Skip to content

Hulle speel nie net rugby nie…

Maart 30, 2010

Noem jy Nieu-Seeland en die eerste gedagte wat by mense opkom, is sekerlik die All Blacks. Die Nieu-Seelanders speel egter nie net rugby nie, maar produseer ook van die beste wyne in die wêreld.

Tot en met die tagtigs het die wêreld nie veel geweet of verwag van Nieu-Seeland se wyne nie. Maar in 1985 het die eerste oesjaar van Cloudy Bay Sauvignon Blanc uit die Marlborough-streek op die Suid-eiland, wynliefhebbers laat regopsit. Dit was nie lank voor wynkritici geswymel het voor die Sauvignon Blancs van Marlborough nie. Die inisiële wittebrood het oorgewaai, maar vandag word Nieu-Seelandse Sauvignon steeds as van die beste in die wêreld beskou. Nieu-Seeland het ‘n wonderlike koel klimaat vir Sauvignon en ‘n lang rypwordingsperiode wat die beste uitbring in die druif. Die suur is hoër, die alkohol laer en jy kry keer op keer meer kompleksiteit in die glas. Hulle produksie is ook klein, wat verder daarvoor sorg om die kwaliteit hoog te hou. Meer onlangs het Nieu-Seeland ook begin naam maak met hulle sublieme Pinot Noir van die Otago-streek.

P3270691

Marlborough Sauvignon Blanc en Nieu-Seelandse wyne oor die algemeen ding nie juis in die lae prysklasse mee nie. Dus, as jy ‘n Kiwi-wyn wil drink, moet jy maar jou beursie uithaal. Die kwaliteit van die wyn is egter deur die bank hoog en mens is selde spyt. Ek het onlangs spaarsamigheid in die sak gesteek en ‘n bottel Kim Crawford 2008 in die hande gekry vir die ekwivalent van R130. Vir diegene wat nie vertroud is met die pryse van Nieu-Seeland Sauvignon Blanc in Korea nie, sal dit seker duur klink, maar glo my, dis ‘n winskopie! Veral toe ek na die tyd agterkom dat die spesifieke wyn een van Wine Spectator se top 100 wyne van 2008 was, met ‘n telling van 91 punte.

Die wyn vertoon helder en onbelemmerd in die glas met ‘n liggoue kleur, wat die effense ouderdom aandui. Aanvanklik is die neus aan die skamerige kant, maar na ‘n rukkie in die glas, begin die kultivarkarakter baie duidelik vertoon. Daar is geure van aspersie, granadilla, ‘n effe herinnering aan geblikte ertjies, asook lemmetjie. Die wyn is heerlik sag in die mond met ‘n P3260686 wonderlike tekstuur. Hoewel die suur teenwoordig is, is dit mooi geïntegreer met die vrugte-karakter en in balans. Die nasmaak is nie so talmend soos ek verwag het nie en dit is dan ook my enigste kritiek op hierdie bottel. Maar steeds is die wyn ‘n lekker mondvol met subtiele vrugtegeure wat, hoewel aanwesig, nie oordonder nie. Soos ek al vantevore genoem het, glo ek dat Sauvignon Blanc oor die algemeen te vroeg gedrink word en hierdie wyn bevestig net weer my oordeel. Die wyn is sagter en meer kompleks. Miskien nou reeds beroof van die bronstige vrugtigheid van jeug, bied die volwassenheid in die glas ‘n baie dieper karakter. Verkieslik sal ek hierdie wyn paar met ‘n gul bord seevars sashimi, of te wel hwe, soos dit in Korea genoem word.

Gesondheid!

29 Kommentaar leave one →
  1. PlaasJuppie permalink
    Maart 31, 2010 1:34 vm

    Ek het nou die aand toevallig op een van die BBC kosprogramme ‘n insetsel oor NZ Pinot Noir gesien. As dit beter is as die een of twee SA produkte wat ek al geproe het, dan is dit tyd vir so bietjie inkopies!

    • Maart 31, 2010 2:27 vm

      Plaasjuppie, kan ek aanbeveel dat jy ook kyk na ‘n paar Pinot Noirs uit die VSA. Soek veral vir iets uit die Willamette Valley, Oregon. Kyk vir Elk Cove (bietjie duur) of Cloudline (goedkoper). Andersins, die Russian River Valley maak ook goeie Pinot Noirs. Maar daar is ‘n smaakverskil tussen die twee streke.

      • Maart 31, 2010 11:21 nm

        PJ, miskien probeer jy die verkeerde SA produkte. Haal maar die beursie uit en probeer gerus Hamilton Russel of Bouchard Finlayson – uitstekende Pinot Noirs en dit gaan in elk geval steeds goedkoper wees as Otago of Oregon se bestes.
        Bluegrass, Jy’s natuurlik heeltemal reg oor Oregon se Pinots. My niggie woon in Oregon en sy’t my al bekendgestel aan die heerlikste wyne. Maar natuurlik kom die wyne, nes die van Nieu-Seeland, teen ‘n prys, veral seker buite die VSA.

      • PlaasJuppie permalink
        Maart 31, 2010 11:39 nm

        Boer, jy verstaan verkeerd, die SA Pinot’s wat ek al geproe het (Paul Cluver en Meerlust) was meer as goed. Om die waarheid te sê dit was uitstekend, maar dit kom teen ‘n prys. As die NZ of USA weergawes nog beter is, is dit sekerlik die moeite werd vir daardie een of twee geleenhede per jaar waar jy nie omgee om die beursie bietjie te skud nie.

      • April 1, 2010 11:10 nm

        In daardie geval, stem ek saam met jou, PJ. Het eintlik nagelaat om Paul Cluver te noem…self ook lief vir hulle Pinot’s.

  2. Maart 31, 2010 2:13 vm

    Lekker inskrywing. Sauvignon Blanc is vir my ‘n regte dronkmaakwyn. Voor jy jou kan kry is die bottel leeg. Moet saamstem dat the NZ wyne hier in die VSA ook maar aan die duur kan is.

    • Maart 31, 2010 11:22 nm

      Dis my probleem met meeste lekker wyne, daarom sorg ek dat ek tussenin maar slegtes ook drink! 🙂

  3. Maart 31, 2010 2:44 vm

    As ek my nie misgis nie, het NZ ook die laaste Drie nasies wynkompetisie gewen.🙂

    Klink lekker.

  4. Maart 31, 2010 4:10 nm

    Nou net oor ek soms aweregs is, sal ek maar in die sonnetjie gaan sit met ‘n bottel van my suster se award winning Sangiovese uit Sonnige Suid-Afrika, met my Stormers trui aan, op my Springbok kombersie.

    Want sowaar, BiB, jy is al te lank over de water…as jy so liries kan raak oor die Vyand se Produk, dan worry ek. Weet jou ma hiervan??

    Groetnis. Dis herfs in die Boland.

    • PlaasJuppie permalink
      Maart 31, 2010 7:14 nm

      Daar is bitter min verkeerd met jou se sussiegoed se wyn, behalwe dat na so paar glasies geen mens die naam kan uitspreek nie😉
      Aai maar die trui ding pla my, wil jy nie maar eerder jou springboktrui aantrek en op ‘n strepieskombers sit nie? Dit is immers ‘n internasionale aangeleentheid hierdie.

    • Maart 31, 2010 11:31 nm

      @Skoor –😆😆
      As dit by goeie wyn kom, het ek geen vyande nie, net vriende…

      NS: Kan jy so gaaf wees om aan my die naam van hierdie Sangiovese bekend te maak, sodat ek dit kan probeer as ek weer in die Suidland kuier? Asb?

  5. Maart 31, 2010 10:46 nm

    Ek het geweet ons gaan eendag kopstamp oor jerseys PJ! Neva my broe’ gan ek op my streeptrui sittie. Heita, wiet djy dannie dat o’s nou binnekort da gan speel en NIE in internasionale klere nie?

