, 2010 3:57 nm

    BiB, jy woon en beweeg in ‘n tekenprentjie omgewing, weet jy dit?

    Hier val vanoggend ‘n paar druppels in die Kaap. Ons het laasjaar reen gehad. Kan jy onthou hoe ruik dit as die aarde gulsig sluk aan die klammigheid?

    Groete

  4. Februarie 10, 2010 10:31 nm

    Dis goed jy noem dit, Skoor. Mens vergeet so dikwels hoe bevoorreg mens is omdat mens gewoond raak aan dinge…ek dink Kapenaars kan ook hiervan getuig!

  5. Februarie 28, 2010 5:28 vm

    Fantasties BB, dit is `n genade dat `n man so kan rondry. Ons eie kort geskiedenis verbleek teen daardie eeu oue beskawings, en hoe sleg steek Afrika nie af teen wat daar bereik is nie!
    Sou dit self graag wou beleef maar kan dit nie bekostig nie. Dankie vir jou skrywe en foto’s, dit gee `n lekker persoonlike dimensie aan die plekke.
    Groete

  6. Maart 1, 2010 11:19 nm

    Dankie, Louwie! Dis vir my lekker om ervaringe te deel. Never say never – moontlik kom jy vinniger by die plekke uit wat jy wil beleef as wat jy dink. Die lewe maak soms snaakse draaie.

Trackbacks

  1. ‘n Somerpaleis in wintergewaad « Boer in Ballingskap
  2. Oor twee paleise, pragtige tuine en mandarynse eende « Boer in Ballingskap

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: