Slaan oor na inhoud

‘n Sweer bars oop en Max is verstom

April 9, 2010

So lees ek tientalle kommentators en wysgere se reaksie op die wrede dood van Eugene Terre’Blanche* en in my agterkop dink ek dat ek regtig niks het om by te voeg nie. Maar toe lees ek jou reaksie raak, Max (as ek so familiêr mag wees?). Jy skryf jy is verstom oor Afrikaners se reaksie op Terre’Blanche se moord en gewalg deur die rassisme waarmee hierdie reaksie gepaardgaan. Jy kan dit nie kleinkry dat die dood van ‘n ekstreme, neo-fascistiese leier van ‘n klein splintergroep binne Afrikaner-geledere soveel emosionele en simpatieke reaksie vanuit die Afrikaner-gemeenskap ontlok nie.

Max, ek verwag meer begrip en insig van iemand met jou agtergrond. Enigiemand (en veral ‘n Afrikaner) wat nuusgebeure in Suid-Afrika volg, behoort bewus te wees van ‘n fenomeen wat mens die heersende klimaat noem. In hierdie geval die heersende klimaat onder Afrikaners. Voeg dan hierby wat mens noem die laaste strooi en die reaksie van menige Afrikaners (ek sal my nie verstout om te sê die meerderheid nie, maar dis ook nie onmoontlik nie) op Eugene Terre’Blanche se dood is nie meer so moeilik om te verstaan nie.

Want jy sien, Max, behalwe dalk vir ‘n klein groepie regse ekstremiste, gaan dit hier nie werklik oor die dood van een man nie. Dit gaan oor veel, veel meer as dit. Dit gaan oor die gewelddadige dood van gewone mense van regoor die politieke spektrum dag na dag na dag. Dit gaan oor die gereelde verkragting en verminking van moeders, dogters en susters. Dit gaan oor gewelddadige aanvalle op weerlose bejaardes (Terre’Blanche was self al amper bejaard) en kinders. Dit gaan hier oor boere wat in daagliks vrees op hulle plase leef. Dit gaan oor ‘n narsissistiese regerende elite wat nie die wil of vermoëns het om hulle sosiale kontrak met die burgers van die land na te kom nie. Dit gaan oor die intuimeling van dienslewering, oor ‘n hulpelose staatsdiens wat deur ondeurdagte regstellende aksie gestroop is van ervaring en kundigheid. Dit gaan oor ‘n snotneus aktivis wat roekeloos en op ‘n daaglikse basis die stereotipe wat baie Afrikaners steeds oor Afrikane het, versterk. Dit gaan oor ‘n politieke party wat nog met ‘n struggle mentaliteit rondloop wat in die vorige eeu tuishoort. Dit gaan oor die feit dat Suid-Afrika 11 amptelike landstale het, maar dat daar op tersiêre onderrigvlak net een van die 11 amptelike tale geduld word. Dit gaan oor die miskenning van Suid-Afrika se diverse etnisiteit. Kortom, Max, daar is ‘n sweer van intense onderdrukte woede en ontevredenheid wat al lankal wag om oop te bars en wat absoluut niks met rassisme of Terre’Blanche of die AWB uit te waai het nie. Dit gaan oor ‘n bevolking wat gatvol (ja daardie goeie ou onvervangbare Afrikaanse woord) is vir ‘n regering wat besig is om ‘n pragtige land met onbeperkte potensiaal die afgrond in te stuur.

En waar kom ek aan bogenoemde wyshede, Max? Op sosiale netwerke soos blogs en Facebook en Twitter, en in die briewekolomme van koerante en tydskrifte. Jy is tog ook seker op hoogte van die diskoers binne hierdie realm? Daar sal jy vinnig agterkom waaroor dit eintlik gaan, Max. Mense van heinde en verre en vele mense van wie ek dit nooit sou verwag nie, is skielik in retrospek Terre’Blanche goedgesind. Skielik is mense wat skepties gestaan het oor Afrikanerskap, weer Afrikaners.

Eugene Terre’Blanche se rakleeftyd as ‘n politieke figuur was reeds verby lank voor hy tronk toe is. Hy was die vergete man van ver-regse Suid-Afrikaanse politiek. Die AWB was ‘n kleinerwordende, jammerlike entiteit. Hoe ironies dat juis hierdie vergete randeier figuur deur die wyse waarop hy dood is (let wel nie die feit dat hy dood is nie), meer steun en simpatie ontvang as waarop hy ooit kon hoop toe hy lewend was. Het hy bloot, soos baie ander Afrikanermans van sy ouderdom, aan natuurlike oorsake heengegaan, sou hy sekerlik nie meer as ‘n voetnota in die geskiedenisboeke gewees het nie. Maar twee (of meer?) moordenaars het Terre’Blanche in die kwessie van ‘n paar dae omtower in ‘n nuwe Afrikaner-mite, ‘n martelaar en ‘n simbool van die lyding van menige slagoffers van geweldsmisdaad. Ek weet, Max, dis baie jammer dat dit nou juis Terre’Blanche is wat hierdie eer te beurt val, maar die geskiedenis van die mensdom is, om welke rede ookal, geneig tot ironie.

Max, ek glo dat die droom van die reënboognasie waarin jy miskien nog klou, lank reeds verby is, want mense het besef dat die reënboog se kleur bloedrooi is. As jy wil droom oor die reënboog, gaan kyk weer ‘n slag Invictus (myns insiens regtig ‘n goeie fliek). Ook ek onthou die euforie van daardie tyd baie goed. Maar ek weet ek nie of ons ooit daardie droom gaan terugkry nie en is bevrees die reënboog-narratief is uitgedien. Hiervoor het Thabo Mbeki die pad berei en die huidige regering het met die populisties-polariserende optrede van hul gevegshonde die proses volvloer. Daar is vrees, Max, en vrees dwing mense onwillekeurig terug na hulle primordiale wortels. Na laertrek en geloftedag, na Piet Retief en Weenen. Dis ongelukkig so en ‘n tipiese reaksie binne diep-verdeelde samelewings. My eie vrees is dat die middelgrond besig is om weg te kalwe en tot ‘n situasie gaan lei waar daar slegs die ekstreme pole oor is en gematigdes soos ek en jy, Max, gedwing gaan word om kant te kies. Ek hoop en bid dat dit nie is wat die toekoms inhou nie. Dis ‘n kritieke oomblik in die geskiedenis van post-apartheid Suid-Afrika en die regering behoort nou vir eens en altyd dit duidelik te maak dat minderheidsgroepe welkom is in Suid-Afrika. En nie slegs deur leë retoriek nie, maar daadwerklike optrede.

Hoe dit ookal sy, laat ons eerlik wees, Max, die politieke landskap het nou verander. Maar laat ons nie verstom of gewalg staan oor die redes hoekom die landskap verander het nie.

NS: As jy ‘n goeie analise wil lees wat aansluit by hierdie skrywe van my, gaan lees gerus ook die SAIRR se onlangse persverklaring.

*Geskryf met respek aan die Terre’Blanche gesin en met meegevoel vir hulle verlies op hierdie dag van die begrafnis.

44 Kommentaar leave one →
  1. kluisenaar permalink
    April 10, 2010 12:11 vm

    dit is die eerste kommentaar rondom die gemors in ons land, wat vir my die moeite werd was om te lees….realisties en briljant gestel….jou skrywe heg werklik waarde….

  2. Mefri permalink
    April 10, 2010 4:07 vm

    Ek beaam wat kluisenaar gesê het. Dankie BiB.

  3. April 10, 2010 4:21 vm

    Goed gestel.

  4. April 10, 2010 5:08 vm

    Amen

  5. April 10, 2010 7:01 vm

    Ook ek voel soos kluisenaar en die ander hier. Hierdie is die mees gebalanseerde skrywe sedert en oor ET se dood en almal se gevoel. Dankie BiB.

    • Johan Horn permalink
      April 10, 2010 10:08 nm

      Ek lees en stem grootliks saam met jou BiB. Die punte van verskil is meestal bloot toe te skryf aan klem. Ek, soos jy weet, was ‘n gereelde leser van Vryeweekblad, jare gelede. Een van die hoofredes daarvoor was dat Vryeweekblad o.a. gestaan het daarvoor om die onmenslikhede van daardiee tyd te vervang met menslike optrede teenoor alle burgers van die land. Ek dink ek het nog knipsels, selfs, waar die woorde deur Max Du Preez neergepen is.

      Wat my skok, BiB, is die onmenslikheid van die pers wat die onregmatige dood van ‘n mens sien as iets wat uitgevee kan word, of effe meer aanvaarbaar gemaak kan word deur bloot “polities geoorweegde argumente” voor te lê. (Aii .. kom die geval Steve Biko nou by my op:(

      Dit is selfs vir Max Du Preez, as ek jou ontleding hierbo regverstaan BIB, moontlik om dit te laat klink of Terre’Blanche se geweldadige dood effens meer aanvaarbaar behoort te wees as die van ‘n nie-verpolitiseerde mens s’n, omdat hy die politieke oortuigings gehad het wat hy onbeskroomd uitgespreek het (Dink ek nou aan so baie kommentare van die Nasionale Party oor terroriste en aktiviste o.a. soos S Biko; oor die sg. “totale aanslag” ens ens).

      Indien dit nie die neiging in Mnr Du Preez se skrywe is nie, is dit in feitlik die totale pers in Suid-Afrika (Afrikaans ingesluit) wel die geval.

      Dit is vir my skokkend BiB, dat mense ander persone wat ander idees volg as hulle self, in ‘n land waar vryheid van denke en menings sogenaamd beskerm word, se moordadige dood met paar afgewaterde politiek woorde, as “meer aanvaarbaar” kan probeer voorstel as die dood van ‘n gewone persoon. Moordenaars en verkragters, bar kriminele sommige wie se dade nie eens met die dade van stomme diere vergelyk kan word nie, leef heel “menswaardig” voort in die tronke van die land, want die doodstraf is “onmenslik”.

      Terre’Blanche, vergete soos hy was, was in die heel eerste plek ‘n mens. Een soos enige ander mens. En dit het die ANC erken met hulle onbesproke optrede na die dood van Terre’Blance. Hul optrede het gespreek van respek en van erkenning en dat alle mense ongeag hul politiese sieninge, respek verdien. Dit was vir my ‘n riem onder die hart in ‘n land wat by die dag meer tragies word.

      Ongelukkig is die opweging van die gebeure deur die pers, en klaarblyklik deur Max du Preez ook, een wat eerder by die tragiek van ons land gekategoriseer moet word, as aan die “high road” kant waar, na my mening die ANC optrede verdien om te wees.

      Miskien BiB is daar baie koerante en redakteurs, maar ook politieke analiste wat of hul eie norme en miskien selfs motiewe moet analiseer, of dalk moet aanvaar dat, gegewe die sensitiewe aard van ons land en sy mense in hierdie tye, hulle dalk die einde van hulle pad in die beroep bereik het, wel, dit is my mening.
      Met dank vir ‘n baie goeie blog!!
      Beste groete
      Johan Horn

      • April 12, 2010 10:09 nm

        Johan, soos altyd is jou bydrae nugter en genuanseerd. Jy maak ‘n baie belangrike en geldige punt. Verontmensliking was ‘n een van die (onbedoelde?) resultate van apartheid. Ons kan nie weer en telkens weer in dieselfde slaggat trap nie. Gewelddadige misdaad dra reeds daartoe by, die media behoort dit nie verder te vererger nie.

  6. April 10, 2010 7:09 vm

    Ja BiB, dis ‘n uitstekende stuk.

    Hierdie stuk het my veral getref:
    “ek glo dat die droom van die reënboognasie waarin jy miskien nog klou, lank reeds verby is, want mense het besef dat die reënboog se kleur bloedrooi is.”

    Maar hier is ek. Afrikaner. Tuis hier. Nerens anders om te gaan nie. En soveel soos ek met jou saamstem oor alles wat jy se oor die toestand van ons land… dis MY land. En ek kan my nie distansieer daarvan nie. Ek kan dit nie “afskryf” nie (jy doen dit dalk nie, maar vele doen dit myns insiens tog).

    So iewers moet ek begin werk. Die bloed, saam met eendersgesindes, begin afskrop. Al moet ek my hande stompies werk. Al moet ek al my idealisme langs die pad verloor, besef dis useless en dat ek geen verskil kan maak nie. Dan moet ek maar aanhou werk. Want dis my tuiste.

    • April 12, 2010 10:11 nm

      Cara, jou bydrae gee my amper hoendervleis. As Suid-Afrika gaan vooruitgaan, is dit mense soos jy wat daarvoor verantwoordelik gaan wees! Ek wens net die regering wil besef hoeveel Afrikaners en inderdaad blankes, voel soos jy voel.

  7. April 10, 2010 11:12 vm

    Uitstekend! Ek het nog nooit baie ooghare gehad vir ET se standpunt nie, maar nou, soos jy tereg sê, is hy ‘n martelaar. Van Max kan ek net sê: Hy het die spreekwoordelike “die kreef raak gewoond aan dit” geword. Dit lyk my steeds daar is ‘n groep mense, insluitende in die regering wat nie besef dat “Kill the Boer” ook beteken ‘Kill the food supply”.

  8. Mary Jane permalink
    April 10, 2010 9:27 nm

    Soos gewoonlik briljant gestel!!! Dankie vir jou nugtere denke! Persoonlik is en was ek nog nooit ‘n ET bewonderaar nie. Eerlikwaar was die man vir my niks meer as ‘n kwaadstoker nie, maar sy moord maak my ook kwaad. Nie omdat dit ET is nie, maar omdat hy ‘n metafoor geword het vir wat in SA aangaan….. Eintlik dink ek ons moet die AWB en die youth league in ‘n kamer toemaak en 5 jaar later hulle uitlaat. IN my opinie is daar BAIE meer mense wat gematigd is – wit en swart, maar ongelukkig kry net die klomp ekstreme mensies altyd die aandag! Ai…..

  9. Mary Jane permalink
    April 10, 2010 9:27 nm

    o ja, hoop jy’t dit vir ons goeie vriend, Max gestuur!??

    • April 12, 2010 10:15 nm

      Dankie vir jou bydrae, MJ. Ek glo, soos jy, dat die meerderheid mense gematigd is en dat die middelgrond tog sal hou. Maar die bose kringloop en interafhanklikheid tussen armoede/werkloosheid/hooploosheid, misdaad en vrees sal moet gestuit word, alvorens Suid-Afrika regtig kan aanbeweeg.

      NS: En nee, het dit nie vir Max gestuur. Hy moet maar self hier kom lees. 😉

  10. April 10, 2010 9:55 nm

    I Love you full
    from indonesia
    adinovi.wordpress.com

  11. April 10, 2010 10:23 nm

    Ja, BiB. Dis die beste stuk wat ek nog hieroor gelees het. Mens raak gepolariseer. Ek glo nie meer ‘n reënboognasie is moontlik nie… deesdae soek ek verdeling wat vir kleiner groepe die reg gee om hulle eie sake in hulle eie gebiede te bestuur. Selfs dan sal mens nog moet opoffer om gemeenskappe te skep van soortgelyk-denkendes, want meeste van ons bly op plekke waar ons die minderheid is.
    Ek is nie anti-swartmens nie. Meeste van hulle is net so moeg vir misdaad as ek. Maar ek vertrou nie die regering om my teen geweld te beskerm of my mense regverdig te behandel nie, of om verstandig te wees in ekonomiese besluite (nasionalisasie!) nie.

  12. Thandi permalink
    April 11, 2010 1:33 vm

    Ek het die dag van ET se begrafnis op ET en Malema se FB blaaie gaan lees wat die mense sê, en dit was besonder hartseer om te sien hoeveel wrede en afbrekende dinge mense aan mekaar toesnou. Wat ook interessant was, was om te sien hoeveel mense informasie vra om te hoor hoe dit moontlik is om nou by die AWB aan te sluit. Dit is duidelik dat die moord van ET (en ook 3300+ boere) ‘n baie diep kloof maak, en dat dit die pad na versoening na ‘n doodloopstraat laat lyk.

    Dankie vir ‘n gabalanseerde stuk oor hierdie krisis in ons land, werklik die moeite werd om te lees.

  13. April 11, 2010 11:43 nm

    “Dit gaan oor die gewelddadige dood van gewone mense van regoor die politieke spektrum dag na dag na dag.” – hierdie sin som als baie netjies op en dit is waaroor dit vir my als gaan. Ek het op twitter die “wereld” warm getweet oor ET – juis hieroor…en die boere wat so vermoor word. Ongelukkig is dit so dat die meerderheid mense in die buiteland VERE voel wat aangaan in ander lande/SA. Hulle se dit, jy kan dit op kommentare gaan lees op nuusberigte..hul monde was groot oor Apartheid, maar dis dit..hulle sal nie op Trafalgar square gaan toi-toi teen die crime /boere wat vermoor word nie..nee, dis nie belangrik nie, apartheid was meer belangrik gewees- om ander redes. Sad, maar die waarheid.

    • April 12, 2010 10:52 nm

      Nikita, miskien is daar tog ‘n sentiment (hoewel onuitgesproke en miskien self onderbewustelik) van “hulle verdien wat hulle toekom”. En dit is tragies.

  14. flippiefanus permalink
    April 12, 2010 12:32 vm

    Baie goed geskryf Bib. Wat ek graag wil beklemtoon is dat daar gee toekoms vir SA is as ons nie versoening tussen die kulture kan bewerkstellig nie. As die reenboognasie nie kan werk nie kan SA nie werk nie. Dan moet ons maar ons goed vat en loop. Dit is hoekom dit van soveel kardinale belang is dat mens soos Malema uit die publieke arena verwyder moet word waar hulle haat aanblaas. Die regering moet gedwing word om stappe te neem. Ek sien geen ander uitweg nie.

  15. April 12, 2010 4:14 nm

    Ja BiB, ‘n ander hoek op ‘n voosgeprate onderwerp. Soos net jy kan. Netjies geskryf. Goed gestel.

    Ek dink regtig dis tyd dat Max dooi, want hy probeer telkens soos ‘n pynlike, onwelkome aambei uitkruip en kots oor onse mense. Die grootste deel blankes is so siek en sat vir hom, en die swartes voel efol vir hom, weet nie wat hy nog probeer nie! Ek wonder hoeveel sal treur as Max die dag sy kop neergooi!

    Solank ons poepolle vir leiers het, sal die land nooit wees wat dit kon nie. Die Zuma euforie het gevrek soos ‘n brandsiek droom. Die man wat wragtag die kans gehad het om ‘n mamoerse verskil te maak in sy tyd as leier van SA, verkies om eerder steekproewe te doen, links en regs, en laat sy ongeleerde, ongeletterde honde toe om op die grasperke te mors.

    Gits, al hoe meer glo ek aan derde magte, en handlers en al daai lelike goete wat in die houtwerke rondskuil.

  16. April 12, 2010 5:24 nm

    Well done

  17. YVONNE permalink
    April 12, 2010 5:48 nm

    ALS IS WAAR, WAAR PLAAS DIT ONS WIT BEVOLKING NOU?
    EK GLO, DIS TYD VIR SAAMSTAAN, EN BAKLEI VIR ‘N VOLKSTAAT,
    SOOS ET GESë HET. AL STERF ONS VIR DIT WAARAAN ONS GLO EN
    WORD NIE GEMARTEL EN VERMOOR NIE

  18. April 12, 2010 5:50 nm

    Ek plaas max en deon maas op dieselfde vlak, nie werd om oor te praat nie. Weereens is dit die media wat aan hierdie twee ‘n platform bied om hulle snert kwyt te raak.

    Baie goeie artikel BIB

    • April 12, 2010 10:48 nm

      Ek dink dis die eerste keer wat ek jou ook hier sien, bloedbek?
      Hoewel ek geen Max-aanhanger is nie, sal ek darem nie vir Maas en Max in dieselfde kassie plaas nie

      • April 13, 2010 4:32 nm

        en dis nie die laaste keer nie, voorheen het ek in engels geblog, maar besluit om my moedertaal die medium van kommunikasie te maak. baie makliker om te blog in ”n omgewing waar my droe humor verstaan en misverstaan kan word. Wat max en maas betref, dit was net om ‘n reaksie uit te lok, maar ek hou by my punt dat die publieke sfeer beter sal wees sonder die twee.

      • April 13, 2010 11:30 nm

        Wel, sien dan daarna uit om gereeld gedagtes uit te ruil. Baie bly dat jy nou in Afrikaans blog!

  19. April 12, 2010 10:34 nm

    Net ‘n paar gedagtes vir die rekord:

    Ek glo nie ‘n reënboognasie is moontlik binne die epog waarna mense soos Nelson Mandela en Desmond Tutu gestreef het nie. Suid-Afrika is nou eenmaal nie die VSA nie. Dit gesê, glo ek dat vreedsame naasbestaan wel moontlik is, indien respek vir die uitleef van wedersydse kulture en geskiedenis gekultiveer word. Alvorens dit egter kan realiseer, sal daar (weer) visionêre leierskap in Suid-Afrika tot gestalte moet kom wat die land kan wegstuur van die huidige rasse-digotomie waarin die land vasgevang is. Wat die kans is vir sodanige leierskap, moet elkeen maar self oor besluit.

    Ek vat nie vir Maz du Preez as persoon aan nie, maar wel die woorde van een spesifieke rubriek deur hom geskryf. Ek stem meeste van die tyd nie saam met sy standpunte nie, maar ek lees wat hy sê en as dit nie vir hom was nie, sou ek nie iets geskryf het nie en sou ons ook nou nie hierdie gesprek gehad het nie.

    • April 13, 2010 2:46 nm

      ‘n Verdraagsame bestaan is moontlik as ons begin om ander te respekteer, maar dit kan ook eers gebeur as elkeen daarna streef om die tipe mens te wees wat wel respek verdien.

      • April 13, 2010 4:42 nm

        1. ‘n Leeu sal ‘n bok net in vrede laat as die leeu se pens vol vleis is en selfs die bok weet dit. Die leeu in ons land is ongeletterdheid, werkloosheid, swak regering en dit maak die bokkies senuagtig en bang.

  20. April 12, 2010 11:50 nm

    I Love you full
    from Singapore

    haha, nee ek spot net met hierdie aap wat so lief is vir jou – die mannetjie adverteer sy eie site met so lover boodskappie.

    Ek is op die oomblik in singapore, om my permanente verblyf in australia te aktiveer. Ek kan net dankbaar wees dat ek nie meer in so ‘n hatige samelewing hoef te lewe nie.

    Hierdie tipe haat tussen mense sien ek nerens anders waar ek kom nie.

  21. April 13, 2010 11:33 nm

    😆 Ja, ek’s bly ek’s so geliefd.
    Jy moet Singapoer geniet – dis ‘n fassinerende plek.

  22. rianabrand permalink
    April 16, 2010 4:26 nm

    AMEN op alles hierbo – Maar laat ek dan die een wees wat jou ‘n lekker dag vol goeie wyn en mooi herinneringe toewens. Lekker verjaar!

  23. April 16, 2010 4:48 nm

    Mooi opgesom BiB.

    Ek get die “voorreg” gehad om vir ET te luister toe hy so in 1993 by UPE ‘n praat gelewer het, meer uit nuuskierigheid as enigiets anders. Hy daag op, met so 6 lyfwagte, almal tot die tand gewapen. Drie loop voor hom, drie agter, en hy neem sy plek agter die mikrofoon op.

    Hy begin stadig praat, sagte woorde en sagte stem. Maar dit is die kalm voor die storm.

    Mettertyd word sy woorde al harder, meer beklemtoning, meer en meer emosie. Dit is asof hy sy aanhangers in ‘n trans meesleur. (Net jammer hy was nie ‘n evangelis nie – hy sou baie bekeer het.)

    Die sweet beginne by sy wang afloop.

    Later is daar gereelde “hoor hoor” van die paar regses wat in die gehoor sit – al hoe meer ‘n gehandeklappery. Hy het baie in vervoering. Emosies baklei teen die dak om uit te kom. Ja, baie emosie, maar nie so baie wysheid nie.

    Die sweet loop nou sterk.

    Andere lag vir hom, of luister maar net stil. Hy is ‘n mens wat in die verkeerde eeu gebore is, of iemand wat die verkeerde dinge sê so kort na Madiba se vrylating. Tye gaan verander en baie is bang – iets waarop mense soos hy teer.

    Ek het ook vir Karl Niehaus en FW de Klerk gaan luister dieselfde jaar – verkiesings was mos binnekort. Nou is ET vermoor. Karl Niehaus is korrup soos sy ANC pelle, basies flenters. FW lewe nou met ‘n vet pensioen, maar ten minste staan hy vir nog wat reg is en sê iets nou en dan. As Madiba tog net dieselfde kan doen.

    Ja, dis tyd om kop te hou.

    • April 18, 2010 7:41 nm

      Dankie vir jou bydrae. ET was ‘n ongelooflik begaafde orator.
      Ek dink ons moet nou vir Madiba maar laat rus. Hy is al baie oud en het sy ding gedoen toe dit saakgemaak het.

  24. April 16, 2010 4:48 nm

    Verjaar jy vandag? Goeie wense vir sommer alles wat mooi is!

  25. Laurence permalink
    April 19, 2010 1:05 vm

    Môre is veronderstel om op pad te wees Heathrow toe, maar die moontlikheid lyk al hoe skraler vanweë die vulkaan in Ysland. Intussen het die koejawel seisoen begin en daarmee saam die stelery. So vanmiddag onderbreek ek ons middagete om agter kinders te jaag met my bergfiets. Ek het ‘n kind ‘n bietjie gebliksem omdat ek geen ander uitweg vir my frustrasie het nie en daarvoor voel ek sleg. Nou, ‘n paar uur later, staan ‘n groepie kinders op die damwal en skree : “Lôrens jou naai, jou ma se poes” – ja dit help nie om die letters met sterretjies te vervang nie – hulle praat nie met sterretjies nie. Ek ry toe so agter ‘n bolling aan en hulle hardloop net al hoe verder weg met net nog van dieselfde woorde en nog “Malema, Malema” sêgoed. Daai man fôk dinge op grondvlak baie meer op as wat ons wil ter kenne gee. Dit is soos olie op ‘n vuur. Ek is veronderstel om intellektueel ‘n verligte vredeliewende mens te wees, en dit is waarmee ek myself besig hou op ‘n Sondagmiddag. Dit is maklik om te intellektualiseer, maar wanneer jy om grondvlak gekonfronteer word met die diefstal, die chaos, die algehele gebrek aan waardes, dan wil jy net vlug. Ons gaan môre lughawe toe, en al kry ons ‘n vlug of nie, ek kom nie terug plaas toe nie (vir ten minste die volgende ses weke). Geen gewone mens kan soveel kak opvreet nie.

    Ek voel jammer dat hierdie kommentaar agter aan ‘n ET pos gehaak word, want ek is nie ‘n ET aanhanger nie, maar as jy as mens met jou rug teen die muur vasgedruk word, dan verstaan jy bietjie meer, al stem jy nie saam nie.

    • April 20, 2010 12:06 vm

      Laurence, goed om weer van jou te hoor, maar teleurgesteld oor jou teenspoed en die gepaardgaande frustrasies wat jy hierbo uitwys. Mens het maar ook die persepsie dat dinge net goedgaan in die Kaap. Ek hoop julle kom tog reg om ‘n bietjie weg te breek en asem te skep – lyk my jy dit regtig nodig. En onthou om maar gereeld ‘n rooietjie nader te sleep as jy ontspan.
      Dis ook waar dat die meerderheid mense wat intellektualiseer dikwels op die kantlyn staan en nie op die frontlinie nie.
      “dit help nie om die letters met sterretjies te vervang nie – hulle praat nie met sterretjies nie.” 😆

  26. Mei 27, 2012 10:16 nm

    Boer, jy het nou maar net ‘n manier om ‘n ding te stel. Uitstekend geskryf!

Trackbacks

  1. Hoekom ‘n dorp HUIL noem? « SKOOR

Lewer kommentaar op boerinballingskap Kanselleer antwoord