    Moenie worry nie, ek kan voor ‘n paar glasies ook maar lekker sukkel met die naam – daarom tik ek vinniger as wat ek praat (ingeval Graatjie hier inloer…)

  6. Maart 31, 2010 11:36 nm

    Aspersies en geblikte ertjies? Jy’t my daar verloor…ek doen nie witwyn nie!

    • April 1, 2010 11:15 nm

      Ek sal jou nog moet leer witwyn drink! Ek is seker jy sal op die ou-end daarvan hou. Jy moet net gereeld oefen!😆

  7. April 1, 2010 4:57 vm

    Ek verkies ook net rooies, wittes gee my kopseer🙂 …ek hou van jou oulike beskrywing…”onbelemmerd…” ek sal volgende keer kyk of my wyn so vertoon…en aan jou dink!🙂

  8. April 1, 2010 6:44 vm

    Dit hoort seker nou nie hier nie, maar jy’t gese jy was by my prof vir jou tesis. Hy wil jou naam weet? Email my🙂

  9. April 1, 2010 3:51 nm

    Man, as jy vir my skoorbek@gmail.com net voor jy Suiderland toe kom volgende keer, en my ‘n adres stuur waar jy gaan wees, pos ek vir jou ‘n bottel. Die goete is meer uitverkoop as wat dit in voorraad is, en ons sorg dat ons ‘n paar kiste het om wyebeen oor die een oesseisoen na die volgende oesseisoen te staan! En met jou deel ek graag want jy dra ‘n leka kepsie op jou avatar!😆

    • April 1, 2010 11:12 nm

      Baie dankie vir die aanbod, Skoor! Ek sal uiters dom wees om ‘n gegewe bottel in die bek te kyk. Ek aanvaar dit met ‘n ope mond.🙂

  10. rianabrand permalink
    April 2, 2010 12:25 vm

    Gesondheid!!! ek moet eerlik erken vanaand trek ons ook ‘n goeie wyntjie oop – 2003 Hartenberg Shiraz – dit sit ons sommer weer in die koelte van die lapa by die Hartenberg landgoed met die water wat onder in die beek verby skarrel en luister na die groot geruis van niks….Proost!!!

  11. April 3, 2010 12:22 vm

    Daardie Hartenberg klink gaaf – altyd kwaliteit, veral die Shiraz. En die landgoed is een van lekkerste, mooiste en rustigste plekke om ‘n luilekker agtermiddag te spandeer.

  12. April 3, 2010 4:15 vm

    Met jou weledele wynwoorde laat jy dit baie lekker klink!

    Laasweek hoor ek op RSG Amore Bekker sê hulle beplan nou om wyn in plastiekbottels te verpak. Jou wragtie toe ek gisteraand die nuutste Landbouweekblad optel het hulle ‘n artikel in diepte daaroor. Nou skroefproppoe op ‘n “goeie” bottel wyn is al vir my soos ‘n graat in die keel, maar ek het amper totaal verstik toe ek die naam lees van die plastiek wat hulle wil gebruik.

    Dit kan glo net twee jaar hou, so vir hierdie bottel Sauv Blanc van jou sou dit amper te laat gewees het. Dus sal (party) droë rooi hopelik dit gespaar word. Ek was eers lus en begin ‘n aksie daarteen, maar toe dink ek nee, wat is volgende, begin liewer iets positief: ‘n aksie vir die behoud van wyn in glas, onder kurk! Daar is net een manier: stem met julle beursies!

  13. April 4, 2010 10:25 nm

    Kop, dink daaraan as die “demokratisering van wyn”.😉

  14. April 11, 2010 11:45 nm

    Uiteindelik het ek my bottel Luddite Shiraz oopgemaak en ge-share. Baie, baie lekker wyn!

  15. April 12, 2010 10:03 nm

    Ek jok nie, ne?😉
    (en ek is jaloers!)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: